Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Murray La Vita praat met John Miles:
Verteller wat ‘liksens het’ om te mag vertel

John Miles gesels met Murray La Vita oor sy roman Op ’n dag ’n hond wat pas verskyn het.

John Miles tydens ’n onlangse onderhoud in Kaapstad.Foto: Jaco Marais

‘Ek kies in die begin ’n karakter en ek gee hom drie dae tyd in die hede. Ek gee hom drie dae om te lewe . . . Uit die hede, dis waaruit alles kom, en dis eintlik al wat daar is, behalwe die gewig van die verlede.”

Dít was sy opdrag aan homself, sê Miles. Die karakter is ’n bejaarde oudonderwyser wat die leser aantref waar hy een stormagtige nag in ’n tuinwoonstelletjie sit en musiek luister.

“Daardie twee, drie dae waarin jy hom dophou om te kyk hoe hanteer hy sy omstandighede, en dan die verlede wat saamspeel, want die toekoms bestaan nie; die toekoms is oop, die toekoms is moontlikheid waarin kans ’n geweldige groot rol speel. Ek voel nogal sterk dat mense maklik verlei word met die idee dat hulle lewe ’n plan het, want dis altyd terugskouend dat jy een of ander iets uitlig en dan miskien sê: Hier het ek ’n bietjie afgedwaal, maar dit was die groot ding.

“Heelparty van die groot geeste het al die klem daarop gelê dat ons . . . die mens is eintlik ’n wese wat ’n verhaal kies en volgens dié verhaal leef. Wel, dít is eintlik wat agter die boek lê. Hierdie is die derde boek ná my Johannesburgse dae en ek kom nou, terugskouend, agter dat ek telkens fokus op een karakter. En van verskillende ouderdomme is hulle. Die eerste een (Smerski in Die buiteveld) was, kom ons sê ’n man hier in sy dertigs; en die tweede een (Augustus Lotz in Voetstoots) ’n man hier in die veertig, vyftig; en ek het doelbewus gedink ek wil ’n ouer man kies in hierdie geval.”

Miles was tot sy aftrede professor en hoof van die departement Afrikaans-Nederlands aan Wits. Hy woon sedert 1998 op ’n plaas naby Nieuwoudtville in die Noord-Kaap waar hy met olywe boer.

“Die enigste ander insident in my lewe wat ek meegemaak het wat ’n soort vonk was, is dat my vrou destyds – ek praat nou van die 1970’s, begin 1980’s – voltyds gaan skoolhou het en op ’n dag by die huis aangekom het met ’n hond.

"Die hond het onverklaarbaar haar klaskamer uitgesoek en onder haar tafel gaan lê en toe aan die einde van die dag toe weet sy nie wat om met die hond te doen nie en toe bring sy hom maar huis toe.

“Nou, dit was wel iets. Ek het geweet ek gaan ’n hond inbring en ’n hond gaan ’n soort sneller wees om dinge aan die gang te sit verder in sy lewe.”

Die roman het oor vyf jaar “organies gegroei”.

“Natuurlik sit ek daaragter in die sin van, nie met my eie lewensverhaal nie, glad nie, maar die goed wat ek gelees het, het ’n invloed, en ek het dit laat deursypel na die karakter toe.”

Ter sprake is die werk van skrywers soos Rilke, Breyten Breytenbach, Octavio Paz, Michael Ondaatje, Sándor Márai, Majakofski, Mandelstam, en veral Marcus Aurelius.

“Hier is heelwat filosofie in die boek en spesifiek ’n bepaalde filosofie, maar ek wou ’n roman skryf; ’n verháál is my medium. Ek is nie besig met ’n essay nie; ek is nie besig met ’n preek of so iets nie; ek skryf ’n verhaal. Met ander woorde: Dit wat agtergrond is, moet geïntegreer wees in die verhaal.

“In die heel eerste hoofstuk word hierdie karakter eintlik bekend gestel, maar in plaas daarvan dat in ’n baie ou tradisie die profiel beskryf sal word van die karakter, word hy uit die tuin uit bekyk in hierdie stormagtige nag dat jy selfs die titels van die boeke by hom kan sien. En daardie titels het almal een of ander iets met hom te doen. Óf dit is soortgelyke karakters, ouer mans, óf om een of ander rede hou dit verband met sy optrede of sy gedagtegang.”

