Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Verhaal laat jou moer pluk
Scent of Fear

Fiksie

Scent of Fear

Tony Park

PAN MACMILLAN, R290

Korrupsie skep afhanklikes. Dís die verhaal van al die staatskapingskommissies – en een van die groot kragte aan die kern van Tony Park se hoogs onderhoudende roman Scent of Fear.

Die problematiek wat opgelos moet word, is nie soseer hoe om die slagting verbonde aan die stroping van renosterhorings en leeubeendere stopgesit te kry nie, maar hoe om die dosyne, selfs honderde mense wat ’n inkomste verdien uit al die ondersteunende funksies van die stropery, te kry om in te sien dat dinge nie só kan aangaan nie.

Die oomblik wanneer Oosterlinge begin geld pomp in die stroping, word ’n sekondêre ekonomie geskep wat net tot ’n natuurlike einde sal kom sodra daar niks meer is om te stroop nie. Intussen moet die bevegters van stropery ook rekening leer hou met korrupte politici en staatsamptenare wat alles besoedel.

Om so ’n problematiek in ’n roman te verwerk, verg ’n baie kundige skrywer. As niefiksie maak dit ontstellende leesstof, maar op sy eie is die problematiek té dor om die leser van ontspanningslektuur se aandag te hou – omdat almal weet die stryd is nog nie gewen nie. Wat nodig is om die dorheid teen te werk, is karakters met meer probleme as net stropery.

Rudie van Rensburg het met Pirana gewys hoe dit kan deursuur in verskeie lewensterreine. Park, ’n Australiese skrywer, takel dit ook en gebruik ’n baie lekker verwikkeling om mens se gemoed uiteindelik lekker te laat oorkook.

Sentraal staan Sean Bourke, op sy dag ’n soldaat in Afganistan. Nou werk hy in ’n Suid-Afrikaanse wildbewaringsgebied langs die Krugerwildtuin. Sy eks, Christine, is nog byderhand, ook betrokke by die veldtog teen wildstropery. Ongelukkig is sy ook in ’n verhouding met sy boesemvriend, Craig.

En dan het Sean ook ’n hond, Benny, wat opgelei is om ’n verskeidenheid dinge uit te snuffel. Benny is ’n hond na my hart – dit was ’n baie gawe idee om hom in die pro- en epiloë aan die woord te stel. Dit skep meer gemoedelike in- en uitvalshoeke, maar die res van die roman, waarin Sean die fokalisator is, wen stelselmatig aan dodelike erns en spanning.

Laasgenoemde is ’n noodwendige gevolg omdat die liefdesintriges hand-aan-hand met die veldtog teen stropery ontwikkel. Wanneer mense begin landmyne aftrap wat deur die stropers gestel is, en aasvoëls, leeus, hiënas en koedoes begin vrek weens gif wat deur die stropers misbruik word, begin die leser se temperatuur styg.

Daar is niks wat die leesproses meer stimuleer as ’n verhaal wat mens laat moer pluk vir die antagoniste van die verhaal nie!

Kerneels Breytenbach is ’n skrywer van Bettysbaai.

Meer oor:  Boeke  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.