Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
VERVOLGVERHAAL: Eendag is nou deur Kristel Loots (DAG 3)
Eendag is nou

HOOFSTUK DRIE

LEES DIE VORIGE HOOFSTUK

BEGIN BY HOOFSTUK EEN

My ou huishennetjie. Dis hoe JanKoos haar vroeër jare graag genoem het. Ewe liefderik, of so was dit veronderstel om te klink. Maar sy het van beter geweet. Dit was nooit haar keuse om soggens saam met die kat en die hond en die kind en die potplante in die huis agter te bly wanneer hy by die voordeur uit is nie. “Dan hoef Klara nie op koue wintersoggende uit die bed geboender te word om by ’n bewaarskool afgelaai te word nie,” het JanKoos besluit. “Buitendien, jy hoef nie te werk nie, ek verdien genoeg om ons te onderhou.”

Van die begin af was dit vir JanKoos baie belangrik dat hy die een sou wees wat die geld inbring. Die voorsiener, die jagter. Natuurlik eintlik ’n wonderlike eienskap om oor te beskik, een wat vele vroue haar beny het.

Jacomien het innerlik gekreun, maar uiterlik inskiklik genoeg by sy planne ingeval, sy sou die huishennetjie wees wat JanKoos begeer. Klara was kosbaar genoeg om die opoffering voor te maak. Klara wat kleintyd op pokkelbene agter haar aangetou het soos ’n klein eendjie agter die ma-eend aan. Klara wat altyd daar was. Voor haar bed wanneer sy soggens wakker word, waar sy haar ook al gedraai het, ook wanneer sy badkamer toe gaan. Oggend, middag en aand, haar blou oe¨ soekend na haar ma, die begin en die einde van haar bestaan.

En later, as haasbekkie, net sy alleen by die eetkamertafel en haar ma die despoot wat vir haar aanvanklik van Boet en Saartjie leer. En later van Breyten Breytenbach en André P Brink. Van kondensasie en klimaatsverandering en alles wat die aarde gevorm het en dit nou verwoes, van die geskiedenis van die land waarin hulle woon, die swart en die wit en die grys gedeeltes daarvan. Alles uit die mond van haar ma en die denkrigting van haar huis.

“Nee, Klara, ’n mens spel interessant met een er en twee esse. Nee, Klara, ek weet nie hoekom nie. Nie regtig nie.” Sy moes seker die spelreël gaan naslaan het, maar sy wou nie. Sy wou net die ure waarin sy die kind moes leer verby kry. Want dit was vir haar net so min pret soos vir Klara.

Dit was nooit vir haar ’n goeie idee dat sy Klara tuisonderrig moes gee nie. Maar JanKoos het sterk daaroor gevoel. “Dis soveel veiliger, Jacomien. En jy kan beheer wat die kind geleer word en wat nie.”

“Klara verloor te veel, JanKoos, sosiaal en andersins. ’n Kind wat begin skoolgaan, moet ’n ‘juffrou’ hê. Iemand om te bewonder, na op te kyk, amper te verafgod, iemand wat die plek van jou ma in jou hart inneem, al is dit net tydelik.” Sy kon aan sy gesig sien JanKoos verstaan nie haar pleidooi nie. “En later, wanneer die onderwysers in die skool jou vyande raak, behoort daardie onderwyser en jou ma nie een en dieselfde persoon te wees nie.”

JanKoos het vir haar gelag. “Jy en jou broer met julle pop psychology. Moenie ’n issue maak van iets wat dit nie is nie.”

“As jy ’n leeuwelpie in gevangenskap grootmaak en dan loslaat, sal sy nie vir haarself kan sorg nie.”

“Klara is nie ’n leeuwelpie nie, sy’s ’n wildsbokkie.”

“Des te meer,” het sy gepleit, “’n wildsbokkie moet leer om paraat te wees. Van jongs af. Dis hoe sy leer om te oorleef in ’n oerwoud vol roofdiere.” Maar sy kon JanKoos nie oortuig nie.

