Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Verstommende verse uit veelkantige oeuvre

Poësie

Het jy geweet ek kan toor

Jeanne Goosen

HEMEL & SEE BOEKE, R130

Hierdie bundel moet saam met Goosen se Los gedagtes (aforismes) gelees word.

Die bundel beslaan ’n tydperk van meer as 50 jaar en die broksgewyse, nie-opeenvolgende gedigte is met sorg uit die verskillende bronne byeengebring, verduidelik die samesteller, Petrovna Metelerkamp, wat tans besig is met ’n biografie oor Jeanne Goosen.

Goosen skryf met die hand. Sy hou dagboek en daar is vele notaboeke. Sy is ’n veelkantige figuur: sowel digter as romanskrywer; dramaturg en kabarettis.

Die letterkunde is vol van werkboeke met onvoltooide, verskillende weergawes en nagelate verse. Daar is die Tristia-sketsboek en Helize van Vuuren het al gewys op die verskillende titel­variante en brugtekste in Literator 7, 1986. Daar is Opperman se bundel Sonklong oor Afrika (2000), deur J.C. Kannemeyer versorg. Johann de Lange het ’n keur gemaak uit Wilhelm Knobel se digkuns postuum: As die woorde begin droom (2011).

Hierdie soort teks is ’n argief. Dis ’n navorsingsbron vir die soort leser wat tekste wat reeds gepubliseer is wil vergelyk met wat in die louoond is.

Motiewe en beelde

Watter motiewe word herhaal? Hoe word beelde gesirkuleer? In die woorde van Marietjie Coetzee, kundige ouduitgewer: “My gevoel tot dusver is dat jy alles moet insluit omdat sommige versreëls of strofes ook as ‘konsepte’ van latere gedigte beskou kan word. Vir ’n navorser dus belangrik omdat dit iets van die skep­pingsproses van die gedigte vergestalt.

“Daar resoneer selfs versreëls of langer gedeeltes van haar prosawerk in die versameling. Gedeeltes wat dalk nie op peil is nie, openbaar Jeanne as mens, as ‘rare voël’.”

Die bundeltitel dui op die skryfproses, soos Goosen dit stel:

Ek met taalgebrek

moes swygend losgoed speel

met pyl en boog en rats

my eie wondbaarheid kwes

ek ken nie ek.

Maar uit die koel fontein van jou mond

het ek my dors geles

en my eerste woorde, skugter gesê:

Ek is moeg. (bl. 16)

Dertig en droef

Goosen het van die mooiste liefdesgedigte in Afrikaans geskryf. Oor die verlange wat haar “dertig en droef” gemaak het.

Hoe moet ek sê hoe ek regtig voel?

Vanoggend het my geliefde

die haard verlaat.

Sy, met haar mooi oë en sagte lyf

het in die wêreld verdwyn. Sy is elders aan diens nou.

Hunkering is ’n wond.

Dit het – soos woede – ’n toekoms.

Hoe – hoe moet ek sê

hoe moet ek sê, hoe ek regtig voel? (bl. 25)

Verskeie kere ondersoek sy die donker kant van haar psige. Hierdie gedig aktiveer die motto uit Om ’n mens na te boots (1975) wat die plesier van malheid ondersoek via Dryden: “There is a pleas­ure sure in being mad which none but madmen know.”

Depressie

Dis so afgryslik soos dit nice is ook

Die vrees is om in vrees te leef

en ’n vrees vir die verlies daarvan

O, die ekstase van afgryse (bl. 55)

Goosen is bewus van haar dubbel-aard:

Twee diere het ek:

die een is ’n afshow-gat

’n regte clown

dis ek orraait

Die ander optel-gryse

is skugter

Dis ook ek

immer aan ’t

koes koes koes

vir menslike aanraking (bl. 84)

En sinisme oor die mensdom, vind ’n mens ook hier:

Dood is ’n geheime organisasie. Dis ’n party animal. (bl. 129)

Die diva Coertse word besing en Goosen het ’n enorme kennis van musiek:

Vir Mimi Coertse

21 Februarie 2008

Ek hoor jou stem. Ons praat

en my niere verdriedubbel

Ek jubel uit twaalf harte

Hoe lief het ek jou nie

My verdwene verstandtande

gloei in die oorsprong van hulle oerwortels

O my nar

my droewige lemoen

jy sing Stabat Mater

jy die pragtige jy

die onvernietigbare rooi ballon

teen die hemelruim. (bl. 98)

Wees gereed vir fragmente

Die bundel is ver van “af” of voltooid, maar die voorwoord waarsku jou dat jy fragmente gaan lees. En selfs in die lopers is daar verstommende oomblikke wat jou weer terugneem na haar veelkantige oeuvre.

Die boek neem sy plek in neffens die lang galery van onvoltooide tekste.

’n Mens dink aan Truman Capote se Answered Prayers: The Unfinished Novel. Hieroor was die kritici uitermate bitsig, hoewel daar volgens hierdie leser nagelaat is om te kyk hoe dit resoneer met sy ander werk.

Hierdie boek het my weer laat nadink oor die argief as ’n be­waringsplek, stoorplek, maar ook om ’n portret te gee soos Janet Malcolm doen in In the Freud Ar­chiv­­es (Papermac, 1984).

Gedigte skryf, is 'n noodgeval

In die digter se eie woorde:

“Wanneer ek die dag ’n gedig skryf, ís dit vir my ’n ‘noodgeval’. Ek moet dit dán doen, anders word ek siek en onregeerbaar en bakleierig. Skryf laat my beter voel. Vir my is dit iets soos om sekere gevoelswaarhede bokant die intellektuele analise te stel, maar sonder om die rede te verwerp. Surrealisme is ook vir my ’n lekker wegkruipplek.”

Ons kan nie soos Jeanne wees nie. Jeanne is ’n kreatiewe wonderwerk. Dink net hoeveel keer het mense nie al geuiter “ons is nie almal so nie”!

Joan Hambidge beklee die Hofmeyr-leerstoel aan die Universiteit van Kaapstad.

Meer oor:  Resensies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.