Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Verse geen teengif vir die melancholie

Alles het niet kom wôd

Nathan Trantraal

KWELA, R200

Nathan TrantraalFoto: CRAIG SWARTBOOI

Die bekroonde (en soms omstrede) digter, rubriekskrywer en strokieskunstenaar Nathan Tran­traal se tweede bundel, wat pas verskyn het, begin met ’n aanhaling uit Tales from Moominvalley deur Tove Jansson:

“It’s the right evening for a tune, Snufkin thought. A new tune, one part expectation, two parts spring sadness, and for the rest, just the great delight of walking alone and liking it.”

Die beskrywing van die wrang plesier wat geput kan word uit bittersoet “spring sadness” sluit goed aan by die humoristiese en melancholiese toon van Trantraal se bundel Alles het niet kom wôd.

In ’n onderhoud met LitNet beskryf Tran­traal die onderwerp van die gedigte in sy eerste bundel, Chokers en survivors (2013), as “history as told by the losers”. Die meeste gedigte in Alles het niet kom wôd gaan, soos dié in Chokers en survivors en die verhale in Coloureds (een van die grafiese romans wat Nathan saam met sy broer André geproduseer het), oor arm bruin mense in die Kaapstad-omgewing – mense wat “losers” is in die opsig dat hulle nie die vrugte van kapitalisme of globalisasie pluk nie en wie se verhale gewoonlik nie opgeneem word in die geskiedenis of die gekanoniseerde literatuur nie.

Omtrent die helfte van die gedigte in Alles het niet kom wôd kan beskryf word as karaktersketse van mense uit die omgewing, “losers”, “walking alone and liking it”.

Hierdie fokus op karakters soos Ban (“Ban se pa onthou soms van hom / Maa laas wat hy hom kom hal et / toe lat val hy vi Ban / vanne moving bakkie af”) herinner aan die werk van die Amerikaanse digter Charles Bukowski.

Bukowski sê, in terme van sy eie werk oor “losers”: “In a capitalistic society the losers
slaved for the winners and you have to have more losers than winners.”

Trantraal herinner die leser van sy bundel aan die invloed van ras op wie wen en wie verloor in ’n kapitalistiese samelewing, onder meer in die gedig “S.o.b.”:

Toe slavery eindig

in America het ’n slave

40 acres enne mule gekry

om sy liewe mee te begin

Christopher Robin het

100 acres gekry met

’n beer

’n tiger

’n owl

’n piglet

’n kangaroo

’n rabbit

’n heffalump

enne mule

net om mee te speel

En dan vestaan jy nie

hoekom ôs jou haatie

Silly old boer

Soos Bukowski, en die Afrikaanse digters Danie Marais en (Trantraal se eggenote) Ronelda S. Kamfer, skryf Trantraal verhalende gedigte – gedigte waarin verhale in spreektaal oorgedra word.

Tradisionele gedigstrukture is dus grootliks afwesig in die bundel, maar daar word wel meer aandag aan ritme en metrum gegee as in Chokers en survivors. Veral “Rebekah” en “Galaxy’s 21st birthday” is ritmies sterk en moontlik geskryf met die oog op voorlesings.

In laasgenoemde gedig word die oordrewe optimisme van popmusiek (“Make some fuckin’ noise!”) ondermyn op ’n manier wat herinner aan Die Skynmaagde se lied “In die club”.

Behalwe vir die karaktersketse is die ander “verhale” in Alles het niet kom wôd (soos dié in die poësie van Bukowski, Marais en Kamfer) outobiografies. Soos in Chokers en survivors gaan dié outobiografiese gedigte veral oor Tran­traal se jeug, maar nou is die fokus op sy verhouding met godsdiens.

Soos reeds afgelei kan word van die bundel se voorblad en dubbelsinnige titel (“Niet” kan verwys na “nuut” of “niks”) is hierdie verhouding nie eenvoudig nie. Net een van die gedigte (“Moenie vi hulle sê ôs gan ie, annes wil hulle saamkom”) verwys na spiritualiteit:

Maa ek dink somtyds nog an dai dag

en hoe ôs af in dai nou pas ge­stap et

en hoerie son deurie wolke gekommet

soes dun wit vinges wat ’n swaa godyn oeptrek

En hoe ek gedink et

die Here gan ôs eendag kom hal

oppe dag soes die

In die meeste gedigte is die outobiografiese spreker se perspektief eerder dié van ’n (emosioneel betrokke) sosioloog wat fokus op die sosiale en sielkundige funksies en gevolge van godsdiens.

In “Weepers” betreur die spreker byvoorbeeld dat sy pa nie in sy lewe is om hom te waarsku teen charismatiese predikers nie. In “Fiction en estrangement” word verwys na bruin Christene wat te gou die euwels van apartheid vergewe het, sodat dieselfde euwels steeds voortbestaan: “Ammel het hystoe gegan / Hulle na hulle hyse langsie sea / ôs na ôs shacks / langs poeletjies stagnant wate / waa die gif in vegifnis / ôs ammel siek gemaak et”.

Die bundel eindig met die gedig “Gebed zonder end” waarin die spreker verwys na ’n aand in Amsterdam saam met sy gesin, waarin hy kan vergeet van die probleme by die huis:

Venaand is ek myself

Die anne iteration van myself

Venaand worry ek oo niks

Ek dinkie an my ma-hulle byrie hys ie

Ek dinkie an my klein niefies

wie nog in Lavis bly nie

Hierdie “gebed” aan die einde van die bundel het my weer laat terugkeer na die Tove Jansson-aanhaling aan die begin van die boek. Lesers (en kykers) van die Moomin-verhale sal weet dat die teengif vir die melancholie en donkerte in die Moomin-vallei dikwels gevind word in ’n gesellige huislikheid. Dit is só ’n geselligheid wat in die laaste gedig beskryf word (“Ek is hie met my vrou en my kind, tussen vriende / Ek is dronk en ek worry nie oo hoe ek lyk / as ek laggie, ek worry nie oo môre nie”).

’n Tragedie van die wêreld wat in die res van Tran­traal se gedigte beskryf word, is dat dié alledaagse huislikheid ontbreek. Hierdie tragedie word met deernis, sinisme en humor in Alles het niet kom wôd verwoord.

Bibi Burger is ’n dosent in Afrikaans aan die Universiteit van Pretoria.

Meer oor:  Nathan Trantraal  |  Digkuns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.