Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
VERVOLG: Huis van die wind (Dag 10)

Huis van die wind
HOOFSTUK TIEN

BEGIN BY HOOFSTUK EEN

“Môre, Miss Rose. Mooi dag, nè?”

Sy glimlag vir die vriendelike ontvangsklerk. “Môre, Fikile. Dit is. Gisteraand se donder- storm het alles blinkskoon vanoggend. Het julle ook ’n kragonderbreking hier gehad? Ons het die hele aand lank in die donker gesit.”

“Die krag het afgegaan, maar met die opwekkers kry ons dit darem reg om operasioneel te bly.”

Natuurlik is daar kragopwekkers. Op KwaMoyeni, waar daar geen koste ontsien is om die plek in elke moontlike opsig toe te rus nie, sal daar beslis kragopwekkers wees ingeval die weer die krag uitslaan.

“Is alles reg vir vandag?” hoor sy hom vra. “Is daar iets wat ons kan doen?”

“Alles wat ons kon reël, is gedoen. Ek het van mevrou Goldstein verstaan dat die gaste rondom elfuur sal begin opdaag. As julle net die aanwysing na die parkeerarea buite sal opsit en die gaste na die onthaalsaal toe beduie, sal ek dit baie waardeer.”

“Ek sal so maak. Die Goldsteins het gisteraand laat hier aangekom. Umkhulu het hulle in die naaste chalet laat inboek ter wille van die ou dame. Wou jy vanoggend met mevrou Goldstein gepraat het?”

“Ek wou haar darem net ontmoet. Ons het tot dusver alles oor die foon gereël, en ek wil gou persoonlik kennis maak.”

“Moet ek jou bel wanneer hulle inkom vir ontbyt?”

“Dit sal gaaf wees, dankie, Fikile.”

Rosalie druk haar donkerbril in haar handsak en stap deur na haar kantoor toe. Met ’n vinnige draai van haar pols het sy die deur oop en sy stap haastig binne om haar handsak te gaan neersit en haar rekenaar aan te skakel. 

Haar eerste geleentheid op KwaMoyeni. 

Juan-Carlos was reg – sy kon dit maklik behartig. Mevrou Goldstein, die dogter, was aan- genaam en baie duidelik oor haar ma se voorkeure en afkere, en dis ’n gemoedelike familie wat almal met mekaar praat. Geen ingewikkelde tafelplasings omdat die een faksie al sedert die lees van ’n ooroupagrootjie se testament nie met die ander praat nie.

Die grootste probleem wat sy moes oplos, was om ’n behoorlike menora vir die geleent- heid in die hande te kry. KwaMoyeni het nie een van sy eie nie en sy kon nie op sulke kort kennisgewing een te koop kry waarvan sy hou nie. Maar ou dokter Levy op die dorp se vrou was heeltemal gewillig om hulle familie-erfstuk, wat nog saam met haar ouers op die boot uit Duitsland Suid-Afrika toe gekom het, aan KwaMoyeni te leen. 

Sommer so staan-staan loer sy gou of daar enige nuwe e-posse deurgekom het. Daar is ’n lekker lang geselsbrief van Lizelle wat sy later sal lees as die gedoente verby is en sy kan ontspan. Sy kyk vinnig op haar polshorlosie. Kwart oor sewe. Die bloemiste het belowe dat die tafelruikers agtuur hier sal wees en die kombuispersoneel het haar verseker dat die tafels teen nege gedek sal wees. Sy het self die luidsprekerstelsel getoets en David het onderneem om toe te sien dat die vier kaste kosjer vonkelwyn op die ys kom. Dit gee haar net genoeg tyd om gou ’n laaste rondte te doen en die mense te groet voordat die geskarrel in alle erns begin.

“Jy’s vroeg vandag.”

Sy kyk op en kom stadig orent. Die donker hare is nog klam van ’n stort, sy ken skoongeskeer, sy vel ekstra blas teen die wit van sy hemp. Die ongeërgde manlikheid, die viriliteit en onbeteuelde sensualiteit van die man krul vir ’n heerlike, onbewaakte sekonde deur haar bewussyn voordat sy die gewaarwording meedoënloos vasklamp. 

