Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
VERVOLG: Tussen die klippe (Dag 17)

Tussen die klippe
HOOFSTUK SEWENTIEN

BEGIN BY HOOFSTUK EEN

Die hof gaan eers eet, by wyse van spreke, natuurlik, en ek is nie daarvan oortuig dat dit presies op die geskeduleerde tyd is nie, want dit is die bobbejane wat die finale besluit neem.

“Die volgende getuie ...” Maar die aanklaertjie se stem is te dun om te dra omdat die bobbejaantrop skielik aan’t gille gaan asof ’n tier onder die klomp ingevaar het. 

Die aanklaer gaan van ergernis té vinnig sit en sy stomp kantel skuins sodat die kêreltjie met sy linkerhand in die sand moet grawe net om waardig regop te bly. Hy gluur die landdros aan asof dit dié se persoonlike bobbejaantrop is wat op bevel die agbare hof se rus kom staan en verstoor. 

Ek sien hoe landdros Mentz, soos ek, moeite het om sy gesig hoflik te hou, want die spartelende aanklaer is inderdaad ’n spektakeltjie soos wat die arme man sy waardigheid in die los sand moet behou – en dit teen die agtergrond van ’n bobbejaangebabbel.

“Oorlog,” kry die landdros dit nogtans reg om die inboekeling, wat op die skuins rots agter hom gaan sit het, waardig aan te spreek. En dit sonder om die struikelende bekleder van openbare bediening se pieperige agbaarheid aan te tas. “Oorlog, loop verwilder die trop rusverstoorders terwyl die hof vir ete verdaag. Vat ’n roer saam en skiet onder die spul as dit moet. Sorg net dat hulle ons nie verder ontstig nie.” 

Die landdros sluk, glimlag skelmpies en vee oor sy pikswart hare voordat hy vervolg: “Dan loop roep jy ook gou vir heemraadslid Prinsloo, sê hy moet kom eet.” Mentz wag eers totdat Oorlog die sambreel neersit en wegdraf om sy opdragte te gaan uitvoer voordat hy verder praat. “Die hof verdaag vir middagete. Die vrouens het vir ons ’n ete berei.”

“Kos is op die tafel in die kookskerm, agbare Landdros,” sê veldkornet Dolf Botha en skuif sy hoed effens agtertoe op sy kop. 


NOU BESKIKBAAR!

Opstand van Poppie Nel

DIE OPSTAND VAN POPPIE NEL

deur Hans du Plessis

Klik en koop hierdie boek en ander e-boeke op lapa.co.za


Vir die eerste keer sien ek hoe die dik, grys hare selfs onder die hoed reg bly lê. Lang, gedistingeerde leier in die gemeenskap van die Moot. ’n Vrome man, sê die mense, ’n ware voorbeeld vir die maatskappy.

Terwyl Mentz en die heemraad die hof verlaat, staan almal versigtig van hulle skuins stoele of ronde stompe af op, almal behalwe die beklaagde. En die getuie Ester, wat opsigtelik nie weet of sy ook moet opstaan nie.

“Jy sal ook kos kry, Ester,” sê veldkornet Botha.

Ons begin in die rigting van die kookskerm beweeg. Ek is bewus van Susanna Marais hier na aan my. Sy bly sit terwyl die twee Botha-wagte nader aan haar staan.

Asof sy vir dié uitgevrete manne sou kon weghol.

Ek kyk nie na haar nie, maar ek voel haar onsekerheid aan en weet dat sy net daar sal bly sit sonder om ’n woord te sê.

“Wat van die beklaagde?” vra ek. “Kry sy dan nie iets te ete nie?”

“Sy sal vanaand haar rantsoen ontvang,” sê veldkornet Botha.

“Moet sy hier sit en wag totdat ons klaar geëet het?”

“Sy is ons prisonier, Dominees, sy sal nie vlug nie.” 

Dit is nie eintlik my probleem nie, wil ek sê, maar ek praat liewer nie. Ek wil nie hier in die vreemde inmeng by die hofproses nie. Ek weet in ieder geval heeltemal te min daarvan. 

Nogtans bly ek staan. Langs my kyk sy af op haar hande, toe vlugtig op na my. Ek verbeel my sy glimlag, maar dan kyk sy weer af en maak haar rug styf en sit regop op die beskuldigdestoel, asof sy self een van die regterlike persone is.

“Kom, Johannes, kom ons gaan eet.” Dit is Kornelius Bantjes wat my sag aan die elmboog vat en in die rigting van die kookskerm stuur.

’n Rukkie loop ons in stilte totdat Kornelius sê: “Haar saak lyk vir my maar sleggerig, of hoe?”

“Ek dink nie ons kan op hierdie getuienis af oordeel nie, my broer,” sê ek. “Dit is maar die leuens van ’n kind. Wie van ons het ons nie een of ander tyd uit die moeilikheid uit gelieg nie? Om te lieg, is tog nie ’n misdaad nie, al is dit nie reg nie.”

