Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Verhale wat hy sélf kies, byeen

Bundel wys die hibriede aard van die kortverhaal, sê Joan Hambidge.

Die laaste wals: Hennie Aucamp se keuse uit sy verhaalkuns, saamgestel deur Johann de Lange. Uitgewer: Tafelberg. Prys: R240.

’n Jaar voor die bekende kortverhaalskrywer se dood, gee hy ’n notaboekie present aan sy vriend, die skilder Jan du Toit. Hierin is daar ’n lysie opgeteken van sy persoonlike keuse uit ’n imposante oeuvre. Johann De Lange as literêre eksekuteur het toegesien dat sy wens uitgevoer word. En omdat die meeste van hierdie bundels reeds uit druk was, kon hy hierdie taak dus verwesenlik.

En wat ’n wonderbaarlike bundel is dit nie! Wanneer verhale in bloemlesings saamgesnoer word, kry hulle ander en nuwe betekenisse. Verder word die leser ook gedwing om verhale, klassiek of “ouderwets”, opnuut te besoek. Elize Botha het dit immers in 1983 al Ineen kraal saamgeplaas.

Nou is dit ’n laaste wals en die dansbeeld (vanaf die eerste verhaal en “Die Caledonner” tot by “Vir vier stemme”) aktiveer immers passies, beheer, drif . . .

Aucamp se taalgebruik en styl is al by herhaling geloof. Met hierdie lees word die leser voortdurend blootgestel aan ouderwetse woorde (“verbolgenheid” vir woede; mals, bogte, onbesuisde . . .)

En sy mensekennis is opvallend. Hy kan gewoon ’n verhaal vertel omdat hy la condition humaine ken. Verhale wat ’n mens bybly om die lewenswaarhede wat weergegee word.

In “Die hartseerwals” (uit die gelyknamige bundel van 1965) is dit die potsierlike, vet, dom Hetta (destyds magistraal verfilm) wie se ellende nie verwoord kan word nie wanneer die wewenaar haar oorsien:

“Sy wens sy het net treurige plate gehad, maar nou het sy net één treurige plaat en hy is nie treurig genoeg nie.” (15)

In “Die baadjie sonder einde” uit Dalk gaan niks verlore nie (1992) – ’n verhaal wat so Tsjechofiaans is as wat kan kom – word die geskiedenis en lewensloop van ’n baadjie beskryf.

Of die wraak van ’n jongeling in “ ’n Piazetta in privaatbesit”, opgeneem in Gewis is alles net ’n grap (1994). Hier ondersoek Aucamp die mentor-student-verhouding op ’n pynlik eerlike wyse en hoe die jong man eintlik wil wraak neem oor die lewe wat hy nie kon uitleef nie. Hy het wel ’n vrou en twee kindertjies; maar dít wat hy begeer het, is hom nie beskore nie. Hierom is die slot ironies: Karel is nie die werklike wenner nie, ofskoon hy oënskynlik die ouer, gay man troef met sy gelukkige gesinnetjie.

Dit is waarskynlik alreeds ’n cliché om Aucamp se “Vir vier stemme” (Volmink, 1986) as magistraal te beskryf. Hierdie komplekse “boeregrap” waarin ’n straight man, Beimen Botes, om die bos gelei raak deur ’n “vrou”, is vintage Pedro Almodóvar-materiaal soos sy jongste rolprent Julieta (gegrond op ’n Alice Munro-verhaal, maar verplaas na ’n Spaanse landskap) bewys.

En om Munro te vermeld, is tersaaklik. Aucamp se verhale dra ’n kwaliteit van háár bestes: mense vasgevang in ’n lewenslot of uitgelewer aan fata met die landskap as ’n broeiende medeverteller. ’n Mens dink hier aan die Stormberge, ’n ruimte van uiterstes: die agtergrond waarteen menslike drama gekaats word.

Daar word dikwels geskryf dat kortverhaalskrywers soos digters dink en struktureer. Dit sien ’n mens ten beste in die verhaal “Portret van ’n ouma” (Spitsuur, 1967) met sy herhalende beelde en skerp metaforiek en simboliek:

“Die nag voor die einde het sy in desperate pyn of ’n bedwelming teen die bedtafeltjie geval en haar oog gestamp. Die volgende dag was dit pers en blou en groen, en ek onthou dat ek die gevoel gekry het: die Alsiende Oog lyk só.

“God het sedertdien uit baie oë na my gekyk, maar nooit weer so streng soos toe nie.” (34)

Die verhale wat Aucamp sélf gekies het, word vir die leser met ’n ikoon aangedui: HA met ’n veertjie asof dit ’n inkpotjie is. Aucamp, terloops, het met die hand geskryf. Al sy tekste is deur ’n ander persoon oorgetik en hierom vind ’n mens nooit ’n oorhaastige woord of ’n beduimelde sin nie.

Aucamp het die Afrikaanse letterkunde op verskeie maniere verryk en verruim. Ook sy teoretiese werke verdien vermelding (soos Kort voor lank) of sy essays oor die kabaret (Koffer in Berlyn).

Maar dit is veral sy verhale oor gay-sensibiliteit en die oorskryf van die “annerster soort” wat jonger skrywers geïnspireer het. Die triadiese verhouding tussen Koos Prinsloo, Aucamp en De Lange word in die kortverhaalbundel Vreemder as fiksie (1996) deur De Lange onder die loep geneem.

Die kortverhaalbundel deur Johan en Ria Smuts wat Die helder oomblik (2016) heet, tree duidelik ook met Aucamp in gesprek.

Ek is ’n liefhebber van die kortverhaal as genre. En hoe jammer dat dit as ’n “vingeroefening” gesien word deur sekere kommentators hier te lande.

Jorge Luis Borges is in die 1980’s vertaal deur Sheila Cussons in die verruklike Die vorm van die swaard en ander verhale.

Ek verwys opsetlik na Borges, omdat Aucamp se verhale, soos Borges se stories, boerestories oorvertel en met klassieke modelle in gesprek tree. Aucamp se kortverhale bewys die hibriede aard van hierdie genre.

Alex Emsley se omslagontwerp vang Aucamp goed vas: die kenner van die opposisie tussen die volmaakte en die verminkte: die Volmink.

  • Joan Hambidge is professor in Afrikaans en kreatiewe skryfwerk aan die Universiteit van Kaapstad.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.