Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
VERVOLG: Huis van die wind (Dag 9)

Huis van die wind
HOOFSTUK NEGE

BEGIN BY HOOFSTUK EEN

Rosalie sit nog ’n lêer in die OUT-mandjie. Die hopie waardeur sy die oggend begin werk het, is aansienlik kleiner, en haar persoonlike telefoongids heelwat voller.

Die telefoonnommers van die gereelde verskaffers is nou daarin aangeteken, die kontakpersone se name en geboortedatums daarnaas. As sy in die toekoms met hulle skakel, sal sy hulle kan gelukwens omdat hulle verjaar. Later sal sy uitvind hoeveel kinders hulle het, waar hulle grootgeword het, watter sportspanne hulle ondersteun, wat hulle geloofsoortuigings is. Maar verjaarsdae is ’n goeie begin om ’n persoonlike verhouding met mense op te bou. En persoonlike verhoudings skep die geleentheid vir onderhandeling oor pryse, oor sperdatums, oor gehalte. 

Die feit dat sy net drie maande hier gaan wees, is geen verskoning om nie haar werk behoorlik te doen nie.

Die pen kletter uit haar hand en rol weg oor die lessenaar. Drie maande. Liewe Vader, hoe gaan sy drie maande op KwaMoyeni oorleef?

Met knieë wat dreig om te bewe, staan sy op en stap tot by die deur. Druk dit toe. Leun dan met haar rug teen die hout terwyl sy diep teue lug in haar longe intrek.

Drie maande op hierdie plek, met Juan-Carlos D’Oliveira in die kantoor langs hare, met sy minnares en sy kind – sy kind! – onder dieselfde dak. 

Met brandende oë kyk sy op haar horlosie. Halfvier. Nog ’n uur wat sy hier moet sit en haar meganies besig hou met pligte, terwyl dit vir haar voel asof haar hart van haar lyf losskeur.

Here, hoekom is dit so seer? Hoekom is sy byna dwalend oor hierdie onthulling wat sy vanoggend beleef het? Sy het mos geen reg om enigsins ’n emosionele reaksie te ervaar op die nuus dat Juan-Carlos D’Oliveira by ’n ander vrou betrokke is nie, laat staan nog hierdie skeurende pyn daaroor in haar rond te dra.

Dis ook nie asof dit so ’n skok hoef te gewees het nie. Daar was soveel leidrade, besef sy nou, soveel geleenthede waar sy met die feite onder haar neus gesit het en net eenvoudig nie die optelsom gemaak het nie.

Hier is die rede vir haar ma se nyd en minagting. Hier is die rede vir die Rautenbachs se geskinder. Hier is die rede waarom hy na haar kan kyk met daardie spottende glimlag en afsydigheid in sy blik, terwyl sy rondflap en stotter en kortasem wil word as hy naby haar kom.

Hemel, en sy het gedink daar is elektrisiteit tussen hulle! 

Wat ’n sot was sy nie! Die man voel niks, het nog nooit iets gevoel buiten jammerte nie, en hier wil sy lam knieë kry omdat hy vir haar werk aangebied het. Hoe pateties kan ’n mens word?

Sy druk haar palms plat teen die koel houtpaneel agter haar en sluit haar oë terwyl sy desperaat ’n oewer iewers in hierdie maalstroom probeer opspoor.

Dink, Rosalie! beveel sy haarself. Hou op reageer en dink. Dis omdat sy hier wil werk met rou emosionele reaksie dat sy so sukkel. Dertig jaar se onverbiddelike werklikheid het haar mos nou al geleer dis nie die manier om krisisse op te los nie. Emosies vertroebel net. As ’n mens heel anderkant wil uitkom, moet jy verstaan. En om te verstaan, moet ’n mens bereid wees om die feite vreesloos in die oë te kyk.

Geleidelik kom sy tot bedaring. Geleidelik neem die rasionele mens oor. En geleidelik kry sy beheer oor haarself terug.

Met ’n laaste diep asemteug stoot sy haar van die deur af weg en gaan sit weer agter die lessenaar met haar hande lossies voor haar op die blad gevou.

Oukei. Feite is wat sy nodig het. Dis met feite wat ’n mens werk. Die res is subjektiewe gewaarwordings en nie geldig nie.

Feit nommer een: Juan-Carlos is by ’n ander vrou betrokke. Is al ’n geruime tyd by haar betrokke. Wat sy natuurlik kon geweet het as sy die brein gebruik het wat die Liewe Vader in haar kop gesit het. 