“Môre,” sê sy stram terwyl sy haar oë wegruk van die prentjie wat hy skep en weer op die skerm fokus. “Ek weet, maar daar is heelwat om te doen.”

Hy knik, en sy voel sommer hoe sy blik oor haar skraap. “Mizz Rose, ek verwag nie van jou om ’n uniform te dra nie. Jy kan maar daardie reguit skirts en haaipolfaais van jou bêre vir wanneer jy teruggaan Londen toe. My personeel moet netjies lyk, maar ek verkies dat hulle gemaklik is wanneer hulle werk.”

“Ek is gemaklik, dankie,” antwoord sy styf.

“Op daardie hakke?”

“Ek is gewoond daaraan.” 

Hy kyk haar lank aan. “Dis nie Londen hierdie nie, dis die Drakensberge. Spykerhakke pas nie eintlik hier nie.”

Rosalie rek haar uit tot haar volle een meter sestig en lig haar ken. “Is dit teen die drag- kode om dit te dra?”

“Nee.”

“Dan verkies ek om die klere te dra wat ek gewoonlik aantrek.”


lapa advertensie

Kan hierdie liefde se prys betaal word? Hulle is pole uit mekaar: Hy is 'n eenvoudige Afrikanerboer uit die Vrystaat; sy is die gesofistikeerde dogter van 'n skatryk Engelse sakeman.

Hulle moes nooit eers ontmoet het nie, maar op 17 Junie 1944 loop sy in sy arms in, en wanneer haar wêreld om haar in duie stort, bied hy vir haar 'n uitweg – 'n jaar op Kanaän as sy vrou. 

Klik en koop hierdie boek en ander e-boeke op lapa.co.za


Sy’s nou onredelik koppig, en sy weet dit. Dit sal beslis sinvoller wees in hierdie hitte en in hierdie omgewing om plat sandale te dra. Maar om die een of ander rede is dit belangrik om vandag hierdie onsinnige argument met hierdie man te wen. 

Sy sien hoe sy oë vernou. Hy stoot hom weg van die kosyn waarteen hy gemaklik geleun het. “Wat’s fout met jou?”

“Niks,” sê sy en maak die rekenaar toe.

“Lyk nie vir my soos niks nie. Dit lyk trouens vir my al die hele week asof iets jou vreet.”

“Ja, natuurlik.”

“Nou hoekom vermy jy my?”

Dit laat haar kop vinnig opkom. “Ek vermy jou nie, ek is besig.”

“Ons is almal besig, maar ons het darem tyd om mekaar te groet of so nou en dan ’n gesprek te voer.”

“Ek het jou gegroet!”

“Ja, maar elke keer so vinnig dat jy reeds vyf tree weg was teen die tyd dat ek besef het dis jy. En jy het al hoe vroeër ingekom sodat jy elke oggend reeds uit jou kantoor was as ek hier verbykom.”

Sy lig haar wenkbroue vir hom, al ruk dit in haar. “Ek het nie geweet dat dit een van my pligte is om jou geselskap te hou nie.”

Teen hierdie tyd het hy nader gestap, tot hier by haar, en hy staan haar en bekyk, met sy hande op sy heupe, asof hy ’n ouer is wat ’n balhorige kleuter se gedrag probeer plaas. 

“Wat is die moeilikheid, Mizz Rose?” 

Paniek stoot in haar op. Hy kan haar lees, besef sy meteens. Sy weet nie hoe nie en sy weet nie hoekom juis hy die vermoë gekry het om deur haar skanse te sien nie. Maar hy kan.

Sy laat val haar blik en tel haar knyperbord op, soek na haar pen. “Ek sê mos dis niks. Regtig, Juan, ek is net besig. Ek is jammer as jy die indruk gekry het dat ek jou vermy.”

Daaroor is sy ten minste eerlik, dink sy. Sy het hom vermy, maar dis is jammer as hy dit agtergekom het. Sy wil so min moontlik persoonlike kontak met hom hê, maar sy wil ook nie hoef te verduidelik hoekom nie.

