Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
VERVOLG: Eendag is nou (Dag 6)

Eendag is nou

HOOFSTUK SES

LEES VORIGE HOOFSTUK

BEGIN BY HOOFSTUK EEN

Die res van die week is Jacomien ’n zombie. Alles aan en om haar is omvergewerp, verder afgebreek vandat Roelf so skielik voor haar opgedoem het. 

Sy wou iewers aan hom ’n agilleshiel sien, iets wat hy oorgehou het as straf vir wat hy aan haar en ander vroue gedoen het. Maar daar was niks. Roelf Vosloo is nog steeds die vuurvreter van vroeër, net so gevaarlik ook. 

Die verskyning van haar nemesis het haar opnuut aan die dink gesit. JanKoos was van die begin af ’n troosprys, jare nadat Roelf met haar klaar was en die lewe haar soos ’n smaaklose stuk kougom uitgespoeg het. Maar die prys troos nie meer nie. Eendag, wanneer dit genoeg sou wees, wag nie meer vir haar nie. Sy is nou in die finale rondte van haar lewe. 

As sy ’n verandering wil maak, is dit nou of nooit. 

“Ja, Ma,” sug Jacomien soms hoorbaar, “ek onthou nog elke sedelessie wat Ma my geleer het oor aanvaarbare gedrag vir ’n ordentlike vrou. Die minste wees, die ander wang draai, vergewe en vergeet, norme, waardes en standaarde.” 

Daar was ’n tyd toe Jacomien met alles in haar wou wegkom van die reëls en regulasies waarvolgens haar ma wou hê sy moes leef. En tog, tog, het sy die ou-ou verhale van haar kindertyd aan Klara oorgedra. Haar dogter moes weet van die Kindjie in die krip, van die dissipels, die brood en die wyn, die kruis en die wolke. 

Soms het sy ongemaklik en versigtig verby geblaai wanneer sy vir Klara uit die Bybel lees, veral by die voorskrifte spesiaal vir vroue. Want sy het geweet hoe dit ’n vrou kan strem in haar gang as mens. Dat dit jou besluite ten koste van jouself kan laat neem. 

Miskien het sy weer te ver agteroorgebuig met Klara, haar te veel toegelaat, ook om te glo haar pa en ma en die res van die wêreld skuld haar iets. As haar ma nog geleef het, sou sy vir haar kon sê: Ja, Ma, Ma was reg, mens maai wat jy saai. En ja, Ma, ja, ’n kind moet gestraf word wanneer dit nodig is. Kyk wat het met Eli se seuns gebeur, alles omdat hulle pa hulle nie getug het wanneer die belhamels dit nodig gehad het nie. 

Jacomien wou nooit vir Klara met die plathand of iets anders bykom nie, maar soms het sy gewens daar was ’n manier om die kind se willetjie in die bek te ruk. Veral wanneer sy haarself kwaad aangedoen het met haar balhorigheid. “Nee! Ek wíl die boom klim, ek kan, ek sál! Los my uit, man!” 

En toe die groot val, die skrik, die seerkry, die trane, die bekommernis, die gebreekte arm, die ongemak vir weke, die gesukkel om die gips skoon en droog te hou, die frustrasie en die ongeduld daarmee. Ook die verwyt. “Kon jy nie maar gekeer het dat die kind die boom in foeter nie? Sy is mos nie ’n bobbejaan nie, jy ook nie.” 

“Ja, JanKoos, ja, dis maklik om op die kantlyn te staan en raad gee.” 

Maar hy was reg, sy moes Klara van die boom af weg- gesleep het as dit nie anders kon nie. Haar dalk op die boud geraps het. Haar in haar kamer gaan toesluit het en die gevolge daarvan gedra het. Dit sou nie mooi of maklik wees nie. Maar sy is ’n ma en ’n ma moet. 

Vandag staan sy wat Jacomien is self weer by ’n kruispad en dis weer haar ma se stem wat sy hoor. “’n Mens neem nie ’n roekelose sprong voordat jy seker gemaak het daar is vir jou ’n veilige landingsplek aan die ander kant nie.” Een van vele vermanings wat sy soos teetydwinkelkoekies uitgedeel het. “Onthou, jy weet wat jy het, jy weet nie wat jy gaan kry nie.” 

“Wat ek gaan kry as ek ’n kraak maak, Ma,” prewel Jacomien asof haar ma haar kan hoor, “is ’n lewe sonder JanKoos en die verveling wat my vrede en vreugde steel. Vrede en vreugde wat ek nou moet aangryp of nooit werk- lik gaan hê nie.” 