Sy grimas en knyp haar oë toe as sy aan haar simpel kortasem-kinderagtigheid dink. Hy is ’n man van ... wat? Seker ten minste vyf en dertig. Was sy werklik so naïef dat sy gedink het ’n man soos Juan-Carlos, sterk en dinamies en viriel en berese en welaf, gaan alleen deur die lewe stap? Daar was waarskynlik – nee, is waarskynlik – elke dag ’n hele tros vroumense wat hulle lywe op ’n skinkbord vir hom aanbied; al wat hy hoef te doen is om agteroor te sit en uit die smorgasbord te kies.

En die een wat hy gekies het …

Onwillekeurig klem haar hande weer in vuiste saam.


lapa advertensie

Kan hierdie liefde se prys betaal word? Hulle is pole uit mekaar: Hy is 'n eenvoudige Afrikanerboer uit die Vrystaat; sy is die gesofistikeerde dogter van 'n skatryk Engelse sakeman.

Hulle moes nooit eers ontmoet het nie, maar op 17 Junie 1944 loop sy in sy arms in, en wanneer haar wêreld om haar in duie stort, bied hy vir haar 'n uitweg – 'n jaar op Kanaän as sy vrou. 

Klik en koop hierdie boek en ander e-boeke op lapa.co.za


Sy keuse is seker onkonvensioneel – dit is die nuwe Suid-Afrika, maar dis steeds ’n dapper man wat ’n verhouding met ’n swart meisie aanknoop. Veral in hierdie gemeenskap, waar die skeiding tussen ryk en arm, tussen wit en swart, tussen Europa en Afrika nog baie rigied gehandhaaf word. 

Maar een kyk na die vrou, na daardie beeldskone gesig en die sensuele lyf, verklaar sy keuse. Sy kan verstaan dat konvensie vir ’n man geen gewig sal dra as hy daardie skoon- heid vir homself kan opeis nie. Dis ’n vrou wat koppe in enige geselskap sal laat draai en Juan-Carlos is waarskynlik man genoeg om gevlei te wees oor so ’n trofee.

Dat hy Thandi sy minnares gemaak het, is heeltemal verstaanbaar.

Maar wat de donner was die dag in die kloof dan? skree haar hart tussenin. As hy ’n vrou by die huis gehad het, ’n lieflike, sexy, gewillige vrou, wat het daardie dag in die kloof vir hom beteken? Wat was sy wat Rosalie is? Afleiding?

Nee! keer sy toe haar ingewande by die gedagte wil rebelleer. Nee, sy gaan nie haar hart toelaat om met die situasie weg te hardloop nie. Haar kop moet nou werk. Net haar kop. Dis slegs die harde, onverbloemde realiteit wat nou tel.

Wat presies was dit wat daardie dag in die kloof gebeur het? Wat het dit toe beteken, wat beteken dit nou en hoeveel gewig behoort dit te dra?

Dit was twee en ’n halwe jaar gelede, maar sy onthou die dag, die nuanses daarvan, die delikate balans daarvan, asof dit gister was. Sy onthou haarself, stukkend en rou, en sy onthou die innigheid en die troos wat hy gebied het. Dit was opreg, reëel, tasbaar, in ’n tyd toe alles gedreig het om uit haar beheer te glip, en sy het daarna gegryp soos ’n drenkeling na ’n reddingsboei in ’n stormsee gryp. 

As sy eerlik is, brutaal eerlik met haarself, weet sy vandag, net soos wat sy van die eerste oomblik af geweet het, dat sy meer gegryp het as waarop sy geregtig was. Dat sy meer geneem het as wat hy gebied het. Dat hy gekeer het, dat hy hulle uit die maalstroom wou stuur, maar dat sy hom teruggetrek het omdat sy iemand wou gehad het om saam met haar oor die afgrond te tuimel. 

Wat het dit van hom gemaak? ’n Medepligtige? Of iemand wat ’n helpende hand uitgesteek het en toe self in die vloedwaters beland het? 

Dis nie asof hy haar vooraf enigiets belowe het nie. Dis nie asof sy daarna enigiets verwag het nie. Hoekom wil haar hart nou hê dat een insident, een deurmekaar middag se wilde, fisieke bymekaarkom sonder enige aanloop of gevolg, iets moet beteken? 

