Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
VERVOLGVERHAAL: Huis van gruwels (Dag 1)

Die tweede boek wat Lapa Uitgewers as vervolgverhaal aanbied, is Huis van Gruwels. Dis die verhaal van die oudste dogter van die man bekend as die “Springs-monster”.

Huis van gruwels

HOOFSTUK EEN

“Peaches"

My naam is Yulandi. Ek is op 19 Februarie 1998 in Springs gebore as die oudste van vyf kinders. My vriende en familie noem my Landi. Toe ek nog klein was, het ons baie rondgetrek omdat my pa nooit 'n vaste werk gehad het nie. Pa is 'n sterk, fris geboude donkerkopman. My ma is stil, maer en verskrik. My oudste boetie is 'n hele paar jaar jonger as ek. In daardie beginjare toe dit nog net ek, Pa, Ma en my oudste boetie was, het ons meestal in 'n woonwa rondgetoer. In 'n stadium het ons woonwa op Richardsbaai (KwaZulu-Natal) gestaan. Die vroegste wat ek regtig kan onthou, is van toe ek op laerskool was en ons op Tzaneen (Limpopo) gewoon het. Daar het ons woonwa in 'n jaart gestaan van 'n oom vir wie Pa gewerk het.

Tzaneen is die laaste plek waar ek skoolgegaan het. Ek het graad 3 daar gedruip en nooit weer skool toe gegaan nie. Eintlik was dit nie vir my 'n major thing nie, want ek het in elk geval gedruip en was buitendien toe te klein om die gevolge daarvan te verstaan.

Al het ons baie rondgetrek, was die Oos-Rand (in Gauteng) ons ankerplek waar ons met tussenposes gewoon het. Pa is daar gebore en sy kinderlewe was moeilik, en dit was of sy verlede hom bly intrek, asof hier die een of ander miserabele stroom onder die grond loop.

Vanaf Tzaneen is ons eers weer na Durban voordat ons terug is Springs toe. Hier het ons vir omtrent 'n jaar in ons woonwa in 'n familielid se jaart gewoon, voordat ons eindelik na ons eie huisie in Springs getrek het. My twee jonger sussies is albei ná 2009 gebore. Kort daarna het ons verhuis na die groot dubbelverdiepinghuis in Springs.

Ons jongste boetie is 'n paar jaar later daar gebore en is baie jonger as ek. Ek is nie seker hoe Pa die groot huis kon bekostig nie. Ek skat hy het genoeg geld verdien uit die motors wat hy verkoop het en die scrap wat hy sommer daar uit die jaart verkoop het. Pa het sy inkomste verder aangevul met huurders en deur met dwelms handel te dryf.

Partykeer het ons ma en pa 'n week of twee alleen saam met hul vriende vakansie by die see gaan hou. Dan het hulle vir al vyf ons kinders tesame so R50 per dag gelos. Daaruit moes ons alles betaal, van kos en doeke tot medisyne.

Nogtans was ons bly wanneer ons ouers nie daar was nie. Ons was lekker vry omdat ons dan nie bekommerd hoef te wees dat Pa ons sou slaan of met ons baklei omdat die huis nie skoon genoeg is nie.

Partykeer sou Ma en Pa skielik op 'n dag besluit dis nodig dat iemand toesig oor ons hou, want 'n ouer man het ons dan opgepas terwyl hulle weg is. Wanneer hulle van die see af teruggekom het, was daar nooit presente vir ons nie – net foto’s op hul fone waarmee hulle by ons gespog het om te wys hoe lekker dit sonder ons by die see was.


Afspraak met Moord
Afspraak met Moord

In die oog van 'n kultus

Elf wrede moorde oor 'n tydperk van vier jaar ruk die gemeenskap van Krugersdorp en haal landswyd nuusopskrifte. Eindelik word al hierdie moorde verbind met Cecilia Steyn en haar kultusgroep, Electus per Deus (uitverkies deur God). Lede van die groep aanbid die grond waarop Cecilia loop en sal selfs vir haar moord pleeg.

