Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
VERVOLGVERHAAL: Huis van gruwels (Dag 2)

Huis van gruwels

HOOFSTUK TWEE

LEES DIE VORIGE HOOFSTUK

"Onheilsklok"

Ek is tien jaar oud.

Ek, Pa, Ma en Boetie bly in  woonwa op familielede se erf in Springs. Dis maar beknop met die vier van ons saam hier. Ek steur my nie eintlik aan Boetie nie, want hy is 'n seuntjie en te klein om saam met my te speel. Pa is baie kwaai met hom. Hy skree sommer vir niks op hom nie en klap hom net waar hy kan bykom. Ek kry ook baie raas by Pa, maar nie so baie soos Boetie nie.

Ek het al gesien ander kinders se ma’s speel met hulle, maar my ma speel nooit met my nie. Ek kom self reg. Ek trek myself aan, vat vir my kos en dokter my eie seerplekke wanneer ek iewers seergekry of Pa my geslaan het. Ma sal Boetie partykeer vashou en 'n drukkie gee, maar sy doen dit nooit met my nie. Ek weet nie hoekom nie. Sy is seker liewer vir hom as vir my. Dalk omdat Pa so op hom pik. Ek dink Boetie hou niks van Pa nie, maar ek hou meer van Pa as van Ma.

Jis, hy is baie kwaaier as sy, maar partykeer speel hy met ons en doen lekker dinge saam met ons.

Dis Vrydag.

Vanoggend het Pa gesê ons gaan vir die naweek 'n bietjie weg. Ek kan dit nou nog nie glo nie. Ons gaan 'n rukkie uit hierdie muwwe woonwa wegkom. Dis vrek vervelig hier, want Pa wil nie hê ek moet weer skool toe gaan nie. Hy sê dis gevaarlik daar buite, daar is mons­ters wat ons gaan vang. Dit maak my bang. Boetie sal seker ook nooit skool toe gaan nie. Ek weet nie wat Ma daarvan dink nie, sy doen maar net alles wat Pa sê.

Partykeer mis ek skool, want hier is omtrent niks maatjies nie. Skool en skool se dinge het al ver en dof geword. Ek onthou al minder en minder, maar kan darem nog lees en skryf.

Netnou het Pa en Ma gery om kos vir die naweek te gaan koop. My maag draai klaar terwyl ek net wonder watse kos hulle gaan koop. Ek is honger, want ons het vanoggend net 'n bietjie noedels geëet. Ek verbeel my wat alles in daardie winkelsakke gaan wees wanneer hulle terugkom. Dalk skyfies, sjokolade, lekkergoed en miskien vleis om te braai.

My mond water.

Ek weet nie waarheen ons gaan nie, maar Pa sê hy wil gaan visvang. Sy visstok staan klaar buite teen die woonwa.

'n Lid van ons familie, oom Daan, en sy twee kinders wat omtrent so oud soos ek en Boetie is, gaan ook saam. Kort-kort trek ek die gordyntjie voor een van die woonwa se vensters weg om te loer wanneer oom Daan se kinders kom. Ek dink hulle is dalk nog by die skool. Hulle sal seker netnou kom. Ons is groot maats, ek kan nie meer wag nie.

Intussen sit ek solank my en Boetie se paar stukke klere vir die naweek reg op die bed. Dalk is daar 'n swembad, onthou ek meteens opnuut opgewonde, en haal ons baaikostuums ook uit die kas. Die son skyn al warm en dis klaar bedompig hier in die woonwa, al is dit nog nie middag nie.

Hoe lekker gaan dit nie wees om in die koel water te klim nie! Ek het myself geleer swem.

Buite hoor ek die kar stilhou. Boetie hardloop eerste uit.

Ma en Pa klim uit en laai die Spar-sakke uit die kar. Die sakke bult, ek en Boetie help dra. Ek loer. Oe, hier is lekkergoed en koeldrank! Ook nog vleis, slaaiblare, tamatie, uie, aartappels, bier en ander drank vir die grootmense. Uit die een sak steek twee rooi stokkies, en ek trek hulle uit. Visstokkies vir my en Boetie! En 'n plastiekdryfbandjie vir Boetie, want hy kan nog nie swem nie.

Alles waarvoor ek gewens het, en nóg meer is hier.

