Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
‘Verstommend dat kampe vandag herhaal word’

Damian Barr het uit Brighton, Engeland, aan Herman Lategan gesê hy vind dit fassinerend dat sommige Afrikaners wat weet hoe erg die ABO-konsentrasiekampe was, dit herskep het in die vorm van paramilitêre kampe ‘wat van moffies ’n man wil maak’.

Damian Barr Foto: Jeff Spicer

Hoekom ’n boek wat in Suid-Afrika afspeel? Die moord (in 2011) op die 15-jarige Raymond Buys by ’n Echo Wild Game Rangers-oefenkamp op ’n plaas buite Vereeniging het tot my gespreek.

Dit was soos ’n konsentrasiekamp: Om van hom ’n “man” te maak is Raymond aan ’n bed vasgeketting en met planke en tuinslange gemoker. Hy is verhonger en mag nie die badkamer gebruik het nie. Sy bed het hy bevuil. Hy is met sigarette gebrand omdat hy glo gay was.

Buys het gelyk soos ’n seun uit Suid-Afrika wat vir ’n jaar saam met my op skool was in Skotland. Dít was die emosionele verbintenis.

Die boek begin in ’n konsentrasiekamp in Bloemfontein en eindig in iets wat baie na aan een kom. Ek vind dit fassinerend dat sommige Afrikaners wat weet hoe erg daai kampe was, dit dan meer as 100 jaar later amper herhaal en herskep.

Hierdie keer is dit nie kampe vir vroue en kinders nie, maar om van “moffies” ’n man te maak. Ek het met Gillian Slovo hieroor gepraat en sy het gesê: “Ek is bly jy skryf hieroor, jy is 'n buitestander. Jy het nie ’n perd in die resies nie.”

Leer die Britte op skool oor die Anglo-Boereoorlog? Ja, maar net bolangs – die meeste mense is onbewus van die verskroeide-aardebeleid op plase en hoe wreed die konsentrasiekampe was. Selfs in die Britse parlement het iemand soos Jacob Rees-Mogg sy onkunde uitgespreek en onder meer beweer vroue is in die kampe gegooi om gevoed te word. Regtig?

Hoe het jy op die titel besluit? Die karakters in die boek word vertel: “Julle sal hier veilig wees.” Maar dit is nie waar nie. Die Britte sê dit vir Sarah en Fred in die konsentrasiekamp. Daar word ook vir Willem gelieg toe hy na die halfmilitêre oefenkamp gaan. Die titel pols met wrang, wrede ironie.

Jy het as buitestander die nuanses van die plaaslike karakters en die atmosfeer in die land baie goed vasgevang. Hoe het jy dit reggekry? Ek het ’n ruk in Suid-Afrika deurgebring en versigtig geluister hoe mense praat. Ook was ek bevoorreg om ’n paar dae met Wilma Buys, Raymond se ma, deur te bring en na haar storie te luister.

Ek het ook lesers soos Margie Orford en Thula Cube gehad wat vroeg reeds foute uitgewys het. Verder het ek baie Suid-Afrikaanse fiksie gelees, skrywers soos Damon Galgut, J.M. Coetzee, Nadine Gordimer, Kopano Matlwa en Olive Schreiner. Marlene van Niekerk se Triomf het vir my die verskillende lae van die samelewing verhelder, terwyl André Carl van der Merwe se boek Moffie my insig gegee het oor jul ou weermag en hoe toksiese manlikheid gekweek is.

Jy peper die teks met ’n paar lekker Afrikaanse woorde. Is jy nie bang oorsese lesers gaan dit steurend vind nie?

Dit is belangrik om jou karakters se spreektaal plek-plek te gebruik, dit dra by tot die verryking van die teks en maak die karakters outentiek. Ek het Afrikaanse woorde gebruik waar ek gedink het Engels klink net nie reg nie, soos die hoenders wat “kekkel”.

Jou boek plaas die soeklig op toksiese manlikheid. Ja, dit is iets wat uit my kinderjare kom. Ek het in ’n werkersklasomgewing grootgeword waar ’n man ’n mán was. Ek het as jong gay seun baie mishandeling ervaar. Dit was die vroue wat gesinne en die gemeenskap funksioneel probeer hou het.

In Suid-Afrika het ek dit ook gesien: ’n tipe machismo – en nie net in die Afrikaanse gemeenskap nie. Die vlakke van geweld was vir my amper pornografies! Wat ek skokkend gevind het, is hoe genormaliseer dit is.

Die eerste deel van die boek wat in die konsentrasiekamp afspeel, kan eintlik op sy eie staan. Ek weet, maar ek wou nie ’n historiese roman skryf nie. Ek wou uitlig hoe, onwetend soms, die geskiedenis hom op vreemde en verskillende maniere kan herhaal. Vir my is Sarah se storie die konteks vir die verhale van Rayna, Irma en Willem.

Wil jy iets byvoeg? Eintlik is ek ontsteld oor hoe die Britte die Anglo-Boereoorlog probeer wegwens. En soos reeds genoem, dink baie mense die kampe was welwillend. Voordat ons vooruitgang kan maak, moet ons ons verlede erken, al maak dit ons skaam. Ek hoop ook my liefde vir jul landskap word in die boek raakgelees. Ek is oorstelp deur die prag. Ek voel as daar een nasie is wat die verlede kan konfronteer en na ’n beter toekoms kan beweeg, is dit julle.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.