Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
VERVOLG: Huis van gruwels (Dag 4)
Huis van gruwels

HOOFSTUK VIER

LEES VORIGE HOOFSTUK

BEGIN BY HOOFSTUK EEN

"Scream"

Ma en Pa gebruik gereeld dwelms saam met vriende wat kom kuier. Teen die tyd dat ek veertien is, kuier en drink ek partykeer saam, meestal Richelieu-brandewyn en shooters. Ek moet die drankies aandra en skoonmaak waar hulle mors. Soms word ek so moeg dat ek sommer op die trappe gaan lê, maar ek sorg dat ek altyd naby genoeg is om te hoor wanneer hulle my roep. 

Vanaand is die vriende weer hier. Dis al laterig, die kleiner kinders slaap en ek sit saam met die grootmense in die sitkamer.

Pa en Ma kom na my toe. Pa hou 'n groot bord met wit poeier daarin vas. Ek herken dit dadelik. Dis die dwelmmiddel cat. “Gebruik 'n bietjie hiervan. Dis om jou wakker te hou sodat jy ons kan bedien,” sê hy. 

Ma doen niks, sy sê niks, sy kyk net. 

Ek wil nie die dwelms gebruik nie, ek het nog nooit nie. Ek is bang. Sê nou ek gaan dood? Maar ek vat die bord by Pa, want ek weet as ek weier, gaan hy my slaan. 

Dis nie nodig dat iemand my wys hoe om die cat te gebruik nie, want ek sien gedurig hoe hulle dit doen. Ek sit die bord op die tafel neer. Die cat is fyngemaak en lyk amper soos babapoeier. Partykeer is daar nog wit klippies in die cat, dan moet mens dit fynmaak voordat jy dit kan gebruik. 

Pa gee vir my 'n slippie van die winkel aan. 

Ek weet wat om daarmee te doen. Ek druk dit plat op die sitkamertafel en rol dit op sodat dit ’n strooitjie vorm. My hande bewe, want dis die eerste keer dat ek dit self moet doen. 

Ek gebruik ’n bankkaart wat Pa vir my aangee om die cat-poeier in ’n reguit strepie op die bord te stoot. Ek vat die strooitjie in my een hand, laat sak my kop vorentoe en druk my een neusgat toe terwyl ek die strooitjie by die ander neusgat hou. 

Ek snuif. Oe, dit brand verskriklik! 

Ek probeer my neus toedruk. Ek kan niks ruik nie. 

Die cat het nie dadelik ’n uitwerking nie, maar ná 'n rukkie begin ek high voel. Wawyd wakker. Dis nie meer so moeilik om Ma, Pa en hul vriende heelnag te bedien nie. 

Die weke gaan verby. Intussen het ek vyftien geword. Ek gebruik nou so twee tot drie keer per week dwelms, meestal cat. Soms, wanneer ek 'n bietjie te veel gebruik het, voel ek dronk soos wanneer jy getrek raak van alkohol. 

Partykeer gebruik ek crystal. Dit lyk soos stukkies glas wat gebreek is, maar mens moet dit fyner maak, anders sny dit jou neus wanneer jy dit opsnuif. Ons kry dit gewoonlik in banksakkies. Ek sit ’n stukkie toiletpapier op die tafel, die banksakkie bo-op en dan weer ’n stukkie toiletpapier bo-op die banksakkie. Dan rol ek ’n blikkie reukweerder bo-oor totdat die stukkies baie fyn is. 

Mens kan crystal ook rook. Die uitwerking is baie soos cat, net erger. Mens verloor meer beheer oor jouself. Jy kan snaaks begin loop en snaakse dinge doen, ook amper soos wanneer jy te veel gedrink het. 

Partykeer sit ek sommer net so en begin skree nadat ek dit gebruik het. Agterna kan ek nie altyd onthou wat ek gedoen het nie, maar dit hou mens wakker. 