Deur die jare het Jacomien streng by die reëls gehou, Klara met haar skoolwerk opgedreun sodat sy nie by haar tydgenote sou agterraak nie. Haar probeer aanmoedig waar moontlik. “Mooi so, Klara, jy is Mamma se slim dogtertjie. Mamma is trots op jou.”

Maar ’n goue sterretjie wanneer jy al jou somme regkry, beteken eintlik niks as daar niemand is om dit voor te wys nie. “Vra Klara bietjie uit oor haar skoolwerk,” het sy JanKoos probeer motiveer om meer aandag aan Klara te gee. “Kyk in haar boeke, laat sy vir jou haar leesles lees, maak ’n bohaai daaroor as sy goed gedoen het.”

Maar JanKoos was moeg wanneer hy saans by die huis gekom het, uitgesels aan verkoopspraatjies met huiskopers en -verkopers. Sy kwota gaafheid en goedheid uitgeput vir die dag. En nie in ’n bui vir skoolstories met sy dogter nie. En veral nie huisvroustories van sy vrou nie.

“Dis mos waarvoor jy daar is, Jacomien. Ek doen my deel.”

En hy het dit ook gedoen, nou nog. Sy deel en meer, om in die huis se finansiële behoeftes te voorsien. Al wat sy blykbaar tot dusver gedoen het, was om saam te eet. En potions en lotions te koop. Dis nou eenmaal hoe die algemene beskouing in hul huishouding nog steeds is.

Gesien vanuit JanKoos se oogpunt het Jacomien dus nooit regtig gewerk nie, het sy van Klara se geboorte af nooit iets beters gehad om met haar tyd te doen as om hom slaafs te dien nie. Sy was die gesee¨nde onder die vroue van die omgewing, die een wat heeldag in haar japon en pantoffels kon rondloop as sy wou. Terwyl sy elke enkele sepie op televisie van begin tot einde kyk.

Blykbaar het sy en haar dogter al twee vanoggend met ’n strydbyl in die hand wakker geword, besef Jacomien. Klara leun terug in haar stoel, so ver agtertoe dat Jacomien die oomblik vrees wat die stoel tiep en sy op die grond sal beland.

“Ek het kom shopping doen,” verduidelik Klara.

“Moet jy nie eerder petrol in jou kar gooi voordat jy begin geld uitgee nie?”

Ag tog, sy is ’n pyn in die gat, sy weet. Gelukkig verwerdig Klara haar nie om haar ma te antwoord nie.

“Ek het Pa gebel, ek wou die Bee-Em leen, maar hy se^ ek kan met jou kar ry. Jy’t nie vanoggend wiele nodig nie en hy kom laai jou vanmiddag op iewers heen.”

“Hy wil my weer saamsleep na een van sy veelbewoë begrafnisse toe.”

Klara lig haar ken. “Jene, Ma, waaroor kla jy nou eintlik? Jy cash lekker in op die geld wat Pa maak.”

Na´ al die jare grief dit Jacomien nog steeds dat Klara vir haar en JanKoos jy en jou. Maar dis die minste van haar probleme.

“Jy’s ook nie exactly an innocent bystander nie, jy cash ook in.”

Jacomien sluk verskrik toe die woorde by haar mond uit is. Dis nie hoe mens met Klara praat nie. Jy laat waai nie sommer met wat in jou kop kom nie. Want een verkeerde woordjie kan tot ’n stilstuipe lei wat net onderbreek word wanneer Klara haar kamerdeur met ’n helse knal toeklap of sonder groet met wiele wat spin by die huis wegtrek.

Dit sal oorwaai wanneer Klara ouer is, het Jacomien in haar storm-en-drang-dae gehoop. Maar tot dusver beskaam die hoop.