“Ja,” hoor sy haar ma se stem in haar ore, “maar wat sal die mense sê?” Sy onthou Henk se antwoord op dieselfde vraag, dat die mense heelwat te sê sal hê. Jacomien is moedeloos met haarself. Sy moet vir haar ’n hond kry. Of ’n kat of ’n kanarie. Want hierdie pratery van haar waar daar niemand is om haar te hoor nie, grens aan kranksinnigheid. Of ’n vriendin, een wat sy met haar geheime kan vertrou. Die arme Henk het sy kwota gehad as dit kom by sy suster se probleme. 

“Jy’s high maintenance, ou girl,” het hy voorheen gewaarsku. “Mans hou nie van vroue wat te veel oor hul gevoelens en goeters wil praat nie. JanKoos lyk nie vir my na iemand wat daarna sal luister nie.” 

Maar sy sal met JanKoos moet praat. As sy ’n verskil wil maak aan hul uitmergelende bestaan saam. 

Daarom dwing sy haarself om vir JanKoos frikkadelle vir aandete te maak. Nogal met koljander en naeltjies in, soos hy daarvan hou. Met ’n titseltjie tiemie. As sy hom nou regtig wou gelukkig maak, moes sy die frikkadelle in koolblare toegerol het, maar Jacomien sien nie kans vir die vlieë wat die feestelike reuk sal kry nie. JanKoos sal met ’n varsgebakte panini tevrede moet wees. 

Sy sit aan die onderpunt van die tafel met ’n enkele frikkadel in haar bord, haar eetlus heeltemal daarmee heen. Sy praat nie, gee JanKoos kans om sy kos in vrede te eet, sonder haar gebabbel om sy ore, soos hy dit verkies. 

Eers toe hy sy leë bord van hom af wegstoot, nogal sonder om vanaand oor iets te kla, waag sy om te praat. Voordat hy verkas om te gaan televisie kyk. Die nuus. Alles sal in môre se koerant ook wees, maar dan moet hy spring om by die doodsberigte uit te kom. 

Sy moet gou praat. Niks kom tussen JanKoos en sy televisie nie, nie eens sy in ’n sexy nagkabaaitjie nie. Sy het al probeer en is weggestuur. 

Sy skink eers vir JanKoos ’n beker koffie. Nie kitskoffie nie, van die duur soort wat sy eintlik gekoop het vir wanneer Klara weer hier uitslaan en daarna vra. 

“JanKoos, ek wil jou iets vra.” Haar maag draai behoorlik van pure senuwees. 

Hy kyk eers op die muurhorlosie. “Kan dit nie wag nie?” 

“Nee, dit kan nie wag nie.” Sy gaan sowaar nie weer al die moeite van vanaand doen en deur die innerlike gewroeg gaan nie. 

“Jy moet gou praat, dis amper seweuur.” 

Sy met haar eise. Arme JanKoos. Maar Jacomien weet sy moet deurdruk as sy nie vir die res van die week en naweek verflenter en verfrommel en emosioneel verniel wil rondloop nie. 

“JanKoos, is jy gelukkig?” vra sy voordat haar moed haar begewe. 

Dis sulke vrae wat mans teen die mure uitdryf, maar nie vir JanKoos nie, nie vanaand nie. “Ja, wat, ek het vandag weer ’n huis op my boeke gekry,” antwoord hy sonder skroom. “Dis ’n pragtige plek, seker so twee, drie miljoen werd. Dis nie die jackpot nie, maar ons kan die kommissie opsysit vir ’n ordentlike braai vir jou sestigste verjaarsdag oor ’n paar maande.” 

Wat sy nie wil hê nie. “Dis nie wat ek bedoel nie, JanKoos. Ek wil weet of jy gelukkig is hier in ons huis saam met my?” Haar asem slaan in haar keel vas. 

Hierdie keer antwoord JanKoos nie so gou nie. “Wat vir ’n vraag is dit nou om te vra, Jacomien?” 

“Antwoord my net.” 

Hy gooi sy hande in die lug, dadelik uit op die verdediging. Haal dan sy skouers op. “Wat wil jy hê moet ek sê? Ons is al ’n leeftyd lank getroud.” 

“Maar ons hoef nie vir die res van ons lewe getroud te bly nie.” Sy sê dit baie sag, asof dit haar woorde minder kras sal maak. 

