Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
VERVOLG: Tussen die klippe (Dag 43)

Tussen die klippe
HOOFSTUK DRIE-EN-VEERTIG

BEGIN BY HOOFSTUK EEN

Ons wag op landdros Didimus Mentz se uitspraak.

Ek bly onseker, want ek weet nie of hy die saak sal sien soos wat ek dit sien nie. Vandag weet ek wat Johannes is, dat alles steeds op ’n keerpunt staan en dat my wêreld op die skerpte van ’n mes weeg.

Totdat landdros Mentz inkom, sy strikdas regskuif en oor sy netjiese hare vryf. Toe, asof die tyd ’n verskil kan maak, haal hy sy horlosie uit sy onderbaadjiesak. Eers toe hy dit sorgvuldig terugsit, sê hy: “Hierdie hof het oor die afgelope dae die getuienisse aangehoor.” Hy bly stil, moedswillig, dink ek toe hy eers na die aanklaer en toe na my kyk. Dalk verbeel ek my dit net. “Op grond van alles wat getuig is,” vervolg hy, “moet ons na die waarheid soek. Ek kan, soos die ander lede van die jurie, die waarheid wat ek uit die getuienis kry, met die hof deel, maar voordat ek dit doen, wil ek egter my heemraadslede en my geswore lede die geleentheid bied om húlle siening van die waarheid in hierdie saak met die hof te deel.”

Kan die man dan nie uitspraak lewer en klaarkry nie?

Mentz moet eers sy rede hou totdat die rooi hoenderhaan op een van die watente klaar gekraai het. Toe sê die landdros: “Ons luister graag.” 

Op die stompe brom die openbare galery. Die aanklaer kug agter sy vuisie en griffier Pietman skryf so oorhaastig dat die aasvoëlveer se punt oopbuig en die landdros eers weer moet wag dat die griffier sy pen se punt puntenerig skerp sny.

Toe eers kyk landdros Mentz vraend na die eerste heemraadslid, Joachim Prinsloo, en ek wag op die beswaar.


NOU BESKIKBAAR!

Opstand van Poppie Nel

DIE OPSTAND VAN POPPIE NEL

deur Hans du Plessis

Klik en koop hierdie boek en ander e-boeke op lapa.co.za


Joachim kom stadig orent, strek sy maer lyf tot sy volle lengte en nadat hy sy twee maer hande plat op die regbank geplaas het, sê hy bykans bewoë: “Soos ek gedink het, Edele,” en hy vang die hof vas in ’n uitgeteerde stilte voordat hy mompelend sê: “Onskuldig, Edele.”

Toe wend Mentz hom tot die tweede heemraadslid, Gawie Plessis, wat oorwoë opstaan, die hofgangers een vir een deurkyk voordat hy selfvoldaan in sy baard glimlag, bestudeerd kug en deurdag, verlossend verklaar: “Agbare, ek was van meet af aan van oordeel dat die getuies die hof tot nuwe insig sou beweeg, Agbare. Met die getuienis tot my beskikking, en ná ernstige oorweging bevind ek die beklaagde onskuldig, Agbare. Onskuldig aan poliandrie en onskuldig aan die verval­sing van enige dokument.”

“Kornelius?”

“Op grond van die regsbeginsel het die hof ook die beklaagde party aangehoor en alles in ag geneem, moet ek die heemraadslede gelyk gee. Onskuldig, Edelagbare.”

“Voordat ek dominee Johannes die geleentheid gee om sy oordeel uit te spreek, wil ek die hof inlig dat ek in ooreenstemming met Artikel 12 van die Drie en Dertig Artikels Wessel Pretorius, alias Charl Marais, alias Roux, laat arresteer het en in ’n huis van burgerlike arres laat aanhou. Ek is ook van plan om in my memorie aan die agbare volksraad aan te beveel dat daar verdere ondersoek ingestel word na die doen en late van veldkornet Dolf Botha. Ek sal ook aanbeveel dat Kleinjan Nortier opgespoor en verder ondervra word.” 

Oë draai in die rigting van die leë wurgvy.

“Dominee?” vra Mentz.

Ek kom stadig orent. Oordink my volgende beweging, maar loop tog die tree of wat in Susanna se rigting en gaan agter haar stoel staan.

“Ons het die waarheid tussen die klippe gevind, Edelagbare, en daaroor is ek verheug.”  Kies jou woorde versigtiger, Johannes, jy staan in ’n hof, nie voor jou gemeente nie. Jy moet verkondig, nie versondig nie. 

“Die grootste waarheid ís die liefde en die liefde ís die waarheid.” Ek sit my hande op Susanna se skouers, en ek voel hoe sy hare sag en warm oor myne vou. Ek dink eers, formuleer en herformuleer in my gedagtes voordat ek verder praat. 

“My reis tot hier het my geleer dat daar naas die liefde vir God ook liefde op die aarde is.” Ek gee haar, ongemerk hoop ek, ’n drukkie op die skouers. Sy kyk skuins op na my.

“Die liefde, Edelagbare broer, staan, so glo ek nou, nie op twee aparte kliptafels geskrywe nie. Die twee testamente is maar een verbond van liefde. As dit afsonderlik bly, kan dit ineenstort.”

“Skuldig?” vra Mentz met ’n glimlag.

“Onskuldig, Edelagbare, onskuldig op albei aanklagte.” Ek wag en sê dan: “Sy mag skuldig wees aan die sonde, Edelagbare, maar dat dié een van ons wat nie ’n mens is nie, die eerste klip gooi. En as jy ’n klip soek, soek dan eers die Sluitklip van die Liefde.”

“Dankie, Dominee. Die beklaagde is onskuldig, onskuldig aan veelmannery en onskuldig aan bedrog.”

Ek wou net gaan sit, en ek dink landdros Mentz was op die punt om die hof te verdaag, toe die kabaal agter die doringbos losbars.

Die volgende oomblik spreek Vrydag die hof toe: “Julle moet gou kom,” hyg hy uitasem en gaan staan vooroor met sy hande op sy knieë. Groot, wit oë. “Gou! Daar’s ’n hele trop olifante hier onder in die vlei.”

“Tande?” vra Joachim.

“Tien groot tande, ten minste.”

Selfs die regbank is skielik leeg. 

Tot die landdros en my goeie vriend Kornelius is saam met die mans agter die olifante aan. 

Hoe het Org nou weer gesê? Julle moet diere toelaat om diere te wees.

Maar sal ons dit ooit leer?

Die vroue holderstebolder kookskerm toe om solank water in die groot potte te gaan kook. 

* Lees môre verder . . .

* Lees al die vorige hoofstukke onder Vermaak>Boeke

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.