Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
VERVOLG: Tussen die klippe (Dag 40)
Tussen die klippe

HOOFSTUK VEERTIG

BEGIN BY HOOFSTUK EEN

Hoe ons op die onderwerp gekom het, weet ek nie presies nie, maar die gesprek later die middag om die vuur in ons kamp loop op die genadegawes uit. 

Dit het aanvanklik gegaan om die moontlike onskuld van die beklaagde.

“Sy is wragtag onskuldig,” het Joachim gesê asof hy gevra is om uitspraak te lewer.

Toe moes ek eers opstaan uit die rook uit, want die wind het skielik gedraai en ek moes my rug op die geselskap keer en die brand uit my oë vryf. 

Agter my het die gesprek aangestorm soos ’n tollie wat uitgebreek het.

As Charl Marais, of dan Wessel Pretorius, die swendelaar is soos wat ons op grond van sy eie getuienis moet aanvaar, dan bestaan die onwettige huwelik met Susanna eintlik nie, want daar is nie iemand soos Charl Marais nie. In elk geval is dit nie eens seker of daar ooit regtig ’n burgerlike seremonie was nie. 

Dit wil ook voorkom of dit hy was wat Kleinjan Nor­tier se testament vervals het.

“Wie lieg en wie lieg nie?” het Joachim gevra en by my verbygestap om vir elkeen ’n glasie wyn te loop skink.

“Dit is eintlik nie altyd lieg nie,” het Gawie Plessis die ander tot nadenke gestem. “Mense sien dieselfde saak van verskillende kante af omdat mense verskil.” Hy het die glas wat Joachim hom aanbied, ingedagte geneem.

Toe ek weer met die glas wyn in my hand kom sit, sê Kornelius iets in die rigting van dat ons moet verstaan dat die verskillende getuies van die afgelope dae eintlik maar net elkeen ’n onderdeel van die geheel is wat sou kon bewys dat Susanna nie skuldig is nie.

“So oordeel ’n mens maklik verkeerd,” sê Gawie ingedagte.

“Elkeen van ons het anders geoordeel,” erken Joachim.

“Elkeen het ’n ander gawe,” het ek weer aan die gesprek begin deelneem, “maar alle gawes kom van dieselfde Gees.”

“Party is kop en party is pote,” sê Joachim.


NOU BESKIKBAAR!

Opstand van Poppie Nel

DIE OPSTAND VAN POPPIE NEL

deur Hans du Plessis

Klik en koop hierdie boek en ander e-boeke op lapa.co.za


Eintlik het ek dit ernstiger bedoel, maar ek het ook oor die afgelope dae geleer om ou Joachim se opmer­kings nie te ernstig op te neem nie. 

“As een van ons skuldig is, is ons almal seker skuldig,” som Gawie deurdag die gang van die gesprek op, ingeval ons ander dit dalk nie kon volg nie.

“Sy is nie skuldig nie,” verdedig ek sonder dat iemand aanval.

“Een ding weet ek,” sê Kornelius goedig, “een van ons het die afgelope week die gawe van die liefde ontdek.”

“Die vraag,” sê Joachim en lag, “is nou net of die eerwaarde verlief is op ’n Espag, ’n Nortier, ’n Marais of dalk nog ’n Pretorius?”

Ek stry nie, lag maar net ewe verleë saam.

Hoekom sal ek oor die waarheid of oor die gawe van die liefde stry? 

Gelukkig staan Ester skielik in ons vuurkring.

“Susanna vra na dominee Johannes,” sê sy, glimlag, en die kuiltjie trek dieper in haar wang in. 

Langs haar kom Oorlog soos ’n beskermengel staan. Vir die eerste keer sien ek dat hy ook kan glimlag as dit moet.

Ek staan sonder ’n verdere woord op en loop saam met Ester en Oorlog aan Halflaer toe. Agter my hoor ek die ander drie gedemp gesels.

Ons is nog ’n hele ent van die sieketent af toe ek haar al hoor hoes. Hewiger as vroeër vandag, maak ek myself wys.

Toe ons by die tent kom, sê Ester: “Dominee moet net hier buite wag. Ek hoor by Liesbet.”

“Nag, Eerwaarde,” groet Oorlog.

“Seën vir jou, Oorlog, slaap lekker. Jy het ook die rus nodig.”

Ek wag, ek wag ongedurig terwyl Ester die tentflap ’n skrefie oopmaak en met Liesbet praat.

“Dominee is hier,” sê Ester.

“Ek kom,” hoor ek Liesbet antwoord.

