Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
VERVOLG: Tussen die klippe (Dag 16)

Tussen die klippe
HOOFSTUK SESTIEN

BEGIN BY HOOFSTUK EEN

“Hoe meen Meneer nou ’n staaltjie?”

“Iets wat gebeur het, sommer net iets wat jy uit julle klein tyd kan onthou.”

Ester frons soos wat sy konsentreer.

“Iets wat jy en Susanna saam gedoen het toe julle klein was.” Ek voel ek moet die mens help, ek kan mos sien hoe moeilik dit vir haar moet wees.

Ester se voorkop trek op ’n plooi. “Soos die dag toe ons skelm gerook het?” vra sy asof daar skielik ’n lig vir haar opgegaan het. 

“Vertel asseblief vir die hof,” sê die aanklaer met die glimlag van die veroweraar.

Ester kyk na Susanna en Susanna glimlag en knik haar kop, amper asof sy wil sê: Nou toe, vertel dan maar. 

Die kuiltjie beklemtoon haar glimlag en Ester vertel dat sy nie kan onthou waar Meester en tant Letta dié dag heen was nie, seker oorgestap na die Bothas se laer toe. 

“Hierdie selfde Halflaer, Oom weet, maar toe was dit nog ’n hele laer.”

Hulle het gereeld teen die agtermiddag oorgestap. Dis ’n entjie, maar darem nie té ver nie, seker so ’n halfuur se loop. Ester weet nie meer hoekom sy en Susanna dié dag nie saam was nie. Sy onthou net dat Susanna uit die huis, wat toe nog nie heeltemal klaar was nie, kookskerm toe gekom het.


NOU BESKIKBAAR!

Opstand van Poppie Nel

DIE OPSTAND VAN POPPIE NEL

deur Hans du Plessis

Klik en koop hierdie boek en ander e-boeke op lapa.co.za


“Kom,” het Susanna haar geroep waar sy by die tafel gesit het om boontjies af te haar.

“Ek kan nie nou nie,” het Ester geantwoord, want sy moes die boontjies klaarhê voordat die grootmense terugkom.

“Kom net gou, ons sal nie lank wees nie. Ek belowe.”

“Maar as Susanna eers gesê het sy belowe, het ek altyd geweet dis nie regtige belowe nie,” vertel Ester.

“Susanna het Meester se een pyp en ’n ou twaksak van agter haar rug uitgehaal,” sê die getuie sonder enige spanning op die skraal gesig, selfs met ’n speelse glimlag op die vol lippe.

“Bring ’n kooltjie saam,” het Susanna gefluister.

“Om te wat?”

“Ek wil weet hoe voel dit om te rook.”

“Jy’s mal. Jou pa gaan weet ons het gerook.”

“Is jy bang?”

“Nee.”

“Nou kom dan.”

Net toe Ester ’n kooltjie uit die vuur met een van die opskeplepels kon skep, het Gysie Fouché in die hek van die kookskerm reg voor Susanna gestaan.

“Waantoe gaan julle?” het hy stadig met sy dik stem gevra.

“Ons gaan rook,” het Susanna geantwoord, “maar jy is te dom om saam te gaan. En ek trek weer jou broek af as jy gaan klik.”

Gysie, vertel Ester, het oopmond bly staan toe sy wat Ester is, agter Susanna aan loop. Susanna het vinnig geloop en Ester moes draf met die kooltjie in die lepel, soos op Nuwejaar wanneer hulle reisies moes hol met ’n rou eier in ’n lepel. Mens kyk mos vir die eier en jy weet nie waar jy draf nie.

Toe sy amper agter in Susanna vasloop, sien sy eers hulle is al op die groot rots by die draai van die spruit. Bokant die kuil, waar hulle eintlik nie alleen mag kom nie, want daar is partykeer nog seekoeie as die spruit die jaar afkom. En krokodille. Susanna het gesê sy moet langs haar op die klip kom sit. Dit was moeilik om ’n pyp te stop, moeiliker as wat hulle gedink het, want nie een van hulle het ooit opgelet presies hoe Meester dit doen nie. Met ’n groot gesukkel het hulle die pyp met die kooltjie aan die gang gekry. Eers toe die pyp brand, het Ester die kooltjie wat in die lepel was versigtig in die kuil gegooi.

“Ek lag ’n vis sluk dit in, dink net hoe lekker gaan sy bek brand,” het Susanna gesê en gelag.

Maar gelukkig eet visse mos nie kole nie.

Susanna het die groot ou pyp stadig na haar mond toe gebring.

“Jong, ons gaan straf kry,” wou Ester nog keer.

“Ou bangie, Pa slaan nooit nie, jy weet mos,” het Susanna nog gelag en toe die pyp vir Ester gegee. “Ek moes eerste probeer, het Susanna gesê. Ek het hard aan die pyp gesuig en die rook dadelik uitgeblaas. Dit was vieslik bitter en dit het my mond gebrand. Ek het so gehoes dat ek nie kon sien nie, toe hou ek die pyp vir Susanna.” 

Susanna wou haar morsdood lag.

“Jy is te bang om in te trek.” 

Toe trek Susanna die rook diep in en toe hoes sy nog meer as ek, en sy word net daar naar. Die pyp het uit haar hand uit geval.

“En toe?” vra die aanklaer.

“Ons het so gehoes en gelag dat ons nie gesien het die pyp val in die droë gras agter die rots nie. Die eerste wat ons gesien het, was die rokie, en toe die vlammetjie in die gras. Gelukkig het die wind die vuur weg van ons af gewaai, al met die spruit langs weiveld se kant toe.”

Hulle het huis toe gehardloop. Sonder die pyp of die twaksak of die opskeplepel.

