Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
VERVOLG: Tussen die klippe (Dag 14)

Tussen die klippe
HOOFSTUK VEERTIEN

BEGIN BY HOOFSTUK EEN

Koppe draai na haar toe. Ek sien dat haar hare los val toe sy effens vooroorleun. Iets soos ’n vae glimlag huiwer in die hoeke van haar mond. Die donker hare lê krullerig op haar skouers, ondertoe die kraag van haar rok wat net-net haar kuiltjie bedek. Kan ’n mens so mooi wees? En dit onder sulke omstandighede.

Sy skuif haar gevoude hande vorentoe op haar skoot. Haar stem is effens hees, die woorde word noukeurig gekies en uitgespreek. Weer kyk sy af op haar hande en praat sonder om op te staan. Dit voel vir my of sy almal in die hof by haar vertelling insluit, want ek sien hoe elkeen aandagtig luister, asof hulle vergeet dat sy as aangeklaagde voor die regbank sit. Stilte, afgesien van haar meesleurende stem. Niemand onderbreek haar nie. 

“Soos oom Dolf Botha gesê het, Ester was ’n wesie wat ná die Slag van Vegkop deur die Breeds aangeneem en grootgemaak is. Ons het die Breeds geken, nie te goed nie, want hulle het net seuns gehad en my ma het my van seuns af weg probeer hou.” Susanna glimlag en kyk op na die landdros. “Seker bang iets gebeur.” Sy kyk weer af.

“My pa en oom Johannes Breed het ná Deelkraal vriende geword en ons is saam met hulle oor die Dra­kensberge, ons en nog ’n paar gesinne. Ek onthou hoe mooi groen dit was toe my pa vir my die beloofde land wys net voordat ons die berg af begin trek het. Trek is seker nie die regte woord vir die wilde aftog die Drakensberg af nie.

Dit moes aan die begin van die jaar gewees het, en ons het by die Bloukransrivier by ander trekkers aangesluit en op die terugkeer van Piet Retief gewag. Hy was glo na die koning van die Zoeloes toe om beeste vir hom terug te vat en die ooreenkoms oor grond te gaan teken. Oom Johannes en sy twee oudste seuns was saam. My pa was by eerwaarde Erasmus Smit in Retief se kamp om oor skoolsake te gaan praat.” 

Toe bly Susanna skielik stil. Ek kan sien hoe sy haar onderlip vasbyt, sluk. Ná ’n hele rukkie begin sy sagter, maar vinniger verder vertel.

“Toe daardie verskriklike Februarie-nag.” 

Ek sien hoe haar vingers inmekaarvleg en wit word asof sy hulle saamklem. 

“Ons, die vrouens en die kinders, het nog die aand om die vure gewag op nuus van die kommando wat na die Zoeloe-kraal toe is om grond van Dingaan te kry. 

“‘Hulle moet nog net teken,’ het my ma gesê voordat ek en sy in die wa geklim het om te gaan slaap. 

“Ek het ’n rukkie wakker gelê, maar ek moes al vas aan die slaap gewees het toe die hel om ons losbars. Mans wat skree, vrouens wat gil en kinders wat huil. Dit was te donker om te sien wat gebeur, maar hoor was genoeg om die hel te herken. My ma het my onder die lae bed ingeruk en my vasgehou en aanmekaar in my oor gefluister om net stil te lê en nie ’n geluid te maak nie. Verder het ek haar sag hoor bid.

Dit het gevoel of die geskree en die gehuil nooit weer gaan ophou nie, en die donker het gebly. Hier en daar kon ek ’n geweerskoot hoor. Ons het die watent bokant ons hoor oopskeur. In die lig van waens wat brand, kon ek die blink lem van ’n assegaai langs die bed sien blits. Moeder het my kop onder die bed in teruggeruk, bokant ons kon ons hoor hoe die kombers van die katel afgeruk word. Hulle het ons nie gesien nie. 

“Toe die verskriklike stilte, die gesis van stemme en die gebulk van baie beeste wat wegsterf. Toe net die gehuil van kinders en die gekreun en gekerm van gekweste vroue.”


NOU BESKIKBAAR!

Opstand van Poppie Nel
DIE OPSTAND VAN POPPIE NEL

deur Hans du Plessis

Klik en koop hierdie boek en ander e-boeke op lapa.co.za


Die intensiteit van Susanna Marais se stem ruk tot binne-in my. Haar gesig is strak.

