Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
VERVOLG: Tussen die klippe (Dag 15)

Tussen die klippe
HOOFSTUK VYFTIEN

BEGIN BY HOOFSTUK EEN

“Jy sê jy en Susanna Marais ken mekaar van kleins af?” Die aanklaertjie vlieg so vinnig van sy stomp af op dat dit skoon skeef in die sand kantel. Hy buk, sonder om van die getuie af weg te kyk, wikkel sy sitstomp met een hand so half agter sy rug reg en skuif dan sy ferweelbroek met albei hande en dun voorarmpies hoër op voordat hy vol selfvertroue verder praat. “Julle het saam grootgeword?”

“Is so, Meneer.” Ester se fluistering is kwalik hoorbaar bo die gesuis van die sonbesies in ons ore, en boonop praat sy met haar een vuis voor haar mond.

“Jy moet harder praat,” sê die aanklaer prikkelbaar.

Dit help die getuie nie juis om op haar gemak te raak nie. Die arme mens kyk na Susanna om hulp, maar dié sit met haar hande op haar skoot gevou asof sy nie veel erg aan dié vervelige spulletjie het nie.

“Ester.” Landdros Mentz se stem is sag, rustig, asof hy met ’n kind praat, al is dit duidelik dat Ester glad nie meer ’n kind is nie. 

As my somme reg is, moet sy nou so agtien, negentien wees.

“Dit is belangrik dat jy harder praat, Ester,” sê die landdros, “want ons moet alles hoor wat jy sê, en die griffier hier by die tafel voor my moet elke woord neerskryf. Onthou dat jy hier is om Susanna te help, want ons wil graag hoor hoe ’n soort mens sy is. Jy ken haar mos, en daarom kan jy haar help.”

Dit lyk of Ester effens ontspan. Sy sluk en neem haar hand voor haar mond weg. “Susanna is ’n goeie mens, Meneer. Ons was nog altyd saam en ons is lief vir mekaar.”

Die aanklaer wil tussenbeide tree, maar die landdros hou sy hand in die lug en vra vinnig: “As julle by Bloukransrivier was, dan was julle mos in Natal, of hoe?”


NOU BESKIKBAAR!

Opstand van Poppie Nel

DIE OPSTAND VAN POPPIE NEL

deur Hans du Plessis

Klik en koop hierdie boek en ander e-boeke op lapa.co.za


Ester kyk weer na Susanna, maar antwoord dan tog die landdros se vraag. “Ons was daar gewees, so het hulle my vertel, maar ek weet nie mooi hoe ons toe van daar af hier gekom het nie.” Sy bly ’n rukkie stil, skep hoorbaar asem. “Ek weet ook nie wanneer ons gekom het nie. Ek was nog te klein en hulle sê ek was baie siek gewees.”

“Ek verstaan julle het ná die nare gebeure by Bloukrans weer oor die berge teruggekom?”

“Van daardie eerste maande ná Bloukrans weet ek niks. Ek was siek van die assegaaie, Meneer. Ek weet net dat tant Letta Espag altyd naby my was. Sy het vir my water gegee as ek dors was, sy het my met ’n lepel gevoer toe ek honger was. Medisyne gegee vir die pyn, en salf op die seerplekke gesmeer en lappe daarop gesit.” Ester dink ’n rukkie, toe sê sy harder: “Ek onthou die seer en ek onthou hoe bitter die medisyne was en ek onthou tot vandag toe hoe die salf soos die dood geruik het.”

“Ja,” onderbreek die aanklaer haar vertelling net toe sy mooi op dreef kom, “ons wil nie van jou wonde hoor nie, ons wil meer van Susanna Marais weet.”

“Susanna was ook altyd by ons, sy en haar ma het gesing as ek gesukkel het om te slaap.” Ester glimlag effens en die litteken trek soos ’n begeerlike kuiltjie in haar wang. Dit moet ’n letsel van een van die assegaaie wees.

“Hoe het julle toe hier in die Moot beland?” vra gesworene Kornelius geduldig.

“Toe ek nog siekerig was, het ek gehoor hoe Meester vir tant Letta gesê het dat ons moet terug Potchefstroom toe. Natal was nie goed vir ons nie, het Meester agterna gesê. Susanna het altyd vertel hoe ons toe weer die hele helse ent terug oor die berge moes sukkel. Natal was te gevaarlik. Susanna was altyd by my in die wa. Sy moes vir my sorg as haar ma buite besig was.”

“Was mevrou Espag of Susanna altyd by jou,” vra die aanklaer, “nooit iemand anders nie?”

“Ek dink Gysie was ook partykeer by my.” Byna moedeloos maak Ester haar oë toe en gooi haar hande in die lug. “Ek kan nie alles onthou nie. Ek was gekwes.”

“Wie is Gysie?” vra ek.

“Gysie Fouché, u sal hom later ontmoet. Hy is ons volgende getuie.”

Die aanklaer wil weer begin met sy vrae, maar hy moet net eers wag dat die bobbejane in die rante agter die hof ’n bietjie bedaar. Toe vra hy: “En het Susanna jou versorg?”

“Ja, Meneer, sy het mooi na my gekyk.”

“Wat bedoel jy met mooi na jou gekyk?”

“Sy was mos lief vir my en ek vir haar. Hulle het my dan vir dood opgetel en my gesond gemaak.”

“Hoe oud was jy toe?”

Ester kyk weer ongemaklik in Susanna se rigting. Susanna kyk op, praat eintlik met Ester en nie met die hof nie. “Jy was omtrent sewe, maar niemand weet presies wanneer jy gebore is nie en die Breeds het nie een Natal oorleef nie.”