Sy wil agteruit tree, weg van hom af, weg van haar reaksie op hom, maar hy het haar tussen haar lessenaar en die deur vasgekeer. 

“Ek weet nie of ek jou glo nie.” 

Haar hart skop, haar mond word droog. “Ek ...”

Op daardie oomblik begin die foon op haar lessenaar lui.

Bewerig van verligting draai sy weg om die gehoorstuk op te tel. “Rosalie, hallo.”

“Die Goldsteins is pas hier deur eetkamer toe, Miss Rose. Jy’t gevra dat ek jou laat weet.”

“Dankie, Fikile, ek waardeer dit.”

“Plesier. David het ook laat weet die ys is gereed. Hoe laat wil jy hê moet hulle die ysemmers volmaak?”

“Net voor elf. Hou liewer die vonkelwyn tot op die laaste in die yskas. In hierdie hitte kan ons nie bekostig om die ys te vroeg uit te haal nie.”

“Ek laat hom so weet, Miss Rose.”

Teen die tyd dat sy die foon terugplaas op die mikkie, is sy weer haar gewone, beheerste self. Wel, uiterlik in elk geval.

Sy tel haar lêer van die lessenaar op en druk dit teen haar bors vas soos ’n skild. “Ek moet gaan, die Goldsteins is in die eetkamer. Verskoon my, asseblief.”

Hy sê niks, maar sy voel hoe sy oë tussen haar blaaie inbrand, en sy moet keer dat haar rug hol trek.

“Mizz Rose,” keer hy net voor sy by die deur uitloop.

“Ja?”

“Kom maak vanmiddag in my kantoor ’n draai voor jy huis toe gaan.”

Sy knik net saaklik en stap vinnig eetkamer se kant toe. Haar houding is regop, die handdruk en glimlag wat sy vir die gaste gee, hartlik en opreg.

Maar in haar binneste bruis die onrus soos bruin vloedwater. Daar lê ’n konfrontasie voor, met hierdie man, met haarself, en haar hele toekoms berus op hoe goed sy dit gaan hanteer.

Die prentjie uit sy studeerkamervenster is een waarvoor hy seker nooit moeg sal word nie. Voor hom lê die veld uitgestrek, warm gebak en bewend onder die laatmiddagson, die lug goud en geurig met die reuk van Afrika se aarde en gras. Teen die oorkantste helling kom bruin spikkels beeste rustig aangestap kraal toe, iewers fluit iemand ’n tradisionele deuntjie, vol van die ritme en eenvoud van hierdie wêreld. 

Maak nie saak wat die natuur met hierdie stukkie aarde maak nie, of die reën teen die ruite sliert en die donder in die klowe weergalm, of die sneeu teen die stoep opdam, of die wind woedend aan die bos pluk, of die wintergras geel en bros in die flou son staan en bak, dit bring elke keer vir hom dieselfde stil vrede as hy dit sien. Elke keer wat hy hier staan, elke keer wat hy weet dat hierdie stukkie van die berg vir hom en sy nageslag bewaar sal bly, is hy opnuut verwonder en opnuut dankbaar dat dit vir hom beskore is om dit te kan beleef. 

Maar vandag is hy skaars van sy omgewing bewus. Sy blik is binnetoe, op die onstui- migheid wat in hom ontstaan het die oomblik toe Rosalie Harrington-Jones haar skraal voete op KwaMoyeni gesit het.

Hy skud sy kop vir homself. Wat het hy dan gedink? Het hy werklik geglo dat dit eenvoudig sou wees om haar hier te laat werk, onder sy neus, sy aan sy met Thandi, sonder dat daar die soort spanning sou ontstaan wat nou sy ingewande in ’n honderd ingewikkelde knope het?

Nee, so naïef is hy darem ook nie. Maar hy het geglo dat haar teenwoordigheid op KwaMoyeni hom en Thandi albei sou help vrede maak met die bagasie wat hulle nou al twee en ’n halwe jaar met hulle saam­sleep.

