Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
VERVOLG: Huis van gruwels (Dag 3)

Huis van gruwels

HOOFSTUK DRIE

LEES VORIGE HOOFSTUK

BEGIN BY HOOFSTUK EEN

"In die middel"

Pa jaag Ma met 'n groot, blink vleismes op die onderste verdieping van ons huis rond, onthou ek. Ek weet nie hoekom hy so kwaad is nie. Ma hardloop voor Pa uit met haar maer bene en gekleurde blonde hare. Haar hempie het 'n lae hals, haar maag steek aan die onderkant uit. Sy het 'n denimbroek aan.

Die volgende oomblik gaan sit sy sommer op die vloer asof sy moed opgegee het, nou 'n willose slagoffer. Pa het haar beet, maar sy smeek hom tog floutjies: “Nee, moenie!” Hulle redeneer of praat mos niks ooit uit nie. Sy steek net haar hande halfhartig op om te keer toe Pa die mes afbring.

Toe steek Pa haar in die boud. Ma skree. Die rooi bloed vlek die blou denimbroek.

“Ek het gedog die mes is stomp,” is Pa se kommentaar.

Ma probeer hom kalm hou. “Dis oukei,” sê sy. Ma en Pa gaan saam badkamer toe. Seker om na die wond te kyk. Hulle kom weer sitkamer toe. “Ons gaan hospitaal toe,” sê Pa vir ons kinders.

Ons is stomgeskrik.

Later kom hulle terug, Ma moes steke in die diep wond in haar boud kry. Sy en Pa vertel nie vir ons hoe hulle haar besering by die hospitaal verduidelik het nie.

Dis ’n paar maande later.

Pa jaag Ma op die onderste verdieping rond, dié keer met 'n snoe­kerstok. Nes die vorige keer stribbel sy floutjies teë: “Nee, asseblief, moenie!”

Weer haal Pa haar in. Vergeefs keer sy, want die volgende oomblik slaan hy haar so hard met die stok in die gesig dat dit breek. 'n Yslike splinter bly in haar wang agter. Pa vat haar hospitaal toe.

Wat sou sy storie vanaand daar wees?

Ma kom terug met steke in haar wang.

Ek voel jammer vir Ma. Gewoonlik het ek nie veel simpatie met haar nie. Wanneer ek na haar kyk, is ek meestal kwaad omdat sy nie 'n ma vir een van ons kinders is nie. En omdat sy haarself gedurig opdress en mooimaak terwyl ons verwaarloos word. Sy doen baie moeite met haar hare en koop nuwe klere vir haarself, terwyl ons kinders nooit iets kry nie en honger ly.

Haar hoë, skril stem irriteer my. Ek dink sy is pateties.

Pa het nooit eintlik oor sy kinderjare gepraat nie. Wanneer hy nou en dan iets laat val het, het ons so 'n effense kykie gekry in die bose kringloop waarvan ons toe al deel was, al het ons dit nie besef nie. My oupa het hom glo aangerand toe hy 'n kind was, maar hy het nooit op besonderhede ingegaan oor hoe hy aangerand is nie. Ek het later gehoor my oupa het Pa gereeld met die vuis geslaan en dat 'n vriend van Pa hom by meer as een geleentheid gemolesteer het.

Pa het ons nooit vertel waar hulle gewoon het toe hulle kinders was nie. Die meeste van sy familielede woon in die Springs-omgewing. Dis seker maar waar hy grootgeword het. Blykbaar het my oupa my ouma partykeer gewurg.

Pa glo my oupa het my ouma doodgeskiet en dit toe laat lyk of my ouma haarself geskiet het. Maar die polisie het gesê my ouma het my oupa geskiet, en haarself daarna doodgeskiet. My oupa het dit oorleef.

Pa het blykbaar 'n goeie verhouding met sy ma gehad. Hy was ’n jong man van omtrent twintig toe sy dood is. Hy en Ma was dié dag van my ouma se dood op pad om vir sy suster te gaan kuier, toe mense hulle gebel en gesê het daar was ? skietery by sy ouers se huis. Toe Pa daar kom, het my ouma dood op die vloer gelê. Hy het by haar gaan sit, met haar kop op sy skoot. Pa het nooit gesê waar my oupa toe was en wat hy gedoen het nie. Pa het glo daarna vir Ma belowe hy sal nie aan haar doen wat sy pa aan hulle gedoen het nie.

Ek was nog 'n baba toe hierdie ouma van my dood is. Almal het altyd vertel hoe lekker vet ek geword het wanneer sy vir ons kom kuier het omdat sy my altyd kos en allerlei lekker goed gevoer het. Ons het geen foto’s van haar in die huis gehad nie, so ek weet nie hoe sy gelyk het nie.

