Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
VERVOLG: Tussen die klippe (Dag 11)

Tussen die klippe
HOOFSTUK ELK

BEGIN BY HOOFSTUK EEN

Dit is hoe ek, Johannes, uiteindelik in hierdie wêreldse hof beland het, het ek gesit en dink toe die stem tot my deurdring en ek skielik besef dat landdros Mentz met my praat.

“Ek herhaal, dominee Johannes, ek het nou al drie keer gesê dat Susanna Isabella Marais voor hierdie hof teregstaan op aanklag van veelmannery en diewery. Eintlik ernstige bedrog.”

Ernstige bedrog? Is daar dan iets soos prettige bedrog? wonder ek.

Die klag voor die kerkraad was ’n klag van bigamie, maar daar was ook die suggestie van verdere wanbedrywe, wat die eerwaarde kerkraad nie kon of wou omskryf nie. Nou kla die staat Susanna aan van bigamie en, soos wat die aanklaer dit hoogdrawend aan die hof stel: “U word aangekla van poliandrie en van bedrog daar u die testament van u wettige wederhelf, Kleinjan Nortier, vervals het, en op grond hiervan u wettige skoonouers voorbedagtelik mislei het, tot hulle vermoënsregtelike nadeel.”

Griffier Pietman Erasmus trek sy spierwit kop nog dieper tussen die ronde skouerknoppe in, buig tot amper teen die tafelblad, krabbel nerveus op die vel papier voor hom en lek senuagtig aan die penpunt – daar’s nie nou tyd om die pen in die inkpot langs sy gespanne linkervuis te doop nie. 

Die hofsaak het begin, en ’n hofverslag moet punktueel wees.

Landdros Mentz skuif plegtig dog versigtig op die voorsitterstoel reg en stryk sy swart hare vitterig reg – nie dat daar ooit ’n haar op die gedistingeerde landdros se kop uit plek is nie. Hy maak sy mond oop om weer te begin praat, net toe ’n troppie honde luidkeels onophoudelik in die rantjie agter die agbare hof se rug aan’t keffe gaan. Seker die wildekat van gisteraand in ’n boom geja. 

Toe sê die landdros bokant die geblaf uit: “Susanna Isabella Marais, u word van bigamie en bedrog aangekla. Verstaan u die erns van die klag?”

Gesteurd moet die landdros eers aandag aan heemraad Prinsloo aan sy regterhand gee, want dié pluk-pluk aan sy regterlike mou en fluister iets. Mentz fluister terug, maar die heemraad moet effe hardhorend wees, want hy maak of die landdros hom nie hoor nie. Toe praat heemraad Prinsloo só dat almal hom kan hoor.

“Wat van moord, Edele?” vra die eerste heemraadslid, Joachim Prinsloo, ’n uitgeteerde riem van ’n vent met min hare en ’n yl snorretjie soos ’n verwaarloosde stoppellandjie in die droogte. Tot my skande moet ek erken dat ek van vanoggend af al wonder hoe die onaansienlike maerte ’n heemraadslid kan wees. Wie sou nou vir dié lang geraamte gestem het?

Aan die ander kant, sy plaas is ook in die Moot, en daar is seker nie te veel te kies en te keur as dit by die verkiesing van heemraadslede kom nie. Boonop ’n ouderling van die nuwe gemeente van Donkerhoek. 

Joachim Prinsloo, het die veldkornet gesê, is een van die latere lede van sy trekgeselskap. Hulle het eers ná Vegkop uit die Kolonie aangekom, en uit die Mooirivier saam Moot toe getrek. Prinsloo is een van dié wat sy waens, vee en sy familie uit die laer getrek het en op die burgerplaas wat teen sy naam aangeteken is, gaan woon het. Daspoort, dieper die Moot in, is sy plaas. 

Die landdros kyk nietemin af op sy notas. “Sy word nie van moord aangekla nie,” fluister hy, maar hard genoeg dat ek elke woord kan hoor.

“Kan nie wees nie, Edele, is haar eggenoot dan nie vergiftig nie, Edele?” hou heemraadslid Prinsloo temerig vol. Staan selfs op en trek sy wye broek aan die bruin kruisbande op. Sy vrou moet ’n voller man begeer, dink ek, want alles is te groot vir hom: die bruin hemp met die driekwartmoue, die bruin broek en die bruin velskoene. Sy hoed moet ook te groot wees, want die wit sonstreep lê net bokant die deurmekaar wenkbroue.

