Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Verkragte vrou praat hier terug

Al tree Fiona Snyckers met haar roman ‘Lacuna’ toe tot die debat oor hoe J.M. Coetzee die verkragting van sy karakter Lucy in sy Nobelpryswenner ‘Disgrace’ hanteer, is dit wragtie een van die plesierigste en interessantste romans wat Fanie Olivier in ’n lang tyd gelees het.

Fiona Snyckers

Lacuna deur Fiona Snyckers. Uitgewer: Picador Africa. Prys: R270.

Tydens ’n besoek van ’n jong Kaapstadse dosent aan haar pa op sy plaas in die Worcester-distrik word hulle deur ses mans oorval. Die vrou word herhaaldelik verkrag terwyl haar pa moet toekyk. Daarna word die huis aan die brand gesteek.

Die versekeringseis om die verwoeste huis duur lank om afgehandel te word. Die pa, ’n voormalige professor, probeer die eis buitensporig laai en betrek in die proses sy dogter. Die versekeraars raak agterdogtig en dit loop ’n paar jaar ná die verkragting uit op ’n hofsaak vol kinkels waaroor daar in die blog Tracy Whitegirl’s Legal Blog on the Internet verslag gedoen word.

Dit is die een storielyn in Fiona Snyckers se jongste roman, Lacuna. In ons geskeide literêre wêrelde is min Afrikaanse lesers waarskynlik met Snyckers se werk vertroud: ’n reeks romans vir tieners, ’n netjiese misdaadriller en ’n stel ongewone selfoonromans, die Sisterz-reeks. Met Lacuna breek sy heeltemal weg hiervan. Dit is ’n sterk roman wat ’n klomp wêrelde betrek en die hele tyd met die leser se verbeelding speel.

Kan ’n skrywer ’n karakter uit iemand anders se roman as verteller in haar eie roman gebruik?

Die problematiek rondom wat iemand maak met die verskrikking van ’n verkragting, staan sentraal – dit is die tweede en belangrikste storielyn. Hiermee saam loop ’n verslag van terapiesessies met ’n sielkundige en die versigtige wyse waarop die slagoffer begin uitreik na mans.

’n Derde storielyn wentel om die verhouding tussen die verteller en haar pa. Dit verbrokkel geleidelik totdat sy teen die einde kan glo hy het die verkragting beplan om homself daardeur te verryk.

Verder bekyk die roman die wyse waarop verskillende belangegroepe beslag probeer lê op die gesprek oor verkragting en bemagtiging, ook die letterkundiges. Spanning tussen groeperings op kampusse en by kongresse duik telkens op, soms skreeusnaaks beskryf.

Maar veral is die roman ’n gesprek met J.M. Coetzee, sy Nobelpryswennerroman Disgrace en die uitgebreide debat wat in tientalle publikasies en op ’n horde kongresse gevoer is – en steeds gevoer word – oor die wyse waarop Coetzee die verkragting van sy karakter Lucy deur drie mans op haar plaas in die Oos-Kaap hanteer. Die kern van die kritiek is dat die verkragte vrou (asook die student met wie haar pa ’n verhouding gehad het) nie in Disgrace ’n stem kry nie en, veral, omdat die verkragting as ’n noodsaaklike metafoor vir ’n nuwe Suid-Afrika goedgepraat sou word.

Dit is hierdie gat, die gebrek, die afwesigheid waarna die titel van Snyckers se roman verwys en waarmee sy vir Coetzee wil aanvat: “My name is Lucy Lurie, and I am that lacuna” (bl. 2).

En moenie dink hierdie aanvatslag is sommerso nie. Die voorblad maak reeds die storie oop: Die maer rondloperteef op die destydse Suid-Afrikaanse uitgawe van Disgrace is netjies in silhoeët uitgeskeur en met kleefpapier vasgeplak. “Toe-eiening,” wil dit verklaar.

Die roman begin met ’n proloog waarin die kaarte op die tafel gelê word. Die jong vrou wat by Worcester verkrag word, die ek-verteller, se naam is Lucy Lurie; haar pa is David Lurie, wat in oneer as professor by die universiteit moes bedank ná ’n verhouding met ’n student. Dieselfde name, dus, as in Coetzee se roman.

Die speletjie, in dodelike erns, het begin. Kan ’n skrywer ’n karakter uit iemand anders se roman, ’n vrou wat verkrag word, as ’n verteller in haar eie roman gebruik? Haar dus die stem gee wat sy nie gehad het in die oorspronklike roman nie? En só die skrywer, die werklike J.M. Coetzee, direk betrek in hierdie roman en met hom in geding tree?