Thandi moet begryp dat daar dinge is wat ’n mens nie kan verander nie en dat ’n mens se enigste vrede in aanvaarding lê. Dis nodig vir haar eie sielevrede en dis nodig vir Danny se onthalwe. Die seuntjie is nog te jonk om die bitterheid te verstaan wat sy ma in haar ronddra, maar daar gaan ’n dag kom wat hy gaan besef dat sy emosioneel nie heel is nie. Hy kan nie hier grootword, in hierdie gemeenskap, bure wees met die Jordaans, terwyl sy ma so ’n siedende verontwaardiging in haar ronddra nie. 

En hy ... Hy het ook nodig om te begryp dat daar dinge is wat hy nie kan verander nie en dat sy enigste vrede in aanvaarding lê.

Hy het werklik geglo dat hy met haar hier op KwaMoyeni oor die verering en bewondering sou kom wat hy al van sy skooldae vir Rosalie Jordaan met hom saamdra. As sy hier is, elke dag naby is, sou dit vir hom moontlik wees om na haar te kyk as ’n mens, vol foute en tekortkominge, eerder as die onbereikbare prinses wat al meer as vyftien jaar lank sy drome oorheers. So het hy gedink.

Tot dusver is sy eksperiment nie juis die uitmuntende sukses waarop hy gehoop het nie. In plaas daarvan dat hy gewoond raak aan haar en sy voorspelbaar en alledaags word, raak hy al hoe meer van haar bewus, draal die herinneringe aan haar beeld, haar stem, haar menswees al hoe langer. 

Dis nie dat sy luid of opvallend of ekstrovert is nie. Inteendeel. Of sy nou by haar lessenaar sit en werk, of sy vorentoe buk om ’n blom in ’n vaas reg te druk, of sy met haar knyperbord onder die arm rondstap en met haar doelgerigte bevoegdheid bevele uitdeel, sy bly die versinnebeelding van daardie stil elegansie, die ingebore klas wat hy al die jare nog met haar assosieer.

Maar daarop was hy bedag. Hy het geweet dis wat sy is en hy was voorbereid daarop om nie daarvoor te val nie.

En hy het ook nie. 

Waarop hy nie voorbereid was nie, was die glimpe wat hy gedurende die week gekry het van die vrou wat hy die dag in die kloof leer ken het, en dis iemand wat daardie beheerste uiterlike heeltemal weerspreek. Dis ’n vrou wat bitter streng bewaak word en wat ’n mens maklik kan miskyk. Dis net iemand wat haar baie fyn dophou, of ’n geliefde, wat sal weet dat ’n mens in ’n seldsame, onbewaakte oomblik haar hele siel in daardie blou oë kan sien. 

En dis ’n vrou wat hom heeltemal sal kan verslaaf ...

“Jy’t gesê jy wil my spreek?”

Die stem laat hom omswaai.

Sy staan daar in dieselfde wit bloes en swart romp waarmee sy vanoggend by die werk opgedaag het, nog net so regop en stylvol en netjies asof sy nie die hele dag op daardie onmoontlik hoë spykerhakke moes ronddraf nie.

“Ja, ek wil. Kom sit, asseblief.”

Sy huiwer ’n paar oomblikke, maar kom dan tog nader en sak op die stoel neer.

Selfs die manier waarop sy gaan sit, is elegant, dink hy. Elke oomblik wat sy hier is, onderstreep die verskille tussen hulle net verder. 

“Kan ek vir jou iets skink om te drink?” vra hy. “Hier’s bier en wyn. Of whisky. Vrugtesap ook.”

“Ek moet nog bestuur. Mineraalwater, as jy het.”

Hy haal die botteltjie uit die klein, ingeboude yskassie, draai dit oop en gee dit vir haar aan. Gaan sit agter sy lessenaar. Wag totdat sy ’n klein slukkie geneem het.

“Hoe het dit vandag gegaan?”

Sy kyk hom stip aan terwyl sy haar lippe klad en weer die proppie terugdraai. “Goed. Maar ek is seker jy weet dit.”

“Hoe sou ek dit weet? Ek het mos nog nie met jou daaroor gepraat nie.”

“Ons hoef nie daaroor te praat nie,” sê sy gelykmatig. “Ek het agtergekom jy weet presies wat oral in en om die lodge gebeur. Jy’s ’n vinger-op-die-pols-soort baas.”