“Maybe not, Ma. Maar ek hou my ten minste nie ewe holier than thou daaroor nie. Ek dink Pa is ’n fabulous besigheidsman en mens kan baie by hom leer. Hy gebruik elke moontlike geleentheid om te netwerk.”

“Jy’s reg. Hy’t selfs nou onlangs by Smiley’s aangesluit, ’n klomp karnivore wat skaapkopeetaande hou.” Die gedagte laat Jacomien merkbaar ril. “Hy beweer hy doen dit om my ’n guns te bewys. Sodat ek daardie aande nie hoef te kook nie.”

Lieg het baie name, het Jacomien gedink toe JanKoos voorgee hy gaan hom uit die goedheid van sy hart een keer ’n maand soos ’n barbaar gedra.

“Dis nou wat ek toegewydheid noem. Oorspronklikheid. Kreatiwiteit. Mense wat skaapkoppe eet, koop en verkoop ook huise,” herinner Klara haar. “Pa is ’n ekspert, hy is gebore vir die job, quick on the draw. Terwyl ander ouens nog staan en hanna-hanna, slaan hy ’n moerse vet slag.”

Ja, en in jou oë kan hy op water loop terwyl hy die stralekrans op sy kop perfek balanseer.


corali
Vywervrou-trilogie: Corali

Deur Chanette Paul

Corali dra net wit en swart maar dis nie oor die dood van haar man wat sy rou nie. As kunstenaar treur Corali oor iets heel anders en as vrou treur sy oor soveel meer as haar huwelik. Klik en koop die e-boek hier


Jacomien moes van beter geweet het as om te verwag Klara sal met haar simpatiseer, of ten minste verstaan waaroor sy kriewelrig is. As haar pa en ma saam-saam in ’n bootjie sink, sal Klara eers haar pa uitvis en doodseker maak hy is oukei en gemaklik toegevou in ’n kombers voordat sy sal terugdraai na Jacomien toe. Maar sy verstaan hoe lyk die rosiggetinte bril waardeur Klara na haar pa kyk. Dis nie van vandag af dat Klara daardie bril dra nie.

“Koop vir die kind al twee die bleddie Barbie-poppe as sy nie kan kies watter een sy wil hê nie, my magtig, Jacomien. Dis nie asof ons dit nie kan bekostig nie en dit sal haar gelukkig maak.”

Good cop, bad cop en sy het elke keer verloor.

Maar behalwe om Klara se kredietkaarte te betaal en haar andersins vol te stop, gee JanKoos tot vandag nie veel aandag aan die nitty-gritty rondom sy dogter nie. “Dit was jou idee om kinders te hê,” herinner hy haar graag.

“’n Kind. Ten minste net een kind sodat ons nie heeltemal verniet geleef het nie.”

Om eerlik te wees het Klara hulle so groot laat skrik dat Jacomien ook nie nog ’n kind wou bestel nie. “Jy’s buitendien nou te oud daarvoor, vrou. Die risiko raak te groot. Wat doen ons as die baba nie normaal is nie? Wie gaan hom grootmaak? Jy?”

JanKoos se benadering was bloot prakties en sy kon nie werklik foutvind daarmee nie. Miskien het hulle in elk geval te lank gewag. Was hulle al te gevestig in hul gewoontes toe Klara gebore is. Want nie sy of JanKoos sou ooit kon raai hoeveel dit van jou eis om ’n ouer te wees nie. Dat jou hart – en jou tyd – nooit weer net joune kan wees nie.

Natuurlik sou sy die ervaring van mawees vir niks ter wêreld wou verruil nie, veral nie Klara se kleintyd nie. Mamma – die mooiste woord in die woordeboek. Mamma is mooi. Ek is lief vir Mamma. Ek wil my mamma hê. Klara se bene soos dun staaldraad om haar middellyf geklem, die kind behoorlik histeries die enkele kere wat Jacomien haar by iemand moes los om grootmensdinge te doen. Vir Klara het dit nie saak gemaak dat haar ma mooi is nie. Of lelik nie. Versorg of nie, die armpies was om Jacomien se nek, soms so styf dat sy nie kon asem kry nie.