“As haar wettige man dood was, was daar nie sprake van bigamie nie, heemraadslid Prinsloo,” help die aanklaer.

Die landdros is opsigtelik nog effe geïrriteerd, maar gaan tog voort om seker te maak dat die beklaagde die klag verstaan. 

“Dit is wat ek wou sê: Susanna Isabella Marais, u word aangekla van bigamie en bedrog teen u wettige eggenoot en sy ouers, u wettige skoonouers dus. Bedrog deurdat u voorbedagtelik ’n testament verander het. Verstaan u dit en pleit u skuldig of onskuldig op hierdie aanklagte?” 

Susanna Marais staan ’n klein entjie skuins voor my, presies nog net waar sy vanoggend van die begin van die hofsaak af gestaan het, duskant die lang tafel, skuins voor landdros Mentz. Sy swyg.

“Antwoord die vraag,” por die landdros en skuif sy strikdas reg.

“U Edele.” Die tweede heemraadslid, Gawie Plessis, volg sonder meer sy kollega se voorbeeld en praat ook van die ander kant af met die landdros. Hy fluister van meet af nie. Gaan eers regop agter sy eie stoel staan, wag op die honde en toe hulle geblaf effens bedaar, spreek hy die hof afgemete deur sy ruie baard toe: “Het die beklaagde regshulp, Agbare?”

Iets soos ’n meewarige gryns trek in die een hoek van sy mond en hy kyk die hof ingenome deur. Hulle moet weet, hierdie man spreek in elke vergadering altyd die verlossende woord. 

Volgens wat ek gisteraand tussen die kennismaking en die geskarrel na wie waar moet slaap, verneem het, lê Gawie Plessis se burgerplaas weer net noord van die veldkornet se grond. Derdepoort is Gawie se plaas. Ook nog in die Moot.

Die aanklaer se stem is ongewoon vas toe hy die heemraad aanspreek.

“Menere, u moet met die voorsitter in private gesprek tree. U mag nie die hof toespreek nie.”

“Los maar,” sê Mentz toegeeflik, “hier by ons is selfs die reg nog onvas. Gaan voort, Meneer die aanklaer.”

“Die beklaagde verkies om self haar verdediging te behartig, Edelagbare,” antwoord die aanklaer.

“Noteer onskuldig,” sê Mentz aan griffier Erasmus.

Die griffier griffel. 


NOU BESKIKBAAR!

Opstand van Poppie Nel

DIE OPSTAND VAN POPPIE NEL

deur Hans du Plessis

Klik en koop hierdie boek en ander e-boeke op lapa.co.za


Terwyl die pennis in stilte skryf, sien ek hoe Susanna Marais ongemerk haar min gewig van die een been op die ander oorsit. Aan haar houding kan ek agterkom dat sy al moeg gestaan moet wees. Arme mens, selfs iemand wat van bedrog beskuldig staan, moet een of ander tyd kan gaan sit. In die stiltetjie wat volg, oorweeg ek my versoek aan landdros Mentz.

Selfbewus laat sak ek my regterhand toe ek besef my hand is in die lug soos ’n skoolseun wat vir Meester net ietsie wil vra. Die landdros sien my raak en gee met ’n knik van die kop vir my toestemming om te praat.

“Edelagbare, die beskuldigde staan nou al meer as ’n uur op haar voete. Ek vind dit ’n bietjie liefdeloos. Kan die beklaagde nie maar liewer sit nie, Edelagbare?”

“Alte seker, Dominee, alte seker,” sê Mentz asof hy skielik sy menslikheid onthou.

Susanna Marais kyk vlugtig met haar geel oë na my, dankbaar, en sy gaan sit op die oop stoel langs haar. Dit is asof sy onhoorbaar sug.

Die ander leë stoel, onder ’n bos jong sering skuins links voor die landdros, naby die griffier, het hulle vroeër vir ons verduidelik, is vir die getuies, wat hopelik nou een vir een geroep gaan word, want dit is al na aan elfuur en die saak self is nog nie eens behoorlik op dreef nie. Die eerste uur of so is gebruik om die hof behoorlik aan’t sitte te kry.