Ek is kamma jonk, maar ek voel nie jonk nie. Ná nog ’n eentonige dag in ons dubbelverdiepinghuis voel ek stokoud. Daar was weer nie kans om ’n sekonde te gaan sit met my woelige boetie en moeilike sussie nie. Al twee is jonger as drie en dra nog doek en drink bottel. Ek sukkel om te verstaan wat my jongste sussie sê, want sy kan nog nie haar woorde reg uitspreek nie. Ek moet die drie jongstetjies boonop nog voer, versorg en oppas. Vir die huis skoonmaak was daar min tyd. 

Pa het netnou grommend by die huis aangekom, vriende van hom en Ma is nou ook hier. Pa traak blykbaar nie om sy kwaaiste streke voor húlle uit te haal nie. Hy gee die stof­suier en vloer net een kyk en sien wat ek reeds weet hy nooit sal mis nie. Die sitkamervloer waar die kinders heeldag voor die televisie rondgelê het terwyl Ma en Pa by sy werk was, is klewerig vuil. 

“Kyk hoe vuil is die vloer!” bulder Pa. “Het julle nie gestofsuig nie?” 

Pa kyk na my en my oudste boetie. Dis mos ons werk. My boetie is stokstyf, sy kake geklem en sy lippe saamgepers. Nie een van ons praat teë nie. Ons wag om te hoor wat dié keer die vonnis vir ons misdaad gaan wees. “Julle sal nou die hele aand vir die kameras staan en kyk. Gaan staan jy voor die kamera in die kombuis,” sê Pa met sy blitsende donker oë op my boetie. 

En aan my: “Jy, op met die trappe! Gaan staan voor die kamera bo by die trappe.” Terwyl ek opstap, hoor ek Pa skree agter ons albei aan: “Die spoke gaan julle vanaand kom kry.” 

Oh, please, dink ek, verlig oor die feeble straffie wat hy vanaand uit­gedink het. Hy kan dit gerus maar vir iemand anders vertel, ek glo tog nie aan spoke nie. 

Ek gaan staan voor die kamera. Dis halfdonker, want Pa het die lig afgeskakel. Ná ’n rukkie begin my bene pyn van die stilstaan, maar vrees vir erger strawwe dwing my om vir die kamera te bly kyk. 

“Oeeeee!” 

Dis my boetie wat so bloedstollend gil. Dis vreemd, want hy aanvaar sy lot gewoonlik stilswyend. Dalk het Pa hom laat skree as deel van die taktiek om my bang te maak? 

Die volgende oomblik hoor ek iets anders. ’n Geskuifel agter my op die trappe en lae, dreigende gromgeluide. Ek kyk om, maar kan nie dadelik uitmaak wat ek sien nie. ’n Gestalte in ’n lang swart gewaad kom skuifel-skuifel in die halfskemer na my opgekruip. Hy het ’n Scream-mombakkies op – ’n stil, skreeuende gesig. 

My bene beweeg asof hulle ’n lewe van hul eie het – ek vlug na Ma en Pa se kamer naby die trappe op die boonste verdieping. 

Sy en Pa lê al twee op die bed. 

Die skerp lig laat my my oë op skrefies trek. “Pa, hier is iets hierbo, kyk op die televisie!” 

Pa kyk na die televisieskerm waarop hy kan sien wat aangaan in elke vertrek in die huis waar hy die kameras geïnstalleer het. Hy lyk nie bekommerd nie. Net vies omdat ek in die kamer ingestorm het, want hulle kyk seker weer kaalflieks. 

“Ek sien niks,” sê Pa. 

Die ding kruip seker nou êrens weg. 

Bang-bang loop ek na ons kinders se kamer langs Ma-hulle s’n. Die lig is aan, maar die rillings van vrees trek nog deur my terwyl ek my slaapklere aantrek, die lig afsit en by my sussies op die bed gaan lê. Ek trek die laken oor my kop, want ek is bang die ding gryp na my of staan hier langs die bed as ek die laken afskuif. 

My hart hamer.

Dit neem lank voordat ek eindelik aan die slaap raak. 

Die week daarna verbeel ek my kort-kort ek hoor weer gromgeluide, ook wanneer ek in die bad sit. Een aand “oortree” ek en my boetie die soveelste keer een van die baie huisreëls. En toe kom Pa se bevel eers aan my: “Gaan staan jy voor die kamera in die kombuis.” My oudste boetie moet voor die kamera in die sitkamer by die snoekertafel gaan staan. 

