Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Verwoord jou gevoelens oor pandemie vir beoogde bundel

Maskers en mure, ’n digbundel waarin verskeie digters hul ervaring van die Covid-19-pandemie verwoord, word vanjaar uitgereik.

Benewens sowat 30 gevestigde digters wat genooi is om hieraan deel te neem, kry ongepubliseerde digters tot 28 Februarie die kans om elkeen twee verse voor te lê.

Hannes Visser Foto: Marlene Malan

Dit word deur Turksvy Publikasies in samewerking met die KKNK en met die ondersteuning van die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport uitgereik.

Hannes Visser, wat in 2020 die derde plek in Avbob se poësiekompetisie behaal het, en die joernalis Marlene Malan het Turksvy Publikasies verlede jaar in die Klein-Karoo gestig.

Maskers en mure is ’n idee van Francois de Jongh, wie se jongste digbundel, Konglomeraat, verlede jaar by Naledi verskyn het.

Hy het Turskvy Publikasies en die KKNK genader om die projek te steun en die digter Daniel Hugo is as redakteur van die bundel aangestel.

“Dis ’n groot projek, ons wil dit ordentlik doen,” sê Visser, wie se debuutdigbundel, Die jaar toe Pa . . ., in 2019 verskyn het.

Marlene Malan

“Die bundel (Maskers en mure) se inhoud is nog onbekend, maar dit is ’n geleentheid om ’n dokument te skep waarmee mense oor ’n paar jaar sal kan sien hoe digters hierdie tydperk (van die pandemie) onthou. Teen 15 Maart word die ongepubliseerde digters in kennis gestel of hul gedigte goedgekeur is. Daarna sal ek met Daniel se leiding met hulle werk en aan die gedigte skaaf en korrigeer.”

Visser wil die gedigte in April aan die uitlegkunstenaars stuur.

Kunste Onbeperk
Hugo Theart

Hugo Theart, hoof van Kunste Onbeperk, is baie bly oor dié bundel omdat poësie verlede jaar een van die temas op die KKNK sou wees voordat dit afgelas is.

Francois de Jongh Foto: Marlene Malan

Die Santie de Jager-digtersden sou daar aangebied word.

“Digkuns is ’n ander manier om die wêreld te verstaan en te waardeer en om die waarheid vas te vang,” sê Theart.

“Dis ’n baie spesifieke, spesiale literêre genre. En hierdie bundel vang ’n tyd vas, hopelik bring dit besinning. Ek dink dit sal ’n ander invalshoek na die pandemie bring. “Digters, filosowe en kunstenaars is dikwels ons rigtingwysers. Hulle lig waarhede uit, maar bring ook hoop.”

Digters soos Andries Bezuidenhout, Lina Spies, Lochner de Kock, Koos Kombuis en Jerzy Koch is genooi om bydraes te lewer.

• Ongepubliseerder digters kan ’n maksimum van twee gedigte voorlê deur ’n e-pos aan danielhugo.skryf@gmail.com te stuur.

• Alle gedigte moet handel oor die tema van die Covid-19-pandemie.

• Net suksesvolle digters sal in kennis gestel word.

Daniel Hugo Foto: Marlene Malan
Meer oor:  Kknk  |  Klein-Karoo  |  Boeke  |  Digbundel  |  Covid-19-Pandemie  |  Poësie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.