Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
VERVOLG: Tussen die klippe (Dag 7 en Dag 8)

Tussen die klippe
HOOFSTUK SEWE

BEGIN BY HOOFSTUK EEN

Ek en Bileam is toe van die Swartberg af na my broer Jakobus in Graaff-Reinet. Ek wou die saak finaal met hom bespreek. Soos altyd het ons saamgepraat en saamgebid. Toe kon ek ’n brief aan die sinode en aan my eie gemeente stuur. My derde brief was dié aan my vriend Gous waarin ek hom kon laat weet:

Van Johannes.

Liewe Gous,

Ek hoop dat dit met jou liggaam net so goed as met jou gees gaan. Hulle het hier in die Kolonie kom vertel van jou liefde. 

Help die reisigers in die binneland asseblief op hulle verdere reis op ’n wyse soos God dit verwag, want hulle is op pad om Christus te verkondig, en hulle ontvang niks van die nasies nie.

Dit is óns plig om sulke mense te ondersteun, sodat ons daardeur ons deel kan bydra tot die verspreiding van die waarheid. 

Ek het ook ’n briefie aan die gemeente van Donkerhoek geskrywe, maar ’n vreemde ouderling wat danig daarop gesteld is dat hy ’n geestelike leier is, aanvaar nie ons gesag nie.

Daarom sal ek die dinge wat hy doen, ter sprake bring as ek daarheen kom: hy versprei slegte en vals gerugte oor ons; en asof dit nie genoeg is nie, ontvang hyself ook nie die medegelowiges nie, en dié wat dit wil doen, belet hy en ban hy uit die gemeente. 

Van dié nuwe gemeente getuig almal net wat goed is, en ook die waarheid bevestig dit. Ons getuig dit ook, en jy weet dat ons getuienis waar is. 

Ek moet vir jou nog baie goed sê, maar ek wil dit nie skriftelik doen nie. Ek hoop egter om jou binnekort op Donkerhoek te sien. Dan kan ons persoonlik praat. 

Ek wens jou vrede toe. Die vriende hier stuur vir jou groete. Dra my groete oor aan die vriende daar, aan elkeen persoonlik.

Toe eers kon ek die Sinodale Kommissie finaal laat weet wanneer ek die sending aanvaar en die bitter reis binneland toe sou aanpak. Hulle het laat weet dat ek saam met ene Org van Breda sou kon reis omdat hy as togryer die wapad en sy gevare ken, en hy was in elk geval op pad noorde toe.


NOU BESKIKBAAR!

Opstand van Poppie Nel

DIE OPSTAND VAN POPPIE NEL

deur Hans du Plessis

Klik en koop hierdie boek en ander e-boeke op lapa.co.za


HOOFSTUK AGT 

Dit is hoe dit gekom het dat ek aan die einde van ’n mooi herfs my bondeltjie besittings en my Bybel gevat, dit op Bileam gelaai, en in Graaff-Reinet op Org van Breda gaan wag het.

Niemand het vir my gesê Org se opgeskote dogter, Helena, is ook deel van die trekgeselskap nie. Ten spyte van my vyf en dertig jaar is vrouens nog vir my ’n vreemde verskynsel.

Ek het dit oorweeg om ander reisreëlings te tref, maar ek het gou geleer dat Org van Breda hom nie juis aan ander se planne steur nie; hy het sy eie werk wat gedoen moet word.

“Ons sal jou nie hinder solank jy en jou esel ons nie hinder nie,” het hy sommer reg aan die begin gesê. “Ek het nog nooit gehoor van iemand wat op ’n donkie die binneland wil infoeter nie,” het hy bygevoeg en donderend gelag.

Lag, het ek gou agtergekom, is Org van Breda se manier om alles af te maak, en die lag het van diep uit sy groot maag opgestyg totdat dit by sy mond uitborrel. Dan het hy eers die effense skuimkolletjies met ’n duim en wysvinger uit sy mondhoeke gepik en aan sy hemp afgevee. Daarmee was enige probleem opgelos. Teen so ’n oordonderende stem en sulke skopgrawe vir hande stry ’n mens nie.

