Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
VERVOLG: Tussen die klippe (Dag 6)

Tussen die klippe
HOOFSTUK SES

* BEGIN BY HOOFSTUK EEN

Ek was al bykans weer op pad terug Kolonie toe toe ek die boodskap oor die Hof van Landdros en Heemrade op Hartebeespoort kry. Ek was nog op Donkerhoek en waar dié Hartebeespoort was, moes ek eers onder die mense verneem. Gelukkig was hulle al gewoond aan my ewige weetgierigheid oor die binneland. 

Ek het ook nie geweet dat die hofsaak om dieselfde vrou gaan nie, dit het ek vanoggend eers uitgevind toe sy die hof ingesleep word. Sou ek ingestem het om geswore lid van die hof te wees as ek geweet het wie die gedaagde is? Ek weet nie vir seker nie, maar ek glo nie. Aan die ander kant, moet ek erken, ek sou haar weer wou sien. Nie dat ek op Donkerhoek buite die kerkraadsvergadering ooit ’n woord met haar gepraat het nie.

Die aanvanklike boodskap van landdros Mentz oor die hofsaak was in ieder geval maar aan die duister kant, soos wat die meeste goed in hierdie onvaste binneland vir my duister is.

Soos Helena se ontydige dood – asof die dood ooit tydig kan wees.

“U moet die sitting van die Hof van Landdros en Heemrade op die plaas Hartebeespoort as geswore lid bywoon. Die hof sit in die week van 20 tot 24 Januarie. U moet asseblief so sewe dae daarvoor opsysit,” het die boodskap in die skrif soos dié van ’n kind gelui. 


NOU BESKIKBAAR!

Opstand van Poppie Nel

DIE OPSTAND VAN POPPIE NEL

deur Hans du Plessis

Klik en koop hierdie boek en ander e-boeke op lapa.co.za


Die boodskapper het met sy hoed in sy hand in die snikhete somer langs sy skimmelhings bly staan en gewag totdat ek die boodskap klaar gelees het. 

As daar benewens die landdros en die heemrade ook geswore lede as jurie moes sit, het ek geweet, was dit inderdaad ’n ernstige aanklag, want by kleiner sake sit net die landdros self. Net vir groter sake word heemraadslede ingeroep. Eers in die geval van ’n baie ernstige klag word gewone burgers soos ek vir die betrokke saak ingesweer om die landdros en heemrade in die oordeel by te staan. Ek sou by die aanvang van die hof ingesweer word. 

Daarom het dit aan my verbygegaan dat die beskuldigde die jongvrou voor Donkerhoek se kerkraad kon wees. “Wie word voor die hof gebring?” het ek vir die boodskapper gevra en onder die genadige skaduwee van die groot raasblaar ingeskuif omdat die son skielik soos ’n gestopte saalsak oor my skouers gevoel het.

“Die vrou, meneer Johannes.” Die boodskapper het sy hoed met die tarentaalveer ingenome na die ander hand oorgesit, toe selfvoldaan sonder voortande gelag.

“Waarvan word sy aangekla, my broertjie?”

“Van die sonde, meneer Johannes.”

“Sonde?” het ek gevra. “Watse sonde?”

“Nee, Meneer, dié sal ek nou nie weet nie. Hulle het my nie gesê nie, die magistraat het my net met die boodskap uitgestuur.”

“Ken jy die vrou?”

“Nee, Meneer, maar dis hoeka tyd dat hulle haar voor die wet vat.”

“Ek dog jy sê jy ken haar nie?”

“Is net so, Meneer, maar ek hoor sy is ’n sleg mens.”

Dit is hierdie sin van die boodskapper wat my daartoe gedwing het om my tog te laat insweer. Sodat ek agter die waarheid kan kom, want al is ek nie self die waarheid nie, ken ek die waarheid.

“Sê vir die landdros dis reg so.” 

Die boodskapper het al sy gespierde linkerbeen gelig om sy voet in die stiebeuel te sit, toe ek vra: “Jou naam is mos Vrydag?”

“Is net so, Meneer.”

“Gaan jy oorbly?”

“Nee, meneer Johannes, ek moet die boodskap voor vanaand verder uitdra.”

“Kom, kom drink dan net eers ’n kommetjie koffie.”

“Dankie, meneer Johannes, maar ’n beker water sal reg wees.”

“Daarvan het ek genoeg, my broer, my fontein is sterk.”

Ek het Vrydag agternagekyk en na my tydelike verblyfplekkie in die tent op Donkerhoek se werf gedrentel om vir Maandag te gaan voorberei. Nie dat ek besonderlik na die dag uitgesien het nie. Vir hierdie hofsaak was ek nie lus nie. Ek hou nie van vae hofsake nie omdat dit meesal soos die soeke na die waarheid lyk, terwyl dit eintlik ’n uitgerekte fees van die leuen kan wees. 

Dit is asof ek self aangekla staan, al weet ek ek is ’n gestuurde van die sinode op soek na die waarheid. Daarom wou ek nog nooit ’n heemraadslid wees nie, al het hulle my in die Kolonie al gevra of ek my daarvoor verkiesbaar sou stel. 

Dit is immers nie my roeping nie. Die oordeel kom my nie toe nie. En hier is ek ’n inkommer wat na die duister binneland noord van die Vaal gestuur is in diens van my geloofsgenote. 

Ek was mos nie deel van die voortrek nie. Later in opdrag binneland toe gestuur omdat die binnelanders ’n gestuurde nodig had. Iemand wat die waarheid liefhet, het my ou vriend Petrus Gous in die laatherfs uit die binneland laat weet. Hy het geskryf hoe nodig hulle my het by die kerkraadsvergadering, waarby hy ook as konsulent moes wees. Sy brief het die laaste bietjie twyfel in my besweer. 

* Lees môre verder . . .

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.