Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
VERVOLG: Tussen die klippe (Dag 18)

Tussen die klippe
HOOFSTUK AGTIEN

BEGIN BY HOOFSTUK EEN

Oorlog en die ander diensbodes het die hof etenstyd weer in orde gekry. Die tafel se pote staan al vier weer bo-op die sand, die stoele is waterpas, en die stompe afgestof. Oorlog op aandag met die sambreel, gereed vir die koelkoppe.

Die beklaagde, sien ek dadelik, sit nog net waar sy gesit het. Haar bietjie gewig maak dit nie vir enige ordentlike stoelpoot moontlik om in die sand in te sak nie. Dit lyk amper vir my of die vrou in gebed is. Haar kop is afgebuig en haar krulle lê donker oor haar rug en tenger skouers. Of haar oë inderdaad toe is, weet ek nie. Ek sien net haar geboë hoof toe ons onder die sering inloop. Susanna kyk nie eens op toe ek naby haar gaan sit nie. Op haar skoot sien ek hoe die lang vingers gevou lê soos iemand wat bid.

Dit is stil onder die hofmense wat nou weer een vir een hulle plekke inneem. 

Gysie, die getuie, staan fier agter die getuiestoel en kyk reguit voor hom uit asof hy net op landdros Mentz se bevel wag sodat hy sy storie kan vertel.

Sou die arme mens hoegenaamd verstaan waaroor dit vandag gaan, verstaan hoe belangrik sy storie vir die hof is? Ek kyk van Gysie af weer terug na Susanna. Sy bid nog, of wat sy ook al doen. Sy kyk nie eens op toe landdros Mentz en die heemraad inkom en gaan sit nie.

Die Hof van Landdros en Heemrade in die Moot is weer in sitting ná ’n oordadige middagmaal van stampmielies en ’n rooibokbredie met kool en vars wortels.

“Uit Hartebeespoort se milde groentetuin naby die fontein, net anderkant Halflaer,” het Dolf Botha trots gesê.

“Ons eie groente, Dominee,” het een van die vroue bygevoeg terwyl sy my bord boordensvol skep. As ek reg onthou, is sy Dolf se jongste dogter. Liesbet, dink ek, want ek onthou die vriendelike, ronde gesiggie met die glimlag wat soos ’n onverwagse perskebloeisel oopgaan.

Mentz knik vir die aanklaer wat versigtig orent kom en sê: “As tweede getuie roep ek die jongman Gysbert Fouché.”

“Oom hoef my nie te roep nie, ek is klaar hier, my oom.”

’n Gegiggel riffel soos ’n windjie oor ’n jong mielieland deur die hof, selfs die aanklaer vee vinnig ’n glimlag van sy gesig af.

“Ek sien so. Jy kan maar praat. Jy weet mos waaroor dit gaan.”

“Ja, Oom, ek moet ’n storie vertel.”

Die hof is doodstil terwyl Gysie met sy growwe stem en sy diep laggie vooroorbuig, met sy lomp hande beduie.

“Soos Oom-hulle vir my gesê het.”

Ek kyk na Joachim Prinsloo en wag dat hy sy beloofde beswaar opper, maar die heemraad se volle aandag is by die beskuldigde. Ek besef dat hy letterlik na haar sit en staar asof hy nie bewus is van wat om hom aangaan nie.

Perverse ou man. Eers toe Gysie in diepe erns sy verhaal begin vertel, kyk Joachim na die getuie. Nou is dit te laat vir ’n beswaar, juig ek, die getuie is al aan die getuig.

Susanna het net vlugtig opgekyk toe hy begin praat, en vir Gysie geglimlag en haar mooi hande ontspanne oop op haar knieë laat rus.

Dit was asof Gysie effens hakkel toe hy sien hoe sy vir hom glimlag, maar toe storm die kêrel in sy storie in.

Hulle was nog kinders gewees. Hier was nog net waens en tente en bokseile tussen die bome. Oom Dolf het gesê hulle moet nog nie huise bou nie, want hulle moet eers sien of ’n mens in hierdie wildernis kan bly.