JanKoos kyk vlugtig op, maar laat sak dadelik weer sy kop toe hul oë ontmoet. Vir Jacomien voel dit asof die aarde ’n oomblik lank uit sy wentelbaan was. Wat het sy in JanKoos se oë gesien? In daardie onverbloemde oomblik waarin hy met helder oë na haar gekyk het? Sy is eenvoudig te bang om daardie kortstondige boodskap te probeer ontsyfer. 

Hy staan op en loop weg met ’n duidelik los-my-uit-jy-met-jou-malligheid-houding. Sy stap agter hom aan sitkamer toe. Bly mooi stil in haar hoekie sit terwyl die alledaagse Suid-Afrikaanse tafereel voor haar oë op die skerm afspeel. Sy weet goed om nie te praat terwyl JanKoos televisie kyk nie, veral nie tydens die nuusuitsending nie. Sy het in elk geval niks meer te sê nie, gegooi deur JanKoos se reaksie op haar vraag. 

So sit hulle totdat hulle weet wat die maksimum en minimum temperature in die verste noorde tot die suide- likste punt en elders gaan wees. Môre, oormôre en die res van die naweek. 

“Ek het nog ’n paar administratiewe takies om vanaand af te handel,” brom JanKoos toe hy uiteindelik die televisie afskakel. Natuurlik sonder om haar te vra of daar dalk nog iets is waarna sy wil kyk. Dis hoe dinge werk hier by hulle rond. En in hoeveel ander huise die wêreld oor. “Moenie vir my wag nie, ek sal eers laat kom lê.” Hy aarsel. “Of sommer in die studeerkamer slaap.” 

Sy woorde is soos water wat deur Jacomien se vingers vloei. Sy wil daarna gryp, maar dis hopeloos. 

“Jy gesels nooit meer met my nie,” verwyt sy nogtans toe hy by die deur uitstap. 

“My goeie aarde, Jacomien, wat is daar ná meer as dertig jaar saam vir mekaar te sê wat nog nie voorheen gesê is nie?” 

“You don’t bring me flowers any more,” aap sy Barbra Streisand en Neil Diamond se liedjie na, probeer ’n grap daarvan maak. 

“Blomme gee my hooikoors,” herinner hy haar. 

Sy soek verniet na ’n glimlag in sy stem. Die laggie op haar lippe sit om in ’n sagte snik. 

Sy gaan pak die skottelgoed in die wasbak, te uitge- put om die twee borde, messe, vurke en kastrolle te was. Miskien moet sy tog maar ’n skottelgoedwasmasjien aanskaf. Al voel dit ook laf wanneer dit net sy en JanKoos is wat eet. Gewoonlik geniet sy dit om tot by die elmboë in die seepwater doenig te wees. Maar vanaand teister die gebeure van die dag haar. 

Dis die manier waarop JanKoos opgekyk het toe sy, asof terloops, opgemerk het dat hulle nie getroud hoef te bly nie. Geen vrou is geprogrammeer om daardie bood- skap in jou man se oë te lees nie. 

Presies wat het sy in daardie stonde in sy oë gelees? Skok? Verrassing? Vrees? Of was dit die oë van ’n vasgekeerde dier wat hom verbeel het hy sien ’n onverwagse uitkoms uit ’n onmoontlike situasie? Sy is die sak vol klippe wat JanKoos elke dag van sy armsalige lewe teen die bult op dra. JanKoos is net so uitgekuier met haar soos sy met hom. 

Yster slyp yster, so slyp die een mens die ander, onthou sy iets uit haar kinderdae toe sy en Henk nie toegelaat is om van die etenstafel af op te staan voordat haar pa met sy basstem uit die Bybel gelees het nie. Dikwels uit die Psalms of Spreuke. 

“Gelukkig darem lekker kort stukkies,” het Henk onderlangs gefluister. 

Is dit wat gebeur het? Dat sy JanKoos net so gevaarlik skerp geslyp het soos hy vir haar? Dat JanKoos ook redelik gatvol is vir haar en haar dinge? 

Sowaar, sy en JanKoos pas net so min by mekaar soos tekkies by ’n trourok. Nie mooi moderne tekkies wat nou hoogmode is nie, outydse tekkies, van dié wat jou voete laat stink. Maar dat JanKoos blykbaar ook na bevryding van haar verlang, is ’n moerse skok vir die sisteem. Vir haar wat altyd nog dink hy kan sy ou skoene agternagooi om haar as vrou te hê. Vir haar, die donnerse dienende Martha. Wys jou, ’n mens moenie te veel van jouself dink nie. 