My oupa aan Pa se kant het partykeer by ons kom kuier, maar hy het uit Pa se pad gebly. Ek weet nie waar my oupa nou is nie, want hy het nooit kontak met ons gemaak nadat ons van ons ouers verwyder is nie. Pa het ook nooit juis kontak met sy broer en suster gehad nie. Hulle woon glo in ander provinsies, maar blykbaar het Pa meer gereeld by hulle gekuier toe hulle jonger was.

Ma het twee susters en twee broers. Hul pa is dood toe Ma omtrent elf jaar oud was. My ouma het kort daarna 'n nuwe kêrel gekry en hom glo bo Ma verkies. Hierna het Ma by haar ouer suster gaan woon en haarself geleer hare sny en naaldwerk doen.

'n Susterskind van Ma het haar en Pa aan mekaar voor­gestel toe sy omtrent sewentien was. Pa en hierdie neef van my was beste vriende. Hy en Ma is omtrent ewe oud, al is sy eintlik sy tannie. Ma en Pa het nie een hul skoolloopbaan voltooi nie. Sy het net standerd vyf (graad sewe) geslaag toe sy my pa ontmoet het, maar het die skool verlaat om aan hom verloof te raak. Sy was in 'n spesiale skool. Hulle sê my pa het blykbaar reeds nadat hy en my ma verloof geraak het, gewelddadig teenoor haar opgetree deur haar by geleentheid oor sy skoot te trek en 'n pak slae te gee.

Pa en Ma is in 1998 getroud, die jaar waarin ek gebore is. Hulle was albei ongeveer twintig en het eers by familielede van hom gewoon voordat ons op ons eie gaan woon het.

Ma en Pa het nie troufoto’s nie, ek dink hulle is in die hof getroud.

Enigiets kon Pa kwaad maak. Die een oomblik was hy nog in 'n goeie bui; die volgende oomblik was die duiwel los. Ons het nooit net gewoonweg pak gekry nie, maar is altyd aangerand. Gelukkig het Pa die drie jonger kinders nooit eintlik aangerand nie. Maar hy sou enigiets wat hy in die hande kon kry na my en my oudste boetie gooi, of ons met 'n blaasvlam brand of ander kere met 'n skokstok skok.

Partykeer het ons dit sien kom, want ons het hom goed geken. Ons kon dit in sy houding en oë sien, of wanneer hy iets dadelik wou hê en van tien tot een begin terugtel het. As ons dit teen “een” nie vir hom gegee het nie, was die hel los.

Ek het nooit veilig gevoel nie.

Partykeer het ek net moed opgegee wanneer hy kwaad geword het en dinge gevat soos dit gekom het.

In ons huis was dit normaal dat die pa die ma gedurig slaan en hulle aanhoudend baklei. Dit was nie vir ons snaaks dat alles altyd sleg moes gaan en die pa die kinders gereeld geslaan het nie. Dis mos hoe probleme opgelos word. Die man is kwaai, want hy moet baas wees van die huis en sy woord is wet.

Toe ek so veertien word, het ek partykeer gewonder of dit reg is en hoekom hy so met ons maak. Moet daar nie ook liefde en goeie aandag wees soos ek al by ander mense gesien het nie? Dan het ek dit net gelos. Dit sou tog nie help om iets daaroor te sê nie, ek sou net moeilikheid kry. Vir Ma kon ek niks sê nie, want sy sou dit net na Pa oorboek. Die kleintjies het niks verstaan nie en ek het my oudste boetie nog nie heeltemal vertrou nie. Ek was bang dat as ek my twyfel en gedagtes met hom sou bespreek, gaan vertel hy dit vir Pa.

Ma was baie maer en het skel gelag. Dis hoekom baie mense haar Kraai noem, maar ons kinders het haar net Ma genoem. Sy was altyd naby Pa. Ma het nooit rêrig gekeer wanneer Pa ons geslaan het nie. Die dwelms wat sy gebruik het, was seker vir haar belangriker as haar kinders. Ma en Pa het ook saam dwelms gebruik, maar Ma het dit meer dikwels as hy gedoen. Af en toe sou Ma miskien halfhartig probeer keer wanneer Pa ons aangerand het, maar dit het selde gebeur. Buitendien het sy net flouweg gesê hy moet ons nie slaan nie, maar nooit probeer om ons byvoorbeeld van hom weg te trek nie. Ek dink tog dit was vir haar erg, want sy het partykeer gehuil wanneer Pa ons aangerand het. Sy het ons nie eintlik geslaan of met die skokstok geskok nie, behalwe wanneer Pa haar beveel het om dit te doen.


Afspraak met Moord
Afspraak met Moord

In die oog van 'n kultus

Elf wrede moorde oor 'n tydperk van vier jaar ruk die gemeenskap van Krugersdorp en haal landswyd nuusopskrifte. Eindelik word al hierdie moorde verbind met Cecilia Steyn en haar kultusgroep, Electus per Deus (uitverkies deur God). Lede van die groep aanbid die grond waarop Cecilia loop en sal selfs vir haar moord pleeg.