Hy frons effe. “Ek kyk nie oor my personeel se skouers nie. Hulle is almal meer as bevoeg om hulle werk te doen.”

“Ek weet. Dis net oor myne wat jy kyk.”

“Ek is jammer, ek het nie bedoel om dit te doen nie.”

“Natuurlik het jy. Maar ek neem jou nie daarvoor kwalik nie. KwaMoyeni se reputasie is op die spel. As dit my plek was, het ek ook oor nuwe besems se skouers gekyk.”

Sy het agtergekom hy bly naby, dink hy. Hy het gedog hy het sy fiksasie goed gekamoe- fleer, maar sy het dit in elk geval agtergekom. Laat sy dan maar dink dis omdat hy oor haar vermoë om die werk baas te raak bekommerd was, eerder as dat sy besef hoe swak sy swak plek is.

Sy bekyk hom eers weer ’n paar sekondes lank, asof sy probeer uitpluis wat agter die vraag skuil, maar hy hou sy blik reguit en vraend.

“Goed,” antwoord sy uiteindelik. “Dis natuurlik nog maar net ’n week en die eerste opdrag wat ek gehad het, was ’n redelike maklike een. Maar ek behoort dit te kan baasraak.”

“Dis nie wat ek gevra het nie.”

Hy sien die waaksaamheid. Dit kom sit eerste in haar oë, dan in haar skouers, dan in die hande wat om die bottel verstyf.

“Wat vra jy dan?”

“Ek het jou gevra hoe jy die omstandighede ervaar.”

“Watse omstandighede?”

“Die omstandighede waaronder jy jou werk moet doen.”

“Ek weet nie wat jy bedoel nie.”

Hy weet sy verstaan hom. Hy weet ook sy koop nou tyd, maar hy gee nie ’n duim skiet nie. Dis iets wat gedoen moet word, ter wille van Thandi, van KwaMoyeni, maar grootliks ter wille van hom.

“Ek wil weet of jy saam met Thandi sal kan werk,” sê hy.

Sy sit doodstil, en haar gesigsuitdrukking is heeltemal neutraal, honderd persent beheers. Maar die oë is potblou teen die te wit vel. 

“Ek het hierdie week saam met Thandi gewerk. Alles het goed gegaan.”

“Jy het nie saam met haar gewerk nie. Jy het ’n kwartier lange onderhoud met haar in jou kantoor gevoer en verder geen kontak met haar gehad nie.”

Die aanklag lê sy stem vol. Hy weet dit, maar hy wend geen poging aan om dit te versag nie. 

“Ek is jammer.” Selfs haar lippe is bleek. “Ek dag dit was genoeg om met haar die Goldsteins se versoeke ten opsigte van die spyskaart te bespreek. Dit was die reëling wat ek in Londen met die sjef gehad het en ek het aanvaar dis hier ook die werkswyse. Was daar die een of ander protokol hier wat ek nagelaat het?”

“Nee. Sy het die inligting gehad wat sy moes hê. Maar dis nie waaroor hierdie gesprek gaan nie.” Hy leun vorentoe met sy elmboë op die tafel en kyk haar reguit in die oë. “Die verhouding tussen die geleentheidsbeplanner en die sjef is een van die belangrikstes in die gasvryheidsbedryf. As daar ’n probleem is, ly die hele instansie skade. In hierdie geval was die spyskaart tradisioneel kosjer en Thandi het gelukkig tydens haar opleiding in New York heelwat ervaring daarvan opgedoen. Dit was nie vir haar nodig om by jou uit te vind wat dit behels nie. Maar dit gaan nie elke keer so wees nie. Daar gaan bruide wees wat die hele spyskaart die aand voor die tyd verander, die bruidegom se ma gaan skielik op ’n laevetdieet wees, die bruidegom se pa gaan ’n diabeet wees en jy gaan dit die aand voor die tyd toevallig uitvind. Jy is die een wat sulke onverwagte krisisse moet probeer oplos en die kombuis daarvan moet laat weet. Die verhouding tussen jou en die sjef moet ontspanne en oop genoeg wees dat jy dit kan doen.”

