Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Verstopte drein inspireer nuwe kinderboek-reeks

’n Knaend verstopte drein in sy huis en ’n loodgieter wat omtrent moes kopkrap om die probleem op te los het ’n nuwe kinderboekreeks uit die bekroonde skrywer Jaco Jacobs se pen geïnspireer.

Die eerste aflewering in Jaco Jacobs se nuwe Waldo-kinderboekreeks.
En hier is die tweede van vier aflewerings. Die la
En hier is die tweede van vier aflewerings. Die laaste twee boeke word in April uitgereik.

Waldo en die weerwolf met die rooi tekkies en Waldo en die draak met die groen tong is die eerste twee aflewerings in Jacobs se splinternuwe Waldo-reeks, wat onlangs deur Pan Macmillan Suid-Afrika uitgegee is. Dit is deur Gwendolene van der Merwe geïllustreer.

Jacobs, wat al meer as 185 boeke geskryf het, sê “idees (vir boeke) kruip op vreemde plekke uit” en sy jongste reeks is g’n uitsondering nie.

“ ’n Loodgieter is iemand wat elke dag met verskillende mense te doen kry, hul kombuise en badkamers sien – en seker soms eienaardige dinge in verstopte pype ontdek.

“Dit is waar die idee ontstaan het – Waldo se ma is ’n loodgieter en hy ry smiddae saam met haar in haar bussie. In die proses ontmoet hy ’n klompie vreemde karakters wat tot vreemde avonture lei.”

Benewens Waldo en sy ma, Linda, kan lesers daarna uitsien om ook sy beste vriendin, Connie, te leer ken, wat nie net met die jongste tegnologie vir Waldo help om raaisels op te los nie, maar dit boonop doen ondanks die feit dat sy verlam is.

Waldo se grootwordjare in ’n enkelouerhuis en Connie se avonture met haar boesemvriend in haar rolstoel – wat lesers nie aldag in kinderboeke sien nie – het “spontaan uit die storie ontstaan”, aldus Jacobs.

“Waldo het ’n talent om ander mense met hul probleme te help en verlore dinge op te spoor, maar hyself het ’n reuse-gemis in sy lewe – hy het nooit sy pa geken nie, en die verlange knaag soms aan hom.

“Wat Connie se karakter betref, was dit ook nie ’n doelbewuste keuse om ‘inklusief’ te skryf nie – ek wou bloot ’n baie sterk meisiekarakter skep wat saam met Waldo ’n klomp raaisels oplos. Connie is wel verlam, en dit skep sekere uitdagings, maar sy is ook ontsettend slim en onverskrokke, en teen boek vier het ek die grootste bewondering vir haar gehad.”

Jaco Jacobs Foto: Argief

Die Waldo-reeks het soos van Jacobs se ander skryfwerk ’n gruwel-element, ’n genre waarvoor hy bekend is en waarvoor hy ’n voorliefde het, maar hy sê hy sukkel om na, byvoorbeeld, weerwolwe en drake in die reeks as “monsters” te verwys omdat hulle (die monsters) “op die ou end ’n storie (het), dikwels nogal met ’n hartseer of roerende ondertoon”.

“Ek was van kleins af versot op spookstories en grillerige boeke en flieks. Party mense hou nie daarvan nie en ek respekteer dit, maar vir my was dit van kleins af ontsettend lekker om daardie ‘veilige’ bangheid te beleef – die storie gee jou partykeer lekker hoendervleis, maar jy weet darem ook die heeltyd dit is nie regtig nie.”

Die reeks volg op Jacobs se ander trefferreekse, soos sy Zackie Mostert- en Professor Fungus-reeks, waarvoor hy ook so gelief geword het. Hy sê die lekkerte van so ’n reeks is dat jy die karakters so goed leer ken.

“Ná drie of vier boeke voel hulle soos regte mense en jy kan voorspel wat hulle in sekere situasies sal doen en wat hulle sal sê. Ek dink dit is ook presies die rede waarom mense graag reeksboeke lees. Die uitdaging is natuurlik om voortdurend met nuwe stories vorendag te kom; om jouself nie te herhaal nie.”

Hoewel hy sê hy meestal geen benul het hoeveel boeke in een van sy reekse gaan wees nie, is sake met Waldo ietwat anders: Daar gaan net vier boeke wees. Die laaste twee boeke sal teen April op die rakke wees.

“Die meeste reekse het ’n sekere rakleeftyd waarna verkope begin afneem en dan neem ’n mens maar saam met jou uitgewer die besluit om die reeks te staak. Met Waldo was dit egter anders – ek wou van die begin af ’n reeks met ’n definitiewe einde skryf. Die boeke kan afsonderlik gelees word, maar daar is ’n deurlopende storielyn – die geheimsinnige verdwyning van Waldo se pa – wat in al vier boeke voorkom en in die vierde boek baie sentraal staan.”

Jacobs verklap dat Waldo se pad in die derde en laaste aflewering in die reeks met dié van ’n meermin met blou hare en ’n meisie met skerp tande gaan kruis. Dié boeke is net soos die res van die reeks gemik op lesers ouer as ongeveer tien jaar oud.

  • Die eerste twee aflewerings in die Waldo-reeks is reeds uitgereik. Die kleinhandelprys is R140.
Meer oor:  Boeke  |  Jaco Jacobs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.