Hoe fiktief moet Coetzee word om nie meer Coetzee te wees nie? Sou, byvoorbeeld, die “feit” (lees: feitefout) dat hy ’n onsuksesvolle skrywer is wanneer hy van Lucy se verkragting hoor en Disgrace begin skryf, en dit blitsvinnig klaarmaak, die werklike Coetzee en die romankarakter uitmekaar kan hou? Is die “University of Constantia” ver genoeg verwyder van Ikeys? Help dit dat Coetzee nie in die Bo-Kaap gewoon het nie?

Hoe “waar” kan Snyckers se roman wees as daar verwarring ontstaan rondom Lucy van Lacuna se swangerskap en die gewraakte een in Coetzee se roman? Die chronologie klop net nie, want die verskyning van die roman, selfs binne Snyckers se verslag, sou so ’n vergelyking net nie moontlik maak nie. Maar, natuurlik, hoef dit nie. Dit is op stuk van sake net ’n roman . . .

Hoe werklik moet Coetzee wees om nie as fiktiewe karakter in die roman te bestaan nie? Hoe gemaak met die beskrywings van Coetzee se gestereotipeerde “onbeskofte” persoonlike gedrag wat Lucy beskryf in sy omgang met haar as student en later kollega? Of die feit dat hy Australië toe geëmigreer het en in Adelaide woon waar Lucy hom wil gaan opsoek?

Terselfdertyd vertel Lucy aan die lesers hoe noukeurig en getrou Coetzee haar uitgebeeld het in sy Lucy-karakter in Dis-grace en watter geheime plesier sy tog daaruit geput het, alhoewel dit eweneens op toe-eiening neergekom het: “Some-thing within me blooms under the warm, acknowledging gaze of a clever old man. I feel worthy. Validated. I feel like I exist. Like I matter” (bl. 8).

Die spel tussen verskillende werklikhede (of die weergawe daarvan) word ongetwyfeld een van die verrassendste en lekkerste dinge van Lacuna. Ons lees byvoorbeeld die verslag van die sielkundige Lydia Bascombe (bl. 12-14), maar ontdek dit is Lucy se eie skepping. Ter wille van die voornemende lesers – en ek hoop daar is baie – laat ek die ander soortgelyke misleidings daar.

Dan is daar enkele episodes waar die roman die gedaante van die magiese realisme aanneem sonder om daarin weg te raak. Hulle bestaan veral rondom Lucy se ontmoetings met die kind van Disgrace se Lucy, nou as ’n seuntjie en dan as ’n dogtertjie.

Haar vriendin Moira doen haar bes om Lucy te help om haar persoonlike lewe weer op koers te kry. In hierdie proses gaan soek sy maats op die internet en hoewel sy hoofsaaklik uitgeskel en beledig word, ontmoet sy en vorm ’n vriendskap met Eugene Huzain. Dit is sy wat hom uiteindelik verlei om só haar seksualiteit terug te wen en dalk ook haar vertroue in die manlike spesie.

Omdat sy deur Coetzee toegeëien is (dus ook as’t ware sonder haar instemming gevat is), word die vertellende Lucy nou in die roman ’n belangrike openbare figuur in die (feministiese) debat oor verkragting en die wyse waarop Coetzee dit uitgebuit het. Van die interessantste stukke van die roman werk hiermee, somtyds sterk akademies (waarvoor is vaktydskrifte en kongresse anders nodig?) en soms amper banaal. En soms albei deurmekaar.

En telkens kom Lucy die slegste daarvan af. Sy weier om sonder meer politiek of literêr korrek te wees, want ook op hierdie terreine vind sy dat sy tot ’n objek gereduseer word. Nêrens, voel sy, kry sy werklik die kans om haar sê te sê nie.

Teen die slot van die roman, ná nog ’n ontnugtering, vertel Lucy aan een van die paneellede wat sy besonder onsimpatiek gevind het, dat sy haar en Coetzee se geskiedenis moet en wil vertel op daardie platforms. Die sosioloog het ander raad: Sy moet haar eie roman skryf waarin sy Coetzee kan aanvat.

“But it will be female and angry and incoherent and ugly and raw,” antwoord Lucy. En so kry Lacuna dan sy ontstaan, maar dit is beslis nie al hierdie dinge wat Lucy beweer nie. Hoogstens “angry”.

Lacuna is een van die plesierigste en interessantste romans wat ek in ’n lang tyd raakgeloop het, sonder dat die kernvrae waarmee dit werk gereduseer word of op ’n preekbeurt uitloop. Dit sal nie-akademiese lesers laat sien hoe werk daardie wêreld, en vir die akademici miskien help om hulleself nie so ernstig op te neem nie. Lees dit – en natuurlik Disgrace ook.

  • Fanie Olivier is ’n digter, taalpraktisyn en afgetrede akademikus wat J.M. Coetzee se roman Disgrace in Afrikaans vertaal het. In oneer is in 2009 deur Umuzi uitgegee.
Meer oor:  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.