Daar was dae dat Jacomien van die verantwoordelikheid wou weghardloop. Soos gewoonlik het sy by Henk gaan raad vra en soos gewoonlik het hy nie regtig vir haar raad gehad nie. Al sy klie¨nte is seker teksboekgevalle en mak- lik genoeg om na te slaan, anders weet Jacomien regtig nie waarvoor hulle hom betaal nie.

Henk se reaksie, as sy reg onthou, was om yskas toe te loop om vir hom ’n bier te gaan haal.

Sy hoor die gramskap in Klara se stem, sien die frons waarmee sy na haar ma kyk. “Jy moet onthou Pa brings home the bacon, nie jy nie.”

Daar is niks wat sag en lief is of wat getuig van enige vroegoggenddeernis in Klara se houding teenoor haar nie. “Wat het jy so nodig dat jy moes Kaap toe kom om dit te koop? In klastyd?”

“Iets nuut om vanaand aan te trek.”

“Wat is die okkasie?”

“’n Filosofiegesprek om ’n ronde tafel.”

“Dit klink vreeslik la-di-da, maar hoe vermaaklik kan ’n filosofiegesprek nou ook wees dat jy daarvoor wil opdress? Of die tafel nou rond of vierkantig is. Is dit ’n sosiale geleentheid of ’n aandklas?”

“Dis sosiaal en vrywillig, maar ek wil dit nie misloop nie. Dit gaan epic wees.”

“Ek is bly jy neem jou studie so ernstig op.”

“Dis die Filosofie-professor wat die begin van die semester vir ons begin klasgee het wat die verskil maak.” Die byt is nie meer in Klara se stem nie. “Hy’s ’n Suid- Afrikaner wat jare lank in die VSA gebly en gewerk het. Hy ken die wêreld en die lewe. Hy’s wonderlik.” Klara sug. “Out of this world. En so sexy.”

“Sexy? In ons tyd was professors diknekomies in klere wat lyk asof hulle daarin geslaap het.”

“Nie hierdie een nie. Hy slaap kaal.”

Jacomien skrik effens. “Ek kan jou vra hoe jy dit weet, maar ek dink nie ek wi´l nie.”

“As jy hom sien, sal jy verstaan waarom ek so sê, Ma. ’n Man soos hy kan nie anders as om kaal te slaap nie.”

Ag, hemel tog, wat beteken dit nou weer? Soms voel dit vir Jacomien sy en Klara praat verskillende tale. Die ontwykende antwoorde, die geheime.

“Jy moet weet, Ma, ’n man soos daardie een bemin met sy hele lyf, hy praat met sy hande.” Klara, wat nooit giggel nie, doen dit nou. “En met ander dele van sy anatomie.”

“Wat bedoel jy? Wat presies weet jy van die professor of enige ander man se anatomie?” Jacomien hoop haar vraag sal as ’n grappie deurgaan, anders gaan Klara haar bloedig vir haar ma vererg.

“Ma, jy met jou inferior home schooling het veroorsaak dat ek eers ’n gapjaar moes vat en later universiteit toe is as die gemiddelde student, wat anyway almal streetwise is. Ek is ouer. Do the maths.”

Maar Jacomien wil nie, want sy was nog nooit slim met somme nie. En sal heel moontlik nie hou van die finale antwoord nie.

Sy doen haar bes om haar eie probleme vir eers heeltemal opsy te skuif en op Klara te fokus. “En wie is die hot professor as hy by die huis is? Met of sonder pajamas.”