Kornelius neem so lank om te antwoord dat ek wonder of hy my ooit gehoor het, maar uiteindelik antwoord hy tog. “Al sê die wet nie lieg is verkeerd nie, maak dit dit nog nie reg nie.” 

Ek het al in die kort rukkie dat ons mekaar ken, geleer dat Kornelius nie sommer praat sonder om eers te dink nie.

“Die wet is nie alles nie,” sê ek.

“Volgens die Bybel is dit,” antwoord Kornelius.

“Die wet is maar net die letter van wat ons glo.”

“Ek is nie so godgeleerd soos jy nie, Johannes, ek dink nie ek verstaan jou nie. Die Tien Gebooie is tog die wet?”

“Nee,” antwoord ek stadig, “dit is maar die een deel daarvan. Die ander deel is die evangelie.”

“Ek verstaan nie altyd die Nuwe Testament nie, moet ek erken.” Kornelius gee ’n verleë laggie.

“Min van ons verstaan dit, liewe Kornelius. Ons aarsel al vir byna twee duisend jaar tussen die testamente, my broer, totdat ons in die oorgang vermorsel word.” 

Kornelius reageer nie en ek besef dit is liefdeloos van my om van hom te verwag dat hy my gedagtegang onmiddellik moet volg.

“Ek bedoel maar net ons moet selfs in liefde die wet beoordeel,” sê ek tegemoetkomend.

“Ek wonder wie sou dié Gysie wees wat hierna moet kom getuig,” verander Kornelius die rigting van ons gesprek.

“Gysie Fouché, het hulle gesê, maar ek weet niks meer nie. Ek lei uit Ester se getuienis af dat hy ook saam met hulle grootgeword het.”

Van die kookskerm af kom landdros Mentz en die griffier terug hof toe. Ek en Kornelius stap verder.

Agter ons hoor ons die landdros by die tafel met iemand praat. Ek en Kornelius draai om om vir landdros Mentz te wag. Hy is besig om sy papiere netjies bymekaar te skik en sy pyp daarop te sit sodat die wind dit nie wegwaai nie. 

Duskant die tafel kom staan ’n man met sy rug na ons toe, sonder baadjie, wit hemp met blou kruisbande wat die swart driekwartbroek ophou. Groot kuite en velskoene wat op kwart oor nege staan, sonder kouse. Hy het sy hoed afgehaal en agter sy rug in albei hande opgefrommel. Hy buig lomperig vooroor en praat hard met die landdros.

“Dankie dat Oom gekom het, Oom. Ek het gesê hulle moet Oom gaan roep want ek wil net self vir Oom gevra het of ek nou nie meer gaan praat nie, my oom. Is alles nou klaar?”

“Dan is jy Gysie,” sê Mentz en steek sy hand uit. “Aangename kennis.”

Gysie laat sy hoed agter hom op die grond val toe hy vervaard alles los om die vername oom te groet.

“Is die hof verby, Oom?”

“Nee, Gysie, ons is nie klaar nie.”

“Ek het dan nog niks gesê nie, Oom.”

“Ek weet, ou seun.”

“Hulle wil seker nie weet wat ek weet nie. Ek weet baie, my oom.” Hy buig weer regop.

“Nee, Gysie, ons eet net eers klaar, dan roep ek jou. Ons wil regtig weet wat jy weet.”

“Ek wag net hier, Oom. Ek pas sommer vir Susanna ook vir Oom op.”

“Dis dan reg so, ou Gysie.”

Ek en Kornelius kyk vir mekaar en draai om en loop stadig verder.

“Is dit die getuie?” vra ek.

“Dit is.” Maar dit is nie Kornelius wat antwoord nie, dit is die landdros wat agter ons antwoord. 

Ek het nie eens geweet hy het agter ons aangekom nie. Ek sien dat Kornelius reg is met sy volgende vraag, maar die geskreeu uit die rant en die gegil van bobbejane onderbreek ons gesprek. Toe klap die geweerskoot en die bobbejane vlug histeries die rant oor. 

Eers toe dit weer stil is, vra Kornelius vir landdros Mentz: “Wie is dié Gysie-kêrel?”

“Ek kan vir jou die stuk gee wat die veldkornet oor die man geskryf het.”

Kornelius gaan byna stilstaan voordat hy kortweg sê: “Ek het my bril by die huis gelos, dit sal nie help nie.”

Kornelius het gisteraand al gesê hy kan maar net effentjies lees.

“Die bril,” het hy gesê, “was my moeder s’n. Ek hou dit, want dan lyk ek ook geleerd,” het hy goedig gespot. “En as iemand my vra om te lees, sê ek net ek het my bril vergeet.”

“Gysie Fouché,” begin Mentz toegeeflik, “is ook nou al ’n jongman, ek skat hom so iets in die twintig. Niemand weet presies hoe oud hy is nie. Hy was maar van die begin van die trek uit die Kolonie deel van die Botha-trek. Hy het self nie die verstandelike vermoë om te weet hoe oud hy is nie.”

