Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
VERVOLG: Tussen die klippe (Dag 42)

Tussen die klippe
HOOFSTUK TWEE-EN-VEERTIG

BEGIN BY HOOFSTUK EEN

Sy wil opstaan, maar Mentz sê vinnig: “U kan gerus bly sit. Ek kan sien dat u nog nie sterk genoeg is nie, mevrou Marais,” hy bedink hom en stamel vir die heel eerste keer, “ek bedoel mevrou Nortier.”

“Kom ons hou maar by juffrou Espag,” vra sy en hou haar hand voor haar mond toe sy liggies hoes. Sy glimlag en kyk eers na my kant toe voordat sy praat. “Dankie vir die vergunning om my saak te stel, Edelagbare.”

Susanna begin by haar kinderjare, nie die besonderhede van die gebeurtenisse nie, net ’n enkele stelling of drie oor hoe gelukkig sy en Ester was om in só ’n huis groot te kon word. Liefde en omgee vir mekaar.

Haar ouers was haar alles. Miskien, gee sy toe, het sy as kind nader aan haar vader gevoel. Daarom was haar lewe daarop ingestel om sy goedkeuring te kry. Soms, erken sy, het sy selfs gejok net om sy guns te wen.

Nee, hy was nie kwaai of gewelddadig nie. Geweld het sy nooit geken nie. Sy kan nie onthou dat sy of Ester ooit lyfstraf gekry het nie. Nie by hom of by hulle ma nie. ’n Geslaan en ’n geskop en ’n geskree is onbe­skaafd, het haar ma hulle geleer.

Dit was eers in haar tienerjare dat sy moes leer om meer vir hom te lieg, maar daarvoor het sy soms ’n rede gehad. Ander kere weer het dit vir haar gevoel of sy net skielik in ’n diep, donker gat wegsak, dan weer opgeruimd en gereed om enige ding aan te pak. Hoekom, weet sy nie, maar haar pa het gelyk of hy haar buie verstaan en hulle kon daaroor praat. 

“Gee u om om die hof te vertel van ’n keer toe u, volgens u, vir hulle moes lieg?” vra die aanklaer, glad nie meer so aanvallend nie.

“Ek móés meer lieg.” Sy kyk reguit vir die landdros wat sy wenkbroue vraend optrek.

Sy verstaan sy woordelose gebaar en vertel verder.

Sy glo nie die mense van die Moot het dit altyd besef nie, maar die Espags het dit nooit baie breed gehad nie. Die enkele onderwysers saam op die trek, soos voor die trek op die voorpos, het nie juis ’n inkomste nie. Die meester en sy gesin is afhanklik van die goeie wil van die mense op wie se grond die skoolkamer of die skooltent gestaan het, het haar ma altyd vir hulle verduidelik. 


NOU BESKIKBAAR!

Opstand van Poppie Nel

DIE OPSTAND VAN POPPIE NEL

deur Hans du Plessis

Klik en koop hierdie boek en ander e-boeke op lapa.co.za


Die onderwyser en sy gesin was vir blyplek afhanklik van die familiehoof se guns, soos die bywoners en die knegte.

Soos hier op Hartebeespoort.

Die huis anderkant die perdedrif langs die wapad was die oom se huis. Die Espags het by grasie van sy genade woonplek gehad.

Totdat Susanna vrou geword het.

Toe moes sy dikwels oorstap na die oom toe – om hom met sy korrespondensie te gaan help.

Susanna bly lank stil.

Weer val haar mooi hande my op. En die senuagtige vleg van die vingers. Ek hoor haar sluk en kug.

Die korrespondensie was niks anders as ’n rookskerm nie. Hy het meer as skryfwerk van haar geëis.

“Gedreig om my vader van Hartebeespoort af te jaag.”

“Onthou net,” het hy meer as een keer gesê, “ek is lief vir jou, dan is niks tussen ons sonde nie.”

“Ek kon nie vertel nie.”

Sy kyk af op haar hande, haar skouers ruk.

Almal kyk na die wurgvy. 

Die veldkornet het op sy klip gaan sit met sy kop in sy hande. Agter hom staan sy dogter Liesbet. Regop met haar twee hande op sy hangskouers.

Mentz dring nie daarop aan dat Susanna verder praat nie. Hy wag dat sy haar emosies eers weer onder beheer kry.

“Ek is jammer,” sê Susanna en hoes. 

Nie Mentz of die aanklaer jaag haar aan nie, wag totdat sy op haar eie verder praat.

“Ek kan vandag my hare uit my kop uittrek. Ek het later gedink ek moes van die begin af met Willem getrou het.

“Hy is ’n man met integriteit,” sê sy. Glimlag mooi, kyk vir my en sê helder en duidelik: “Maar ek het hom nie regtig liefgehad nie. Ek het hierdie laaste maand eers geleer wat liefde is.”

Ek wil opstaan en haar teen my vasdruk. Maar ek durf nie.

“Miskien,” sê sy sag, “moet ek dankbaar wees dat ek aangekla is, anders sou die hof, maar veral ek, nooit die waarheid gesien het nie.”

Die reis Nagmaal toe, gaan Susanna heserig met haar relaas voort, was ’n fout. Die grootste fout wat sy nog ooit gemaak het. Sy het agterna eers besef hoe impulsief sy was, onverantwoordelik, maar toe het sy net die plesier daarvan wou insien. Sy verstaan dit self nie, maar partykeer voel dit vir haar of sy vir alles kans sien, alles lyk na ’n avontuur. 