Sy ken vir JanKoos, sy irriterende gewoontetjies, sy weiering om te erken dat ook hy nie meer so jonk is nie. Sy weet hoe desperaat hy homself daarvan probeer oortuig. Maar ten spyte van sy afgesaagde grappies het sy tot op hede nog nie vermoed hy wil dalk werklik “die geroeste ou veteraanmotor inruil vir ’n nuwer, meer vaartbelynde model met meer woema onder die enjinkap” nie. 

Jacomien se kop zoem. 

Is sy veronderstel om hom jammer te kry omdat hy vasgekeer voel? Omdat hy aan haar verbind is? Kerklik en werklik, dokumente dekades gelede geteken. 

Baie van die huweliksgaste het hóm toe jammer gekry, vermoed sy. Die jong man wat met die ouer vrou getroud is. Omdat sy hom verlei het. “Hy’t nie ’n kat se kans gehad om weg te kom nie,” het die fluisteringe met ’n ompad haar ore bereik. “Die vroumens het soveel meer ondervinding van sulke dinge. Sy het die arme JanKoos eenvoudig oorweldig. Voordat hy weet waar hy aan of af is, gejaag tot voor die preekstoel.” 

Jacomien is totaal verward. Dis mos eintlik sy wat wens sy kan uit die gevrekte huwelik ontsnap. As JanKoos ook so voel, vereenvoudig dit dinge. En tog hou sy nie van die gedagte nie. 

Traag stap sy in die gang af. Sy gaan stort, sy wil slaap, enigiets om ontslae te raak van die baie vrae wat haar koggel en die drukkende gevoel in haar borskas. 

Maar sy kry nie geslaap nie. Sy wag JanKoos in soos ’n leeuwyfie haar prooi, bly dat sy die beddegoed wat hy in die studeerkamer hou, gewas en nog nie weer vervang het nie. Sonder komberse en ’n lekker sagte kussing sal hy hom seker nie tuismaak op die enkelbedjie waarheen hy soms verban word nie. Nog minder sal hy die beddegoed uit die gangkas gaan haal om die bed skoon oor te trek. Dit is haar afdeling, beslis nie sy styl nie. Behalwe as die gedagte daaraan om ’n bed met haar te deel so onuit- houdbaar is dat JanKoos noodwendig daardie uitweg kies. 

Of andersins die ongemak op die bank sonder beddegoed sal verduur. 

Jacomien slaak heimlik ’n sug van verligting toe sy JanKoos lank ná middernag hoor nader kom, hoe hy op die bed langs haar neersak. Sy wag ’n paar sekondes, ’n minuut of twee. Nie te lank nie, want gewoonlik raak JanKoos se kop skaars die kussing voordat hy in die slaap van die onskuldige verval. Net lank genoeg dat sy kan veins sy is deur die slaap en dus die toenadering vergewe sal word. Toe rol sy om na JanKoos toe en krul haar teen hom op. 

Dit werk gewoonlik die beste vir hulle wanneer een of al twee van hulle in ’n semibeswyming is. Wanneer die lig afgeskakel is en die gordyne toegetrek. Sodat nie eens die maan of die sterre lig sal werp op wat tussen die mure van die slaapkamer gebeur nie. 

JanKoos probeer hom wel uit haar greep loswoel, maar iewers in die nanag toe die warmte van haar lyf die yssplinters om sy hart laat smelt, slaan hy tog sy bene oor hare en sleep haar nader aan hom. Daar is ’n ongekende desperaatheid in die manier waarop Jacomien na haar man van meer as drie dekades gryp. Asof hulle twee tie- ners is wat skelm agter in ’n motor mekaar se lywe ontdek. 

Maar die passie ontbreek, die verwondering van ouds. JanKoos steun en kreun en sy speel haar rol soos net ’n gesoute porn star haar sal kan nadoen. Tot in die fynste besonderheid, soos sy dit deur die jare leer doen het. 

Maar die uiteindelike stuiptrekkende bevrediging is nie waaraan sy behoefte het nie. Dis soos om Kilimandjaro uit te klim en halfpad om te draai, dink Jacomien hartseer. Toe sy van JanKoos af wegdraai met haar gesig na die muur, vee sy die trane op haar wange met die agterkant van haar hand af. 