Klara doen en sê graag dinge om te skok. Daarom kan sy nooit te gerus wees nie. ’n Hot professor met ’n string natneuskindertjies wat sy vrou verneuk en met onskuldige studentemeisietjies soos Klara lol. Die vrou wat daarvan uitvind en haar rewolwer laai. Of ten minste ’n klagte by die dekaan gaan indien sodat Klara en die professor al twee uit die universiteit geskors word. En Klara haar beurs verloor. En nie haar graad kry nie. En vir haar pa moet huise verkoop omdat niemand anders vir haar werk sal gee nie.

“Sy naam is Jean-Jacques Rousseau.” Klara se gesig versag by die noem van die naam.

“Ekskuus?” Hierdie keer lag Jacomien. “Tog seker nie regtig nie?”

Klara knik. “Ja, tog. Sy ouers se simpel idee. Maar dit pas by hom. Sy vriende noem hom Jay-Jay.”

Dis nou om ’n trotse naam behoorlik te verplat. “En wat noem jy hom?”

Klara skuif reg op die stoel, gooi haar hare terug en lig haar kop. “Ek noem hom my koning.”

Jacomien sluk ’n slag, maar wil nie wys hoe Klara se woorde haar laat skrik nie.

“Of skattebol,” borduur Klara. “En liefling. En jou pragtige ding.”

’n Grap? Maak Klara sowaar ’n grap met haar? “En wat vertel skattebol vir julle tydens die Filosofie-klasse waarvoor ons so duur betaal?” Wel, nie sy direk nie, maar JanKoos. Omdat sy nie ’n inkomste het nie. Mos.

“Dat dit sy strewe in die lewe is om ons te leer om alles te vergeet wat ons deur die jare by ons ouers, onderwysers, predikante en ander gesagsfigure gehoor het. Dat ons dit aan onsself verskuldig is.”

“O ja?” Jacomien hou nie baie daarvan nie. “En het hy jou al oortuig om dit te doen?”

“Dit was nie vir hom nodig nie. Ek probeer dit al regkry vandat ek uiteindelik uit hierdie huis vrygelaat en toegelaat is om skool toe te gaan soos ’n normale kind.”

Miskien is dít waarom haar dogter so kwaad is. Vir haar ma, vir die wêreld, vir die lewe.

“Ek leer meer in my Filosofie-klas by Jay-Jay Rousseau as wat ek in al my jare van home schooling en in my laas- te jare op hoërskool geleer het.”

Dis duidelik, Klara hou dit nog teen haar ma, die afgesonderde jare waarin sy deur niks meer as boeke omring was nie. Eers toe Klara sestien jaar oud was, het JanKoos toege- laat dat sy by die plaaslike hoe¨rskool ingeskryf kon word.

“Maar as dinge boemerang, dra jy die verantwoordelikheid, Jacomien.”

Jacomien kyk na die Klara van vandag waar sy nou snaarstyf op die puntjie van die kombuisstoel teenoor haar ma sit. ’n Besoeker wat net hier is omdat sy haar gedwonge gevoel het om te kom. Of omdat sy die motorsleutels nodig het.

Hoeveel van die verwydering tussen haar en Klara het juis ontstaan in die jare wat hulle in ’n kokon deur die leerplanne geworstel het? Sy as die slawedrywer en Klara die onwillige slaaf wat ten alle koste wou ontsnap. Sy ken dit maar te goed, daardie gevoel van ingeperk wees terwyl die lewe daar buite vir jou wink. En hoe jy voel teenoor die hekwagter wat jou nie wil loslaat nie.

“Jay-Jay is vanaand die gasspreker by die Afrikaanse Ronde Tafel Filosofie-fees,” vertel Klara. “Dis eintlik net vir kursusgangers bedoel, maar die Filosofie-studente van die Kaapse en Stellenbosse universiteite is genooi om gratis en verniet te kom luister.”

As Jacomien nie van beter geweet het nie, sou sy sê Klara bloos en Klara is nie juis die blosende of die giggelende tipe is nie.

“Ek wil mooi lyk.”

