Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Verhaal van oorleef, omgee

Fiksie

Vegters

Lucia Prinsloo

WENKBROU, R295

Hoe gebeur dit dat so ’n emosiebelaaide aksieverhaal – wat spesifiek tot ’n jonger gehoor sal spreek, maar ook ouer, meer gesoute lesers sal beïndruk – sonder veel fanfare gepubliseer word?

Vegters het betreklik laat in 2019 verskyn, maar het tot dusver weinig opspraak gemaak. Interessant genoeg het Marita van der Vyver se onlangse Grensgeval nie net diskoers oor die Grensoorlog weer laat vlamvat nie, maar ’n mens ook laat dink aan die voortdurende aantrekkingskrag van die Grensoorlog vir skrywers.

Wanneer die gesprek dus uitkring na ander moontlike stories om oop te skryf, ander vertel-instansies om op te soek, val die soeklig juis op ’n roman soos Vegters. Interessant en veelseggend dan dat dit ’n vroueskrywer is wat met soveel oortuiging en vernuf skryf oor die verhaal van twee Afrikanerseuns, Markus en Regardt, wat as deel van die Britse Valskermregiment in Afganistan teen die Taliban gaan veg.

Lucia Prinsloo se eie seun, Thinus, was vanaf September 2005 tot September 2009 ’n lid van die Britse Valskerm­regiment en was as lid van 3-Valskermregiment in 2006 en 2008 in Afganistan betrokke.

Die vertellings van ’n seun aan sy moeder kon dus verseker dat haar roman ’n verbysterende hoeveelheid detail en dikwels verstommend gelade atmosfeer te midde van oorlog kon boekstaaf. Daar is uiters grafiese, realistiese uitbeeldings en beskrywings van soldate se fisieke ervarings en sielkundige worstelinge. Verskeie tonele is só oortuigend dat dit voel asof jy elke oomblik saam met die karakters beleef. Prinsloo se slagveldskrywe alleen sou die lees van Vegters die moeite werd maak.

Daar is egter veel meer om die lyf as net ’n fassinerende verhaal.

Daar is egter veel meer om die lyf as net ’n fassinerende verhaal – deels oor die oorlogsbelewenis; deels oor die stryd van terugkerende soldate, vermink, verlam, of wat aan posttraumatiese stres ly; en die verhoudings met hul ouers, geliefdes en vriende. Vegters vertel ook ’n teer liefdesverhaal, bied insae in die motiverings en beweegredes van jong mans wat kies om te veg en is ’n bruisende avontuurverhaal wat eindig met ’n asem­rowende Dusi­kanomarathon.

Vegters slaag weens die oortuiging, energie en sensitiwiteit waarmee die skrywer haar storie aanpak. Verder – ten spyte van aanvanklike verwarring tussen die twee manlike hoofkarakters, wat nogal eenders is wat agtergrond betref – is Markus en Regardt lieflik afgeronde karakters wat lank bybly. Ook Christine, pianis en beminde maal twee, is ’n mensemens. Die inspan van Chopin se polonaise in A-mol majeur, die Polonaise Heroique, verleen verdere diepgang aan die verhaal van oor­lewing, omgee en innerlike krag.

Jonathan Amid is ’n vryskuttaalpraktisyn en -resensent van Stellenbosch.

Meer oor:  Resensies  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.