Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
VERVOLG: Tussen die klippe (Dag 25)
Tussen die klippe

HOOFSTUK VYF-EN-TWINTIG

BEGIN BY HOOFSTUK EEN

“Dit was voordat ek en Liesbet getroud is,” begin Willem huiwerig en loer skuldig in die rigting van sy skoonpa onder die wurgvy. 

Toe kyk hy vraend na die mense op die stompe agter in die hof, asof hy na iemand soek. Seker na Liesbet. Toe sien ek haar, sy glimlag, en ek besef nou dat dit sy was wat Susanna gisteraand met die was kom help het. In die donker kon ek haar nie mooi sien nie, maar aan die plomperige lyfie herken ek haar nou as een van die twee Bothas wat die landdros gisteraand laat roep het. 

Of sy geweet het van die verhouding waaroor die aanklaer Willem nou dwing om te getuig, sal ek nie kan sê nie.

Seker nie, maar hy was immers nie tóé getroud nie. In elk geval, het ek teen hierdie tyd al agtergekom, in die Moot is die kleinste stukkie sonde die moeite werd om oor te praat. Hoe anders as die meeste gesprekke oor die weer of die wild of die vee handel?

Hoe en wanneer die verhouding begin het, weet Willem presies. 

Baie presies.

Dit was maar altyd so dat hy en Susanna met mekaar gepraat het, maar nooit oor iets soos liefde of so nie. Altyd sommer net oor gewone goed, al sou hy wat Willem is, toe hy ouer word, oor iets meer persoonliks wou praat, maar hy het van altyd af geweet sy is Meester se enigste kind en Meester en sy vrou was nog altyd bewus daarvan dat hulle eintlik ’n bietjie beter as die ander mense in die Moot is. Susanna het ’n mens ook gedurig laat verstaan dat haar ma eintlik ’n Viljee uit die Boland is. 


NOU BESKIKBAAR!

Opstand van Poppie Nel

DIE OPSTAND VAN POPPIE NEL

deur Hans du Plessis

Klik en koop hierdie boek en ander e-boeke op lapa.co.za


Van die Boland of van die Viljees het Willem nie veel geweet nie, net dat dit iets besonders moet wees.

Van die Espags het almal geweet. Geleerd en be­skaafd, al het hulle nie baie vee gehad nie, of landerye of iets nie. Almal het geweet dat Susanna die enigste kind was en dat niemand in die Moot goed genoeg was vir Meester en tant Letta se beeldskone, slim dogter nie.

Veral nie Vuil Willem Venter nie.

Al het hy gehelp bou daaraan, het Willem die Espags se huis, kort anderkant die spruit, later eintlik net van buite af geken. Darem een of twee keer in die kombuis gekom, maar nooit in die voorhuis nie. 

Dis nou nie dat Susanna self onvriendelik was nie, veral nie toe hulle ouer word nie. Toe hulle kinders was, het hulle mekaar skaars raakgesien. Eintlik, moet hy erken, het hulle nie juis van mekaar gehou nie.

Tot op die dag van die houthalery.

“Houthalery?” vra landdros Mentz.

Oom Dolf het Willem en sy pa gestuur om met die laaiwa vuurmaakhout anderkant die berg te gaan haal. Hulle moes Derdepoort deur, en oor oom Gawie Plessis se plaas. Die Botha-tweeling moes ook saam. Hulle ken die veld, en hulle kan jag. Vir die pot of as ’n leeu of iets by die osse pla. Vir ’n olifant of ’n buffel is hulle nie bang nie, hulle het al alles gejag en olifanttande is goeie geld op die mark in Potchefstroom.

Hulle moes Vrydag saamvat om tou te lei. Leratho moes ook saam, want hy was al van Blesberg se dae af by die Bothas omdat hy, soos hy self vir Dolf Botha verduidelik het, tussen die beeste grootgeword het. Leratho, het almal geweet, was die heel beste wadrywer in die Moot. Hy kon ostaal praat, het hulle gesê.