Hier hou oom Daan, sy vrou en twee kinders nou ook stil. Ons sal seker met hulle kar ry.

Ons kinders jaag mekaar op die lappie gras in die jaart rond terwyl die grootmense die sakke vol kos en ons tasse met klere in die kar se boot pak. Toe is ons almal in die kar en hier trek ons. Gewoonlik is ons skrikkerig vir Pa, maar vandag voel dit of ons kan lag, skree en tekere gaan.

My familie is hier, dan is Pa altyd vriendeliker.

Op pad na die naweekplek eet ons kinders lekkergoed. Ons stamp en stoei met mekaar. Naderhand lê die kar vol lekkergoedpapiere en halfgeëte tjips. Bietjie later word ons vaak en raak aan die slaap. Ek weet nie hoe lank ons geslaap het nie, maar dis middag toe ons eindelik by die plek aankom.

Ons ry by die hek in, die grootmense klim uit en gaan teken iets by die ontvangs.

Hulle kom uit met sleutels vir die huisie waarin ons die naweek gaan bly. Die kar kronkel deur die straatjies van die vakansiedorpie waar ons nou is. Ons sien die swembad, 'n winkeltjie en die groot dam.

Dan stop ons by 'n huisie met 'n grasdak. Ná die woonwa is dit vir my soos 'n paleis. Almal help om die kruideniers­ware in die kaste te pak. Ons kinders kies elkeen een van die stapelbedjies, die grootmense verdwyn in hul kamers. Die grasdak en hout ruik lekker, amper asof ons in die veld bly.

Pa en oom Daan gaan maak vuur in die braaiplek buite ons huisie.

Ons kinders gil, speel buite, jaag mekaar en klim boom. Dit word skemer, naderhand ruik ons die vleis. Die mengsel van rook en vleisgeure is hemels. By die huis kry ons net nou en dan maalvleis by ons macaroni. Net af en toe op 'n Sondag of Kersfees braai ons.

Die grootmense roep, hulle het almal glasies met drank in die hand. Pa is vriendeliker as gewoonlik, hy neuk nie met Boetie nie en los my ook uit. Ons eet die braaivleis sommer met ons hande en lek ons vingers af. Die aartappel, braaibroodjie en mengelslaai raak my gou baas. Ek is nie gewoond aan so baie kos nie.

Toe ons gaan slaap, voel dit vir my die lekkerste dag van my lewe is verby. Ek probeer my oë oophou en weer aan alles dink, maar voor ek weet, is ek weg.

Toe ek die volgende oggend wakker word, weet ek eers nie waar ek is nie. Nié in die karavaan nie, dit kan ek ruik. Stemme en die geluid van kaste wat oop- en toegaan. Eers tóé onthou ek ons is hier in wonderland waar alles anders en lekker is.

Ons eet gisteraand se oorskiet vir ontbyt. Almal was en trek aan. Ek trek my baaikostuum sommer onder my klere aan. Die visstokke word in die kar gelaai, nóg oorskiet van gisteraand, lekkergoed en skyfies vir die dag. Die kos kom in 'n groot koelhouer, met drankies vir die grootmense, koeldrank en ys tussenin.

Ons kinders staan by terwyl Pa en oom Daan die mieliemengsel wat hulle gekoop het, bewerk om as aas vir die visse te gebruik. Hulle laai dit en die visstokke ook in die kar.


Afspraak met Moord
Afspraak met Moord

In die oog van 'n kultus

Elf wrede moorde oor 'n tydperk van vier jaar ruk die gemeenskap van Krugersdorp en haal landswyd nuusopskrifte. Eindelik word al hierdie moorde verbind met Cecilia Steyn en haar kultusgroep, Electus per Deus (uitverkies deur God). Lede van die groep aanbid die grond waarop Cecilia loop en sal selfs vir haar moord pleeg.

Jana Marx beantwoord vrae wat gespruit het uit een van die opspraakwekkendste moordsake in die land se geskiedenis. Danksy onderhoude met diegene in die binnekring, hofgetuienis en polisiedossiere oor 'n tydperk van vier jaar, poog Marx om die publiek se vrae te beantwoord en 'n blik te gee op die binnewerkinge van só 'n kultus. Klik en koop die e-boek hier


Toe ry ons. By die dam pak ons weer alles uit. Die son maak sulke spikkeltjies soos diamante op die water. Ek trek my oë op skrefies om in die helder lig na die bloute bo my te kan kyk.