“Sy kon sewe of dalk agt gewees het, Edelagbare,” sê veldkornet Botha. “Toe sy by Deelkraal uitgeloot is, was sy nog klein. Vier of vyf toe sy by die Breeds ingeboek is.”

Tussen Ester, die getuie, veldkornet Botha en die skaars opmerkings van die beklaagde en vrae vanaf die bank, begin Ester se verhaal vorm aanneem.

Dit is nie duidelik of die goedgelowige mens heeltemal begryp dat haar getuienis ’n belangrike rol moet speel in die hof se beter verstaan van die beskuldigde se karakter nie, want die verhaal speel voor ons af deur die lojale oë van ’n naïewe en dankbare verteller. As dit nie vir die Espags was nie, kon sy mos nie vandag hier voor die hof gestaan het nie.

“Meester-hulle was nog altyd net goed vir my, Meneer, en Susanna was die enigste suster wat ek ooit geken het. Ek is lief vir haar.”

Die aanklaer lyk of hy haar wil onderbreek, maar landdros Mentz wuif hom tot stilswye sodat die getuie haar storie kan vertel soos wat sy dit sien. En daaruit, weet ek vooraf, sal elke amptenaar van die hof sy eie afleiding maak. Of dit Susanna Marais in haar saak gaan help, kan ek nie nou al sê nie.

Die gruwel van Bloukrans word duidelik toe Ester weer daar begin en van die assegaaie vertel. Sy kan net die lemme wat in die vlamme blink, regtig onthou. 

Sy vat vlugtig aan die merk op haar wang.

Honde wat blaf, onthou sy, en mans wat skree en vrouens en kinders wat kerm. Vlamme van die waens wat brand.

Maar haar vertelling begin eintlik eers vir die saak voor die hof relevant word toe sy by die terugtog oor die berge kom.

“Ons moes eenvoudig uit daardie hel kom, het tant Letta baie kere daarna gesê,” vertel Ester driftig en kyk na die landdros. 

“Van die trek self onthou ek nie veel nie, net dat daar altyd iemand langs my bed in die wa was. Ek onthou die pyn in my kop as die wa so bly skommel het. Die meeste van die tyd was Susanna by my bed.”

“Jy het dit al gesê,” piep die aanklaer.

“Ons luister,” sê Mentz.

Dit was eers toe hulle die Drakensberg oor is en die vlaktes van die Hoëveld vat dat dit beter begin gaan het. Hoe lank die trek van Natal af terug Potchefstroom toe geduur het, weet sy nie meer nie.

“Potchefstroom?” vra Kornelius.

“Die Espag-gesin is eers weer terug Potchefstroom toe voordat hulle hierheen gekom het,” antwoord die landdros sommer self.

“Hoe lank het julle getrek?” 

“Maande en maande, Meneer,” antwoord Ester op heemraadslid Plessis se vraag. “Ek weet nie presies nie,” en sy kyk na Susanna, maar Susanna reageer nie.

“Die Espags was toe nooit Potchefstroom toe nie, want iewers op pad het hulle glo verneem dat hulle ou trekleier verder noordoos is saam met Potgieter.”

“Wie was die trekleier waarna jy verwys?” vra die landdros.

“Dit was ek, Edelagbare,” reageer veldkornet Botha sonder om op te staan, “maar ek was toe nie ooste toe nie. Ons was eers in die Magaliesberg-distrik en toe trek ons hier na die Moot toe. Hier waar ons nou is.” 

Dit is uit Ester se getuienis duidelik dat tyd toe vir haar baie vaag moes gewees het. Dit is darem seker te verstane, sit ek en dink terwyl ek na die getuie kyk. Sy lyk moeg, die vraery maak waarskynlik vir haar min sin en ruk net ou wonde oop. Ons sal as regverdige regters in liefde self moet oordeel wat die waarheid tussen Vegkop en die Moot was. Deur watter aardse hel moes hierdie kind nie in daardie stuk of tien jaar geworstel het nie?

“Kan die getuie duideliker wees oor die tydsverloop waarvan sy praat?” vra die aanklaer nietemin.

“Is dit belangrik, Edelagbare?” vra Kornelius. “Ek wil meer weet van die verhouding tussen die getuie en die beklaagde. Dit is tog waarom dit hier gaan.”

Of Ester die gesprek op die bank volg, weet ek nie, maar sy vertel hoe hulle hier op Hartebeespoort gekom het en dat oom Dolf vir hulle blyplek gegee het hier anderkant die rant.

“Waar anderkant die rant?” vra die aanklaer en gaan moedeloos op sy wankelende stomp sit. Hy moet met sy regterhand op die grond druk om hom en sy sitplek se balans te hou.

Die bobbejaantrop raas nou nader aan die Hof van Landdros en Heemrade.

“Ons het hier anderkant hierdie rantjie onder die groot olienhoutboom kamp opgeslaan. Eers het ons in die wa en tente gebly en Meester het ons in die skooltent leer lees en skryf.”

“Was jy self in die skool?” vra heemraadslid Plessis.

“Natuurlik,” antwoord Ester sonder aarseling. Dit is uit die stemtoon en die erns op haar skralerige gesig duidelik dat die meneer dit mos behoort te weet. Hoe dan anders?

Landdros Mentz glimlag en beduie dat sy moet voortgaan.

“Later het die mans die skoolkamer hierdie kant van die rant en nader aan die spruit gebou en hulle het vir ons die huis by die perdedrif naby die skool gebou.”

Die vermoeienis is duidelik uit Ester se houding af te lei.

“Wil Oom nog weet?” vra sy skielik, asof sy eintlik wil sê die hof weet mos nou alles.

“Kan jy ons iets vertel van jou en Susanna, ’n staaltjie of iets uit julle kinderdae van daardie tyd?” vra landdros Mentz.

* Lees môre verder . . .

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.