Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
VERVOLG: Tussen die klippe (Dag 23)

Tussen die klippe
HOOFSTUK DRIE-EN-TWINTIG

BEGIN BY HOOFSTUK EEN

Die ope hof onder die wildesering in die ooste van die Moot is gereed om te sit. 

Die tafels se pote is netjies uit die sand gelig, die aanklaer se stomp effens ingeplant sodat die man sy ewewiggie kan behou. Tot die getuiestoel is weer waterpas, die beklaagdestoel is in balans. Aan die haalstrepe van ’n takbesem kan ’n mens sien die sanderige grond is selfs gelyk gevee. Die reg kan ordelik en in alle waardigheid sy regverdige gang gaan; opnuut na die skoon waarheid soek.

Die landdros en sy heemraad is by die ingang van die kookskerm in diepe gesprek toe ek naby hulle verbystap. Ek sien hoe wolkies plek-plek kolle skadu op die rooigrond dryf, lig en donker. 

Tussen die stompe van die publieke galery verwilder Oorlog met wilde arms snorkend ’n vlakvark en haar vier kinders.

“Goeiemôre,” groet ek toe die regbank my aankoms ignoreer.

“Pragtige oggend,” sê landdros Mentz. 

Hy het ’n skoon onderbaadjie aan en die silwerhorlosieketting blink oor sy effense magie. Netjies en versorg soos gister, asof die man nou pas uit sy eie slaapkamer uitgestap het.

“Kornelius is op pad,” sê ek toe ek sien hoe landdros Mentz vraend na my kyk.

“Ons wag in elk geval nog op die beklaagde.”

“Sy is laat,” sê heemraadslid Prinsloo.

En Gawie Plessis skud sy baard bevestigend op en af en haal dramaties sy goue sakhorlosie uit.

“Dis darem nog nie half nie,” spreek hy ingenome die verlossende woord.

Met moeite onderdruk ek my misnoeë met die hele heemraad en wonder self waar die gedagvaarde met haar toegewyde lyfwagte bly. Het sy ooit geslaap ná die uitbundige bad?

Hoe sou sy lyk wanneer sy versorg is? Skoon klere, blink hare. Kan sy nog mooier wees? Ek hoor weer haar helder lag in die skemer op pad leivoor toe. 


NOU BESKIKBAAR!

Opstand van Poppie Nel

DIE OPSTAND VAN POPPIE NEL

deur Hans du Plessis

Klik en koop hierdie boek en ander e-boeke op lapa.co.za


Ek gaan sit toe Kornelius ook aankom. 

Ons staan toe die griffier so sê en gaan eers weer sit toe die landdros en sy twee heemrade hulle plekke ingeneem het.

Die aanklaer bly staan en kyk gesteurd na die leë stoel waar die beklaagde veronderstel is om al te sit.

Verskoon haar as sy ’n minuut laat is, wil ek die hof vra. 

Jou naaste verdien ook ’n bietjie genade, en ’n bietjie liefde. 

Die aanklaer konsentreer op die skryfboek voor hom. Ek sien sy lippe roer soos wat hy agter sy dun wysvinger aan lees wat hy geskryf het.

Griffier Pietman Erasmus pak sy papiere sorgvuldig voor hom uit, prop met bonkige vingers sy inkpot versigtig oop en maak sy veerpen nougeset daarin staan. 

Die Hof van Landdros en Heemrade is reg vir die tweede dag van die teregsitting van Susanna Marais. Op aanklag van veelmannery. En vermeende bedrog. 

Agter die wurgvy raas ’n bospatrys, maar bly summier stil toe die griffier “Stilte in die hof!” roep, al is die beklaagde nog nie in die beklaagdestoel nie.

Halfnege.

“Waar is die beklaagde?” vra landdros Mentz en kyk na veldkornet Botha wat onder sy hoed in die skadu van sy wurgvy staan.

“Ek hoor hulle kom, Agbare,” sê die veldkornet en beduie met sy kop rondawel se kant toe.

“Amper laat,” sê die aanklaer en kyk in die rigting van die huis van burger-arres, maar die nok van ’n kaal, onvolwasse populier is net-net bokant die donkergroen kruin van ’n witstinkhout sigbaar.

Toe verskyn die twee wagte met hulle roers en die prisonier tussen hulle. 

Anders as gister sleep hulle haar nie, hulle begelei haar.

Dat sy ander klere aanhet, en dat sy die geleentheid gebruik het om te bad, is opsigtelik, selfs voordat hulle nog by ons tafel verbykom. 

Dit lyk nogtans vir my of sy meer gespanne is, nie so fier en uitdagend soos gister nie. Maar miskien verbeel ek my dit net. Omdat ek nie verstaan nie, het Joachim mos gesê.

Selfs ek met my gebrekkige ervaring van Eva kan sien dat sy varser lyk. Aan die ander kant, dink ek, daar is iets byna beklemmend in haar hele houding. Dit kan wees dat haar skouers vanmôre effe geboë is.

Toe sy nog nader is, kan ek sien dat sy ’n skoon rok aanhet. Vir my ’n mooi rok, ’n lang witte met valletjies onderom, tot byna op die grond. So naby aan my loop sy verby dat ek die mansjetknopie net bokant die fyn kant om die wit polse sien. My oë skuif al met die lang, wye moue op na die fyn nekdoek en die borsspeld van skilpaddop. Eers toe sy verbyloop, merk ek die driehoekpunt van die nekdoek tussen haar blaaie. Sy ruik soos Moeder se gekleurde botteltjie parfuum. Iets soos laventel, dink ek.