Hy meen sy laaste drie boeke is miskien “ ’n soort trilogie”.

“In die sin dat dit gaan om ’n lewensfilosofie wat uitgespeel word; die Stoïsynse aanslag. Dit dateer van Sokrates en daarna zen; dit strek oor eeue heen, om dan nou by Marcus Aurelius in die tweede eeu ná Christus met daai merkwaardige Meditasies van hom baie goed geboekstaaf te word. Een van die eerste dinge wat ’n Stoïsyn behoort te doen, is om te onderskei tussen dinge waarby hy kan ingryp, waaraan hy iets kan doen, en daar is sekere dinge wat buite hom lê.

“Dit waarby jy betrokke is, moet jy jou laat lei deur die rede en die natuur moet jy volg, want die natuur is rede. En dan, waar jy natuurlik wel vrye keuse het, is jou aansporing om goed te doen . . . Maar jou intensie om goed te doen is belangriker, want jy het geen beheer oor die afloop daarvan nie.”

Daar is al oor Miles se werk gesê dit beeld merendeels geweld en boosheid uit.

“Man, ek het nou dit om my nek gekry van Okker bestel twee toebroodjies af. Maar dit is ’n protes teen geweld. Dit is persoonlik vir my altyd so ontstellend om van geweld te lees. Die Suid-Afrika van vandag is die konteks waarin hy (die hoofkarakter in Op ’n dag, ’n hond) lewe . . . kom ons sê die geregtigheid van die polisie; hulle laat geregtigheid geskied, maar dis eintlik op ’n ongeregtige manier. Jy weet die narkotiseur wat in ’n stadium sê ubuntu is self ’n pasiënt in daardie hospitaal, en die plakkerskamp.”

Hy praat weer oor die hond in die verhaal.

“Ek wou iets meer maak met ’n hond, maar ek onthou die woorde van een van die Jamese: ‘If you want to make a symbol of a tree, first make the tree a tree.’ En hierdie hond is ’n hónd. Maar met die herhaling en met sy halwe obsessie om weer die hond op te soek, kry dit simboolstatus . . . Iets wat moeilik vas te vat is; dit kan iets van die gewete wees miskien; ek wil dit nie uitspel nie. Maar aanvanklik moet ’n mens ook onthou . . . daai lewenslustige hond wat daar op die hokkievelde baljaar, dit is natuurlik ook die hede, daai léwe en die lewensdríf wat uitgelewe word. Ek dink die onderwyser is baie bewus daarvan, hierdie energieke hond.

"Met ander woorde: hy is ’n hond ook voordat dit ’n kwel-element word, want ons kom natuurlik agter hy het op ’n keer ’n hond ook uitgesit.”

Die Grieke, sê hy, het eintlik nie ’n woord gehad vir prosa nie.

“Die poësie was die dansende taal. En toe het hulle, ek dink eers met Herodotus, begin praat van die kaal taal, die nakende taal, en miskien sal ek, as ek nog kans kry om iets te skryf, meer fokus op die lopende taal. Jy weet, die taal wat lóóp, natuurlik soms vinnig, soms stadig.

“In hierdie boek verwys ek na Patrick Leigh Fermor wat gepraat het van oplos deur te loop . . . solving by walking. Daar is soveel van hierdie ander karakters soos Pessoa . . . snags in die strate van Lissabon; en die ander een: Walser (wat dood is tydens ’n staptog in die sneeu).

“Hierdie onderwyser wat ’n kortpad skool toe kry en dan stilstaan by die plakkerskamp, ietsie van daai róú lewe. Dis eintlik ’n voetganger-karakter.”

Hy kan nie ’n derdepersoonsverteller gebruik nie, sê Miles.

“Want wie de hel is ék om te sê daai een dink dít en hierdie een dink dat? Ek weet dit is ’n spel, maar ek verkies ’n verteller wat baie nou betrokke is, wat eintlik liksens het . . . Hy het likséns om te vertel.”

Meer oor:  Murray La Vita  |  John Miles
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.