“Juan, ek ...”

“Nee, ek wil hê jy moet nadink voordat jy antwoord. Ek wil hê dat jy nou en hier in jou eie siel moet inkyk en vir my sê dat jy geen vooroordeel in jou teenoor Thandi of Danny ronddra nie. Want een ding moet jy verstaan: KwaMoyeni is hulle tuiste en dit gaan nooit verander nie.”

Sy sit daar, fier en regop. “Ek verstaan,” antwoord sy, haar stem seker. “Ek sal met haar kan saamwerk.”

Hy knik, kom orent om ’n einde aan die gesprek te maak. “Dis dan in die haak. Kom môre- oggend so ’n bietjie later in, jy het hard gewerk vandag.”

Sy staan ook op. “Ek moet agtuur hier wees, die bloemiste kom die staanders haal.”

“Nes jy wil.”

“Totsiens, Juan.”

“Sien jou.” 

Hy wag tot die deur agter haar toegeklik het voordat hy sy asem stadig intrek en op sy stoel neersak. 

Dis dan hoe dit voel, dink hy. So verlammend en so seer is dit om ’n dolk te neem en dit doelbewus in jou hart in te dryf.

Hy het gehoop dat daar ’n verdowing sou wees, dat die Voorsienigheid hom die ergste pyn sou spaar omdat hy die regte ding gedoen het. 

Maar daar was nie vir hom sulke genade nie.

Al waarop hy kan hoop, is dat dit uiteindelik sal troos – die wete dat dit nodig was, dat dit noodsaaklik was om te verseker hy kan die pad wat hy gekies het met integriteit en waardigheid loop.

Want dit was nodig, dis nie altemit nie. Die mens wat hy is, die man wat sy pa hom opdrag gegee het om te wees, kan niemand toelaat om Thandi en Danny hulle regmatige plek op KwaMoyeni te misgun nie.

En daardie mond van haar kon nou wel gesê het dat sy met Thandi sal saamwerk, daardie ken kon gelig het, daardie skouers kon so reguit en vasberade gewees het soos dié van ’n soldaat, maar in haar wese is sy ’n Jordaan, met dieselfde Jordaan-trots en Jordaan-vooroordele as die res van die clan. Dit was nie vir hom nodig om die woorde te hoor nie; hy het die antwoord klaar gekry: daardie blou oë, die oë wat nie kan lieg nie, kon nie in syne kyk toe sy die onderneming gemaak het nie. 

Sy hou tot by die driffie op Boshoek se grond. Daar moet sy die motor tot stilstand bring sodat sy die bewing tot bedaring kan probeer kry wat in haar ledemate ingetrek het toe Juan-Carlos haar met daardie verskriklike vraag gekonfronteer het.

Sy wens sy het gerook, gedrink, sy wens sy kan vanaand dorp toe ry en na vergetelheid in die een of ander raserige klub gaan soek. Maar nie een van die drie is nou ’n opsie nie en sy moet hier alleen en yskoud in die donkergroen skemer sit en na haar selfbeheersing soek.

Wanneer? wonder sy. Hoe? Wat het sy gedoen of gesê om te verklap wat sy in haar hart ronddra?

Die hemel alleen weet hoe sy dit gaan regkry om aan sy eis te voldoen. Want dat dit ’n eis is, het sy goed verstaan. Teenstand gaan hy nie duld nie. Voorgee wat hierdie saak betref ook nie. Sy sal opreg en onvoorwaardelik die plek en die status moet aanvaar wat hy aan Thandi en Danny toegeken het. Onmiddellik.

Sy klem haar hande om die stuurwiel en laat haar voorkop vir ’n oomblik daarop rus.

Mag die Here haar genadig wees. Mag Hy haar help om te aanvaar en te verwerk en te leef asof dit nie saak maak nie. En mag Hy boweal gee dat sy hierdie ding uit haar binneste geweer sal kry wat in haar opstu elke keer wat sy daaraan dink dat daar ’n ander vrou is wat Juan-Carlos se hart besit, hierdie brandende, vretende, verwringende ding wat so verskriklik baie na jaloesie voel.

* Lees môre verder . . .

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.