Jana Marx beantwoord vrae wat gespruit het uit een van die opspraakwekkendste moordsake in die land se geskiedenis. Danksy onderhoude met diegene in die binnekring, hofgetuienis en polisiedossiere oor 'n tydperk van vier jaar, poog Marx om die publiek se vrae te beantwoord en 'n blik te gee op die binnewerkinge van só 'n kultus. Klik en koop die e-boek hier


Ek en Ma het ’n keer of wat saam kosgemaak, maar dis al wat ek kan onthou. Dit het my baie hartseer en kwaad gemaak wanneer sy my alleen met die kleintjies gelos het. Eintlik was sy nie regtig ons ma nie, want as ek nou terugkyk, onthou ek niks goeie en gelukkige oomblikke saam met haar nie. Dis darem nie soos in die geval van Pa dat ek net wil huil wanneer ek aan alles dink wat hy gedoen het nie, maar ek en Ma het nooit iets lekkers saamgedoen nie.

Ek het baie gewonder hoekom Ma nie oor ons voel soos regte ma’s oënskynlik voel nie. Behoort elke ma dit nie in haar te hê nie? Ek sou nooit teenoor my boeties en sussies reageer soos wat sy teenoor ons gereageer het nie, want ek weet dis nie hoe 'n vrou moet wees nie. Jis, ek het nou en dan op die drie kleintjies geskree wanneer hulle stout was of hulle met die plat hand op die boude bo-op hulle doeke geklap, maar ek sou hulle nooit in die gesig klap of skop nie.

Ma was maar net oral waar Pa was. Wanneer hy gesê het: “spring”, het sy gevra: “hoe hoog?” Dit het amper gelyk of hy haar gekoop het.

Ma se een suster het vertel Ma was nie altyd so nie. My tannie het nie geweet hoekom Ma so geword het nie, maar sy het vermoed dit was dalk die dwelms en Pa wat haar so verander het. Whatever.

Pa het Ma met die vuis geslaan, haar geklap en geskop oral waar hy kon bykom. Sy het altyd net probeer wegkom en hom amper werktuiglik gesmeek om op te hou. Hulle kon oor enigiets baklei, byvoorbeeld wanneer hy gekla het oor die kos. Wanneer sy die kos miskien nie gou genoeg bring nie of dis nie gaar presies soos hy dit wou gehad het nie, het hy dit teen die muur gegooi of haar daarmee gegooi en haar begin slaan.

My senuwees was gedaan wanneer dit gebeur het. Ek was pal bang, want dit maak nie saak waaroor hulle baklei het nie, op die een of ander manier het ek altyd deel daarvan geword. Dit het nie eens gehelp ek probeer wegkom nie. Pa sou my net roep. Selfs wanneer hulle oor hul persoonlike kamergoed baklei het, is ek ingetrek.

Pa wou dan by my weet of ek dink dis reg dat Ma nie vir hom genoeg seks gee nie. “Ja, ek weet nie, Pappa. Ek weet nie hoekom sy dit doen nie.” Ek sou enigiets sê wat my uit die moeilikheid sal hou.

Partykeer het Pa met Ma baklei omdat die huis vuil was, of sy in sy oë iets verkeerd gedoen het. Dan het sy maar net elke keer gesê: “Ek is jammer, my lief.” Wanneer hy geraas het omdat sy die huis nie skoonmaak nie, het sy elke keer in haar hoë stemmetjie geantwoord: “Maar ek is heeltyd by jóú.” Dit was so, want hy was jaloers en besitlik. Hy het haar heeltemal oorheers.

Pa het 'n sterk persoonlikheid en is slimmer as Ma. Dis hoekom sy so bang was vir hom, want sy het, nes ons, geweet as sy nie doen wat hy sê nie, gaan hy haar slaan.

Ek moes net sterk wees vir my boeties en sussies se ont­halwe, want ek was ál een na wie hulle kon gaan wanneer hulle hartseer of siek was, of iets nodig gehad het. Ek kon nie met hulle oor my eie seer en pro­bleme praat nie. In daardie groot huis het ek heeltemal alleen gestaan, want daar was niemand by wie ek troos en hulp kon kry nie. Al wat my gehelp het, was wanneer ek in my dagboek geskryf het, wat elke liewe dag gebeur het.

* Lees môre verder . . . 

BESTEL DIE E-BOEK HIER

Dié hoofstuk kom uit die boek Huis van gruwels (LAPA Uitgewers) deur Susan Cilliers.

Koop die e-boek hier

LEES OOK DIE VERVOLGVERHAAL: EENDAG IS NOU, deur Kristel Loots

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.