Hy het gegee wat sy gevra het, haar getroos op die manier wat sy op daardie oomblik nodig gehad het. Dit was ’n greep uit die tyd, iets wat met die werklikheid wat hulle gelewe het niks te make gehad het nie. Sy kan nie nou seergemaak en verontreg wil wees omdat daar ’n ander vrou was wat by die huis vir hom gewag het nie. 

Buitendien was daar op presies dieselfde manier ’n man wat vir haar gewag het en teenoor wie sy ’n verpligting gehad het. Vir haar was dit moontlik – maklik – om terug te gaan Londen toe en die middag in Juan-Carlos se arms te verseël soos ’n mens iets in ’n Ziplocksakkie verseël. Hoekom sou hy nie dieselfde doen nie?

Omdat hulle situasies nie dieselfde was nie. Haar verraad was teenoor Edward; in Juan-Carlos se lewe is daar nie net ’n vrou nie, daar is ook ’n kind! 

Sy druk haar palms teen haar slape asof sy die trei­terende gedagtes wil stuit.

Hoe oud is die seuntjie? Twee? Sy ken nie kinders nie – die laaste kleuters met wie sy te doen gehad het, was Karen en Lizelle – maar sy kan darem nog ouderdom skat. Hierdie kind is nog op pad twee toe, daarvan is sy seker. Willem is einde Julie oorlede, sy begrafnis was ’n week later en sy en Juan-Carlos het mekaar in die week daarop gegryp. Was Thandi toe reeds swanger? Moontlik. Maar dis ook heeltemal moontlik dat Juan-Carlos op daardie stadium nog onbewus was van die swangerskap …

Dit maak nie saak nie, Rosalie! praat haar kop streng. Wat Juan-Carlos se motiewe twee en ’n halwe jaar gelede was, is nie meer ter sake nie, indien dit ooit was. Wat tel, is die verbintenis wat hy intussen gemaak het en die plek wat hy sedertdien aan die vrou en die kind toegeken het.

En dit is bo verdenking. Een kyk na die gesin, die prentjie wat hulle vanoggend in sy kantoor gemaak het, die warmte en innigheid, die liefde en die ondersteuning wat hulle by mekaar kry, het vir haar gesê hier is ’n band wat hegter bind as een middag se seks in die kloof. Selfs Thandi sal dit kan insien, al is sy bewus van daardie een dag se vergryp.

Want daaroor is daar geen twyfel nie – die meisie weet. Dis net die wete dat daar iemand anders was, al was dit vervlietend, wat daardie soort vyandigheid in ’n vrou se oë sit.

Is dit hoekom sy hier is? wonder sy skielik. Is daardie veelbewoë middag ’n klitsgras wat iewers tussen Juan-Carlos en Thandi vasgesteek het, wat dalk veroorsaak dat hulle nie tot trou kom nie ten spyte van die sigbare toegeneentheid tussen hulle? Is die drie maande ’n tydperk waarin hy aan sy geliefde wil demonstreer dat geen ander vrou tussen hulle sal kom nie? Dat sy maar onvoorwaardelik kan vertrou, al werk die vrou saam met haar onder een dak? 

’n Raps teen haar deur onderbreek haar malende gedagtes en sy gryp vinnig na haar pen en ’n lêer. ’n Paar diep asemteue en ’n vinnige skool van haar gesig na die gewone, professioneel vriendelike uitdrukking het haar binne sekondes uiterlik heeltemal kalm. 

“Binne!” roep sy. Die kooksel in haar gemoed hoef niemand van te weet nie.

Haar hart wil aan die galop gaan toe sy groot gestalte die kosyn vul, maar sy ruk die reaksie vinnig terug. 

Rasioneel, preek sy vir haarself. Hou emosie hieruit. 

“Ek het kom hoor hoe dit gegaan het,” hoor sy hom sê. “Sien jy lig?”

Dis net jare se oefening in onverbiddelike beheer wat haar in staat stel om die pen neer te sit, agteroor te leun en oënskynlik ontspanne te glimlag. “Ek sien lig. Ek het met mevrou Goldstein geskakel oor die verjaardagete en solank inligting oor julle verskaffers begin bymekaarmaak. Die meeste van hulle is natuurlik vandag toe omdat dit ’n vakansiedag is, maar ek sal in die week met hulle skakel en my voorstel. KwaMoyeni funksioneer soos ’n eenheid, lyk dit my. Dis nie nodig om die wiel weer te wil uitdink nie.”

Hy knik. “So. Jy sal die werk kan baasraak?”

