Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Vir lesers met sterk gestelle

Swartval

Martin Steyn

LAPA, R240

Swartval is Martin Steyn se derde roman sedert sy debuut in 2014 met Donker spoor.

Swartval is vir lesers met sterk gestelle en op die agterflap word gewaarsku dat dit nie vir sensitiewe lesers is nie. Maar wat ’n roman! Dit is soos om na ’n episode van Criminal Minds te kyk – dis net baie beter, omdat die woordsketse so vernuftig geskilder word dat jou brein tonele skep waarvan skeppers van televisiereekse net kan droom.

Claire Winters, ’n ontkleedanseres by Teazers, waar sy as “Hayley” mans se kiewe in speekselopgaardamme omtoor, word ontvoer en in ’n donker, pikswart kelder aangehou, buite Kaapstad. Vandaar die titel.

Steyn slaag baie goed daarin om die donker van die kelder te gebruik as metafoor vir die “swart gemoed” waarteen Claire bewustelik baklei (haar ma was ’n depressielyer) en om nie moed te verloor ten spyte van die oënskynlik uitsiglose afsienbare toekoms nie. Met tye is die enigste lig wat sy sien die lig van die lantern wanneer haar ontvoerder haar kos bring.

In die kelder word sy met tye so mishandel deur haar ontvoerder en dié se ma dat die leser se hart fisieke pyn ervaar terwyl jy die tonele lees en die beelde in jou kop vorm. Dis egter die verkragtingstonele wat jou hart laat ruk, jou die boek vir sekondes laat sak net om asem te skep. Dié tonele is realisties, brutaal, ongebreideld – soos die verkragtingsdaad. Tesame daarmee ervaar die leser, benewens die brutaliteit en fisieke pyn, ook ’n deel van wat in Claire se gemoed aangaan. Dit bring ’n gevoel van deernis én woede.

Steyn kry dit reg om ’n vroulike innerlike krag en uithouvermoë in die karakter vas te vang en hy breek stereotipes af, oor onder meer ontkleedanseresse.

Swartval is ’n sielkundige spanningsroman wat jou boei, jou hart laat klop, jou woedend maak, ’n traan in die hoek van jou oë laat opdam – kortom, jou die hele spektrum van emosie laat ervaar.

Die spanningslyn word van die eerste bladsy af snaarstyf gespan, verloor effens en kortstondig momentum, maar tel weer op dat jy nie kan wag vir die volgende sin, paragraaf en bladsy nie.

In die skrywersnota en bedankings aan die einde van die boek word bevestig waarvan jy voortdurend tydens die lees van die roman, bewus was: Steyn se deeglike navorsing.

Hy bedank kenners en betrokkenes uit die professionele velde wat in die boek aangeraak word. Goeie navorsing is duidelik in die geloofwaardigheid van tonele en gebeurtenisse. Steyn is beslis een van Afrikaans se voorste spanningsromanskrywers.

Pieter Steyn is ’n vryskut­resensent en redaksielid van Netwerk24.

Meer oor:  Misdaadfiksie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.