Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Vir die kinders se Kerskous

Bederf die kinders in jou lewe met ’n Afrikaanse boek vir Kersfees wat selfs tydens beurtkrag nuwe wêrelde vir hulle sal ontsluit, skryf Magdel Vorster.

Deur ’n kinder- of jeugboek as Kersgeskenk te gee, gee jy veel meer as net “een” geskenk – en dis boonop een sonder batterye wat pap word, en een wat nog net so goed werk as die weer goor of Eskom nie op sy stukke is nie.

PROTEA BOEKHUIS

Protea Boekhuis het onlangs weer twee ou gunsteling-prenteboeke – albei perfek vir die Kerskous – uitgegee: Die rooi rok (R150) deur Dux en Ena van der Walt en Kerneels en die Krismisengel (R150) deur Wendy Maartens is albei sielvol deur Anneliese Voigt-Peters geïllustreer.

In Die rooi rok besmeer Doortjie op Oukersdag haar Kersfeesrok toe sy buite speel, maar in die gees van Kersfees hang daar wel die volgende oggend ’n splinternuwe rooi rokkie teen haar kas.

In Kerneels en die Krismisengel ontmoet jong lesers vir oom Sol, ’n veiligheidswag by die winkelsentrum waar Kerneels se ma as nagskofskoonmaker werk. Hy deel sy kosblikkos met Kerneels en vertel hom van die sterre, onder meer dat die Betlehemster moontlik verskiet het en in mense se harte vassit. Toe Kerneels op Kersdag ’n wit veer van oom Sol ontvang, is hy tevrede. Hy het uiteindelik ’n regte engel gesien – een met ’n fiets en ’n kosblik.

Ook Philip de Vos en Piet Grobler se Vandag is ek ’n windlawaai (R150) en C.J. Langenhoven se Kootjie Totjie (R120) sal ’n aanwins wees in enige Kerskous.

In 13 verse wat deur Schumann se Kinderszenen geïnspireer is, vertel De Vos die storie van ’n dromertjie wat die wêreld op sy houtperd deurkruis. De Vos se ryme is voortreflik en Grobler se waterverfillustrasies baldadig en ondeund – vir almal jonk van vlees of gees.

Kootjie Totjie, gevoelvol deur Marjorie van Heerden geïllustreer, handel oor Kootjie, ’n varkie wat Gert Wolf se slagmes vryspring nadat hy drie druiwekorrels deur die duifma gevoer en in ’n wit olifant verander is.

Chris Riddell se eerste twee Juffrou Goth-boeke is deur Kobus Geldenhuys in Afrikaans vertaal. Dié stories is verfrissend vergesog met ’n magdom interessante karakters. In Juffrou Goth en die spookmuis (R160) ontmoet Ada onder meer vir Sesta die sirene en Hamish die Shetland-sentour, terwyl die Grommengrys-bakkompetisie met gasoptredes deur Niegeliena Suikerlepel en Heston Hardgebak in Juffrou Goth en die onfeestelike fees (ook R160) ter sprake is. Die gedetailleerde illustrasies lig die teks toe, maar dra ook by tot die pret.

NB-UITGEWERS

Op die rug van ’n tier (R150), ’n sjarmante prenteboek deur Dianne Hofmeyr met illustrasies deur Jesse Hodgson, is deur Henri Rousseau se skildery Tier in ’n tropiese stormgeïnspireer. Nadat Tom die skildery in ’n kunsgalery gesien het, droom hy hy reis deur ’n oerwoud op ’n tier se rug. Hy spreek deurgaans sy vrese vir die donker en wilde diere uit, maar ná dié nag het hy sy vrees oorwin. Is hy ook dalk ’n tier? Die boek, deur Elna van der Merwe in Afrikaans vertaal, verskyn onder die Tafelberg-druknaam.

Nog ’n klassieke gunsteling – ek sien sommer klaar kleinkinders op ’n voorlesende ouma of oupa se skoot – is W.O. Kühne se Huppelkind (R245), wat deur sy vrou, Dorothy Hill, geïllustreer en vroeër vanjaar weer deur Tafelberg uitgegee is. Kühne se bekoorlike stories oor Huppel en sy oupa se geloofwaardige fantasiewêreld móét oorvertel word en is gewaarborg om leeslus aan te wakker.

Vir nege- tot 12-jarige lesers het twee gawe leesreekse by Human & Rousseau verskyn. Al nege boeke in Alice Pantermüller se Lotta se lewe-reeks (R160 elk) is deur Daniela Kohl geïllustreer en deur die veelbekroonde Kobus Geldenhuys in Afrikaans vertaal. Lotta se alledaagse gesinslewe en sosiale onbeholpenheid word in dagboekstyl aangebied.

’n Ander opsie is De Wet Hugo se Grilgrypers-reeks.

Moet ook nie vergeet van Fanie Viljoen se grootwordverhaal Veldiep (R175) wat deur Tafelberg uitgegee is nie. Hierin word belangrike boodskappe oor sowel kuber- as tradisionele boelies oorgedra sonder moralisering of ’n gewroeg.

Lapa

Zelda Bezuidenhout se As mens geluk kon proe (R180) is aangewys as naaswenner in Lapa se jeugromankompetisie in 2017 en het vroeër vanjaar verskyn. In dié lekkerlees-grootwordverhaal vol humor en deernis kom Arnelia in die middel van die kwartaal by ’n nuwe skool aan. Haar ma verkies dat sy Afrikaans korrek gebruik, en sy hou van eet. Die temas wissel van boelies en geslagdiskriminasie tot kos en romanse. 12- tot 16-jarige lesers sal dié een moeilik neersit en kan dalk selfs tot ’n sessie in die kombuis geïnspireer word.

Jaco Jacobs se Dinge wat ek nie van skape geweet het nie (R132) bied veel meer as skaapfeite. Luan ry saam met sy ouma deur die Karoo op soek na interessante windpompe. Dan ontmoet hy ’n skaap . . . en ’n mooi meisie. Gaan die storie oor Delores die veilingskaap of Luan en die bloggende Lana? Dié alternatiewe vakansieverhaal sal in enige Kerskous welkom wees.

Hoe gemaak as ontvangers nie van fiksie hou nie? Wendy Maartens se reeks Helde van Suid-Afrika (R125 elk) stel minder bekende helde, soos die Laingsburg-gemeenskap in die 1981-vloedramp en Max die gorilla aan jonges bekend. Die reeks bestaan uit drie boeke met altesame 18 verhale, en is kleurvol en modern deur Alex van Houwelingen geïllustreer.

Pak vanjaar ’n boek in die Kerskous en kweek nuwe Afrikaanse lesers.

  • Magdel Vorster is ’n voormalige kinderbibliotekaresse en eienaar van ’n kinderboekwinkel wat vir oorsese publikasies oor plaaslike boeke in dié genre skryf.
Meer oor:  Kinderboeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.