Ek wil haar gesig sien, net weer die mispel-oë, maar die wit kappie maak dit moeilik. Die Botha-buffels weerskante is ook in die pad. Selfs toe sy hier by my kom staan, voor die regbank. Asof sy nie mooi weet waar om te sit nie, asof sy op haar eie nie haar sit sal kan kry nie.

Ek probeer om net haar oog te vang, iets van gisteraand terug te kry. Daar was tog gisteraand ’n sweem van vertroue, amper ’n soort intimiteit, het ek my wysgemaak. 

Maar sy kyk nie eens in my rigting nie. Sy gaan uiteindelik versigtig sit. Anders as gister, sien ek hoe sy haar skoon hande senuagtig op haar skoot wring, ’n fyn sakdoekie wat sy tussen haar vingers frommel. Haar hele houding, voel ek aan, is een van kwelling.

“U is byna laat, mevrou Marais,” begin Mentz nadat die beklaagde gaan sit het en die twee wagte eenkant op aandag gaan staan het.

Stilte. Onsekerheid in die hande langs my. 

Die landdros se opmerking het vir my nie na ’n ernstige teregwysing geklink nie. Eerder na iets soos ’n geamuseerde verwelkoming.

Dit is ooglopend nie Susanna se interpretasie daarvan nie; haar reaksie is oombliklik: “Besluit tog nou of ek Marais of Nortier is.” 

Aggressief, gespanne.

Mentz is opsigtelik op die verkeerde voet betrap. Dit is nie wat hy van haar verwag het nie, nie ná haar stilswye van gister nie. 

Ek dink niemand in die hof het die uitbarsting verwag nie.

“U beweer tog u wettige van is Marais,” sê Mentz verbaas.

“En julle beweer dat dit Nortier is. Besluit tog net. Jy weet mos kastig dit is Nortier,” sê sy. Aan die spier wat in haar nek span, sien ek die ingehoue emosie. “Dis dan hoekom julle my voor hierdie belaglike hof gesleep het. ’n Bigamis!”

Die landdros het sy kalm rustigheid van gister herwin. “U is tog nog wettig met Kleinjan Nortier getroud.”

“Kleinjan Nortier is dood.” Susanna kyk reguit na Mentz. “Is dit nou so moeilik om te verstaan?”

Die hof is stil, niemand roer nie.

“Dood?” vra Mentz.

“Dit is presies wat ek nog die hele tyd probeer sê, al van die oorhaastige kerkraadsvergadering af. My eerste man is dood.”

“Dit kan nie wees nie, Mevrou, u weet tog die staat sal getuienis lei dat hy nie oorlede is nie.” Die landdros bly hoflik. “Dit is waarop die klag van bigamie gegrond is.”

Ek kan haar gesigsuitdrukking nie sien nie, maar haar stem is hees toe sy sag sê: “Dan lieg iemand vir jou of vir my.”

“Jy kan nie só met die hof praat nie.” Dit is heemraadslid Joachim Prinsloo, en ek weet sommer dat hier weer een of ander beswaar aan die kom is. Plaas die man net soms stilbly.

“Hou jy jou maer bek hier uit!” 

Opsigtelik dink Susanna Marais ook Joachim Prinsloo moet liewer sy mond hou.

“Ek maak beswaar, Edele,” begin Prinsloo en dit lyk vir my of hy enige oomblik aan die ween kan gaan. “Daar kan nie so met ’n amptenaar van hierdie hof gepraat word nie. Ek maak ernstig beswaar, Edele.”

“Maak jy liewer beswaar teen jou eie skynheiligheid.” Haar stem is laag, skaars hoorbaar.

Kan dit dieselfde vrou van gister wees? wonder ek.

“U sal die hof moet respekteer, Mevrou,” tree Mentz tussenbeide. “Ons kan nie toelaat dat u ’n amptenaar van die hof beledig nie.”

“Dan moet die amptenaar dink voordat hy twak praat,” kap sy terug.

“Hoekom hou u vol dat u man oorlede is?” vra Kornelius.

“Omdat sy hom vermoor het.” Joachim Prinsloo het orent gekom, leun vooroor en druk met sy vuiste krampagtig op die tafel. 

Die man leer wragtag nie!

“Heemraadslid Prinsloo, u kan nie sulke aantygings maak nie. Moord is op geen manier deel van die klagstaat voor hierdie hof nie.”

Arme landdros Mentz.

“Julle is almal te bang vir die waarheid omdat sy ’n mooi vrou is.” Prinsloo skree dit byna uit.

“Dit is genoeg!” Landdros Mentz tik met sy vingers op die tafel. “Hierdie hof sal ordelik voortgaan met die saak wat voor die hof dien.”

Dit is toe dat die duif bokant die tafel in die sering kom sit. ’n Tortelduif wat skril haar plek op die tak reg bokant die griffier kom opeis, ingenome koer en die blerts presies op die griffier se skrywende vuis laat val.

“Ek roep die volgende getuie,” sê die aanklaer vinnig voordat iemand weer iets kan sê. “Meneer Willem Venter.”

Op die publieke stomp giggel ’n vrou, maar doof die geluid met ’n sakdoek toe die aanklaer omkyk en haar streng begluur.

“Dit is ’n hof dié, Mevrou!”

* Lees môre verder . . .

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.