“Die son was al op toe ons weer mense hard en deurmekaar hoor praat. Manstemme. Ons kon uit die wa klim, ek en my ma. Maar plaas ons in die wa onder die bed gebly het! Dit was aaklig!” 

Ek sien haar sluk, ek sien Ester op die ander stoel uitdrukkingloos luister. 

“Dit was net dooie mense. Oral. Bloed, en assegaaie wat regop in lyke staan, assegaaie in die grond, en gebreekte knopkieries. ’n Gekerm.” 

Susanna bly stil, sy lig haar hande op en druk haar gesig in haar hande. Haar lang hare lê in onordelike krulle om haar kop. Haar skouers ruk soos sy ril. Maar sy huil nie hardop nie.

Ek wens ek het ’n beker water gehad om vir haar net een slukkie te kan gee.

Landdros Mentz wag ook dat sy bedaar, selfs die aanklaer beweeg nie. 

Toe skud sy haar skouers asof sy ’n mantel daarvan afgooi. Sy kyk weer op.

“Die mans van die ander kamp het die lyke op waens gelaai. Laag op laag dooie vroue en kinders. 

“Toe die een wa by ons verbygaan, het ek die hand sien beweeg. Net effens, maar ek het geweet dit beweeg.

“‘Sy lewe, Ma, die dogtertjie lewe!’

“My ma het vir die touleier gegil en toe die wa stop, het hulle ons gehelp om haar tussen die lyke uit te trek. Daar was bloed en baie wonde, maar sy het gelewe. 

“Maande lank het my ma die kind versorg. Totdat sy sterker was. My ma het belowe dat sy soos ’n eie kind by ons versorg sou word, omdat Johannes Breed en sy twee seuns saam met Retief en sy mense vermoor is, en omdat nie een enkele ander Breed die Bloukrans-nag oorleef het nie.”

Stilte in die hof onder die seringe, totdat Susanna moeg haar laaste sin sê: “Die dogtertjie se naam was Ester. Sy was toe maar net sewe jaar oud. Sy het as Ester Espag grootgeword, soos my eie suster.” 

Die twee jongvroue op die twee stoele kyk vir ’n oomblik stip na mekaar. Soos twee susters.

“Die hof sal vir ’n rukkie verdaag,” sê landdros Mentz.

Vir ’n paar sekondes is daar net die sagte gezoem van stemme, soos dié van besige bye.

Toe staan heemraadslid Joachim Prinsloo op. 

“Edele, ek bly beswaard.” Die gezoem bedaar. “U moet my asseblief vir die duur van hierdie getuie se getuienis verskoon. Ek laat my nie vermurwe nie. Ons kan nie toelaat dat swart teen of vir wit in ’n teregsitting van hierdie maatskappy getuig nie.”

Die landdros neem ’n hele rukkie voordat hy skor en onhoflik antwoord: “Jy was duidelik nie by Vegkop of by Bloedrivier nie.”

“Ek was nie.”

“Dit is ongehoord, maar dan is u vir hierdie sessie verskoon, Heemraadslid, maar weet net dat u nie die volle waarheid sal ken nie. ’n Hofbeampte moet alle getuies aanhoor.” 

“Nietemin,” sê heemraadslid Prinsloo, trek sy broek hoër op en loop met krom skouers agter die tafel uit en ek sien hom die voetpad in die rigting van ons kamp vat. 

Ons tente is so vier of vyf minute se stap oos van die hof, onder die raasblaar by die rotse waar die stamvrug groei en die wildeperske rank. Die kliprondawel sonder ’n dak nog so twee minute se stap verder.

 Ek kyk na die halwe laer agter die hof en ril. Het die laer metafoor van ons voortbestaan geword? Die wonde van Vegkop en Bloedrivier het littekens geword wat nooit gaan verdwyn nie, vrees ek.

My broeders het gekom om die Waarheid aan die binneland te verkondig, maar die binneland het die waarheid met geweld begin vertaal. Dit is besig om ons ’n ander waarheid te leer. Is dit geweld wat my geloofsgenote daarvan kon oortuig dat ’n Christen die naaste wat jy moet liefhê, self kan kies? 

* Lees môre verder . . .

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.