Eers wys Pa vir my en Boetie hoe ons die lyn aan die visstokke moet kry. Dan wys hy met sy eie stok hoe ons dit moet vashou en die aas aan die voorpunt by die hoek en sinkertjie moet vassit. Dis 'n pappery, maar ná 'n rukkie het ons ook aas aan die punte van ons stokke.

Ek en Boetie staan lank met die stokke in die water, maar niks gebeur nie. Pa het al 'n paar visse uitgetrek. “Gaan swem julle 'n bietjie, hier is geld vir roomys,” sê hy.

Ons sit die visstokke neer. Ek, Boetie en die res van die kinders stap met ons handdoeke al met die paadjie af na die swembad. Ons koop wit draairoomyse by die swembad se winkeltjie, gaan sit op die gras en eet dit. Dis warm, die room­yse smelt gou en begin oor ons hande loop. Ek sluk vinnig. Ons kinders trek die klere bo-oor ons baaikostuums uit. Ons sprei handdoeke op die gras uit. Toe help ek Boetie om die rubberbandjie op te blaas en om sy lyf te sit. Dis 'n gesukkel, want die rubber kleef aan sy lyfie vas, al hou hy sy arms bo sy kop uitgestrek.

Toe is ons almal reg. Ons hardloop die water in. Dis koel en was die taaigeit van die roomys gou af. Ons plas en speel.

En Boetie dryf te lekker op sy rubberbandjie.

Ons is nog in die water toe die grootmense daar aan­kom. Hulle gooi hul handdoeke langs ons s’n neer en kom ook in die water in. Pa swem saam met ons, hy speel met Boetie, gooi hom in die lug en vang hom weer. Boetie kraai van die lag, so ánders as gewoonlik. Later klim ons uit en Pa skop bal saam met ons kinders op die gras by die swembad.

Ma sit maar net op haar handdoek, sy speel nie saam nie.

Die aand braai ons weer. Ons kinders se lywe is rooi en seer van die son. Sondagmiddag begin ons pak om terug te gaan. Ek wil sommer huil, ek kan nie glo die naweek is verby nie.

Op pad terug huis toe raak ek weer in die kar aan die slaap. Toe ek wakker word, sien ek die woonwa. Alles is weer nes dit was. Die lag is uit Boetie se oë. Hy is weer bang.

Ek ook.

Dis vier jaar later. Ek is veertien.

Ons woon in die groot dubbelverdiepinghuis in Springs. Ons het intussen nóg twee sussies en 'n boetie bygekry. Dié drie is nog baie klein. Ons jongste boetie is nog 'n baba.

Vir die heel eerste keer sedert daardie lekker naweek toe ek tien was, gaan ons weer weg. Hierdie keer gaan hengel ons by 'n oord naby Balfour, in Mpumalanga. Ons bly in 'n chalet. Bedags lê ons in die son, swem, hengel en speel minigholf. En tog kan ek dit nie met oorgawe geniet nie. My gevoel dat iets aan die broei is, word die Saterdagaand bewaarheid.

Pa wil by my hoor wat ek al gedoen het waarvan hy nie weet nie. Ek snap onmiddellik hy wil iets gross hoor, iets onder die belt. Toe vertel ek hom maar wat hy wil hoor om die vrede te bewaar. Dis sommer 'n bogstorie wat ek uit my duim suig dat ek een keer met twee seuns in die leë swembad by ons huis gevry het. Dié leuen hang die res van die naweek soos 'n swaar wolk oor my gemoed. Dit gooi 'n skaduwee oor my waar ek, my boeties en sussies in die son swem en lekkergoed en braaivleis eet.

Imagine net ek sou vir my pa gaan sê: “Ja, wat jy doen is nie reg nie.” Ek sou ’n klap tot teen die vloer kry.

* Lees môre verder . . . 

BESTEL DIE E-BOEK HIER

Dié hoofstuk kom uit die boek Huis van gruwels (LAPA Uitgewers) deur Susan Cilliers.

Koop die e-boek hier


LEES OOK DIE VERVOLGVERHAAL: EENDAG IS NOU, deur Kristel Loots

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.