Ek en die ander geswore lid is vanoggend heel eerste amptelik ingesweer as lede van die jurie. 

Natuurlik het ek Kornelius Bantjes ook nie voor gister geken nie. Hy boer ’n uur of drie te perd wes van hier af, maar noord van die berg. Buite die Moot. 

Aangename kêrel. Van die eerste ontmoeting af het ek geweet ons sal klaarkom. Groterige man, langer as ek, maar met ’n sagte manier van praat, asof hy die mense om hom in liefde aanspreek. Spontaan, nie soos Plessis wat die indruk skep dat hy elke sin wat by sy mond uitkom, eers voor die spieël geoefen het nie.

Bantjes weet meer van die wet af as enige van ons in die kamp, het ek gisteraand al agtergekom. Van die lojale soort, lyk dit vir my. Toegewyde burger. 

“Eintlik het ek nie tyd vir hierdie hofsaak nie,” het hy gisteraand by ons kampplek aan die voet van die rantjie vertel. “Ek is besig met ’n memorie aan die volksraad.”

“Memorie?” het ek gevra.

“Daar is gerugte dat die volksraad ’n dorp aan die Apiesrivier wil aanlê. Glo om die hoofdorp nader aan die middel van die land noord van die Vaal te stig, want Potchefstroom en die ander hoofdorpe wat die volksraad elke nou en dan uitdink, sit gewoonlik iewers op die uithoeke van die republiek.”

“Ek sien,” het ek gesê, “en dit sal natuurlik veel goedkoper wees as die raadsvergaderings meer sentraal gehou kan word.”

“Juistemint,” het Kornelius saamgestem, “maar wat van die boere wat afhanklik is van water uit die rivier? Dink die volksraad ooit aan ons arme boere? Die meeste van hulle is tog self landbouers.”

“Ek dog jy boer verder wes?” het ek gevra.

“Ja, maar die gemeenskap aan die rivier het gevra ek moet hulle help met die opstel van hulle memorie.”

Ek kyk die hof onder die bome weer ’n slag deur. Hof tussen die klippe, hof in die onvaste binneland. 

Ek glimlag toe ek ’n jakkals in die rant hoor huil. Hoe anders as die drosdy op Graaff-Reinet. Of die nuwe, luukse een op Worcester. Ek kyk na die uitgevatte landdros, die koddige aanklaer en die konsensieuse griffier. 

Selfs in hierdie onbekende binneland kan ek die erns van die hof aanvoel. Die waarheid, besluit ek, is tog op enige plek die waarheid. 

Hierdie hof is ’n hof soos enige ander hof. 

My sitplek in die hof, het die griffier vanoggend vroeg al beduie, is by die korter tafel wat dwars, skuins regs van die landdros en heemrade se tafel staan. Kornelius sit links van my aan dieselfde tafel. Ons kyk reguit na die aanklaer in die middel van die hof. Skuins links van ons is die regbank en tussen my en die aanklaer, naby aan my, staan die beskuldigde se stoel, wat na die bank kyk. 

Aan die lang tafel voor in die hof, sit eers die eerste heemraadslid, Joachim Prinsloo. Dan die landdros, en anderkant hom die tweede heemraadslid, Gawie Plessis. Voor hulle eers die griffier by sy tafeltjie en dan die aanklaer op ’n regop stomp by sy klein opvoutafeltjie. Weerskante van die aanklaer, links en regs van die bank die twee stoele: duskant, digby my, vir die beklaagde en anderkant die aanklaer die ander stoel. Dié is nou vir die getuies wat een na die ander moet kom getuig, het griffier Pietman breedvoerig verduidelik. Ordelik.

Agter in die hof, kookskerm se kant toe, op die eerste stomp sit dié lede van die publiek wat ’n direkte belang by die saak het, familie van die beklaagde, byvoorbeeld. Maar die stomp is nog leeg. Dan, op die tweede en derde ry stompe, is daar plek vir die publiek wat uit blote nuuskierigheid die hofsitting kan bywoon. Hulle moes vroeg reeds nog ’n stomp laat aandra. Daar sit al amper tien siele, soos wat veldkornet Botha hulle noem.

Die getuies, het die griffier verduidelik, sit by die vuur in die laer totdat hulle een vir een geroep gaan word om te kom getuig.