“Ek glo so.”

“Sonder enige haakplek?”

“Wel, haakplekke sal daar seker wees. Maar jy het kundige, hulpvaardige personeel wat sal intree en keer dat ek groot skade aanrig. En as ek regtig nie regkom met ’n bepaalde ding nie, sal ek jou hulp betyds inroep. Ek is lankal verby die stadium wat ek dink dis ’n swakheid om te erken dat jy nie alles self kan doen nie.”

Hy kom nader, gaan staan dan met sy hande laag op sy heupe gestut. Kyk baie stip na haar, asof hy haar gedagtes wil lees.

Ten spyte van haar vaste voornemens voel sy hoe haar hart aan die skop gaan.

“Jy’s ’n koel komkommer, Mizz Rose, ek moet jou dit ter ere na gee. Daar is nie baie mense in hierdie lewe wat so ’n gekompliseerde situasie met soveel kalm waardigheid sou kon hanteer nie.”

Sy was reg! skiet dit deur haar brein. Sy is hierheen gebring vir ’n rede. Sy moet kom bewys dat dit wat tussen hulle gebeur het ’n afwyking was en dat dit nie weer gaan plaas- vind nie.

Maar die kalm front hou. “Ek is bly as ek die toets geslaag het.”

Sy wenkbroue lig. “Ek weet nie of dit vir jou heeltemal ’n kompliment is dat jy so onver- stoor daaroor kan bly nie. Om die een of ander rede het ek verwag dat dit vir jou meer van ’n emosionele krisis sou wees.”

Haar hande wil in vuiste klamp, maar sy onthou betyds dat dit op haar skoot lê waar hy kan sien. “As ek een ding in hierdie lewe geleer het, Juan, is dit dat emosies bitter morsig kan word. Dit trek doodgewone situasies skeef en veroorsaak dat mense wat eintlik heeltemal funksioneel kon saamwerk, skielik in vyandskap leef. Ons is grootmense. Ons kan seker só optree, selfs wat hierdie saak betref?”

“Ja, natuurlik.” Sy kyk weer op haar horlosie, merk met matelose verligting op dat dit vyf en twintig oor vier is. Sy staan op. “Dit is, soos jy tereg gesê het, ’n gekompliseerde situasie en ons is nie almal op dieselfde manier deur die verlede … benadeel nie. Ek respekteer elke deelnemer se reg om die implikasies op sy, of haar, eie manier te hanteer en te verwerk.” Sy haak haar handsak oor haar skouer. “Ek onderneem om gedurende die drie maande wat ek hier is, alles in my vermoë te doen om dinge so … gemaklik moontlik vir almal te maak.”

Hy staan haar eers lank en aankyk, dan krul sy lip sinies. “Dis verskriklik groothartig van jou, Mizz Rose. Ek sal dit so aan Thandi oordra.”

Dit kos haar elke greintjie selfbeheersing waaroor sy beskik om nie die bitterheid wat deur die beheer­sing wil breek in sy gesig te spoeg nie. Maar sy kry dit met brute wilskrag reg om die ondeurdagte woorde terug te forseer.

“Ek is jammer dat Thandi deur my teenwoordig­heid ontstig word,” antwoord sy rustig. “Ek het gewonder hoekom jy my ’n pos aangebied het as jy geweet het dit gaan haar ontstel. Al verklaring waarmee ek vorendag kon kom, is dat dit haar moes help om met die verlede vrede te maak. Was ek reg?”

Emosie klots in sy oë, emosie wat sy kan sien dreig om handuit te ruk. Maar hy knik net.

“Wel, soos ek gesê het, ek sal doen wat ek kan om dinge vir haar maklik te maak.” Sy tel haar sleutels op. “Ons sal nie weer na hierdie gesprek verwys nie, neem ek aan?”

“Nee,” byt hy dit uit. “Ons sal nie weer na hierdie gesprek verwys nie. Maar ek sal toesien dat jy woord hou, al kos dit jou voorgee en lieg soos ’n tandetrekker.”

Sy lig haar ken. “Ek sal nie hoef voor te gee of te lieg nie.”

Sy kry dit reg om uit die kantoor te stap, waardig en regop, om die ontvangspersoneel vriendelik te groet, haar motor aan te skakel en besadig met die pad af te ry, deur die hoof- hek waar dit by die grootpad aansluit. 

Maar die oomblik wat sy by Boshoek se plaaspad indraai, moet sy stilhou en uitklim sodat sy bewerig en mislik teen die motor kan aanleun. 

