Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Verbintenisse met sagte geweld opgeblaas
Een van die bepalendste fasette van Suid-Afrika is ons gefragmenteerdheid, meen die skrywer. Foto: iStock

Een van die bepalendste fasette van Suid-Afrika is ons gefragmenteerdheid. En dis niemand se skuld nie. Dis ook nie kolonialisme se skuld nie.

Indien enigiets die skuld moet kry daarvoor, is dit die gedeeltelike suksesse, lees mislukkings, van alle kolonialismes tot dusver. Hieronder tel die Nederlandse, die Britse, en die Afrikanernasionalistiese neo-kolonialisme van apartheid.

Maar moenie die militêre Zoeloe-imperialisme van die 19de eeu vergeet nie, nog minder die Le­sufi’s van die ANC se gedrewe nasionalistiese kolonialisme van die huidige tyd. Noem maar op – hierdie land was en is te wyd daarvoor. Die versugtings tot eenders-making en oorheersing sal versand tot ’n dubbelpunt in ’n Van Wyk Louw-gedig.

Die gevolglike gefragmenteerdheid lê aan die wortel van ons grootste en ongewildste gawe, ons pluraliteit, wat ’n onvermydelike, lewendige burgerlike konsensuspolitiek in die hand werk en as sodanig ’n teenwig is vir mag, sentralisasie en nuwe vorms van kolonialisme.

Maar die invloed daarvan op ons letterkundes is ’n neiging tot onderlinge verhulling en verdeling. Hier werk dit dikwels negatief. Soms ken Afrikaanse en Engelstalige bodemskrywers nie mekaar se werk nie. Daar is verdere neigings tot geografiese “balkanisering”, ondanks nuwemedia: Kunstefeeste in die ooste van die land werk meestal saam met skrywers wat in Grahamstad (die simboliese hoofstad van die plaaslike Engelse kulturele geheue) of in Durban uitgegee word, feeste in die suide met suidelike skrywers, in die noorde dikwels meestal met noordelike skrywers.

Baie Afrikaanse skrywers gaan nie weet wie Alan Finlay is nie, een van ons opwindendste hedendaagse Engelstalige digters.

Dus gaan baie Afrikaanse skrywers nie weet wie Alan Finlay is nie, een van ons opwindendste hedendaagse Engelstalige digters. Hy word deur Deep South in
Grahamstad uitgegee, ’n klein uitgewery bedryf deur die digter en samesteller Robert Berold.

Finlay se werk, soos byvoorbeeld Gilbert Gibson s’n, toon in so ’n mate ’n eiesoortige surrealisme dat dié term self nutteloos geword het. Die tekstuur van vertroude taalverbintenisse word met ’n sagte geweld opgeblaas. Albei wend hulle tot die persoonlike reaksie om historiese kragte wat die individu vorm, sonder om dit by name te noem, te verwerk.

Finlay skryf: “To change what is hidden in history/ from those that do not say.” Die gewone logiese verbintenis tussen daardie twee bysinne is opgeskort. Maar met groot effek: “Why? We pull like ­oxen/ over the rim./ We go be­cause we go./ We die, right here, in a field of white tulips.”

Moenie daardie “hier” vertrou nie. Hy skryf oor die skaarsheid, maar ook die skoonheid, van persoonlike geluk wat in omstandighede van groot verlies herontdek word. Finlay se hier is Pergamino, Argentinië, van waar hy terugverlang Suid-Afrika toe.

Daar het hy in sy middellewe agter die liefde aangetrek. Maar hy bly geskei van sy kinders. Hierdie gegewe is algemeen genoeg, maar teen die agtergrond van die Suid-Afrikaanse werklikheid verkry dit ’n skreiende metaforiese lading.

In hierdie digkuns word nie net die inhoud nie, maar die logika van verbintenisse tussen indrukke in taal verander. Dít verraai ’n diep bevraagtekening van die vertroude dinge. Die implikasie is dat maniere van kyk voorgestel word as heel toevallig.

En dat jy slegs in jou kykwyse en in enigiemand wat dit toevallig deel, jou vertroue kan stel.

Dis die subjektiewe wat álles is. Voel dit, en jy sal wees waar jy is, wát jy is. Daar is nêrens en niemand anders as jy om te wees nie. Waarop jy kan peil trek, is die intens persoonlike belewenis, en die fragmentasie van gedeelde inhoude wat dit impliseer.

’n Mens dink miskien aan Huilboek van Ryk Hattingh. Die disintegrasie van óns tyd. Agaat van Marlene van Niekerk. Austerlitz van W.G. Sebald. Die gedigte van Gabeba Baderoon. Só het Tennessee Williams vir John Donne herskryf: “Every man is an island.”

Finlay skryf (oor ’n terugbesoek aan sy geboorteland): “The croco­dile/ will not/ move. The elephant// stamps the/ concrete on/ the ­bridge.// One of them has/ to cross/ to the other// side.

Die bundeltjie, getiteld That Kind of Door, is oorrompelend. In sy gestroopte, kaal seggings. ’n Mens kan nie praat van deure nie. Maar van jou deur, en iemand anders se deur, dis weliswaar moontlik, en hulle kan net sowel ’n alfa en ’n beta genoem word.

Die bundel stel egter nie vreemdelingskap voor as die nuwe norm nie, maar wys hoe alle wortels onder druk verkeer.

Dis ’n digkuns wat danksy groter demografiese deelname, net soos die Afrikaanse deelname, onherkenbaar verander, geskryf in ’n taal waarin die taalhoudings deur anderstalige deelnemers, soos Bernat Kruger en Vonani Bila, heeltemal verwring word.

Vergelyk dit met Britse Engels, en dit lyk na ’n ongeskikte taaltjie sonder maniere.

  • Charl-Pierre Naudé is ’n digter van Johannesburg.
Meer oor:  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.