Die tentseil ritsel en roer toe Liesbet Venter die flap oopklap en uitkom. Sy hou dit effe oop asof sy my innooi. 

Ek neem die flap en staan terug. 

Eers toe sy buite is, praat sy.

“Jy kan ingaan, Johannes. Sy het na jou gevra, want sy wil met jou praat.”

“Ek is hier,” sê ek.

“Sy is koorsig, en ons kry die koors nog nie gebreek nie.”

“Het jy iets vir die koors gegee?” vra ek asof ek sou weet wat vir die koorsigheid help.

“Kruie en flou asyn. Toe ook nog ’n dosis aalwyn. Sy moet onder die komberse bly sodat sy die koors uit kan sweet.”

“Sal dit help?” vra ek.

“Dit en gebed, Dominee,” antwoord Liesbet.

“Gebed is ’n goeie middel teen enige soort koors, dit is al medikasie wat ek ken.”

“Jy kan net ’n rukkie by haar sit. Kom roep ons by die vuur.” 

Toe is sy en Ester weg.

In die tent hoor ek haar hoes. 

Binne is net ’n flou lanternlig. Ek ruik weer my oorlede moeder in die sterk geur van kanfer. Al wat ek van Susanna sien, is haar bleek gesig en die donker hare wat oor die wit kussing sprei. Haar hande is twee bolletjies deeg bo-op die dik kombers gevou.

“Susanna?” fluister ek.

Sy maak nie haar oë oop nie. “Dankie dat jy gekom het, Johannes,” sê sy en ek ontstel my oor die swakheid van haar stem.

“Asseblief, liewe Vader,” bid ek en gaan op die kis voor die katel sit.

“Ek wil môre getuig,” sê sy.

Is dit dan al waarom dit gaan? wonder ek.

“Word eers gesond. Dit is nie nodig dat jy self voor die hof gaan staan nie. Eintlik het landdros Mentz net een moontlike uitspraak.”

Sy hoes. “Ek móét praat.”

“Word eers gesond.”

“Ek het ’n klinkende metaal geword.”

Eers dog ek sy yl, maar in die flou lig sien ek haar lippe beweeg en ek sien die sagte glimlag. Sy maak haar oë oop.

“Jy moet rus,” sê ek.

“Ons moet eers praat. Ek is onskuldig.”

“Ek weet.”

“Ek wou berge versit.” Sy wil haar kop lig, maar die hoesbui laat haar terugval op die kussing. Sy hou haar hand na my toe uit.

Hoe warm is haar hand nie!

“Dit maak nie meer saak nie,” antwoord ek en buig oor haar sodat sy my makliker kan hoor. “Dit kan wag.” Sonder om te dink, voeg ek by: “Die liefde is geduldig.”

“Jy het mos gehoor hoe ek mans misbruik het.”

Ek moet nog nader buig om te luister wat sy sê. Haar asem is vuurwarm teen my wang.

“Die liefde is nie jaloers nie, en dit hou nie boek van die kwaad nie.” 

Ons wange raak aan mekaar.

“Het ek dan nog hoop?” vra sy en haar oë gaan toe.

“Die liefde,” antwoord ek, “is die grootste genadegawe, daar is niks groter nie.”

“Lees vir my ’n stukkie, asseblief.” Sy hoes. “Iets oor die liefde.”

“Ek het nie my Bybel gebring nie,” moet ek tot my skande erken. Ek kan tog nie sê ek was so gretig om haar te sien dat ek nie eens daaraan gedink het nie?

Ek voel weer hoe warm haar hand is toe sy sag aan myne raak. 

“Ek het ’n Bybel,” sê sy en ek kan hoor hoe moeg sy is. “Al dink die Moot ek het nog nooit een gehad nie. In die kis.”

Ek lees uit Korinthiërs, maar voordat ek halfpad is, hoor ek dat sy onrustig slaap.

Ek staan op, bêre haar Bybel in die kis. Ek soen haar op haar warm voorkop en buk by die tentdeur uit om Liesbet te gaan roep.

Al wil ek hoe graag, maar hier kan ek niks meer doen nie.

Bid kan ek op enige ander plek.

Dit is een van daardie aande wat dit vir my voel God stap self hier onder op die grond saam met my tussen die rotse rond; sterre flikker psalms op maat van die koel keel van ’n tortel.

Dit is met die terugstap dat ek besef hoekom sy vir my reg aan die begin in Donkerhoek se kerktent so bekend gelyk het. 

Ek moes toe al die hoogtepunt van my naasteliefde in haar herken het.

Prys die Heer.

* Lees môre verder . . .

* Lees al die vorige hoofstukke onder Vermaak>Boeke

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.