Jacomien se hart bloei vir Klara. Nugter beskou, wat is die kanse? Dat die professor vir Klara sal raaksien, maak nou nie saak hoe mooi sy probeer lyk nie? Juis vir Klara met haar vaal gesiggie, haar dunnerige haartjies en die rojale heupe waaroor die denimbroek span? Tussen al die ander studente met hul ellelange bruingebrande bene, golwende meerminhare en vlekkelose gesiggies?

Sy moet versigtig wees. Een verkeerde vraag en Klara klap toe. Dis tog nie moontlik dat daar, teen alle verwagting, iets ongehoords aan die gang kan wees nie. Is dit? Sy jaag sweerlik spoke op. Klara sal nie die eerste student wees wat ’n crush op ’n dosent ontwikkel nie. Om malverlief te wees, dikwels op die verkeerde man, is ’n normale en skadelose fase van jonk wees; dis iets waaroor jy jou later skaam of oor lag.

Of waaroor jy huil. Soos Roelf haar laat huil het.

Sy is so gatvol vir daardie naam, vir die gedagtes rondom die ellendige mansmens wat haar so lank al gevange hou. Die herinnering was altyd daar, maar later nie meer so prominent nie, eerder aan die buitewyke van haar gedagtes. Toe skakel sy haar rekenaar een oggend aan en sien die aarde is oornag virtueel op sy kop gedraai. ’n Kreet van protes word uit die monde van miljoene vroue we^reld- wyd gehoor. Die #MeToo-veldtog het Jacomien getref soos ’n klip teen die kop.

Me too! wou Jacomien dit uitskreeu. Me too! Sy wou op die bandwagon klim. Maar sy kon nie.

Haar kreet was na binne, want haar storie was nie dieselfde as hierdie vroue s’n nie. Vir haar was daar nie ’n verskoning nie, sy sou haar bagasie met haar moes saamsleep vir die res van haar lewe.

Sy kon nie vergewe en vergeet nie. Veral nie haarself nie. Selfs toe die Me Too-krete begin wegsterf, kon sy nie weer laat gaan nie. Sy sou haar eie bevryding moes bewerkstellig as sy wou oorleef.

“Ek wil Roelf weer sien.” Sy het die arme Henk bleek geskok met haar woorde. “Voor hom staan en hom in die oë kyk. Ek weet nie hoe ek dit gaan regkry nie, maar ek gaan probeer. Al moet ek ook van JanKoos se metodes gebruik maak om hom in die hande te kry.”

“Wag nou eers, Jacomien, wag ’n bietjie.”

“Ek het lank genoeg gewag om my van Roelf los te maak. Dit behoort maklik te wees om hom op te spoor. Maar ek wil hom nie op sy turf aandurf nie, daar waar hy sterk staan, omring deur sy magte. Hy moet na my toe kom.”

“Jy besef jy het ’n obsessie met die man ontwikkel, né?"

Sy kon nie daaroor stry nie. Jacomien was verstom oor die dinge wat sy, teen haar aard, wou doen om kontak te maak met iemand wat sy eintlik nooit in haar lewe weer wou sien nie. “Ek wil met hom praat, vir hom vrae vra sodat ek met my lewe kan aangaan.”

“Ek weet nie hoe gesond dit sal wees nie.”

“Jy’s dan ’n sielkundige, hoe kan jy nie weet nie? Face your demons en slaat hulle bloedneus.” Sy was lekker opgesweep dié dag. Dapper. Of dom.

“Elke mens se draadwerk verskil, of so se^ hulle. Jy, ou sus, is van nature otherwise. G’n mens weet hoe jou kop gaan werk as jy voor die man sou staan nie. Dalk haak jy heeltemal uit en maak groot marakkas vir jouself.”

Maar sy kon Henk tog ompraat om haar in haar soek- tog te help.