“En sy ouers?” vra ek.

“Hy is glo al kleintyd deur sy vader uitbestee omdat sy moeder met geboorte oorlede is. Aan wie hy uitbestee is, weet niemand nou meer nie. Hy het maar so tussen almal grootgeword.”

“Almal se kind is niemand se kind,” sê Kornelius.

“Inderdaad.”

“Sal hy kan bydra tot ’n regverdige verhoor vir die beklaagde?” vra ek net toe ons voor die hek van die kookskerm staan. 

Net aan die binnekant van die hek wag Joachim Prinsloo ons in.

“Gysie ken ook vir Susanna Marais van kleins af,” sê Mentz. “Hy het glo saam met hulle grootgeword.”

“Hy is te dom om te getuig.” Dis duidelik dat Joachim die laaste deel van ons gesprek gehoor het.

“Die aanklaer het ure lank met die seun gesit en aan hom verduidelik waaroor dit gaan, en waaroor hy wil hê hy moet getuig.”

“Dit sal niks help nie,” hou Prinsloo vol.

“Alles is nodig ter wille van die waarheid,” waag ek ’n woord.

“Ons weet almal tog klaar wat die waarheid is,” kap Prinsloo terug.

“Die hof is daar om na die waarheid te soek, dit is wat teregsitting beteken. Kom ons eet.” 

Landdros Mentz klink of hy met die gesag van die wet praat en ons gaan teen die paaltjieheining van die kookskerm op stompe sit totdat veldkornet Botha na my toe kom en vra of ek vir ons die seën sal vra. Die vrouens is gereed om op te skep.

“Laat ons bid,” nooi ek.

Dis toe ons terugloop dat Joachim begin teem. 

Ek skaam my omdat die man my irriteer die oomblik dat hy sy mond oopmaak. Ek weet ek moet hom in liefde verdra, maar dit is as hy sy maer gevreetjie omtrent tot hier vas teen ’n mens se neus druk en begin om jou verbaal af te knou, dat ek moeilik die liefde onthou. Want jy kan dit kwalik gesels noem, omdat hy alles so stel dat daar nie juis kans vir jou is om te antwoord nie. Iets soos: Ek sê jou mos en klaar.

Ons het opgestaan toe veldkornet Botha aankondig dat ons moet terugkeer en met die saak aangaan.

Ek het gehoop ek en Kornelius sou ons gesprek van vaneffe kon voortsit. Ek sou graag duideliker wou sê wat ek eintlik bedoel het, maar ons is skaars by die kookskerm se hek uit toe Joachim hier kort regs van my opgewonde begin praat.

“Ek hoor daar is ’n groot trop olifante anderkant Derdepoort aan die kom, Gawie.”

“Ons hou hulle al ’n rukkie dop, wag net dat hulle nog nader moet trek. Ek ken hulle roete, maar dan moet ons hier klaarkry voordat die trop wegswaai weste toe.”

“Die saak is eintlik klaar duidelik,” sê Prinsloo. “Ons kan dit vanmiddag al afhandel.” Hy bespiegel nie, hy maak ’n stelling. 

Ek weet nie of hy met my of met Gawie Plessis praat nie, want Gawie kom saam met ons by die skerm uit, al agter sy ruwe baard aan. Nie dat dit regtig saak maak met wie Prinsloo praat nie, want Joachim Prinsloo is deurentyd besig om die volk toe te spreek – of die volk nou wil luister of nie.

“Julle moet my steun as ek beswaar maak.”

“Teen wat?” vra Gawie.

“Ons kan nie toelaat dat ’n idioot die hof se tyd mors nie. Wat kan iemand soos Gysie Fouché sê wat ons kan help?”

“Hy het saam met Susanna grootgeword,” sê Gawie.

“Maak nie saak nie, hy’s onnosel.”

“Gee hom ’n kans, dalk help hy ons om die beklaagde beter te verstaan.” Kornelius praat stadig, spreek elke woord afsonderlik uit. “Moenie oordeel nie.”

“Ek oordeel nie,” sê Joachim. “Ek is net heeltemal eerlik, en eerlikheid is een van die hoekstene van die Calvinisme.”

Ek weet ek moenie reageer nie, maar Prinsloo se ingenomenheid met homself noop my onwillekeurig om te sê: “Daar is min dinge so gevaarlik as ’n Calvinis wat Calvyn verkeerd verstaan.”

“En hoekom sal jy hom verstaan?” vra Prinsloo, gaan staan en druk sy neus amper teen myne.

“Ek het Calvyn ten minste gelees,” sê ek kortaf en loop hof se kant toe.

“Kan jy dan Engels lees?” vra Prinsloo.

“Calvyn het in Latyn geskryf.” Ek weet ek moes dit nie gesê het nie.

“Ek weet,” brom Prinsloo iesegrimmig, “hy was mos ’n Latyn.”

* Lees môre verder . . .

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.