Die skape het saans nog in takkrale geslaap en die wagters moes die beeste in die veld oppas. Oom weet mos hoeveel leeus hier was, hulle het woes onder die vee gevang. Hulle het later eers, hy weet nou nie meer presies wanneer dit was nie, klipkrale gepak. Hier is mos baie klippe in die berg, Oom sien mos. 

Hulle, dis nou die seuns, moes eendag die beeste by die kuil oppas. Oom weet mos, as jy hier by die rondawel verbystap, nog verby die kerkhof tot by die spruit. Dis nie so ver van hier af nie. By die seekoeigat waar die spruit so draai. Onder op die platrots waar ons altyd swem. Maar net as dit somer is. 

Die beeste was net daar naby ons rustig aan die wei.

Toe sê Vuil Willem Venter hy het ’n paar latte uit die kweperlaning agter die skooltent gaan steel. Hy kan bly wees Meester het hom nie gevang nie, want die kweperboompies was toe nog ’n bietjie onbekwaam, en Meester was heilig op sy kweperlatte. Willem het die latte agter ’n klip uitgehaal. Toe maak ons klei-oorlog. Oom weet mos, ’n mens vat ’n handvol klei uit die modder.

Eintlik is die beste klei verder stroomaf in die vlei waar die spruit so draai, maar ons was nie toe by die vlei nie en jy vat maar bietjie swakker klei. Jy rol dit mos so ’n bolletjie, omtrent so groot soos ’n bol deeg vir ’n beskuit. Jy brei dit net so ’n bietjie en dan sit jy dit op die punt van die kweperlat en jy gooi iemand. Maar jy moet mik, jy kan nie sommer net gooi nie.


NOU BESKIKBAAR!

Opstand van Poppie Nel

DIE OPSTAND VAN POPPIE NEL

deur Hans du Plessis

Klik en koop hierdie boek en ander e-boeke op lapa.co.za



Dis nou die een ding wat hy wat Gysie Fouché is, wragtag kan doen, hy gooi sommer ’n vink vrek met so ’n bol klei. Hy kán kleilat gooi – en met ’n slingervel.

Hy weet nou nie meer hoe lank die geveg aangehou het nie, maar dit was nou nie ’n regtige oorlog nie, dit was net so speel-speel. Ou Willem het gebuk om klei by sy voete te vat. Sy boude was ’n teiken soos ’n koedoe se blad, ’n koedoe wat plankdwars staan, Oom weet. Toe gooi ek hom met ’n ordentlike bol klei. Mooi reg op sy gat dat hy sommer so wip.

Gysie bly ’n oomblikkie stil, glimlag skeefweg. Willem kan bly wees dit was modderklei, want as dit vleiklei was, het hy geskyt.

Willem was briesend. Oom weet mos, hy word woe­dend kwaad as hy nie kan wen nie. Toe smyt hy sy kleilat in die water en sê die oorlog is verby, ons moet almal ons klere uittrek en in die kuil spring om skoon te word. Ons was mos nou vol klei van die gooiery.

Toe swem ons. Ons swem altyd in die spruit, al sê die grootmense dis ongesond. ’n Mens moet net eers kyk of jy nie ’n stukkende plek op jou vel het nie. Dan mag jy nie swem nie, want die siekte kruip mos deur ’n seerplek in jou lyf in. Al wat ons altyd geweet het, was dat ons nie almal gelyk kon swem nie. Een van ons moes op die platrots bly sit met ’n geweer.

’n Brandwag. Daar was toe nog meer leeus en tiere en goed as nou, en as dit goed gereën het die jaar, het die seekoeie kuil toe gekom. Krokodille ook, Oom weet. Hulle het ’n mens sommer voor brekfis opgevreet.

Kleinjan Nortier se pa het toe juis mos ’n nuwe doppiesgeweer vir ou Kleinjan gekoop. Hulle is mos die ryk Nortiers. 

Toe sê Willem Kleinjan moet met sy orige doppiesgeweer op die platrots waghou. Gysie kan nou nie vir die hof sê wat ’n orige doppiesgeweer is nie, maar Willem dink mos altyd hy is slimmer as almal.

“Jy is in elk geval te vet en te lui om te swem, ou Kleinjan,” het Willem nog gesê. “Dis omdat julle so ryk is dat julle so vet is, julle vreet te veel.”

