Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Verhale sal toets van tyd deurstaan

Die laaste wals

Hennie Aucamp (saamgestel deur Johann de Lange)

TAFELBERG, R240

Hennie Aucamp sowat 30 jaar gelede in Stellenbosch.Foto: PHILIP DE VOS

Met die afsterwe van Hennie Aucamp in 2014 verloor die Afrikaanse letterkunde een van sy mees geliefde seuns. Aucamp kan as een van die beste kortverhaalskrywers in Afrikaans beskou word. Vanaf sy debuutbundel Een somermiddag: landelike sketse en verhale (1963) oefen hy ’n beduidende invloed op die Afrikaanse kortverhaalkuns uit. Aucamp lewer pionierswerk met die vestiging en ontwikkeling van onder meer gay-verhaalkuns, kabaret en literêre mentorskap.

Die laaste wals is ’n dankbetuiging en eerbetoning aan Aucamp. Dit bevat 32 van Aucamp se beste kortverhale – 19 hiervan is deur Aucamp uitgesoek en 13 deur sy literêre eksekuteur, ­Johann de Lange. Die feit dat die skrywer sy eie verhale hier na waarde skat, is interessant en die afdruk van die oorspronklike lysie in Aucamp se handskrif op die laaste bladsy bring skrywer en leser nader aan mekaar.

Welgedaan aan Tafelberg Uitgewers vir hul bereidwilligheid om die bundel uit te gee, want op dié manier bly Aucamp se kortverhale vir ’n jonger geslag lesers behoue. Die enigste ander bloemlesing van Aucamp se verhale is In een kraal (saamgesteldeur Elize Botha) wat in 1983 (tweede uitgawe) verskyn. Die kweper was dus ryp vir ’n resenter bloemlesing. Terloops, die skets van Aucamp op die voorplat is iets besonders.

As ’n geheel is die verhale verteenwoordigend van die belangrikste temas en werkwyses in Aucamp se kortverhaalloopbaan van meer as 40 jaar (1965-2009). Al die bekendes soos “Die hartseerwals”, “ ’n Bruidsbed vir Tant Nonnie” en “Vir vier stemme” is opgeneem, alhoewel ander uitstekende verhale nie in die samestelling verskyn nie. Die uitmuntende inisiasieverhaal “My tante wat in Chelsea woon” is ’n goeie voorbeeld van ’n verhaal wat wel opgeneem moes word. Dit is teleurstellend dat “La Divina en die cowboy”ontbreek, aangesien dit een van die beste voorbeelde van queer-verhaalkuns in Afrikaans is. Gelukkig is my gunsteling Aucamp-verhaal, “Die nag van die ooms”, wel deur die skrywer as een van sy bestes benoem.

Elkeen het sy gunstelinge en ’n ander samesteller se keuses sou waarskynlik van De Lange s’n verskil het, hoewel dit opvallend is dat De Lange tot ’n groot mate dieselfde keuses as Botha uitoefen. Dit is grootliks vanselfsprekend dat kenners dieselfde verhale sal kies, want literêre gehalte lei dikwels tot konsensus. De Lange het hom goed van ’n moeilike taak gekwyt, veral as ’n mens Aucamp se omvangryke oeuvre in ag neem.

Dit is jammer dat die samesteller nie sy verhaalkeuses behoorlik toelig nie. Die flouerige nawoord verskaf slegs die publikasieagtergrond, maar verklap niks oor De Lange se spesifieke keuses nie. Die verhaalseleksie word nie binne oeuvreverband gekontekstualiseer nie. In dié opsig is Botha se uitstekende inleiding tot In een kraal van groter waarde.

Ek is nie gaande oor die titel van die bloemlesing nie. Dit aktiveer Aucamp se keuse uit sy verhaalkuns as ’n soort laaste skrywersdaad en speel in op die wals as prominente motief in sy verhale. Aan die ander kant dui dit te veel op beperking en te min op verruiming. Dit suggereer dat hierdie bloemlesing die laaste en enigste woord is wat ooit weer oor Aucamp te spreek is. Dikwels word ’n skrywer eers ná sy dood herwaardeer of ontdek en is dit van leserskant veel eerder ’n eerste tango as ’n laaste wals.

Aucamp kom nie om dowe neute tot die gevolgtrekking in “Judith in ’n tyd van rewolusie” oor die rol van die leser nie: “Want jy, die leser, het intussen ook ’n teks geword, die jongste variant in ’n reeks, een wat daagliks aangevul en geaktiveer word deur ’n storie wat jy dalk nooit wou of moes gelees het nie, maar nou onvervreembaar deel is van jou wese.”

Die laaste wals is verpligte leesstof vir liefhebbers van die Afrikaanse kortverhaal. As jy iets te wete wil kom oor onderspeling, aksentverskuiwings, suggestie en woordekonomie (almal wesenstrekke van die kortverhaal) is dié geselekteerde verhale van die beste voorbeelde. Op ’n minder akademiese noot is dit bloot vrek lekker om jou te verlustig in Aucamp se meesterlike vermoë om ’n goeie storie te vertel.

Dit is goed om te sien dat verhale opgeneem is wat getuig van Aucamp se vernuf om outobiografiese gegewens, kunsteoretiese besinnings en ’n essayistiese inslag verhaalmatig te ontgin. Goeie voorbeelde van hierdie soort genrevermenging en stilistiese oormekaarplasing is “Die baadjie sonder einde”, “Padhipnose” en “Bengelende pype”.

Die laaste wals is verpligte leesstof vir liefhebbers van die Afrikaanse kortverhaal.

By die herlees van Aucamp se beste verhale val sy deernis met menslike drif teen swakhede weer eens op. Eensaamheid, ouderdom, siekte en die ontmaskering van illusies is van die belangrikste temas in die Aucamp-oeuvre en word goed deur die gekose verhale belig.

“Op moedverloor se pleine” is byvoorbeeld ’n skreiende verhaal oor die vernederende en ontnugterende aard van ouderdom. Aucamp het deurlopend ’n tematiese bemoeienis met ouderdom gehad en bied van die mees insigryke literêre perspektiewe hierop in verhale soos “Die Caledonner” en “Die benefiet-voorstelling”.

Aucamp skep onvergeetlike karakters wat dikwels buite die norme van die samelewing staan. Dink maar aan Steven in “Steven en Fay”, Freddie McTavish in “Vir vier stemme” en tant Grietjie in “Die laaste huisgerief”, om ’n paar te noem. Aucamp se onsentimentele dog medemenslike tekening van hoere, swerwers en kunstenaars is een van die aspekte van sy werk wat my steeds die meeste aantrek.

Oor die gehalte van die verhale is nie veel meer te sê nie, behalwe dat hulle die toets van die tyd sal deurstaan. Aucamp se grootste geskenk aan die Afrikaanse letterkunde is sy werk- en lewensingesteldheid wat baie mooi deur George Weideman ter viering van Aucamp se sewentigste verjaarsdag verwoord is: “En dis dan nóg ’n faset van Hennie Aucamp waaroor ’n mens nie genoeg kan sê nie: sy onbaatsugtige diens aan medeskrywers, aan lesers; sy vermoë om boeke raak te sien en aan te beveel wat jou oor skryf en die lewe, oor kuns en kultuur, oor kultuur en natuur, oor oerdinge en vervlietende dinge aan die dink moet sit.”

Neil Cochrane doseer Afrikaanse letterkunde aan Unisa.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.