Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Verhale vol deernis, humor

Per ongeluk

Lloyd Zandberg

TAFELBERG, R240

Die afgelope ruk het ek ’n paar van my gunsteling­kortverhaalbundels herbesoek: Alexander Strachan se ’n Wêreld sonder grense, Jeanne ­Goosen se ’n Gelyke kans en ook Nataniël se Zip!

Toe ek gevra word om Lloyd Zandberg se debuutkortverhaalbundel te resenseer, was ek maar skepties, veral gegewe die enorme mas wat die arme Zandberg sou moes opkom weens my onopsetlike onlangse blootstelling aan dié drie puik skrywers. Maar, het ek ook gedink, dis dalk juis ’n goeie maatstaf. Strachan se bundel was óók ’n debuut. Dié boorling van Windhoek sal dus maar moet uithaal en wys . . .

Zandberg se kortverhale het almal ’n persoonlike strekking en is in die ware sin van die woord eerder anekdotes met ’n skeut magiese realisme wat van tyd tot tyd kop uitsteek.

Die bundel skop af met ’n huldeblyk aan Minnie, die Zandbergs se huiswerker. Zandberg skets hier ’n komiese agtergrond met eksentrieke gesinslede en bure, soos die buurvrou wat die meeste van die tyd soos ’n “depressed papegaai” lyk.

In die verhaal Tango vertel hy van Aunty Ash, wat besluit om “ballroom dancing” te leer doen. Weer is daar vreemde karakters soos Dicky, wat blind is nadat hy “die superglue-houer met die oogdruppels verwar het”. Die aanloop tot Ash se groot danskompetisie speel af soos ’n pantomime, met verskeie krisisse en verspotte oomblikke.

In Voor ek verdwyn bemeester die skrywer die kuns van selfspot in hoe hy sy gewigsprobleme beskryf. “Vir die grootste gedeelte van my bestaan was ek dik. Partykeer net oulik . . . ander kere was ek groot genoeg vir ’n gebed of ’n reality show,” skryf Zandberg.

Elkeen van die 17 verhale volg dié vertelpatroon: persoonlike ervarings wat ingekleur word met eksentrieke mense en humoristiese situasies en beskrywings. In Inkopies, byvoorbeeld, word ’n rooftog in Makro oordonder deur die manewales van ’n paartjie wat, onbewus van al die drama, dans op die maat van ’n Bles Bridges-lied.

Per ongeluk se skutblad beskryf die bundel as ’n “skreeusnaakse kykie op alledaagse situasies” – en dít is presies wat Zandberg uiteindelik met sy sketse regkry.

Om Zandberg te vergelyk met die skrywers wat ek vroeër genoem het, sal eintlik onregverdig wees omdat dié skrywer nie probeer om ’n grootse literêre werk te skep nie. Hy is eerder ’n storieverteller met ’n ligte aanslag, maar dit beteken nie dat Per ongeluk simpel of lig in die broek is nie.

Riaan Grobler is ’n vryskutresensent en redaksielid van City Press.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.