Kleinjan het maar net daar bly sit, hy word mos nooit kwaad nie, lag net vir alles. 

Hulle het resies gevat en gekyk wie is laaste in die water.

“Dit was maar altyd ek,” sê Gysie.

Dis toe hulle nou net so lekker aan die swem is dat Willem uitspring en op die platrots gaan staan. Die ander het nog in die water gespeel toe skree Willem iets. Dis toe hulle stilbly dat hulle hoor hy skree iets van die meisiekinders wat aan die kom is. Die ander seuns het uit die water gevlieg, maar een van hulle het gekeer dat hy wat Gysie is, vinnig genoeg kon uitkom. 

Toe hy weer kyk, staan Willem op die platrots met sy hemp en sy broek en sy skoene in sy hande. Dis nou hy wat Gysie is, se klere. 

Die ander seuns hou Gysie in die water sodat hy nie uit die kuil kan kom nie.

En hulle lag vir hom en spot hom omdat hy dom is en hoe die meisiekinders gaan lag as hulle sien hoe groot sy instrument is.

Hy word woedend as hulle hom spot, maar hy kan nie by sy klere uitkom om aan te trek en onder hulle in te vlieg met sy vuiste nie.

Toe staan die meisiekinders ook skielik op die platrots. Susanna heel voor.

“Kom haal jou klere,” koggel Willem en almal lag.

Hoe kan hy nou sy klere kry as die meisiekinders vir hom staan en kyk? Hy is mos kaal onder die water, want ’n mens swem mos nie met klere aan jou lyf nie.

Die ander seuns het bly spot. 

“Klim uit, Gysie, daar is tog niks om te sien nie of is dit te groot?”

Die meisiekinders het ook gelag.

Toe hou Willem die broek en hemp nader aan Gysie in die swemgat. Gysie kom halflyf uit die bruin water, nie heeltemal nie, want hy moet mos nou sy onderlyf in die water hou. ’n Mens kan mos nie onder die water sien nie.

Dis net toe hy die klere wil vat dat Willem die hemp in ’n bondeltjie rol en diep in die water in smyt.

Toe lag hulle eers!

Hy moet net sy broek gryp. Oom weet, ’n man kan nog sonder ’n hemp tent toe hol, maar nie sonder ’n broek nie. 

Net toe hy die broek wil gryp, ruk Willem dit weg.

“Gysie kan nie eers sy broek raakvat nie, so dom is hy.”

Toe vat een van die ander seuns sy een velskoen en gooi dit tot amper aan die ander kant van die kuil in die water en toe die ander skoen spruitaf. Oom weet mos dit sal nie eers help om iets in die vuil water te soek nie. ’n Mens kan nie eers jou eie voete in daardie water sien nie.

En hoe dink Oom, hoe loop ’n man nou sonder skoene terug laer toe? Jy sal vrek van die bokdorings nog amper voor jy begin te loop het.

“Los vir Gysie!” Dis nie een van die seuns nie, dit weet hy dadelik, daarvoor is die stemmetjie te fyn. 

Dis Susanna wat op Willem skree. 

Gysie kan aan haar kwaai oë sien sy is boos. Sy storm sommer op Willem af. Sy probeer die broek uit Willem se hand gryp, maar hy is mos ’n lang mens en al spring sy hoe, hy ruk net die broek elke keer net-net te hoog vir haar hande.

“En wat gaan jy maak?” koggel Willem haar, maar toe sien hy eers die klip in Susanna se hand.

“Ek gooi jou met hierdie klip tussen daai twee aaklige blou oë van jou,” sê sy.

Toe is almal tjoepstil, want Oom ken mos vir Susanna as sy so kwaad word. Sy sal sommer moor.

Net toe almal vir die twee se stryery kyk, gryp Susanna die doppiesgeweer uit Kleinjan Nortier se hande, want hy kyk mos nou ook vir Willem. Sy lig die geweer op en toe gooi Willem die broek net daar neer en hy hol. Die seuns agter hom aan, want die ander meisiekinders is aan Susanna se kant en toe die meisiekinders naderkom, toe vlug die seuns. Klomp bangbroeke. 

