Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Vir boeksnuffelaars en liefhebbers van digkuns

Vers & kapittel

Artikels, rubrieke en naskrifte oor die digkuns

Daniel Hugo

KRAAL UITGEWERS, R200

Niefiksie

In Vers & kapittel is daar ’n skryfplesier wat blyk uit elke bydrae en dis boonop ’n nuttige gids om vir jong lesers die waarde van stiplees te leer, skryf Joan Hambidge.

Daniel Hugo Foto: Marlene Malan

Daniel Hugo is ’n digter, vertaler, bloemleser, leser soms op Vers en klank, voormalige omroeper en akademikus.

Vers & kapittel se subtitel lui dat dit ’n boek is met artikels, rubrieke en naskrifte oor die digkuns, wat tans bewaar word by Akademia. Telkens gee ’n voetnoot erkenning oor presies waar dit verskyn het hetsy as praatjie, lesing of inleiding. Daar is ook bronvermeldings vir verdere speurwerk.

Die bundel word uitgegee deur Kraal Uitgewers (wat deel is van die Solidariteit-beweging). Dit is verder geborg deur die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns.

Die titel is ’n bekende idioom: iets met vers en kapittel bewys beteken om iets noukeurig te bewys.

In die woord vooraf word Gerrit Komrij se lof besing en sy siening dat ’n leser nie op teorie hoef te steun nie: Al wat glo noodsaaklik is, is gesonde verstand, belesenheid en die vermoë om prikkelend en kernagtig te formuleer. Hugo kritiseer ook die “meganiese” manier van lees wat so gewild is aan universiteite; gelukkig wys hy daarop dat daar uitsonderings is op dié “ongelukkige stand van sake”.

En ja, sou ’n mens wou byvoeg: Teoretiese lesings (soos dié van Ina Gräbe) het eweneens ’n plek in die leesproses, net soos “onskuldige” lees ’n illusie is. Die leser moet immers weet hoe ’n kwatryn verskil van ’n sonnet of distigon – en dit is alreeds teorie. Oor kreatiewe werkswinkels laat hy hom uit en erken die belang van D.J. Opperman se laboratorium.

“Die taal as muse” gee ’n interessante perspektief op “Winternag” met ’n digterlike reaksie van Hugo op hierdie klassieke vers.

In ’n kort huldeblyk aan die besonderse digter en biograaf J.C. Steyn word die toekoms van Afrikaans bespreek, terwyl die leser deeglik vertel word van die probleme rondom die vertaling van Omar Khajjam en die “Khajjam-industrie”. Hier word die leser ingelig oor die geskiedenis van die vertaling en welke digters dit al vir ons vertaal het.

Hugo plaas sy kaarte op die tafel. Hy bely dat hy van Komrij se poësie hou omdat hy ’n digter van die verstand is. Selfs al maak sy versvorm en taalgebruik ’n argaïese indruk, is die onderwerpe byderwets. Vernufs­poësie en speelse verse is immers Hugo se métier.

En Komrij, terloops, was ’n besonderse rubriekskrywer en polemis met sy aforismes en enorme kennis. Net soos Camille Paglia in Break, Blow, Burn (Pantheon, 2005) wanneer sy oor haar gunstelingverse skryf sonder teoretiese vertoon. Of die rubriekskrywer en voormalige Oxford-professor Ruth Padel, wie se rubrieke oor die digkuns geboekstaaf word onder meer in The Poem and the Journey (Random House, 2007), waar sy gedigte aan die vergetelheid ontruk.

Hugo se rubrieke gee sy persoonlike sieninge van die digkuns weer en dit is altyd vir hierdie leser boeiend wanneer ’n digter sy eie werkwyse verklap.

Sy bydraes oor vernufspoësie en die limeriek (dalk eerder limerick?) is uitstekend. Hugo is ’n boeksnuffelaar en sy entoesiasme vir die skryf en lees van gedigte moet vermeld word.

Soms wys hy foute uit (“Papier, papirus en perkament”); ander kere verduidelik hy presies wat gewen of verloor word in die vertaalproses.

Wat verlore gaan, is versklank, kulturele weerklanke, betekenis­asso­siasies, meerduidighede, subtiele registerwisselinge en nuutskeppings. Daardie vibrasies, soos hy dit tereg noem, wat net deur die moedertaal-oor opgevang kan word.

Soms ontdek hy ’n verband wat vorige kritici nie gesien het nie
(Eliot en Cussons); ander kere herontdek hy ’n belangrike digter (I.L. de Villiers) of ’n vergete een (Elizabeth C.M. du Toit).

Oor “Klipwerk” skryf hy besonder insigryk – met dank aan Christo van Rensburg wat volgens hierdie leser ’n uitstekende artikel oor dié reeks geskryf het naas T.T. Cloete se klassieke analise van ’n klein gedig. Kyk wat vertel hy oor Goethe se gedig en toe ’n hut gebrand het . . .

Die verskil tussen vertaling en toeëiening kom ook aan bod.

Uiteraard verskil ’n mens soms; op plekke kon hy dalk verder gegaan het met ’n stelling (soos dat die kanon nie heilig is nie op bl. 225). Hier sou Harold Bloom se The Western Canon van hulp kon wees: Ons leef immers in die tyd van on­sekerheid en onbestendigheid. Hugo meen dat sonder taallojaliteit en moedertaalonderrig ons taal gedoem is.

Dit is ’n moderne Rondom eie werk en Kaneel.

Liefhebbers van die digkuns sal dit geniet vir die skryfplesier wat blyk uit elke bydrae, en dosente sal dit eweneens handig vind om jong lesers die waarde van stiplees te leer.

Die voorblad gee ’n siniese Hugo weer, ontwerp deur sy seun – aan wie die boek opgedra word.

’n Tersaaklike boek uit die hand van ’n bekroonde vertaler.

  • Joan Hambidge beklee die Hofmeyr-leerstoel aan die Universiteit van Kaapstad.
Meer oor:  Daniel Hugo  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.