Dis dan hoe rekenskap voel, dink sy, half duiselig van spanning. Die twee en ’n halwe jaar wat sy ge­dink het hierdie geheim was net vir haar rekening, was bloot ’n tydperk waarin die omstandighede vir die finale vuurdoop vervolmaak is. Al die maande wat sy gedink het dat haar huwelik die prys was wat sy vir daardie oomblik van waansin moes betaal, was ’n dwaling waarvan sy vandag genees is. 

Sy sal moet vergoed, persoonlik en direk, sodat die skaal kan balanseer. 

Uitdraaikans is daar nie, omdraaiplek ook nie. Haar pa was reg, al kon hy nie voorsien hoe presies sy voorspelling op hierdie dag van toepassing sou wees nie – daar is besluite wat ’n mens neem wat vir jou op die oomblik na die regte ding lyk, maar wat ’n mens skielik op die rand van ’n afgrond laat beland wat jy waaragtig nie kon voorsien nie.

En dis presies waar sy haar nou bevind: op die rand van ’n afgrond. 

Sy kan Juan-Carlos blameer vir die feit dat hy haar tot daar gemanipuleer het, sy kan vir Lizelle kwaad wees oor die CV wat sy gestuur het, sy kan die kosmos uitskel vir die sameloop van omstandighede wat haar tot by hierdie punt gebring het.

Maar die finale aanspreeklikheid lê by haar. Sy alleen was die een wat die dag in die kloof beslag gelê het op iets wat nie hare was nie en sy alleen het die besluit geneem wat haar vandag ’n werknemer van KwaMoyeni gemaak het. En sy alleen is die een wat nou die prys moet betaal.

Want die prys gaan sy moet betaal, dis nie altemit nie. Sy het reeds die kontrak onderteken en is regtens verplig om daar te werk. Maar dis groter as ’n wetlike verpligting: As sy nou omdraai en sê sy wil nie daar werk nie, omskep sy die oomblik tussen haar en Juan-Carlos tot iets wat dit nie was nie en gee sy geloofwaardigheid aan Thandi se agterdog. Vlug is gewoon nie ’n opsie nie.

Al genade wat daar vir haar is, is om die drie maande na die beste van haar vermoë te oorleef. Al kos dit haar lieg en voorgee, het Juan-Carlos beveel. Al kos dit haar haar sinne. As dit die prys is vir daardie een middag se vergryp, is dit presies wat sy sal betaal.

Dis reeds ná middernag toe die deur na KwaMoyeni se studeerkamer oopgestoot word. Die vrou in die sjefbaadjie leun met haar skouer teen die kosyn aan, bekyk hom lank.

“As jy jou vir die volgende drie maande elke aand des dinges sal moet drink net om die dag om te kry, sal ek nou al vir jou ’n plek in ’n rehabilitasiesentrum moet bespreek.”

Hy balanseer die halfvol glas whisky op sy maag, ruil sy voete om sodat die ander hak op die lessenaar rus en kyk na haar oor sy skoenpunte. “Dis nie oor haar nie.”

“Nee, ek is seker dit is nie,” stem sy saam en kom nader sodat sy op die stoel voor die lessenaar kan gaan sit. “Dis oor die yskas wat al weer dreig om op te pak en omdat een van jou koeie moet kalf en die son vanaand in die weste ondergegaan het. Glad nie oor haar nie.”

“Thandeka ...” Enige ander aand sal hy haar sarkasme kan hanteer. Enige ander aand sal hy dit kan verstaan en verwerk. Maar vanaand is hy te … te broos, verdomp. 

Dit was ’n riller van ’n dag waarin hy hom oorhoeks gewerk het, Donker laat opsaal het en tot by die suidoostelike grens van die plaas met hom gejaag het, in die gym gaan gewigte optel het totdat sy arms gebewe het en toe nog tot by die bosboustasie en terug gedraf het. En toe dit nie die vergetelheid gebring het waarop hy gehoop het nie, het hy hom hier agter die lessenaar kom tuismaak met die enkele oogmerk om sy bewussyn in die whisky te kom versuip.

Sy moet iets in sy gesig gelees het wat haar waarsku dat sy versigtig moet trap, want sy trek haar mond op ’n streep, staan op, gaan haal nog ’n glas en kom sit weer voor die lesse- naar. “As jy daarop geregtig is, is ek sekerlik ook?”