Sy probeer reëlmatig asemhaal, probeer só om aan die slaap te raak. Of ten minste voorgee dat sy slaap sodat sy en JanKoos nie met mekaar hoef te praat nie. Sy, wat altyd soek na ’n geleentheid om met hom te deel wat in haar hart aangaan, is nou die een wat daarvan weghardloop. 

Die gedagtes in haar kop is soos ’n televisieskerm waarvan ’n mal mens die remote beetgekry het. Brokstukke van beelde wat verby flits, die een so ontstellend soos die ander. Wanneer laas het sy JanKoos behoorlik hoor lag? Hoor sing, iets wat hy vroeër graag gedoen het, al was dit nooit met besondere sukses nie. Behalwe die gefluit nou die dag ná die begrafnis waarin sy oorwinning eerder as geluk gehoor het. 

Om die waarheid te sê, en dit ontstel haar die meeste, wanneer laas het hy by ’n kelnerinnetjie aangelê? Dis tog so eie aan hom soos sy naam en van. Selfs dit verveel haar deesdae eerder as wat dit haar omkrap. Dis wat JanKoos doen. Maak ’n gek van homself. En van haar. 

Hy nogal, wat met tye by haar aandring om ordentlik te wees waar mense hulle kan sien. Haar te gedra soos iemand wat daaraan gewoond is om redelik hoog teen Skuldbult op in Plattekloof te bly. Plattekloof, nè? 

“Probeer tog ’n bietjie meer ingetoë wees, Jacomien. Leë blikke maak die meeste geraas, jy weet? Net tot ek as eiendomsagent goed gevestig is,” vra hy graag met arme- ek-wat-met-hierdie-vrou-opgesaal-sit-kleinhondjie-oë in haar rigting gedraai. “Totdat ek vertroue by my kliënte inboesem met die beeld wat ek uitstraal.” 

Sy is deel van die window dressing. As sy in alle eerlikheid vir JanKoos se kliënte kon raad gee, sou sy hulle waarsku om hom nie blindelings te vertrou nie. Hy sal nie geld steel nie, nie iets doen wat hom in die tronk laat beland nie, maar hy sal net langs die wet wandel as daar ’n ekstra paar rand vir hom in te maak is. Vir hom en natuurlik vir haar. En vir Klara. 

Daarom maak sy soos hy vra. Die meeste van die tyd. Sy is deesdae so ordentlik, sy ken haarself skaars. Dra onopsigtelike oorbelletjies terwyl sy eintlik hou van oordadige goeters wat lyk soos Kersboomversierings, dra pêrel- pienk lipstiffie en net ’n smeerseltjie daarvan terwyl sy sou verkies om haar mond skelrooi te verf. 

“Subtiliteit is die moeder van sofistikasie en beskaafdheid, my liewe Jacomien.” 

Sy oorweeg dit sterk om die deel van haar klerekas wat sy afgeskort het vir uitrustings wat JanKoos tevrede stel, heeltemal te stroop. Na haar smaak te verander, soos die klere in die ander helfte van die hangkas. Dié met ekstra flair, wanneer sy toegelaat word om dit te doen. Sy sal al die sobere kerkpakkies en sedige haaipolfaais vir die armes gee en opnuut die winkels invaar.

Van ordentlik wees het sy vir eers genoeg gehad. Sy sal weer probeer wanneer sy in die ouetehuis is en ouvrourokke met knopies voor moet dra omdat dit maklik is om aan en uit te trek. Eendag wan- neer sy met haar tande in ’n glasie langs haar bed haar tussen die ander doodskuwes bevind, eendag in die verre toekoms. 

Sy moes seker hier teen vroegoggend genadiglik ingesluimer het, want sy word wakker toe die wekker afgaan. JanKoos stuit die geluid feitlik onmiddellik, anders as ge- woonlik wanneer hy daarna lê en luister asof dit ’n slaap- deuntjie is en sy gewoonlik die een is wat die ding se bek toedruk. Vanoggend staan JanKoos so sag as moontlik op, sy hoor dit waar sy met haar rug na hom toe lê.

