Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Verraad in die brose Suiderland

Amatola

Piet van Rooyen

PENGUIN, R220

Piet van Rooyen se romans Die spoorsnyer en Gif is onder die moetlees-boeke in Afrikaans. Min skrywers het die wêreld van die San, of Boesmans, so ontgin soos hy met Die spoorsnyer (1994) en Agter ’n eland aan (1995).

Met Amatola is ’n groep argeoloë van Suid-Afrikaanse universiteite op pad na die Sneeuberge in die Oos-Kaap om na ’n besonderse reeks San-rotstekeninge te soek. Hulle kry dit eindelik, maar dan tref ’n nagmerrie hulle wanneer die groep deur ’n bende rowers wat in die berge lewe – die Amatola – oorval en aangehou word.

Amatola is ’n boek van twee helftes. In die eerste helfte stel prof. Attie Vermaak sy groep kundiges bymekaar en reis hulle oor drie dae van Gauteng na die Oos-Kaap. In Reddersburg word hul kameras uit die bussie gesteel en volg ’n vreemde uur of twee op die voetspore van ’n kleinskaalse dwelmbaas in die township, Die Kakhuiskoning. Hy is lank en skraal, van Khoi-afkoms, dit lees soos ’n daggatrip. Hulle ontmoet ook ’n Afrikaanse skrywer wat net skreeu: “Fok die leser!”

In die Vallei van Verlatenheid buite Graaff-Reinet kry hulle twee pap bande en Jan die Kaktusman, nóg ’n vreemde karakter, bied hulle hulp aan. Twee lede van die groep, Jan Brand en Radie, kry ’n rygeleentheid in sy ou Land Rover na die dorp. Hulle oornag in sy huis met ’n woud van kaktusse in sy tuin. Hy bied hulle meskalien, ’n soort dwelmtee, aan. Hulle gaan op ’n wilde trip wat ’n paar vet vroue insluit.

As jy nog kopkrap oor waarheen die twee vreemde tonele en nog vreemder karakters jou lei, is jy in die tweede helfte van die boek. Dis asof dit skielik ’n ander verhaal is – dieselfde mense in die groep, maar nou is dit ’n meer realistiese omgewing. Hulle is wetenskaplikes en avonturiers wat die oorlogs­tafereel van ruiters en diegene wat vlug, soek en dan ontleed. Dan slaan die noodlot toe in die vorm van ’n wrede bende.

Waar jy nog ’n klompie bladsye gelede gegrinnik het oor Die Kakhuiskoning, die vreemde skrywer en Jan die Kaktusman se sêgoed, kyk jy geskok toe hoe die bende­lede een student wegsleep en verskriklik verkrag. Waar die span wetenskaplikes nog teorieë oor die rotskuns bespreek het, word hulle nou onderwerp aan ’n primitiewe spul rowers en moet hulle uintjies grawe en rotte jag om te oorleef.

Die dwelm-trips van flooziesword ’n hiperrealistiese nagmerrie. Die span argeoloë, wat hul kennis van rotskuns wou toets en uitbrei, word ’n groepie wat soos Boesmans van ouds in die veld moet oorleef – en selfs hul kennis van Boesmans inspan. Die stedelinge word gehard en slu, soos die rowers.

Eindelik word Vermaak en sy span dié wat vlug op die rots­teke­ning. Waar die Boesman-stam op die sjamaan en sy mitiese figuur se krag kon reken, kan hulle net hul kennis van die Boesmans en hul veldkuns gebruik om te oorleef (al is dit ongesê). Dis ’n oorlog tussen die wetenskap en oorlewing. Wat is belangrik in die lewe en wat nie? Dis ’n verhaal van verraad en menslike gedrag onder die ergste toestande denkbaar.

Die leser spook wel met vrae oor wat die betekenis van die absurde tonele in die reis na die Sneeu­berge is. Wil die skrywer vir jou iets sê by monde van die skrywer in Reddersburg? Eindelik is daar een nagedagte wat by jou vassteek nadat jy Amatola neersit: Die lewe is broos in die Suiderland. Nog altyd – vir die !Xam-stam wat hier uitgejag is – en die wit groep wat nou in hul spore is eeue later.

Die spanning vat Van Rooyen baie goed vas in Amatola. Lees gerus, maar dit is nie ’n New Age-handleiding vir jappies nie.

Charles Smith is nuushoof by Volksblad.

Meer oor:  Misdaadfiksie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.