Dit was toe verbasend maklik om by Roelf uit te kom, om te sien hy leef sy lewe sonder skaamte of skande. Trotse Afrikanerman, sterk en gesond in ’n leiersposisie in sy gemeenskap. ’n Olifantbul wat voorloop en gevolg word, stewig gevestig in sy heimat en sy huis.

Op Facebook, Twitter, Instagram, webblaaie en Google kon hulle Roelf se professionele sowel as sy persoonlike kontakbesonderhede kry. Roelf het niks op sy gewete nie, niks om voor weg te kruip nie.

“Hulle se^ karma vergeet nooit ’n adres nie,” het Henk gemor. “Maar lyk my op pad na Roelf toe het sy verdwaal. Die ou het nou wel langs die pad uitgesak en dit genadiglik nie tot op die preekstoel gemaak waar hy siele kon korrupteer nie, maar geldelik gaan dit goed met die vreksel. Behalwe sy paleis van ’n huis in Lynnwood en sy eie besigheid op ’n uitsoekperseel in Sandton, spekuleer hy blykbaar ook in eiendomme en die skiet van geblikte leeus vir ’n side-line. Onder andere.”

“Eiendomme?”

“Blykbaar nie huise as sodanig nie, eerder kantore, sakepersele, besighede, daardie tipe van ding, en meer as genoeg daarvan om kruiwaens vol geld te maak.”

“En ek het gewens hy krepeer van ellende en leef van ’n social grant,” het sy spytig gese^. Maar toe het sy al geweet dat die werklikheid gewoonlik nie uitwerk soos jy dit bestel nie en het sy ook al geleer hoe om met teleurstelling saam te leef.

Met al die inligting oor hom tot haar beskikking leer ken Jacomien toe die Roelf van vandag op ’n afstand, van bloedgroep tot geloof. O-positief en hy en sy vrou behoort aan twee verskillende susterskerke. Op Facebook en Instagram is daar ook gesinsfoto’s van die vrou en die kinders met die seuns almal in two-tone hemde en die enigste dogter in ’n kant-en-valletjiesrok. Erg Pretoriaans. Jacomien hoop heimlik die vrou is so kwaai soos wat sy lyk en dat sy Roelf al sy dae gee.

Sy voeg Roelf se besonderhede in op JanKoos se elitelys van kopers en verkopers van bogemiddelde, peperduur huise, die mansions, hoër, beter, blinker as die bure.

“Dis werklik net vir connoisseurs, Jacomien. Mense met genoeg geld om uiters duur en smaakvolle huise te koop. Ek adverteer daardie huise nie vir die algemene publiek nie. Hulle mors net my tyd, want gemiddelde mense kan nie die huise bekostig nie.”

“Wel, hierdie man kan ’n paar van jou huise vir hom aanskaf en nog genoeg kleingeld oorhê vir pap en wors.”

“Waar kom jy aan hom?”

“Dis ’n lang storie.” Wat sy nie wou vertel nie. “Maar ek verseker jou dit was nie by ’n begrafnis nie.”

Soos so dikwels gebeur, val die gedagtes rondom Roelf haar weer ongenooid aan hier waar sy na Klara kyk wat nog steeds op die puntjie van haar stoel sit.

“Woolies het ’n uitverkoping. Dalk kan jy daar iets kry wat reg is,” stel sy voor. “’n Mooi top dalk. Of ’n vrolike jongmeisierok.” Klara se smaak in klere is presies die teenoorgestelde as hare. Niks snaaks daaraan dat ma’s en dogters so verskil nie, maar Jacomien wens Klara wil haar jonkheid met ’n tikkie uitspattigheid vier en nie klere dra wat haar verder in die agtergrond laat verdwyn nie.

Woolies is net om die draai. Miskien word sy genooi om saam te gaan om Klara te help klere kies. Sy kan gou deur die stort spring, iets oor haar kop gooi wat haar minder stowwerig en verwese laat lyk. Dalk word dit nog ’n moeder-dogter-uitstappie, dalk bond hulle ’n bietjie. Gou, voordat JanKoos haar vir die begrafnis kom haal. Of miskien kan sy selfs Klara se kuier gebruik as ’n versko- ning om nie te gaan nie.