Ook hoe hy sy klere bymekaarmaak en uitsluip. JanKoos gaan haar sowaar vanoggend laat slaap, nie van haar verwag om vir hom koffie en ontbyt te maak nie. 


corali
Vywervrou-trilogie: Corali

Deur Chanette Paul

Corali dra net wit en swart maar dis nie oor die dood van haar man wat sy rou nie. As kunstenaar treur Corali oor iets heel anders en as vrou treur sy oor soveel meer as haar huwelik. Klik en koop die e-boek hier


Jacomien kan skaars onthou wanneer dit laas gebeur het. Nog in die tyd toe daar darem nog genoeg passie in hul liefdesake was om ’n groot deel van die nag wakker te wees. Toe was dit haar beloning. Vir dienste gelewer, het sy dikwels gedink. Hierdie keer is JanKoos net so skaam soos sy oor wat laas nag gebeur het. Sien hy net so min kans om haar in die oë te kyk as sy vir hom?

JanKoos voel net so skuldig, asof hulle etiese en morele wette oortree het deur só saam te wees. Nie meer soos man en vrou intiem mag verkeer nie. Omdat ons nie meer soos man en vrou ís nie, nie meer soos man en vrou by mekaar pas nie, mekaar nie meer gelukkig maak nie, besef Jacomien met ’n diepe hartseer. 

Toe JanKoos weg is kantoor toe, bel sy Henk se ontvangsdame om ’n afspraak met hom te maak. 

“Maar dis mos nie nodig nie, Jacomien,” lag Belinda oor die foon. “Jy kan inkom wanneer jy wil as jy met jou broer wil gesels.” 

“Nee, ek wil ’n uur van sy onverdeelde aandag hê, soos enige van sy kliënte,” dring sy aan. 

Dis ook hoe sy dit vir Henk verduidelik toe sy later die oggend teenoor hom sit. “Ek het jou in jou professionele hoedanigheid kom spreek.” Sy kyk hom kwaai aan. “En jy antwoord my vrae, jy stuur my nie weg met die versko- ning dat jy ook nie ’n benul het hoe om my probleme uit te sorteer nie. Dis nie hoekom Pa en Ma jou laat leer het nie.” 

Hy skuif sowaar sy bril reg en leun vorentoe asof hy wil hoor wat sy sê. “Waarmee kan ek help?” 

“Henk, is ek baie boring?”“Hè? Waar kom dit nou vandaan?”“Ek wil ’n eerlike antwoord hê.”

“Jong, jy weet hoe dit is. Ek vind vroue oor die algemeen nie besonder interessant of opwindend nie.” 

“Is dit my skuld, Henk? Omdat ek jou deur die jare so lastig geval het met my dramas en dinge? Goed met jou gedeel het waarvan jy nie wou weet nie wat jou van vroue afgesit het?” 

“Hemel, Jacomien, gee my kans om te antwoord. Natuurlik het jy gereeld op my skouer kom huil, maar ek sou dit nie anders wou hê nie. Die geluksgodin was jou nie aldag goedgesind nie en ek het Pa belowe . . .” 

“Was dit al hoekom jy my probeer help het?” 

“Nee, man, ek wou nie hê jy moes ’n vet fokop van jou lewe maak en by my kom intrek nie.” 

Jacomien weet nie hoeveel is ligsinnigheid en hoeveel daarvan bedoel hy nie. Sy vermoed sy het Henk inderdaad ’n onreg aangedoen deur hom te veel met haar probleme te belas. Soos vandag weer. “Ek vind vroue wel vermaak- lik, maar nie vermaaklik genoeg om ’n lewe mee te deel nie.” 

“En mans?” waag sy. 

“Jy het my al gevra, Jacomien. Die antwoord bly dieselfde: Ek is nie gay nie. Ek is wel ’n hooggewaardeerde, ingeskrewe lid van ’n gentlemen’s club wat skaak speel en whisky drink en politiek gesels, ek eet die meeste van my etes daar en het goeie vriende gemaak.” 

Wat van seks? Maar sy vra nie. Seks is in elk geval overrated. Nie dat sy al bereid is om daarvan afstand te doen nie. 

“Dit gebeur maar min dat mans by my kom aanklop,” verduidelik Henk. “Hulle gaan eerder kroeg toe of speel gholf totdat die storm bedaar het. Maar dié wat klaar alles anders probeer het, doen dit soms. Teen daardie tyd is die arme ou vodde. En dis gewoonlik ’n vroumens wat sy lewe vir hom bebodder het. Ek luister en ek leer.” 

“Is jy nie soms eensaam en alleen nie?” 

Henk haal sy skouers op. “In my grootworddae was ek nooit werklik alleen nie.” 

“Omdat ék daar was.” 

“Miskien het ek later jare my eie geselskap te veel waardeer.” Hy trek haar aan die oor, ’n gewoonte uit hul kindertyd. “No offence,” lag hy. 

