Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
VERVOLG: Tussen die klippe (Dag 44 en 45)

Tussen die klippe
HOOFSTUK VIER-EN-VEERTIG

BEGIN BY HOOFSTUK EEN

Selfbewus draai ek na Susanna toe. Ons is alleen.

Op die regbank blaai windvingers delikaat deur landdros Mentz en griffier Pietman Erasmus se hofstukke. Ek buk af en soek na iets gewigtigs om op die notas te sit. Ek kan tog nie net staan en toekyk hoedat ’n wind die noukeurige hofverslag van die tafel afvee nie. Ek tel twee klippe op en kom regop. 

Net ek het oorgebly; ek, Johannes, en die vrou hier in die middel.

“Susanna, waar is hulle? Het niemand jou veroordeel nie?”

“Niemand nie, Johannes,” sê sy.

“Ek veroordeel jou ook nie.” 

“En noudat alles hier verby is?” vra sy.

“Nou is my sending voltooi.” Ek sluk aan die knop in my keel. “Ek sal moet teruggaan Kolonie toe.” Die deernis wat in my opwel, maak dat ek nie verder kan praat nie.

“Moet my nie vergeet nie.” 

Miskien wíl ek maar net dieselfde deernis in haar koperoë bespeur.

“Ek sal nie,” antwoord ek onbeholpe. “Ek kán nie.”

“Kom jy terug?”

“Ek sou wou, maar hoe ek dit gaan regkry, weet ek nog nie.”

“Móét jy teruggaan?” Sy glimlag moeg. 

“Ek moet aan die sinode gaan verslag doen.”


NOU BESKIKBAAR!

Opstand van Poppie Nel

DIE OPSTAND VAN POPPIE NEL

deur Hans du Plessis

Klik en koop hierdie boek en ander e-boeke op lapa.co.za


Die donker hare is weer ’n krullerige raam om haar mooi gesig, haar mond sag en die spanning van die afgelope dae is uit haar stem uit.

Dit is dan die aardse liefde, dink ek.  Ek kyk na haar en sien hoe sy vir my kyk. 

Daar is tog mos net een liefde? 

En dít is in die hemel gemaak, of dit uit die sterre wink, of tussen klip rinkink.

Maar, en ek weet nie hoe om dit vir haar te sê nie, ek besef dat daar nog baie onsekerheid vir hierdie verhouding van ons voorlê. So maklik besweer ’n mens nie die verdenking nie.

“Ek moet ook eers my eie twyfel opklaar,” sê sy en hoes. “Ek moet weet wat van Kleinjan geword het.”

“Hulle sê mos hulle het hom lewend gesien.”

“Selfs dit is nie seker nie.”

Steeds staan alles op ’n keerpunt.

Alles, behalwe die liefde?

“Jy kan dink hoe smal die poort terug na ’n nuwe lewe saam sal wees?” vra ek. “Die deurgang sal nie moeiteloos wees nie.”

“Ek is lief vir die Moot, Johannes, moet ek hier uit?”

“Ons sal saam daardeur.”

“Ek moet net eers herstel.”

“Jy sal gesond word, dit glo ek.”

“Ek hoop so,” antwoord sy, maak haar oë toe en sit haar mooi hande oor haar gesig.

En die grootste hiervan is die liefde, wil ek sê, maar die ewige Liesbet kom haar haal.

“Sy moet rus, liewe Johannes. Herstel is nooit ’n uitgemaakte saak nie.”


HOOFSTUK VYF-EN-VEERTIG

Die twyfel bespring my soos ’n tierboskat. 

Die hof onder die wildesering is verlate, net ’n opdraande tafel, afdraande stoele en drie rye leë stompe. Pakkies papiere, die opgetekende waarheid van die week.

Dofweg die vrouestemme agter die paaltjies van die kookskerm. 

Verder die vreemde stilte waarvan net hierdie binneland weet. 

Die laer is nie net half nie, dit is dolleeg. 

Soos ek.

Totdat die arend hoog bokant my krys. Ek kyk op. Boodskap van die kroon van die voëls, onthou ek. Dit is hoekom ek gestuur is: om die evangelie van lewe en liefde te kom verkondig.

Nou móét ek terug Kolonie toe, al wil ek in die Moot bly. Hoe kies ’n mens tussen moet en wil, Here; tussen hemel en aarde?

Ek loop van die hof af weg omdat dit nie meer bestaan nie. My taak hier in die Moot is afgehandel. Maar ek kan tog nie net so my Bybel vat, Bileam pak en terugreis Kolonie toe nie? 

Die waarheid is dat ek nie wíl teruggaan nie.

