Die skrywer Fanie Viljoen het met sy distopiese jeugroman Offers vir die vlieë die Lapa-jeugromankompetisie gewen.
Die geestelike skrywer Maretha Maartens en Jan Vermeulen het gesamentlik die tweede prys gewen – Maartens met Bethel se berg en Vermeulen met Baster.

Fanie Viljoen
Die wenners is Woensdag op ’n glansgeleentheid in die Unisa-kleinteater in Pretoria bekendgemaak.
Viljoen was al twee keer tevore ’n naaswenner in die jeugromankompetisie met sy boeke Betower en Afkop.
Hy is het dikwels die Sanlamprys, die M.E.R.-prys en talle ATKV-Woordveertjies losgeslaan.
Viljoen het al meer as 60 boeke gepubliseer.

Maretha Maartens

Jan Vermeulen
In Offers vir die vlieë is Eliam en sy vriende op pad na die Front om in die oorlog te veg waarvoor hulle al van kleins af brutale opleiding ontvang.
Volgens die beoordelaars sal hedendaagse tieners in Suid-Afrika kan identifiseer met Eliam se worsteling rondom brutaliteit, geweld, marteling, vernedering, ook ’n verlies van die self en ’n eie identiteit. Een van die beoordelaars skryf: “Hierdie verhaal is myns insiens een van die beste wat ek in ’n lang tyd in Afrikaans gelees het.”
“[D]ie boek is amper soos ’n gedig aan die Suid-Afrikaanse binneland.”
Al drie die wenromans verskyn vanjaar by Lapa.
Bethel se berg is ’n historiese jeugroman in die styl van ’n memoire wat gaan oor Bethel, ’n jong tienermeisie in die 1980’s wat saam met haar ma en sibbe in ’n kombi van dorp na dorp reis. Bethel se ma bak vetkoek om die gesin aan die lewe te hou, maar hulle bly nooit lank genoeg op een plek om wortel te skiet nie. Die beoordelaars is dit eens dat Maartens se jeugverhaal “bydra tot vernuwing in Afrikaanse jeugliteratuur binne die genre van memoires of herinneringsverhale”, en “(d)ie boek is amper soos ’n gedig aan die Suid-Afrikaanse binneland”.
Maartens is al meer as vyf dekades een van die mees geliefde Afrikaanse skrywers in veral Christelike literatuur en historiese fiksie. Daar het al meer as 130 boeke uit haar pen verskyn.
Baster is ’n verhaal wat handel oor ’n seun wat met honde kan praat. Die roman vertel van die honde waarvoor hy lief is, maar ook die hondegevegte en geweld wat sy samelewing verskeur. Vermeulen dra in sy kenmerkend eerlike styl ’n moeilike storie oor wat jou ongemaklik laat, maar wat uiteindelik ook ’n verhaal van hoop is.
Die beoordelaars skryf: “Hierdie roman getuig van die vermoë om ’n storie te kan vertel en goed te kan skryf.” Vermeulen het in 2015 en 2017 die kompetisie gewen met Asem en Oopmond. Hy het ook al verskeie Sanlampryse gewen, sowel as die M.E.R.-prys, die Scheepersprys en ’n ATKV-Kinderboekprys.
Vanjaar het die debuutskrywer Tertius Janse van Rensburg erkenning gekry vir sy humoristiese en deernisvolle verhaal oor drie seuns wat die Lotto wen met die hulp van een se oupa wat Alzheimers het.