Ou Kleinjan wou nog wag vir sy geweer, maar toe Susanna sê sy skiet sy derms uit, toe hol hy met sy dik lyf agter die ander aan.

Toe sê Susanna vir die meisiekinders: “Waar’s julle maniere? Draai julle rûe. Ester, gee vir Gysie sy broek, maar jy mag nie loer nie.”

Oom, toe vat ek my broek en ek trek dit aan voor hulle nog iets kan sien. Net so vinnig. Voor ’n mens nog kan sê broek.

“Kom ons gaan huis toe,” sê San, maar sy het vergeet ek het nie skoene nie, die vark van ’n Willem het dit mos in die spruit gegooi. Sonder skoene kan mens mos nie deur hierdie veld loop nie, die dorings sal sommer dwarsdeur jou voete steek.

Toe buk Susanna hier reg voor Gysie. “Klim op,” sê sy en sy abba hom wragtag terug waens toe. Net so, en Ester moet die doppiesroer dra, maar dié is darem nie so swaar soos ’n snaphaan nie.

“Dis hoe dit was, Oom. Regtig, ek lieg nie, my oom,” sluit Gysie uitasem sy vertelling af en plak sy hoed op sy kop.

Die hof is doodstil, net ’n entjie weg roep ’n patrys asof sy die storie kan bevestig.

“Jy sê Susanna kan moor as sy kwaad word?” vra die aanklaer. 

Gysie lag verleë, krap senuagtig sy wang en hoes heserig. “Ek meen nou nie regtig moor nie, Oom.”

“Kan sy baie kwaad word?”

Gysie moet iewers diep in hom verstaan dat hy haar nie verder in die moeilikheid moet bring nie, en hy vat die stoel voor hom aan die rugleuning vas en sê nie ’n woord verder nie. Totdat landdros Mentz bedaard vra: “Het Susanna jou al ooit seergemaak, Gysie?”

Gysie lag. “Sy’s dan ’n meisiekind, Oom, en sy is mos lief vir my.”

Ek hoor haar snuif, kyk na Susanna en sien hoe sy met die agterkant van haar hand oor haar neus vryf. Ek weet nie vir seker nie, maar ek dink sy huil. Sy voel by haar moue rond asof sy na ’n sakdoek soek. Sy kry nie een nie.

Gysie kom van sy stoel se kant af, tussen die griffier en die aanklaer se tafels deur tot langs haar en hy sit sy hand op haar skouer.

“Los haar uit,” sê hy vir niemand in die besonder nie.

Die liefde het inderdaad meer as een gedaante, besef ek al meer.

Die beklaagde snuif en ek trek my eie sakdoek uit my sak uit en hou dit na Susanna toe uit. Sy neem dit sonder ’n woord, hou die groot rooi sakdoek voor haar mond en neus. Oor die hand wat die sakdoek voor haar hou, sien ek haar na my kyk. Die boodskap in haar oë verstaan ek nie, maar weer val die besonderse oë my op. 

Iets soos desperaatheid daarin? 

Hoe mooi is haar oë nie, byna weemoedig, maar toe neem sy die sakdoek voor haar gesig weg, sit dit op haar skoot en haal sagkens Gysie se hand van haar skouer af, leun met haar donker kop momenteel teen sy heup. Ek dink ek is die enigste een in die hof wat haar sag hoor sê: “Dankie, Gysie.”

“Jy kan nie in ’n hof rondloop soos jy wil nie, Gysie,” klap die dun riempie van die aanklaer se stem. “Kom terug na jou stoel toe.”

Gysie struikel terug getuiestoel toe.

“Enige vrae?” vra landdros Mentz.

Geen verdere vrae nie.

Toe sê die aanklaer: “Maar jy het nog ’n ander storie wat jy vir die hof wil vertel, of hoe, Gysie?”

Landdros Mentz se kop ruk. “U het aangedui dat die getuie hiermee sou volstaan.”

“Nou dring ek daarop aan,” sê die aanklaer en kyk na die getuie. “Vertel,” beveel hy.

“Laat ons hoor, Edele,” voeg heemraadslid Prinsloo by. Sy beswaar teen die gebrekkige verstandelike vermoë van die getuie nou skielik daarmee heen.

* Lees môre verder . . .

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.