Jana Marx beantwoord vrae wat gespruit het uit een van die opspraakwekkendste moordsake in die land se geskiedenis. Danksy onderhoude met diegene in die binnekring, hofgetuienis en polisiedossiere oor 'n tydperk van vier jaar, poog Marx om die publiek se vrae te beantwoord en 'n blik te gee op die binnewerkinge van só 'n kultus. Klik en koop die e-boek hier


Ek onthou van net een keer, toe ek omtrent so veertien was, wat ek en my oudste boetie saam met ons ouers see toe was. 'n Tannie van ons het die drie jongste kinders by die huis opgepas terwyl ons vir omtrent 'n week Suidkus toe gegaan het. Ons het 'n huis daar gaan soek omdat Pa dit oorweeg het om soontoe te verhuis. Ons het by 'n niggie van Pa gewoon en is nou en dan strand toe. Pa het ons nie voor die ander familielede mishandel nie, net wanneer ons alleen was.

Eendag het hy kwaad geword terwyl ons ry omdat hy nie 'n vurk vir sy slaptjips gehad het nie. Toe stop hy langs die pad en klap my en my boetie deur ons gesigte. Hy pluk my boetie toe uit die [Hilux]-bakkie en ry net weer …

My boetie moes hardloop so al wat hy kan om weer op die kar te kon spring.

Nuwe klere was vir ons 'n luukse wat ons net soms met Kersfees en verjaardae beskore was. Partykeer het die fami­lielede iets gestuur. Ek en Ma het dieselfde klere gedra – meestal karige uitrustings wat – dit besef ek nou eers! – heeltemal onvanpas vir my in daardie stadium van my lewe was. Die kleiner kinders het partykeer tweedehandse klere by van die huurders gekry.

Medisyne was 'n luukse wat ons net gekry het wanneer ons werklik baie siek was. Pa het Ma verbied om ons ooit vir mediese sorg te neem. Die oom wat soms vir ons gaan kos koop het, het ook by geleentheid die nodigste medisyne gaan kry. Ma-hulle wou nie altyd geld gee vir medisyne nie, dan het ek dit uit een van hul beursies gesteel en die oom gevra om sommer medisyne te gaan koop wanneer hy kos koop.

Ek móés dit net vir ons kinders doen.

Die gebrek aan mediese sorg en ons swak eetgewoontes het veroorsaak dat omtrent al ons kinders tandbederf gehad het. Ek en my oudste boetie het eers nadat ons in 2014 verwyder is, ingrypende tandheelkundige behandeling ge­kry om ons verrotte tande te herstel en vervang. Vroeër het ek gereeld tandpyn gekry. Meestal is dit met naeltjie-olie behandel, maar ek was darem seker so drie kere by die tandarts om 'n verrotte tand te laat trek.

Pa en Ma se dwelmgebruik in ons huis het gepaardgegaan met prostitusie, pornografie en siek seks. Van kerk was daar nie sprake nie. Ek onthou net dat ek as klein dogtertjie saam met ander familielede kerk toe is. Van die Here en die Bybel het ek net gehoor, maar nooit self gebid of Bybel gelees nie.

In die huis het ek partykeer met Hom gepraat en Hom gevra om my net weg te vat, want ek wou liewers dood wees.

Binne-in ons abnormale, skeefgetrekte wêreld, was daar ook oomblikke van normaliteit. Ons hond Brakkenjan was een wat daarvoor gesorg het. Hy was my beste (en enigste) speelding. Ons was gek oor die hond met sy wollerige wit-en-swart pels.

Brakkenjan het dit miskien nie besef nie, maar hy was saam met ons 'n gevangene in die huis. Met een verskil, hy is versorg. Ek en my oudste boetie het Brakkenjan gewas en nou en dan vir hom klere aangetrek. Hy het in ons bed geslaap en was deel van die familie. Ons kinders het na hom omgesien en hom gevoer met oorskiet wat in die huis was. Van gekoopte hondekos was daar nie sprake nie.

Brakkenjan moes soms ook onder Pa se tirades deurloop. Ek onthou hoe hy hom geskop het wanneer hy in die pad was, dan het die arme hond getjank en weggehardloop. Maar partykeer was Pa ook liefdevol met Brakkenjan, dan sou hy by Ma en Pa slaap. Ons het altyd gedink Pa is liewer vir die hond as vir ons omdat hy meer aandag aan hom as aan ons gegee het.

Ek weet nie waar Brakkenjan nou is nie, dis baie hartseer …

Van verjaardae is daar nooit 'n ophef in ons huis gemaak nie. As ons gelukkig was, sou ons miskien vroegoggend gelukgewens word. Net by uitsondering was daar 'n koek en die kans op 'n geskenk was ewe skraal. Ek en my boeties en sussies het nooit iets soos ’n verjaardagpartytjie met die gejil van maatjies beleef nie, nooit met ballonne en 'n oor­vloed lekkernye baljaar nie.