“Ek hoor jy is ’n prediker,” het hy die eerste aand by die vuur al gesê, ’n stukkie donker pruimtwak met sy knipmes afgekerf en in sy kies geprop. “Moet net nie vir my kom preek nie. Ek glo nie meer in ’n kerk nie.”

Natuurlik was Org nie die eerste vervreemde waarmee ek in my bediening te doen gekry het nie, maar hy was anders.

“Julle Christene se probleem is dat julle die liefde tussen die sterre verkondig, maar die liefde tussen die klippe dié verraai julle.” Hy lag en vee skuimdruppels uit sy mondhoeke.

“Bedink die dinge wat daarbo is,” het ek ewe voortvarend Kolossense aangehaal, “nie dit wat op die aarde is nie.”

“Seker dié wat die mense almal hemel toe is en nie Christus wat aarde toe gekom het nie?”

“Liefde,” het ek bedroë probeer verweer, maar Org het die res van die sin wat ek wou sê, weggelag en ’n fyn, bruin straaltjie tussen sy voortande deur in die vuur gespoeg.

“Onder watse boom sit ons vanaand?” het hy oënskynlik verbandloos gevra.

Ek het opgekyk na die boom bokant ons. Ek het, toe ons uitgespan het, al gewonder watse boom dit is met die blinkerige, donkergroen blare en die stamme wat amper soos sitbanke sprei.

“Ek weet nie,” moes ek erken.

“Olienhout,” het Org gesê en weer gelag. “Sien, julle Calviniste, julle ken nie Calvyn nie. Jy is mos ’n Calvinis?”

Die man het my skoon deurmekaar gepraat. “Ek is,” het ek verleë geantwoord.

“Calvyn skryf in sy Institusie oor die kennis van God, en kennis van God impliseer vir my sekerlik ook kennis van sy skepping, maar jy wat dominee is, weet nie eers onder watse boom sit jy nie.” Hy lag bulderend.

“Van nou af sal ek vra,” het ek geantwoord omdat ek vir die eerste keer daaroor begin dink het. Ken ek die skepping?

“Jy moet die skepping ken, my vriend, en jy moet leer om diere toe te laat om diere te wees,” sê Org en staan op.

Dit is van toe af dat ek altyd vra watter boom en plant en voël en dier ons op die trekpad sien.

“Hoekom ken jy Calvyn?” vra ek later vir Org.

“My ou vader was ’n predikant uit Holland. Hy het my leer lees.” Hy sit nadenkend in die vuur en kyk. “Miskien het ek te veel gelees.”

“Ek glo in God,” verklaar ek, nie net om die stelling te maak nie, maar ook omdat ek geïnteresseerd is in die man se vreemde manier van dink.

“Glo jy maar, my vriend.”

Toe praat hy verder met sy dogter Helena.

Ek kon Helena toe nog glad nie kleinkry nie. Sy was ’n kort, stewige meisiekind, seker so sewentien, agtien. Mooi was sy regtig nie. Kortgeknipte, valerige hare, bruin oë wat lyk of hulle by jou verbykyk, asof sy sku is. Ek het haar nog net in ’n manshemp en ferweelbroek gesien. Velskoene en ’n manshoed met ’n breë, swart band om die ronde bol, en, kan jy dit glo, sy sit op ’n perd soos wat ’n man sit. Tog was daar iets onverklaarbaar vrouliks in die meisie, veral wanneer sy sag en duidelik praat, nogal onverwags beheers en beskaafd vir die dogter van so ’n ongeslypte vader.

Maar dit was veral die verhouding tussen haar en haar pa wat my opgeval het, amper asof dit die twee persoonlikhede weerspreek. Dit was ’n voorbeeld van wedersydse respek, inderdaad ’n voorbeeld van liefde op die aarde, het ek gedink. Die liefde tussen mense waarvan haar pa praat.

Ons was seker al meer as ’n maand op trek voordat ek en Helena vir die eerste keer eintlik ’n volle gesprek gevoer het. Tot op daardie stadium was ons woorde aan mekaar beperk tot goed soos môre of naand, iets soos wil jy koffie hê?, ja of nee, dankie.

Totdat sy op ’n oggend vir die eerste keer direk met my praat.