“None taken.” 

Hy raak haastig dat sy haar fênsie handsak moet vat en loop, sy sien dit aan die manier waarop hy openlik die horlosie teen die muur dophou. 

“Nou weet ek nog nie of jy dink ek is boring nie,” dring sy aan. 

“Boring? Nee, nie meer as ander vroue nie.” Hy frons. “Gaan dit oor JanKoos? Het hy vir hom ’n skelmpie aangeskaf?” 

“Dit lyk my dis wat almal verwag. Maar nee, nie sover ek weet nie. ” 

Nie in al die jare wat hulle getroud is, ten spyte daarvan dat hy die indruk skep dit sal vir hom maklik genoeg wees, het sy die idee gekry JanKoos verneuk haar nie. 

“Maar ek dink hy sou graag wou.” Want sy onthou die naakte hoop eerder as wanhoop waarmee JanKoos na haar gekyk het toe sy die moontlikheid geopper het dat hulle nie getroud hoef te bly nie. “Ek en JanKoos leef mekaar moeg. Ek dink nie dis meer vir ons goed of lekker om saam te wees nie.” 

“Waarvan praat ons hier? Egskeiding?” 

Die woord skok haar. “Ek weet nie, Henk, ek weet self nie wat ek wil hê nie.” Sy staan op, rol haar wieletjiestoel om die tafel om nader aan hom te kom. “Dis net, ek begin wonder of dit al is wat daar vir my oor is, of die dunnerige boek wat my lewensverhaal vertel nou maar toegemaak kan word.” 

Sy vertel hom van die laaste begrafnis waarheen sy noodgedwonge moes gaan. En van haar belewenis daarvan. “Die vrou was net oor die sestig en vir haar was alles verby. Haar eendag het gekom en gegaan sonder dat sy dalk bewus was daarvan. Ek wil nie hê dit moet met my gebeur nie.” 

“Doodgaan is vir ander mense,” probeer hy lomp troos. Dit werk nie. 

“Dis so unfair. Sestig vir ’n man is nie dieselfde as sestig vir ’n vrou nie,” bly sy aan die weeklaag. “Veral vir iemand soos jy. Sit hier met ’n bos hare wat baie jonger manne jou beny, geen sprake van ’n bles of ’n boepens nie, ook nie van veel grys in jou hare nie.” 

“Het mos nie ’n vrou om my te verniel nie,” herinner hy haar. 

“Dis dalk hoe JanKoos aan my dink: ’n vrou wat hom verniel, hom inperk, hom van iets ontneem wat hy be- geer.” 

“Soos wat?”

“Vra jy my? Jy’s die sielkundige.”“Maar nie ’n huweliksberader nie, spaar my daarvan. Dis ’n mynveld waarin geen regdenkende berader hom behoort te begewe nie. Daarvoor is die dinamika te gekompliseerd.” 

“Ek begin wonder wat JanKoos wil hê. Wat hy nog altyd wou hê. Ek weet net dat hy dit nie meer by my kry nie.” 

’n Ander vrou? Is dit wat hy begeer? Een van die pop- pies wat hy lastig val met sy attensies? Sy twyfel. JanKoos is meer bek as binnegoed wanneer hy sy flikkers desperaat vir die jong blaartjies gooi. 

“Sal mense by my begrafnis ook sê ek het ’n vol lewe gehad?” mymer Jacomien. “So asof dit maar oukei is dat ek dood is, ek het genoeg geleef. Ek was ’n kind, ek het studeer, getrou, vir Klara grootgemaak en elke jaar ’n vakansie by die see ingepas.” 

“Nou wat wil jy meer hê?” 

As dit spot is wat sy in Henk se stem hoor, is dit goedige spot. Want hy kyk sag na haar. 

“Ek was nog nie op ’n bustoer of op ’n bootvaart nie en ek het nog nie die Eiffeltoring gesien nie.” 

Wat wil sy hê? Wat ís so wonderlik daaraan om ander wêrelde te sien en saans na jou eie bed te verlang? Wat wil sy inderdaad anders doen as die daaglikse gesloer waaraan sy gewoond geraak het? Bungee jump? Saam met die haaie swem?

Soos die helfte van die wêreld met ’n rugsak en ’n botteltjie water die spirituele Camino-staptog aanpak? Met vellies aan haar voete en ’n slaprandhoed op die kop? Sy sidder by die blote gedagte daaraan. Dis bleddie ver en haar rug is nie meer wat dit was nie. “Dalk moet jy met iemand gaan praat oor jou gemoedstoestand.” 