Later het hulle die seuns in die veld hoor roep, en sy en Susanna kon aflei dat die seuns op mekaar skree om die vlamme te keer. 

Ester en Susanna het al lankal by die vuur in die kookskerm gesit toe die grootmense terugkom. 

Gysie het Meester kom roep om te kom help vuur slaan.

“Waar sou dié brand dan nou vandaan kom?” het tant Letta nog gevra.

“Ek het gesien Gysie het twak uit die stoor gesteel,” het Susanna gesê en vir Ester gewys om stil te bly toe sy iets wou sê. 

Dit was al aand toe Meester weer by die kosvuur kom sit.

“Ons kon darem keer voordat die brand groot skade aangerig het. Die wind het dit gelukkig teen die spruit vasgedruk,” het hy gesê toe tant Letta vir hom ’n kommetjie koffie gee. 

In die lig van die vuur, vertel Ester, kon sy sien hoe rooi Meester se oë was. Asof hy gehuil het. Maar sy het geweet dit was van die hitte en van die rook. Sy hande was swart van die roet. 

Die twee meisiekinders wou al opstaan om te gaan slaap toe Meester sê hulle moet eers sit. Hulle het vir mekaar gekyk. Toe haal Meester ’n pyp uit sy sak uit, die verbrande pyp, die een waarmee hulle die middag by die kuil probeer rook het. 

“My twaksak is heeltemal uitgebrand,” het hy gesê.

“Seker uit jou sak geval toe julle met die vuur gespook het,” het tant Letta gesê.

Meester het die pyp stadig in sy vuil hande gedraai. Stip na die stukkende pyp gekyk, toe eers na Susanna en toe na Ester.

“Wat weet julle twee hiervan?” Hy het die pyp met sy een hand in die lug gehou en met die wysvinger van die ander hand na die pyp gewys.

“Ons weet nie waarvan Pa praat nie,” het Susanna gesê, onskuldig vir haar pa geglimlag, opgestaan en tot by hom geloop en haar hand om sy nek gesit. 

“Soos altyd het sy vir hom geglimlag en ek het sommer geweet hy sal alles glo wat sy sê. Dit was altyd so,” sê Ester en kyk na landdros Mentz.

Uit die hoek van my oog kan ek sien hoe die aanklaer ingenome na die landdros loer, maar die landdros laat Ester ongestoord verder vertel.

“Meester het die verbrande pyp langs hom op die grond neergesit. In die rant het ek ’n tier hoor hoes en toe agtergekom Meester kyk reguit vir my. Ek het nie geweet wat om te sê nie en ek het in die vuur bly kyk.”

“Gysie sê hy het julle twee vanmiddag net voor die brand gesien toe julle spruit toe loop.”

“Dit was net die vuur wat geknetter het, en ek het my hart in my keel voel klop,” sê die getuie vir die hof en vertel hoe Susanna haar pa sonder skroom geantwoord het.

“Gysie is onnosel, Pa sê self so, en Pa weet hoe hy kan lieg. Seker hy wat spruit toe geloop het.” Susanna het bly glimlag.

“Nee, Gysie was nie spruit toe nie, want hy het ons by oom Dolf-hulle kom roep om te sê hy sien die veld brand rivier se kant toe.” 

Meester het die opskeplepel waarin Ester die kooltjie gedra het, uit sy baadjiesak gehaal.

“En waar dink julle twee sou ou Gysie dié lepel gekry het?” 

Ester het geweet Meester weet klaar hulle sit vir hom en lieg.

“Ons praat môre verder. Nou is ek te moeg. Gaan slaap.”

“Het meester Espag toe die volgende oggend die waarheid by julle gehoor?” vra die landdros en kyk reguit vir Ester.

Dit is duidelik dat Ester ongemaklik rondtrap. Sy kyk af, dan weer na Susanna en weer grond toe. Selfs toe sy sien Susanna kyk reguit vir haar en sy glimlag, antwoord Ester steeds nie landdros Mentz se vraag nie.

“Die landdros het jou ’n vraag gevra,” sê die aanklaer bars. “Antwoord die vraag.”

Ester slaan haar oë neer en boor met die een skoenpunt in die sand.

“Antwoord die vraag.” Die aanklaer staan regop agter sy tafel, sy stem klap skielik soos ’n voorslag.

In stilte wag die agbare hof op Ester se antwoord.

“Hy het,” sê sy uiteindelik.

“Wat was die waarheid?” Die aanklaer bly stip na haar kyk.

“Hy het my gestraf.”

“Net vir jou?”

“Ja.” Byna onhoorbaar.

“Het julle dan nie al twee gerook nie?”

“Ja, maar Susanna het gesê ek moet sê dis ek wat die pyp gevat het, want haar pa sou te kwaad gewees het as dit sy was.” Sy kyk na Susanna. Susanna kyk op, glimlag vir Ester en Ester sê: “Sy’t belowe om vir my haar nuwe lappop te gee as ek sê dit was eintlik my plan.”

“En het sy toe?”

Stilte.

“Het sy?” Die aanklaer lyk kwaai.

Stilte.

“Het Susanna toe die pop vir jou gegee omdat jy gelieg het?” vra landdros Mentz uiteindelik.

“Nee.”

“Hoekom nie?”

Ester kyk grond toe. “Sy’t gesê ek kan tog nie agterna sê ek het oor die pyp gelieg nie, want ek weet mos hoe Meester dit haat as iemand vir hom lieg.”

“Geen verdere vrae nie, Edelagbare.” Die aanklaer gaan tevrede sit.

“Wie is dié Gysie waarvan sy praat, Edelagbare?” vra ek.

“Ons volgende getuie, Gysie Fouché, Dominee.”

* Lees môre verder . . .

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.