“Lees jy Bybel?” het sy gevra en ’n entjie van my af kom staan, en ek het my verbeel daar is iets soos ’n sinisme in haar stem.

Ek het selfbewus probeer voorgee dat ek op die teks voor my konsentreer, maar, moet ek bieg, ek het vir die oomblik nie eens geweet waar ek aan die lees was nie. Vrouens, veral jongvrouens, was nie deel van my lewe nie.

Ek het net so met die Bybel oop op my skoot voor my bly sit. Iewers in die lang wintergras het ek kwar­tels – het Org my geleer – hoor giggel. Ek het skielik ook nie meer die ysigheid van die oostewind so skerp in my blaaie gevoel nie.

Helena het oorkant my anderkant die vuur op ’n stomp gaan sit, ’n droë stok opgetel en ingedagte daarmee in die warm kole begin krap. Hoe mooi was haar hande nie, sterk, maar slanker as wat ek gedink het.

“Ek sien jy lees elke dag,” het sy gesê en met die lang stok in die vuur bly speel.

“Die Woord is my hele lewe,” het ek gesê en die Bybel toegemaak, maar my voorvinger tussen die bladsye waar ek besig was om te lees, probeer hou.

Sy het op die stok gekonsentreer totdat daar ’n vlammetjie uit die droë punt opspring.

“Kan jy lees?” het ek gevra toe sy nie verder praat nie.

“Natuurlik.” Sy het geamuseerd gelag. “Lees én skryf.”

“O.” Ek kon nie aan ’n beter antwoord dink nie, en dit opgevolg met ’n onbeholpe vraag: “Trek jou ma nooit saam met julle nie?”

“My moeder is dood toe ek nog maar bitter klein was, vier, as ek reg onthou.”

“Ek is jammer.” Nog meer onbeholpe.

“Oor my ma of oor jou vraag?” het sy gespot.

Wat kon ek anders doen as om verleë saam te lag?

“Was jy in die Kaap op skool?” Ek weet nie hoekom ek dit nie reguit gevra het nie, want eintlik wou ek weet of sy ooit in ’n skool was. Miskien was ek bloot nuuskierig, of, het ek agterna gewonder, het ek al meer in hierdie mens belanggestel? Ek wou meer van haar weet, want onnosel of onopgevoed was sy beslis nie.

“Ek was nooit skool toe nie. Vader het my sedert my moeder se dood nooit onder sy oog laat uitgaan nie. Letterlik en figuurlik. Hy het my self leer lees en skryf. My oupa se boeke laat lees of boeke vir my by mense geleen, selfs een of twee gekoop.”

“Ek het al gesien jy sit soms en lees,” het ek gesê.

“Nie dat ek op trek juis daarvoor tyd kry nie.”

Sy het opgekyk en ons het mekaar vir ’n wyle in die oë gestaar totdat ek moes afkyk. In die kole het haar bruin oë bly vonkel. Dit, het ek verward gedink, was seker die langste gesprek wat ek ooit met enige vrou behalwe my eie wonderlike oorlede moeder gehad het.

“Ek het jou nog nie met ’n Bybel gesien nie.” Seker maar my apostoliese geaardheid en opleiding wat my dit laat sê het, weer sonder om te dink.

“Ons hét ’n Bybel by die huis, meer as een, maar Vader sê dis te groot om alewig saam te piekel. Ons lees tog nooit daarin nie. Hoekom?”

Ek is nie seker of haar laaste woord vir my of vir haarself bedoel was nie, daarom het ek nie daarop gereageer nie.

Toe hoor ons haar pa van agter die wa na haar roep asof hy ons gesprek die hele tyd gevolg het.

“Sien jy?” sê sy met ’n laggie. “Ek moet gaan.” Sy het van die stomp af opgestaan, met een groot tree daaroor getrap, en oor haar skouer gesê: “Ek glo nie ek en my pa sal sonder mekaar kan klaarkom nie. Ons het net mekaar, en ek weet nie of ander mense dit ooit regtig sal kan verstaan nie.”

Toe loop sy en toe ek afkyk op my Bybel, het ek die plek verloor waar ek aan die lees was voordat sy gekom het.

* Lees môre verder . . .

 

 

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.