“Ek het vir my pa gelieg, gesê ons gaan saam met Kleinjan Nortier-hulle. Willem kom ons net oplaai Tygerpoort toe. Ek het Ester oortuig om saam met my te lieg. Agterna dink ek my pa het die hele tyd geweet ek lieg, maar hy het niks gesê nie.”

Wie vir haar ouers gaan vertel het dat sy en Ester alleen saam met Willem Nagmaal toe is, weet sy nie, maar toe hulle dit uitvind, het Meester die kapkar laat inspan. Hulle sou in elk geval Nagmaal toe gaan.

Net nie so oorhaastig nie.

Toe verongeluk hulle.

Susanna sukkel om verder van die ongeluk te vertel, sy moet elke nou en dan stilbly, asemhaal en hoes of haar neus blaas.

Of dit van siekte of van ontsteltenis is, is moeilik om te sê. Seker albei.

Oorlog se boodskap het haar soos ’n kanonkoeël getref.

Sonder om te dink, het sy en Ester terug huis toe gejaag. Sy onthou nie dat hulle gerus het nie. 

Die perde het seker ook die pad huis toe vanself gekry. 

Haar impulsiwiteit, weet sy nou, het haar ouers se dood veroorsaak, en dat sy die oorsaak was, sal vir altyd by haar spook.

Van die begrafnis self kan sy nie veel onthou nie, want alles was toe ineens deurmekaar. Sy was vir ’n hele ruk weer onder in die donker gat van haar eie gevoelens. Dinge het aan haar verbygegaan sonder dat sy dit nou presies kan herroep.

Tant Catharina het alles gereël. Sy was haar daarvoor innig dankbaar, want self sou sy en Ester nie eers een begrafnis kon reël nie, wat nog van ’n dubbele begrafnis.

Seker eers ’n maand ná die begrafnis het Willem by Tygerpoort opgedaag.

“Ek is so jammer oor alles, Susanna. Ek kon nie vroeër kom nie, want ek moes eers al oom Dolf se besigheid in Potchefstroom afhandel.”

Dit was eers met Willem se besoek dat sy weer kon begin dink.

“Ek het jou by julle huis gaan soek,” het hy gesê.

“Ons bly nou maar vir eers hier op Tygerpoort. Hulle is goed vir ons,” het sy geantwoord.

Ná die besoek het sy en Ester gaan sit en bespreek hoe hulle verder sou gaan. Moes sy met Willem trou?

Hy sou nie vir hulle kon sorg nie, maar miskien kon hulle trou en dan kon Willem by hulle in haar ouers se huis kom woon.

Willem kon by die oom bly werk en sy en Ester sou die skool aan die gang hou.

Sy en Ester is terug huis toe. 

Dis toe dat oom Dolf op ’n dag voor die deur staan. 

Sy het hom ingenooi.

“Net tot in die kombuis?” het hy gevra en op ’n manier gelag wat haar bang gemaak het. “Wat van die slaapkamer? Jy weet mos hoe.”

Sy het vir Ester geskree om te kom help.

Die oom het in die kombuisdeur gaan staan. Sy was bang vir hom, bang soos toe sy sy briewe moes gaan skryf.

“Julle twee sal maar vir julle ander blyplek moet gaan soek.”

“Ons kan die skool ...”

Hy het haar nie eers kans gegee om klaar te praat nie.

“Ek wil g’n ’n meisiemens op Hartebeespoort as onderwyser hê nie. Wat weet jy?”

“Ek was goed genoeg om jou briewe te skryf.” Sy het kwaad geword.

“Sorg dat julle van my plaas af kom! Vandag nog.”

“Waarheen?”

“Jy spog mos daarmee dat jy altyd ’n plan het. Maak nou een.” Toe loop die oom.

Die hof is doodstil.

Onder die wurgvy is daar nou niemand nie.

Toe begin sy en Ester maar pak. Wat anders?

Dit is toe dat tant Catharina daar aankom. Sy het kom kyk hoe dit met die dogters gesteld is.

Arme kinders! 

Smeek, vertel Susanna, sou sy nie, nie by hom nie, by niemand nie.

Toe is hulle weer saam met tant Catharina daar weg.

Ná meer as ’n maand onder Catharina Nortier se dak het ’n huwelik met Kleinjan Nortier al na ’n uitkoms begin lyk.

Maar helaas, ’n uitkoms was dit toe beslis nie, en as Kleinjan nie eerste weggeloop het nie, het sy wat Susanna is, dit self gedoen. Dit was ’n fout.

Kleinjan was al meer as ’n maand weg toe Charl Marais daar opdaag met die nuus van Kleinjan se dood.

Die man was simpatiek, hulpvaardig en het vertel van sy rykdom wat aan die kom is.

Hy sou vir haar sorg.

En Ester kan ook saamkom.

“Die res,” sê Susanna en haar kop sak op haar bors asof sy leeggepraat is. Moeg en seker weer koorsig. “Die res van hierdie verhaal het die hof glo gister uit Charl se eie mond gehoor.”

* Lees môre verder . . .

* Lees al die vorige hoofstukke onder Vermaak>Boeke

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.