“Hoe moeiliker die roman, hoe interessanter is die vertaling,” sê die skrywer en vertaler Michiel Heyns oor Red Dog, sy Engelse vertaling van Willem Anker se Hertzog-bekroonde roman, Buys: ’n Grensroman, wat op die langlys van die internasionale Booker-prys vir vertaalde fiksie pryk.

Michiel Heyns Foto: NB-Uitgewers
NB-Uitgewers

‘Red Dog’, Michiel Heyns se Engelse vertaling van Willem Anker se Hertzog-bekroonde roman ‘Buys: ’n Grensroman’.
“Dit is wonderlik dat die roman die langlys gehaal het,” sê Heyns.
“Ek sê altyd Agaat (van Marlene van Niekerk) en Buys was my moeilikste vertalings. Maar ek kla nie daaroor nie. Dit was lekker om saam met Willem te werk.”
Buys: ’n Grensroman is in 2014 deur Kwela uitgereik.
Dit handel oor Coenraad de Buys, ’n struikrower uit die 1700’s. Anker het destyds die Jan Rabie-Marjorie Wallace-beurs ontvang om dié boek te skryf.

‘Buys: ’n Grensroman’ deur Willem Anker.
Die roman het, benewens die Hertzogprys, al die ander groot pryse in die Afrikaanse letterkunde gewen, naamlik die UJ-prys, die W.A. Hofmeyr-prys, die kykNET-Rapport-prys, die Helgaard Steyn-letterkundeprys en die South African Literary Awards se K. Sello Duiker Memorial Literary Award.
Red Dog het in 2018 by Pushkin Press in Londen verskyn.
Dit is onder 13 romans op die langlys wat uit 124 inskrywings gekies is.
“Die uitgewer in Londen het my en Willem gelyktydig laat weet, ons is baie bly,” sê Heyns.
Die wenner se prysgeld is £50 000 (net meer as R1 miljoen), wat tussen die skrywer en vertaler verdeel word.
Heyns is die skrywer van romans soos The Children’s Day, The Reluctant Passenger en The Typewriter’s Tale.
Hy het ook Etienne van Heerden se Hertzog-bekroonde roman 30 Nagte in Amsterdam na Engels vertaal.

Willem Anker Foto: Leánne Stander
Leánne Stander
Anker prys Heyns se vertaalkuns. “Michiel is ’n fantastiese vertaler en ek is hom vreeslik dankbaar vir hoe hy Buys vertaal het. Dit was ’n besonder aangename proses om met hom saam te werk. Ons het ’n paar keer vergader soos die vertaling gevorder het en daaroor gesprek gevoer, maar sy hande was baie veilige en vaardige hande om die vertaling in oor te gee.”
Red Dog is verlede jaar deur kritici in Brittanje geloof.
“Ek is heeltemal oorbluf,” sê Anker oor Red Dog se jongste prestasie.
“Dit is vir my ’n enorme eer. Ek is baie dankbaar vir die erkenning wat die roman gekry het. Dit is ’n besondere aansporing om weer iets te probeer maak.”
Die kortlys word op 2 April bekend gemaak.