Fiksie
Donker web
Fanie Viljoen
Tafelberg, R250
Fanie Viljoen, jeugboekskrywer, is veral bekend vir sy debuut, BreinBliksem, wat in 2005 verskyn het.
Dié boek het die Sanlamprys vir jeuglektuur ontvang en is in Engels vertaal as Mindf*ck.
BreinBliksem is goed ontvang, maar nie vir sensitiewe lesers aanbeveel nie. Maritha Snyman het destyds in Beeld geskryf: “Dit is ’n onthutsende maar boeiende leeservaring. Die boek verg oopkop-lesers.”
Nou, sewe jaar later, is daar Donker web, die vervolg van Onderwêreld (2008). Greg Owen, voormalige hoofseun by Lawson College, het ’n reputasie as kuberkraker van formaat. Hy sluit sy skoolloopbaan onder ’n wolk van omstredenheid af.
Sy broer het selfmoord gepleeg en sy pa is in die tronk nadat Greg hom ontmasker het as een van die baasbreine agter die projek Nursery Rhyme. Greg ontdek later dat sy ma ’n affair het.
Arme Greg, maar lesers sal meer simpatie met hom hê as hulle kon weet hóékom die lewe hom die rug gekeer het. Natuurlik is daar ’n agtergrondstorie, maar dié word net in flertse onthul – dis nie genoeg om alles wat nóú gebeur volledig te laat sin maak nie. Dit sal ’n probleem wees vir lesers wat nie die voorganger gelees het nie.
Die rits onthullings en mistastings en die karakters se wantroue in mekaar veroorsaak amper ondraaglike spanning.
Greg gebruik sy trustgeld om ’n splinternuwe kar te koop en vat die pad na Stellenbosch, waar hy beplan om sportwetenskap te studeer.
Sy pad kruis gou met dié van Plank, ’n voormalige skoolvriend.
Sake verloop teen topspoed en die kinkels en draaie word hoog gestapel. Viljoen ken van intrige.
Greg se sending is om die ander baasbrein agter Nursery Rhyme, die uitgeslape dr. Baker, te ontmasker. Sy speurtog neem hom en sy trawante na Turkye en Venesië.
Die rits onthullings en mistastings en die karakters se wantroue in mekaar veroorsaak amper ondraaglike spanning. Meer kan nie oor die boek gesê word sonder om die leesavontuur – en dit ís ’n avontuur – te bederf nie.
Daar is ’n amperse filmiese kwaliteit aan Donker web. En ’n amperse onwerklikheid. Op bl. 289 word daar tereg opgemerk: “Niks is werklik nie.”
Viljoen bou sy storie soos ’n legkaart en “speel” met sy lesers soos wat die karakters soms met mekaar speel en die een teen die ander afspeel. Die skrywer het die vermoë om ’n storie te spin waarby hedendaagse tieners kan aanklank vind, maar lesers moet nogmaals “oopkop” en paraat genoeg wees om die drade bymekaar te hou.
Selfs al word te min gesê oor die hoofkarakter se verlede, versit Donker web nogmaals die grense van die Afrikaanse jeuglektuur.
JB Roux is ’n vryskutresensent van Riebeek-Wes.