O so, deel van die bangmaaktaktiek is om ons afsonderlik van mekaar te terroriseer. Weer word al die ligte afgeskakel.

Waar ek in die kombuis staan terwyl ek vir die kamera kyk, kan ek die kombuisdeur in die skemerte uit die hoek van my oog sien. Ek weet my boetie staan met sy rug na die deur in die snoekerkamer vir die kamera en kyk. Hy kan nie sien wat agter hom in die donker vertrek aangaan nie. 

Iets kom in die gang af. Dis dieselfde gedaantes met die lang gewade wat hier rondbeweeg en gromgeluide maak. Hulle dra weer maskers, maar ek kan niks behalwe die Scream-mombakkies uitmaak nie. 

Ek raak verskriklik bang, want dis donker en die goed is vreesaanjaend. Al vermoed ek dis Ma-hulle en van hul vriende met die maskers en gewade, is ek steeds histeries omdat alles so onheilspellend is. 

Toe hulle by die kombuisdeur inskuifel, laat spat ek na ons kinders se kamer op die boonste verdieping. Nou is hulle weer by my boetie op die onderste verdieping by die snoekertafel. Daar is ’n geskarrel en geskuif van stoele. 

’n Rukkie later kom my boetie ook op na die kamer: “Weet jy wat het ek gedoen?” 

“Nee, wat?” vra ek.

“Ek het een van die staalstoele in die kroeg gevat en na daai gedaante geslaan. Toe ruk ek die masker af. Toe’s dit al die tyd ’n oom wat ons ken.”

Hy is een van Pa se vriende. 

Ons gaan slaap, maar ek ril nou nog wanneer ek aan daardie gemaskerde wesens in hul lang gewade dink. Ek glo nie in spoke nie, maar die spoke wat ek ken, maak my banger as die grieselrigste spookstorie. 

Daarna het die “speletjie” opgehou.


Afspraak met Moord
Afspraak met Moord

In die oog van 'n kultus

Elf wrede moorde oor 'n tydperk van vier jaar ruk die gemeenskap van Krugersdorp en haal landswyd nuusopskrifte. Eindelik word al hierdie moorde verbind met Cecilia Steyn en haar kultusgroep, Electus per Deus (uitverkies deur God). Lede van die groep aanbid die grond waarop Cecilia loop en sal selfs vir haar moord pleeg.

Jana Marx beantwoord vrae wat gespruit het uit een van die opspraakwekkendste moordsake in die land se geskiedenis. Danksy onderhoude met diegene in die binnekring, hofgetuienis en polisiedossiere oor 'n tydperk van vier jaar, poog Marx om die publiek se vrae te beantwoord en 'n blik te gee op die binnewerkinge van só 'n kultus. Klik en koop die e-boek hier


Baie dinge het op die trappe gebeur waar ek die grommende gedaantes die eerste keer gesien het. Dit was ook die poort na Ma-hulle se kamer waar die meeste voorvalle was. Een keer was Pa kwaad vir my, oor whatever. Ek wou weer net wegkom, want hy was briesend. Terwyl ek met die trappe af probeer weghardloop het, het hy bo gaan staan waar die gewigte was waarmee hy sy fris bolyf geoefen het. Hy het die oefenpyp vol gewigte gepak en dit op my afgegooi. 

Toe die swaar pyn deur my trek, val ek plat op my maag. Wonder bo wonder is nie ’n enkele been in my lyf gebreek nie, maar ek was erg gekneus. Ek kan steeds nie glo ek is nie ernstiger beseer nie. 

Die trappe was maar soos elke ander plek in die huis – enigiets slegs kon enige plek gebeur. Nêrens was dit veilig nie, nie eens in ons kinders se kamer op die boonste verdieping waar daar selde moleste was nie. Ook die sonkamer op die onderste verdieping was allesbehalwe vrolik. Op ’n keer het Pa my oudste boetie, Ma en vir my ’n hele nag daar­in toegesluit omdat hy oor iets kwaad was.

