Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Verse versteen die argeologie van vrees

Poësie

Kryt

Hennie Nortjé

QUEILLERIE, R240

Hennie Nortjé se bekroonde digdebuut van 2012, In die skadu van soveel bome, was klaarblyklik só gewild dat dié bundel nou op die voorplat van sy tweede versameling verse by die naam genoem word. Dat ’n digter in hierdie onpoëtiese land aan die titel van sy eerste bundel geëien sal kan word, is hoogs uitsonderlik.

Sy nuwe bundel het die kort en kragtige titel Kryt, en die gehalte van die verse staan beslis nie in die skadu van sy voorganger nie.

Die titel verwys na die Kryttydperk wat 145 miljoen jaar gelede begin het en 79 miljoen jaar later katastrofies geëindig het met die uitwissing van die dinosourusse. Die tydperk word so genoem weens die kalkbodems wat gevorm is deur onderwaterskulpdiere. Dit is ook die tyd waarin die eerste soogdiere hul verskyning gemaak het, vandaar die kwatryn “Kryt 1”:

Aan die einde van die Kryt

kalk ’n streep deur die krans

en bulder oor die afgrond uit:

Skrander aap, nou is jou kans!

Hier is die argeologie as skoolmeester aan die woord. Maar daardie kryt in sy hand voorspel ook reeds die vinnig naderende ondergang van die mens, want “die skrif is aan die muur” (“By Gerickespunt”).

Die mens is in der waarheid die bewerker van sy eie ondergang – dit word grafies op die voorplat voorgestel met die pylpunt van klip. In die gedig “Uit die amandelklip” word die ontwikkeling van primitiewe klipwerktuie vanaf oorlewingsinstrumente tot wapens van massavernietiging beeldend en tipografies uitgebeeld.

Die klipmes (“ ’n oogtand vir die hand”) word ’n byl, ’n pyl, ’n vuurpyl en ten slotte die onvermydelike atoombom wanneer die tegnologies skrander mens “klip tot in die kern splyt” (“Gaia”). Die slotstrofe van “Uit die amandelklip” vertoon dieselfde vorm, hoewel omgekeerd, as die pyl- of spiespunt op die omslag.

Vanaf die kwatryn “Kryt 2”, met sy alte maklike en skoolse swart-wit-teenstelling (“bros verkalktes” versus “swartbord”), word die mens se oeroue klipverbondenheid metafories voortgesit in die Suid-Afrikaanse politieke geskie­denis. Die amandelklip word Kirstenbosch se wilde­amandel­­laning as vroegste apartheidsimbool (ten onregte, trouens), asook Robbeneiland se steengroef waar onder andere Mandela moes swoeg (“Klipwerkers”).

Die gewelddadige realiteit van die nuwe Suid-Afrika kry onthutsend gestalte in “Hopper en Pollock besoek die Boland”. Met hierdie gedig bewys Nortjé hoe bedrewe hy kan wees met die versoening van totaal uiteenlopende verwysingsvelde – ’n tegniek wat in “The rumble in the jungle” ongelukkig tot steurende metafoorverwarring lei.

Die gewelddadige realiteit van die nuwe Suid-Afrika kry onthutsend gestalte in “Hopper en Pollock besoek die Boland”.

Die vraag is natuurlik: Wat staan die bedreigde wit kolonis in hierdie land (“stuk-stuk onteien en gekaap”) te doen? In “Kryt 3” vind die digter ’n antwoord by die uitgestorwe dinosourusse:

Archaeopteryx, mislukte feniks,

reptielbeendere vol versteende vere.

’n Les deur Tyd geleer:

herverrys, vlug betyds,

of raak volmaak

gefossileer.

Die verstening van die spreker word reeds in “Karoo-reptiele” voorspel. Hy staan vir ’n oomblik verbyster (“versteen”) voor ’n fossiel: “asof uitsterf steeds gebeur”. Daarom oorweeg hy klaarblyklik om, net soos sy kinders, na Kanada te emigreer. Maar daar speel wit en swart ook ’n rol. Die plankhuise in die sneeu word, nogal geforseerd, simbolies en ironies soos volg beskryf: “Donker stamme omsingel almal, / wit word hier nét so gehaat.” Dit staan in die vierde skarniergedig met die titel “Kryt”.

In Kryt is ’n besonder vaardige digter aan die woord – een wat weet hoe om ’n bundel tot ’n hegte samehang te struktureer met deurlopende metafore en motiewe.

In die sonnet “Kroos vooruit” word die feit dat sy kinders hom vooruitgegaan het na Kanada, in verband gebring met die witrenoster (al weer die klem op witheid) wat haar kalfie voor haar laat uitloop. In die slotstrofe word Suid-Afrika teen die “bevrore noorde” opgeweeg as eind­bestemming:

Kind, hoe sal ’n pa dan vir sy herkoms boet?

word hy onder die savanna-son gestroop,

of vries hy in die toendra soos mammoet?

Uit hierdie strofe blyk ook Nortjé se humorsin, wat al reeds in die vroeëre voëlgedigte geflonker het (ble. 35 tot 38). In “Voëlgriep” is daar selfs sprake van galgehumor, met ’n treffend dubbelsinnige gebruik van die woord “koors­agtig”.

In Kryt is ’n besonder vaardige digter aan die woord – een wat weet hoe om ’n bundel tot ’n hegte samehang te struktureer met deurlopende metafore en motiewe. Ek is ook beïndruk deur die subtiele manier waarop D.J. Opperman se “ondergangsbundel”, Dolosse van 1963, as interteks betrek word in die openingsgedig “Voorspel”. Die versteende been van ’n Tyrannosaurus rex is die “vroegste dol­os” in sy fossielversameling, net soos wat dit die eerste gedig in die bundel word. Maar dié dolos voorspel uiteraard ook die einde van die kolonis in Afrika en die moderne mens se onvermydelike selfuitwissing. Die dinosourus maak later in die bundel weer sy verskyning as ’n ou polisiehond Rex wat aan sy “voos agterpoot” (’n dolos) knaag. Dit illustreer Nortjé se speelse vernuftigheid ondanks die erns van die onderwerp.

Ek voorspel dat Kryt ewe gewild onder poësielesers gaan wees as In die skadu van soveel bome. In “Dig onder vriespunt” staan die volgende twee reëls: “Gerugte oor verpulping / laat spardenne sidder.” Gelukkig is dit blote gerugte.

Daniel Hugo is ’n digter en vertaler van Prins Albert.

Meer oor:  Daniel Hugo  |  Resensies  |  Gedigte  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.