Maar Klara dink nie veel van haar voorstel nie. “Woolies? Nee, dankie. Ek gaan Cavendish Square toe. Ek soek nie iets wat so in your face is soos die goed wat jy dra nie.”

Jacomien lag. “Hoekom iets nuuts koop as jy onopsigtelik wil wees?”

“Dit moet classy wees, nie cheap nie, nie iets wat elke tweede student en die skoonmaakpersoneel dra nie.”

Jacomien twyfel of daardie gevaar bestaan, nie soos sy studente o´f skoonmaakpersoneel ken nie. Die kanse dat hulle – of enigiemand anders – se kleresmaak met dié van Klara sal ooreenstem, is skraal.

Klara raak haastig, kyk om haar rond. “Waar’s die motorsleutels?”

Dié motorsleutels? Eintlik is dit háár motorsleutels en het sy nie toestemming gegee dat Klara met haar motor ry nie. Maar sy weet met ’n bakleiery oor beuselagtighede kan daar geen wenners wees nie. Klara kan haar maklik wip, by die deur uitstorm en vir dae, nee, weke nie weer van haar laat hoor nie.

Daarom probeer sy Klara langer by haar hou. “Wil jy nie eers iets eet nie? Ek kan gou vir jou ontbyt maak.”

“Wat? Spek en eiers?”“Of ’n tunabroodjie?”“Boring.”“Drink dan net ’n koppie koffie.” “Kitskoffie?”

“E ... Dis al wat ek op die oomblik beskikbaar het.” Sy moet gaan kos koop, sorg dat hier iets is wat in Klara se smaak val. Vir daardie skaars dae wat sy onverwags hier uitslaan.

Dis maar goed JanKoos brings home the bacon en nie sy nie. Want sy sou te min verdien en sy hou nogal daarvan om op te dress en dit kos geld. Dis nou wanneer sy nie lyk asof sy oornag buite in wind en weer lê en roes het nie. Behoede haar net van die afdeling in klerewinkels wat woordeloos uitskreeu dat dit spesiaal “for the more mature woman” is. Dis die klere wat JanKoos graag aan haar lyf wil sien, nie sy nie. Haar styl vra eerder na straatmarkte se unieke en uitspattige modes as na klassieke style. Avant-garde op haar manier.

Dis eintlik net haar skouersak wat as classy gesien kan word. ’n Louis Vuitton lookalike nogal.

Jacomien volg saam met duisende ander graag die mode-ikoon, Lyn Slater, se blog op Instagram, bewonder haar vir die moed van haar oortuiging om in haar sestigerjare te dra wat sy wil. Haar nie te steur aan enige modeneigings of beperkings nie. Natuurlik aap Jacomien dit nie slaafs na nie. Dis Lyn se look daardie, nie hare nie. Sy self dra graag laag op laag van haar eie ensembles en geniet dit wanneer daar, tot die besadigde JanKoos se ergernis, na haar gestaar word asof sy saam met ’n kameelperd of twee uit ’n sirkus ontsnap het.

Sy stap saam voordeur toe om Klara af te sien, bly daar staan toe die kind wegtrek asof die duiwel in haar nek blaas. Met haar ma se motor wat sy soos ’n baba oppas. “Veilig ry,” prewel Jacomien voordat sy omdraai om die skottelgoed te gaan was en die kombuis te gaan netjies maak.

* Lees môre verder . . . 

KOOP DIE E-BOEK HIER

Dié hoofstuk kom uit Kristel Loots se roman Eendag is nou (LAPA Uitgewers).

Klik en koop die e-boek hier.


Meer oor:  Kristel Loots  |  E-Boek  |  Vervolgverhaal  |  Eendag Is Nou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.