Net ’n entjie van die sonkamer af, in die badkamer op die onderste vloer, moes ek gereeld dwelms deur die venster vir van ons huurders verkoop. Ek het al die name ge­ken: cat, rock (kokaïen), ecstacy, acid en crystal (meth). Dagga het ons nooit verkoop nie. Ek moes ook boekhou van die dwelmskuld, hoeveel afbetaal is en hoeveel nog moes inkom. Pa het die dwelms by ’n Nigeriër gekoop wat met sy kar tot in ons jaart gery het. Partykeer het ek saam met Pa geloop wanneer die man die dwelms daar by die kar vir Pa gegee het. Pa het hom betaal voordat hy weer gery het. Baie mense het die dwelms gekoop. Pa het seker goed geld daarmee gemaak. 

Daar het soms mans na ons huis gekom en saam met Pa bier gedrink voordat hulle na ’n prostituut is wat die spaarkamer op die boonste verdieping van die huis gehuur het. Die prostituut was ’n vriendin van Ma. Sy het Pa betaal om die spaarkamer so twee keer ’n week te gebruik om haar prostituutdinge te doen. Partykeer moes ek help om die kamer netjies te maak voordat sy gekom het. 

Jig, dit het my gewalg.

Ma het nog ’n vriendin gehad wat ’n ontkleedanser was. So twee keer ’n week het sy saam met Ma en Pa dwelms gebruik. Ma-hulle het hierdie vriendin partykeer spesiaal gekry om dinge saam met hulle te doen. Ons kinders moes altyd bo bly wanneer die vrou gekom het. 

Eenkeer het ek honger geword terwyl sy daar was omdat ons heeldag niks gehad het om te eet nie. Ek was bang, want ek het geweet as hulle my sien, is daar moeilikheid. So ek het saggies by die trappe afgekruip en na die kombuis beweeg. 

Hulle was in die kroeg. Ek kon sien hoe Ma en die vrou mekaar kaal rondjaag. 

Ma en Pa het my nooit gedwing om pornografie te kyk nie. Die kaste was vol pornografiese flieks. Wanneer hulle daarna gekyk het, het hulle hul kamerdeur toegemaak en ons kinders verbied om in te gaan. Daar was ’n tas in hul kamer met allerhande sex toys. Ek het eenkeer daarop afgekom toe ek hulle kamer skoongemaak het. Voordat ek dit vinnig toegemaak het, het ek ’n vibrator gesien. 

Baie van die mishandeling het in die sitkamer gebeur. 

Pa het my oudste boetie eenkeer daar so hard met ’n klein televisie gegooi dat die boonste gedeelte van sy een oor in twee geskeur het. Pa was agterdogtig dat die polisie dalk bewus was van die dwelmhandel, want die polisie het die betrokke aand heen en weer voor ons huis verby gery. Pa het my oudste boetie gevra om die kamerabeelde op die klein televisie in die sitkamer dop te hou. Daarop kon ons sien wat buite aangaan. My boetie het egter aangehou om na ’n gewone program op die ander platskermtelevisie in die sitkamer te kyk. Toe gooi Pa hom met die klein televisie. 

My boetie het hard gehuil. Ma het hom hospitaal toe gevat, maar hulle moes te lank wag, toe kom hulle terug huis toe voordat hulle die dokter gesien het. Ma het sy geskeurde oor net met pleister toegeplak.

Ons kon nie eens uit die groot huis met sy baie vertrekke vlug om buite te gaan wegkruip nie. Pa het jou buite kom soek. Soos die keer toe hy my oudste boetie in die swembad gegooi het. Ek kan nie meer onthou wat hy verkeerd gedoen het nie. Dit was verskriklik, want my boetie kon nie swem nie. 

Op ’n manier het hy uitgekom, maar ek weet nie hoe nie. 

* Lees môre verder . . . 

KOOP DIE E-BOEK HIER

Dié hoofstuk kom uit die boek Huis van gruwels (LAPA Uitgewers) deur Susan Cilliers.

Koop die e-boek hier

LEES OOK DIE VERVOLGVERHAAL: EENDAG IS NOU, deur Kristel Loots

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.