Sy skink vir haarself ’n gesonde twee vingers en leun agteroor. “So. Waarop drink ons? Emosionele oorlewing?”

“Moet asseblief nie met my oor emosies praat nie. Ek moes vandag hoor dat emosies alles net morsig maak en dat grootmense soos gevoellose outomate oor dinge moet kan redeneer.”

Sy neem ’n groot sluk van die whisky. “Dit het beslis vir haar gewerk. Ek en jy was die wrakke en sy het gelyk soos ’n advertensie vir ’n ontspanningskuur.”

“H’m.” Hy kyk in die donker oë aan die ander kant van die lessenaar. “Sy weet hoekom sy hier is.”

“Weet sy? Hoe? Het jy haar gesê?” skiet sy dit uit.

“Nee. Dit was nie vir my nodig nie, sy’t self twee en twee bymekaar getel.”

“En wat het sy gekry? Drie of vyf?”

“Sy het my belowe dat sy vir die volgende drie maande alles in haar vermoë sal doen om dinge vir jou maklik te maak. Klink dit vir jou na drie of vyf?”

“Dit klink vir my na te min, te laat.”

“Sy’t dit bedoel, Thandi.”

“Gmf.”

“Sy het dit bedoel,” sê hy weer, sagter, meer vir homself as vir haar.

“En dis vir jou genoeg?” vra sy skerp.

“Dis wat sy kan gee. Niks wat sy doen of sê, kan die verlede ongedaan maak nie, dit moet jy darem ook besef. Sy het alles aangebied wat sy gehad het om te gee, meer kan nie ek of jy van haar verwag nie.” 

Die glas wat op pad was na haar mond toe, bly skielik in die lug hang. Dan sit sy vinnig regop en die glas land hard op die lessenaar se blad. “Juan ...”

Hy sluit sy oë moeg. Die whisky het begin werk. “Nee, Thandi, ons gaan nie weer soontoe nie. Dis tyd om aan te beweeg. Danny word ouer, jy sal hom nie vir die res van sy lewe op KwaMoyeni kan wegsteek nie. Hy gaan begin vrae vra en jy gaan gereed en bereid moet wees om dit eerlik te beantwoord.”

“En jy?” hoor hy haar vra.

“Wat van my?”

“Gaan jy dit ook regkry om aan te beweeg?”

Hy neem ’n diep teug van die whisky. “Ek het twee en ’n halwe jaar gelede al aanbeweeg.”

“Ek dink jy lieg vir jouself.”

“Ek lieg nie. Ek weet.”

“Miskien moet jy liewer drie maande wag voordat jy so seker van jou saak raak.”

“Ek gaan nooit minder seker van my saak wees nie.”

Daar is ’n lang stilte. Hy hoor haar opstaan en hy hoor glas oor hout skuur. Toe hy sy oë oopmaak, staan haar glas met die laaste mondvol whisky langs sy voete. 

“Oukei, ek gaan nie verder met jou daaroor stry nie, want ek kan sien jy gaan aan jou storie vasklou, al moet jy jou brein pekel om dit reg te kry. Hier is vir jou nog whisky, jy gaan dit nodiger hê as ek.”

“Thandeka ...”

“Ek is moeg, ek gaan slaap,” onderbreek sy hom. “Sterkte. Jy gaan dit ook nodiger hê as ek. Veral môreoggend.”

Hy sien haar uitstap, ’n lang, skraal figuur met daardie reguit rug en hoek aan haar skouers wat onbetwisbaar sê dat sy vies is vir hom.

Met ’n gedempte vloek sit hy regop en skink sy glas vol, gooi die helfte daarvan in sy keel af sonder om ’n druppel van die peperduur drank te proe. 

Hy gee nou nie meer ’n moer om hoe dit smaak nie. Hy gee ook nie ’n moer om hoeveel hy daarvan moet drink nie, solank dit net doen wat die waarskuwing op die bottel belowe en hy sy sinne afgestomp kry.

Want al het hy presies bereik wat hy wou, en al het sy veldtog presies verloop soos hy beplan het, wil hy nie hierdie dag helder onthou nie. Veral nie die oomblikke in die kantoor toe Rosalie Harrington-Jones vir hom met daardie perfek gemoduleerde stem en haar gesig so uitdrukkingloos soos ’n marmerstandbeeld gesê het sy sal nie hoef voor te gee dat die verlede vir haar niks beteken nie.

* Lees môre verder . . .

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.