Dit is die Hof van Landdros en Heemrade in Halflaer op die plaas Hartebeespoort in die Moot. Die hof wat die beweerde wanbedrywe van Susanna Isabella Marais moet aanhoor en beoordeel. Véroordeel, indien nodig. 

Wat van die kerkraad van Donkerhoek se klag van poliandrie teen die beklaagde geword het, sal ons seker mettertyd verneem.

Die honde het die wildekat seker oor die rant gejaag, want die geblaf sterf weg suidekant toe.

“Stilte in die hof,” roep iemand en die landdros wil net weer begin, seker om die eerste getuie te laat roep, toe ’n dwarrelwindjie opsteek en die griffier se papiere oor die tafelblad strooi. Vervaard wip griffier Erasmus op en gryp wild na sy dokumente. Gelukkig kan die landdros die eerste bladsy van die hofverslag vang voordat dit van die tafel gevee kan word.

Kornelius, die ingesweerde, leun vooroor en klap sy groot linkerhand op die papiere wat nog nie deur die wind verwaai is nie, en reik met ’n glimlag sy lang regterarm teen ons tafelpoot af. Hy staan half op en sit iets op die griffier se tafel neer. Toe hy sy oop hand van die hofdokumente lig, sit hy ’n bruin klip wat hy opgetel het, op die griffier se dokumente neer.

Toe is die windvlagie oor. Versigtig rangskik die griffier weer sy dokumentasie. Vieserig lig hy die vuil klip op, blaas die sand van sy papiere af en vryf oor die klip. Landdros Mentz leun vooroor, neem die klip delikaat by hom en hou dit ver van sy toegeknoopte swart baadjie af na die inboekeling agter hom uit. 

“Gaan was gou, Oorlog,” fluister hy.

Toe hy die skoon klip in sy hande het, sien die landdros hoe nat dit nog is. Hy hou dit oor sy skouer vir Oorlog en dié vee dit aan sy ferweelbroek droog. Toe sit die landdros versigtig die klipgewig op die griffier se pak wit papiere, trek ’n groot wit sakdoek uit sy baadjiesak en droog sy hand af voordat hy die sakdoek weer netjies opvou en in sy sak bêre.

Heemraad Joachim Prinsloo vlieg uit sy stoel hier neffens ons op, so vinnig dat die veldstoeltjie agter hom toevou, maar hy sê nogtans sy sê: “Edele, is daar dan nou nie ’n plek met ’n dak en mure waarin ons die hof kan laat sit nie? Hierdie ope lug is die hof nie waardig nie.” Byna vergeet hy dat sy stoel omgeval het, maar die inboekeling vou betyds die riempiestoeltjie onder die heemraad se maer gat in.

“Geregtigheid, heemraadslid Prinsloo,” sê landdros Mentz, “het nie ’n dak nodig nie.”

En toe, eers nadat orde weer tot die edele hof terugkeer, en ’n ongepoetste boskraai klaar gekô-kô-kô het, kan landdros Mentz die eerste getuie laat roep.

“Die staat roep as eerste getuie Ester Espag,” kondig die aanklaer aan.

Dis ’n lang, swart meisie wat van die stomp af opstaan, skugter die tafel nader en ongemaklik op die stoel regs van die griffier gaan sit. Sonder om een keer op te kyk na die amptenare agter die lang tafel.

In haar regterwang sien ek die groot kuiltjie, maar toe ek beter kyk, besef ek dit moet ’n litteken in haar wang wees, asof iets soos ’n skerp mes haar een of ander tyd in die gesig getref het. Die litteken vermink nie haar gesiggie nie, inteendeel, dit maak haar eintlik aantrekliker. Lyk amper na ’n natuurlike kuiltjie, wat dieper behoort te word wanneer sy glimlag. Glad nie ’n onaantreklike meisie nie.

Eers toe sy effens gemakliker lyk, merk ek die gekriewel by heemraadslid Prinsloo. Hy vlieg wragtag weer op. 

“Edele, ek teken ernstig beswaar aan, Edele. Ernstig beswaar, Edele.”

“Ek luister,” sê Mentz.

“Edele, sy is dan ’n diensbode, Edele!”

 

Dis toe dat die katlagter in die valsdoring uitbars.

* Lees môre verder . . .

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.