Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
VERVOLG: Tussen die klippe (Dag 41)

Tussen die klippe
HOOFSTUK EEN-EN-VEERTIG

BEGIN BY HOOFSTUK EEN

Voordag was ek al by die sieketent, maar hulle wou my nie inlaat nie.

“Dit gaan beter,” is al wat ek uit Liesbet kon kry. 

Sy het nie eens die tentflap vir my oopgegooi nie, sommer van binne af deur die seil gepraat. En dit, het ek gister al gesien, sou nie eens help om te pleit nie. Ek wou die wroeging van die nag verduidelik, die kommer, die vrees dat sy nie gesond gaan word nie. 

Liesbet Venter se aandag is nou by haar pasiënt, sy het vrede met my nag van rondrol, dwaal en van bitter min slaap. Ek kry nie kans om van die klemming in my bors te vertel nie. 

“Jy is nou net in die pad,” het Liesbet sonder venyn van binne gesê. 

“Hoe gaan dit met haar?”

“Kalmeer, Johannes, dit lyk of ons die koors gebreek het.”

Dankie, Here, dankie vir u goedertierenheid. Dankie vir u liefde. Dankie vir ’n vrou soos Liesbet. Dankie vir my Susanna.

Ek het traag van die laer af teruggeloop na ons kampplek onder die bome.

Kornelius het koffie aangebied, maar selfs dit kon ek nie vanoggend sluk nie.

Ek sal eers glo as ek haar sien.

Hoe ek die ure tussen vanoggend en nou omgekry het, weet ek nie, maar nou sit ons al meer as ’n uur in die hof. Sit net en wag.

“Die beklaagde moet in alle billikheid voor die reg geleentheid gebied word om die hof toe te spreek,” moes die griffier die hof meer as een keer maan.


NOU BESKIKBAAR!

Opstand van Poppie Nel

DIE OPSTAND VAN POPPIE NEL

deur Hans du Plessis

Klik en koop hierdie boek en ander e-boeke op lapa.co.za


Vandag is die hof nog voller as gister, tot die diensbodes staan ’n entjie weg, nuuskierig oor die uitspraak, want die skuld is toe nie presies waar die los tonge dit geplak het nie. ’n Hele maatskappy kan tog nie so verkeerd oordeel nie? 

Ek kyk na die openbare stompe. Die voorste stomp is leeg, want Ester is seker nog saam met Liesbet by Susanna. Gysie en Willem sit stemmig langs mekaar op die tweede stomp. Charl Marais is natuurlik nie in die hof nie. Waar hy is, weet ek nie. Catharina, en die verpotte mannetjie neffens haar moet seker Hermaans wees. Die serafs om hulle geskaar. Agter hulle die vroue wat kook, die opgeskote dogters voor die jongens wat onder mekaar oor die meisies beduie. Ek ken nie al die mense nie, maar ek ken hulle bemoeisiekte. 

Dit voel vir my of die hele Moot vanmôre in die hof is. 

Toe eers neem die landdros en die heemraadslede hulle plek op die bank in.

“Die beklaagde sal met my toestemming ’n effe laat wees, maar sy sal haar saak binnekort kom stel.” 

Joachim Prinsloo sit skuins op sy stoel agter die tafel. Sonder om op te staan, reageer hy uit pure gewoonte op Mentz se opmerking.

“Sy is mos onskuldig. Maak klaar, dat ons kan gaan boer. Mielies skoffel hulle nie self nie, en jy weet mos dit het gereën.”

“Oor die uitspraak dink ek nog,” antwoord Mentz. “Ek wil ook eers haar kant van die saak aanhoor.” “Waar is die beklaagde nou, het julle dit dan nie vooraf met haar gereël nie?” vra Gawie.

“Ons het iemand gestuur om haar te gaan haal.”

Mentz kyk vraend na die aanklaer wat van die kookskerm se kant af aan die kom is. Natuurlik weet die aanklaertjie die hele Moot en sy hof wag in spanning op die afsluiting van die saak. Daarom, is ek oortuig, slenter hy eers tot by Mentz, fluister iets vir die landdros en gaan dan versigtig op sy stomp sit, maar moet nogtans vinnig sy regterhand op die grond stut sodat die stomp nie onder hom uitkantel nie.

Moedswillig so stadig as moontlik, besluit ek. 

Net om my te treiter.

“Die beklaagde is op pad,” kondig die landdros aan, en vervolg: “Die aanklaer het my pas meegedeel dat sy nog nie heeltemal gesond is nie, maar dat sy daarop aandring om die hof toe te spreek.”

Ek kyk om in die rigting van die laer. Dit moet dan inderdaad beter gaan, besluit ek. Aan die ander kant: Susanna stuit vir min dinge, het ek agtergekom. En gisteraand was sy koorsagtig adamant dat sy vandag wíl praat, haar kant van die saak wil stel.

Nou bring hulle haar. 

My hart ruk soos ’n snaphaan wat te veel kruit in die pan het. 

Die Botha-broers is nie weerskant van haar nie, hulle is nêrens te siene nie, net die liewe Liesbet wat saam met haar loop en haar kloekerig ondersteun. Ester besorgd ’n entjie agter hulle. 

Reg voor my gaan Susanna staan, kyk na my, glimlag en hou haar hand na my toe uit. Haar hand is koeler, nog nie heeltemal normaal nie, maar nie meer so vuurwarm soos gisteraand nie.

“Môre, Johannes.”

Met twee geel mispels voor my en ’n mond wat soos ’n uitnodiging lag, is my sinne weg, asof teruggroet uit baie woorde kan kies.

Ek sluk. 

Dit is selfs vir my ongeoefende oog duidelik dat Susanna vanoggend nie sommer net opgevlieg het en onder bevel materiaal oor haar lyf moes pluk nie. Selfs ek kan die hand van ’n vrou in haar versorging en haar klere sien.

“Ons het haar mooigemaak,” fluister Liesbet.

“Sy is mooi genoeg,” kies ek net mooi die sotlikste woorde.

Liesbet giggel effens en Susanna druk my hand.

Eers toe Susanna naby my op die beklaagdestoel gaan sit, onthou ek om my mond toe te maak.

“Sterkte,” sê ek darem onbeholpe.

“Ek is bly u is beter, Mevrou,” begin die ewig korrekte Mentz. “Voel u sterk genoeg om die hof toe te spreek?”

* Lees môre verder . . .

* Lees al die vorige hoofstukke onder Vermaak>Boeke

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.