By Meester se huis moes hulle net stilhou en verneem of hy ook hout nodig het. Oom Dolf het Oorlog klaar oorgestuur om te vra dat Kleinjan Nortier van Tygerpoort af ook moes saamgaan om te help.

Dis nou nie dat Kleinjan Nortier veel van ’n hulp sou wees nie. Willem glimlag. Die ou is te lui om iets te doen. Hy is alewig aan die uitwerk hoeveel hy van sy pa se rykdom kan uitgee sodat iemand anders die werk vir hom kan doen.

Hulle sou Kleinjan by Meester se werf kry.

Toe hulle by Meester kom, was Kleinjan nog nie daar nie. 

“Môre, Meester. Môre, Letta,” het sy pa gegroet.

Hulle moes wag, maar daar was nie tyd om uit te span nie. Meester se vrou, tant Letta, het gesê hulle is seker al goed lus vir koffie en beskuit, want hulle is vroeg op, seker al ’n rukkie ook van Halflaer af weg. Hulle moet nou honger wees, of hoe?

Hulle moes net daar buite wag, sy stuur koffie en beskuit.

Sy het die twee Bothas ingenooi, maar nie die Venters nie.

“Die huisie is ’n bietjie klein vir so baie mense,” het sy gesê.

Maar hy wat Willem is, het goed geweet dat dit nie was omdat die huis so danig klein was nie. Hy het mos al gehoor Susanna sê die Venters is te vuil om in te nooi. Hulle slordige klipkamers is mos te ver van skoon, lopende water af, het die mense gesê.

Hy en sy pa het by die wa vir die koffie gesit en wag.

Gelukkig moes hulle nie te lank wag nie. 

Susanna en Ester het by die kombuisdeur uitgekom en vir Willem en sy pa elkeen ’n groot beker stomende koffie en twee beskuite gebring.

Ester het vir sy pa koffie gegee.

Toe Susanna die beker koffie vir Willem aangee, het sy met haar hand aan syne geraak. Aspris. Sy het nog reguit in sy oë gekyk, gelag en die beskuit op ’n piering langs hom neergesit.

Hy het die koffie gestort, sy hand gebrand, want hy het in haar oë bly kyk en gewens sy wil net weer aan sy hand raak. As sy pa nie naby was nie en as hy nie ’n beker koffie in sy hand gehad het nie, het hy nog gedink, sou hy net daar daardie begeerlike lyf teen hom vasgedruk het.

Hy weet sy sou nie gekeer het nie, want sy het haar lippe getuit en na hom toe uitgehou.

Hy wou haar soen, maar toe draai sy haar gesig laggend weg.

“Ek sal vir jou ’n stukkie seep leen en as jy jou gesig gewas het, kan jy my soen.” Toe lag sy weer en roep Ester agter haar aan huis toe. 

Amper het hy vergeet om sy koffie te drink en toe hy uiteindelik die eerste sluk vat, toe sê sy pa hy moenie alles opdrink nie.

“Jy moet net die helfte van jou beker koffie drink, Willem,” het sy pa gesê. 

Willem weet nie of sy pa gehoor het wat Susanna sê nie. Hy dink nie so nie.

“Hoekom, Pa?” het Willem gevra.

“Ek drink my beker ook net half, en ek eet net een beskuit.”

Willem het vraend na sy pa gekyk. “Is Pa dan nie ook honger nie? En lus vir koffie?” 

Oor die rand van die beker het sy pa so deur die stoom vir hom gekyk, ’n bietjie koffie geslurp en toe gesê: “Jy sien mos die meisiekinders het nie vir Vrydag of vir Leratho iets gebring om te drink nie. Hulle moet net so dors wees. Los vir Vrydag ’n halwe beker koffie en een van jou beskuite. Ek sal vir Leratho los, hulle is mos ook mense. Dit het jou oorle ma ons hoeka al geleer. Die tante het seker net vergeet van die volk.”

“Natuurlik het sy nie vergeet nie, maar my pa is mos nou maar so. Deel alles en glo almal.”

Die hof is stil, net ’n olyflyster wat in ’n suurpruim fluit.

“Het julle toe die hout gaan haal?” vra Kornelius.

* Lees môre verder . . .

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.