“Dink jy ek ly aan depressie?” 

“Ek weet nie, Jacomien, ek is nie die regte persoon om jou te diagnoseer nie.” 

“Ek sal jou betaal.” 

“Jy sal heel moontlik nie hou van wat ek sê nie en jou geld wil terughê.” 

Dat hy ’n grap daarvan probeer maak, laat haar beter voel. Dalk is sy nie regtig a lost case nie, dalk moet sy net besluit wat sy wil hê en dit dan probeer bekom. 

Eintlik weet sy wat sy wil hê; sy wil liefhê. Sy wil malverlief wees, van haar verstand af. Sy soek ekstase, sy soek passie, sy wil weet dat sy lééf. Ag, sy weet hoe liefde ’n mens kan verteer, met hoeveel pyn jy gewoonlik vir jou malse passie betaal. Sy weet van jin en jang.

En tog wil sy dit ervaar, die allesoorheersende liefde wat sangers toe-oë laat sing omdat die emosie jou andersins uitmekaar sal skeur, liefde wat digters laat dig en skrywers na woorde laat soek om uiting te gee aan die emosie wat opbou in die borskas. Wat sy tot dusver met JanKoos gehad het, is ’n flou weergawe van wat die liefde kan wees. Sy het nog nie ’n man liefgehad met ’n allesoorheersende liefde nie. Dis ’n hartseer gedagte. 

Sy sal heel moontlik nie hou van Henk se diagnose nie. My liewe suster, jy moet jou kop laat lees. Iemand na wie jy sal luister, moet vir jou ’n reality check doen. Jy is mooi, maar effens geplooi. Nie meer ’n jong bokkie nie, jy is ses- tig jaar oud, onthou. ’n Ou bokooi het nie dieselfde bekoring as ’n jong verskalf nie. 

Nie sestig nie, amper sestig, sal sy probeer walgooi. 

Nogtans. Is dit nie ’n bietjie laat in jou lewe om soos ’n heldin uit die mitologie die liefde na te jaag nie? Wat jy waar gaan kry? ’n Webblad vir desperate dollas for whom the bell tolls? Ver verby hul vervaldatum vir hande hou en brûe bou? Vir soen en doen wat jy nie eens in jou jeugjare behoorlik kon baasraak nie? Nou? In die pylvak na die ouderdom wat net hier voor om die draai vir jou wag? Bui- tendien, alle mans van jou ouderdom is teen hierdie tyd al kafgedraf en opgebruik. Wat bly daar vir jou oor om voor lief te word? 

Sy skrik vir die waarheid, maar Henk nie. 

Maar vandag is hy genadig met sy tong. “Waarvoor wag jy, sus? Koop ’n kaartjie Parys toe. Eat, pray and love na hartelus as dit is hoe jy hierdie verjaarsdag van ons wil besweer en laat weet my ook as dit vir jou gewerk het. Klara is van jou hande af, jy en JanKoos is vry om avonture na te jaag.” 

“Behalwe dat ek vir JanKoos nêrens heen wil saamvat nie en ek dink hy ook nie vir my nie,” sug sy. 

Henk wys na die horlosie teen die muur. Haar tyd is nou behoorlik verstreke. So baie kliënte, so min tyd. 

“As jy vir my ’n rekening stuur vir vandag se besoek, nooi ek jou nie weer vir ’n Sondagete met skaapboud en al die trimmings nie,” waarsku sy toe sy opstaan. Want die raad wat hy vir haar gegee het, is nie genoeg om sy peper- duur fooi te regverdig nie. 

Eers toe sy by die deur uitstap, laat blyk sy waaroor sy eintlik met Henk wou praat. 

“Ek het weer vir Roelf gesien,” sê sy sonder om om te draai. 

“Wat? Waar? Die bliksem. Hierdie keer donner ek hom persoonlik.” 

Jacomien antwoord nie, stap net aan, sien nie kans om te erken dat Roelf se verskyning haar haar lewe saam met JanKoos van voor af laat bevraagteken het nie. 

* Lees môre verder . . . 

KOOP DIE E-BOEK HIER

Dié hoofstuk kom uit Kristel Loots se roman Eendag is nou (LAPA Uitgewers).

Klik en koop die e-boek hier.

 

Meer oor:  Kristel Loots  |  E-Boek  |  Vervolgverhaal  |  Eendag Is Nou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.