Op my laaste verjaardag in die Springs-huis, in Februarie 2014 toe ek sestien geword het, moes ek heeldag na my jonger boetie en sussies kyk terwyl Ma en Pa geslaap het. En toe die verrassing – ons hele gesin gaan eet daardie aand in die Spur. En daar gee Pa vir my 'n Smart-karretjie present!

Maar soos gewoonlik was hier 'n ironiese kinkel. Omdat ek nog nie 'n rybewys gehad het nie, kon ek net 'n bietjie in die jaart rondry. Die gebruiklike teleurstelling het gou gekom, want net 'n maand nadat Pa die karretjie se sleutel in my hand gesit het, het hy dit verkoop.

Hy het die tweedehandse swart-en-wit karretjie seker kontant ge­koop deur sy kontakte by sy motorbesigheid, maar kort voor lank weer geld nodig gekry en dit daarom verkoop. Sy inkomste uit sy verskillende “besighede” was wisselvallig.

Ek was baie hartseer.

Die gewelddadige, gespanne omgewing waarin ons daag­liks geleef het, het veral my en my oudste boetie se verhouding beïnvloed. Dikwels het ek teenoor my boetie gereageer omdat ek te bang was om dit teenoor Ma of Pa te doen.

Ons het rof baklei, maar ek het nooit my hand teenoor my jonger boetie en sussies gelig nie. Wanneer ek vir die jonger kinders kwaad geword het, het ek my oudste boetie gevra om net vyf minute of so na hulle te kyk. Dan moes ek net vir 'n rukkie van hulle wegkom tot ek beter gevoel het en kon teruggaan.

Ons kinders het nie baie kontak met die res van die familie gehad nie, want ons het bykans nooit vir hulle gaan kuier nie en die familie het selde by ons gekom. Ons het ook nie eintlik maatjies gehad wat kom kuier het nie. Ek onthou net van een of twee keer wat 'n vriendin by my oorgeslaap het, maar sy was soort van deel van ons binnekring omdat haar oupa 'n huis in ons jaart gehuur het. 'n Familielid met kinders wat min of meer so oud soos ek was, het in 'n stadium gereeld kom kuier, maar dit het opgehou nadat hy en Pa stry gekry het.

Soggens moes ons in die huis bly sodat mense nie agterkom ons gaan nie skool nie. Ons moes gereeld oefen vir wat ons moes doen wanneer mense in skooltyd by die huis opgedaag het.

Pa was natuurlik bang iemand praat uit en dat die polisie dalk by die huis sou aankom en sien ons is nie in die skool nie. As dit sou gebeur, moes ons in die spaarka­mer onder die bed gaan wegkruip. Pa het ons die kodewoord “peaches” leer gebruik. Wanneer hy of enigiemand anders dit geskree het, was dit die teken dat ons onder die groot bed in die spaarkamer moes gaan wegkruip.

Al vyf van ons in 'n ry, en ek moes die kleintjies stilhou.

Partykeer het Pa kamers in ons huis uitverhuur omdat hy nie alleen die R16 000 maandelikse huurgeld vir die huis kon bekostig nie. Ek weet nie of hy toestemming by die eienaar van die huis gehad het om dit te doen nie en of hy gevra het of hy maar kameras daar mag installeer nie. Van die mure waaragter die huurders was, het Pa laat toebou sodat hulle nie in die huis kon kom nie.

Hy het sy bes gedoen om wat hy doen vir ander mense weg te steek.

Later het hy ook mense betaal wat saans en soggens wag gestaan het by ons buitenste hek. Hulle het afstandradio’s gehad waarmee hulle met Pa gekommunikeer het.

Ek het min tyd in die huis saam met Ma deurgebring. Terwyl sy so te sê afwesig in ons kinders se lewens was, kon ek nie met haar of ons humeurige pa oor enigiets praat nie.

* Lees môre verder . . . 

BESTEL DIE E-BOEK HIER

Dié hoofstuk kom uit die boek Huis van gruwels (LAPA Uitgewers) deur Susan Cilliers.

Koop die e-boek hier



* LEES OOK DIE VERVOLGVERHAAL: EENDAG IS NOU, deur Kristel Loots

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.