Dit is, lyk dit nou vir my, nie net Susanna wat my tussen die berge hou nie. Ek het gewoond geraak aan die Moot, asof die poorte buitetoe vir my ook toegegaan het.

Ondertoe, vlei se kant toe, weet ek, is die mans agter olifante aan. Ek hoor skote klap, ’n olifant trompetter, mans skree. Skote en nogmaals skote. ’n Gedreun wat ek selfs hier onder die verlate sering in my voete voel, en ek weet dit is net die paar groot pote van die gelukkiges met die klein tande wat vandag die harde grond van die vlakte haal.

Ek móét haar sien voordat ek vertrek, maar Liesbet het Susanna kom haal, en ek weet ek sal nie toegelaat word om haar nou te sien nie.

“Sy moet rus,” sal Liesbet sonder vrees vir teëspraak sê, en sy sal simpatiek glimlag, maar nie toegee nie.

Ek stap swaar terug kamp toe. Kan dit wees dat ek nog nie eens ’n week in die Moot is nie? Dit voel soos ’n leeftyd.

By ons kamp gaan ek mismoedig by die vuurmaakplek staan. Die vuur het oud geword en die as lê ’n morbiede hopie grys, sonder hoop op hitte.

Ek gaan op ’n klip sit en staar in die as.

“Ek kom net groet.” 

Ek het niemand hoor naderkom nie, maar Didimus Mentz gaan oorkant my sit.

“Wat van die olifante?”

“Dit is die Moot se ivoor,” antwoord Didimus eenvoudig. “Ek moet Potchefstroom toe.”

“So gou?” 

“Ja, ek kan nie anders nie. Charl Marais, of wat sy naam ook al is, moet in ’n regte tronk kom en in ’n hoër hof as dié een verhoor word. Ek het die twee Botha-manne gevra om saam met my te gaan.”

“Bang Pretorius oortuig jou tussen hier en die hoofdorp van sy onskuld?” spot ek.

Mentz glimlag. “Dis juis my bekommernis oor die hoofdorp wat my ook terugdryf.”

“Ek verstaan nie?” 

“Die binneland noord van die Gariep balanseer op ’n mespunt, my vriend. Die Kaapse owerheid sou al die hele gebied tot aan die Limpopo geannekseer het as dit nie vir die ekonomiese onsekerheid in Brittanje was nie.”

Mentz haal versigtig sy pyp uit en toe sy tabaksak van steenbokvel. Hy stop sy handgemaakte pyp in stilte, asof die ritueel nie terselfdertyd ’n diep gesprek wil toelaat nie. Eers toe hy met ’n gesukkel ’n vlam uit die tonteldoos kry en die rook uitblaas, sê hy: “Ons emigranteland staan op die drempel van groot oorgange.

Potgieter se isolasioniste en Pretorius se republikeine sal nou moet saamstaan en sekerheid oor hulle eie vryheidstrewe begin kry. Tot nou toe kon hulle nog nie eers oor ’n administratiewe hoofdorp saamstem nie. Ek voorspel dat nie Potchefstroom of Lydenburg of Soutpansberg die setel gaan wees nie.”

“Waar anders?” vra ek.

“Ek hoor die burgers al meer praat van ’n dorp hier anderkant aan die Apiesrivier in die bontveld.”

“Sal ons ooit vrede met onsself maak?” vra ek.

Mentz lag sag. “Pretorius en Potgieter is albei al gevorderd in hulle jare. Ek sien die onsekerheid oral, maar ek voorspel ’n nuwe begin sodra ons met die Engelse een of ander ooreenkoms kan aangaan. Dis onsekerheid wat mense verdeel. Miskien kan ons eendag nog ’n volk word.”

“Eers as daar vryheid is,” sê ek.

“Vryheid?” mymer Mentz. “Vryheid is ’n gevoel, nie ’n geskrif nie.” 

“Nogtans bid ek dat jou voorspelling reg is.”

Mentz staan op, vryf sy hand aan sy broekspyp af en steek dit na my toe uit.

“Dankie vir jou aandeel aan die waarheid, Johannes.”

Ons handdruk is stewig. Hy kyk reguit in my oë.

“Jy en Susanna het ook ’n hele reeks berge om oor te trek, en die poorte is maar smal, my vriend. Sy bly ’n getroude vrou, en jy ken ook al hierdie moot. Sterkte.”

Ek sien hom onder die lae tak van die witstinkhout deurbuk.

“Dankie, my broer,” sê ek agter hom aan, maar ek weet nie of hy my gehoor het nie.

* Lees môre verder . . .

* Lees al die vorige hoofstukke onder Vermaak>Boeke

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.