Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
‘Vlakte’-stories is dinamiet vir begrip van bruin bure

Moenie vir ’n oomblik dink ‘Living Coloured’, Yusuf Daniels se dikwels skreeusnaakse outobiografiese herinneringe aan sy grootwordjare op die Kaapse Vlakte, sal net by bruin lesers of Kapenaars aanklank vind nie, skryf Kay Karriem.

Living Coloured (Because Black & White Were Already Taken) deur Yusuf Daniels. Uitgewer: Jacana. Prys: R140.

“Dinamiet kom in klein pakkies” is die maklikste manier om die 21 stories in hierdie outobiografiese boek deur Yusuf Daniels te beskryf. En net soos regte dinamiet is die verhale gevaarlik – jy word meegevoer én onkant betrap deur die herinneringe en emosies wat dit in jou binneste losmaak.

Living Coloured is nie ’n dik boek nie, skaars 100 bladsye, maar ek wil lesers aanmoedig om hulle tyd te neem met dié versameling herinneringe aan die skrywer se kinderdae in Bridgetown, Athlone, en later Portlands in Mitchells Plain. Hy maak ook ’n draai in Distrik Ses waar sy ouma gewoon het.

Die Kaapse Vlakte is egter meer as net die plek waar die stories afspeel. Dit bly op die agtergrond, maar vorm deurentyd ’n integrale deel van die storie, amper soos nog ’n karakter wat die prentjie voltooi van hoe dit regtig was om daar ’n kind te wees.

Die Kaapse Vlakte het oor die jare ook die tuiste geword van elke denkbare stereotipe wat oor die bruin inwoners van Suid-Afrika bestaan.

Wanneer sommige mense “Kaapse Vlakte” hoor, dink hulle immers dadelik “bruin, bendes en dwelms”, maar Daniels se stories preek nie, praat weinig politiek en wys eerder die lief en leed van die lewe op die Kaapse Vlakte wat soveel méér is as al die vooropgestelde idees tesame.

Danksy Daniels se eerlikheid kry lesers ’n eerstehandse blik op ’n hegte gemeenskap wat dikwels misverstaan word en wat ondanks ’n magdom uitdagings daarin geslaag het om hulle tradisies te behou en nooit hul sin vir humor te verloor nie.

Die titel maak op sigself ’n stelling, maar dis nie ’n politieke stelling nie. Dit verklaar onbeskaamd hierdie boek gaan vertel oor die lewe van ’n bruin kind in Suid-Afrika. Die skrywer aanvaar dus met die intrapslag eienaarskap van sy stories.

Dis belangrik, want in die verlede is so baie stories óór, van en vir bruin mense vertel, maar nou word die bordjies verhang. Soos die komediant Donovan Goliath in die voorwoord sê: “The book says proudly that I am enough, my stories do matter, and they are mine to tell.”

Aangesien die verhale meestal uit die perspektief van ’n kind aangebied word, is daar ’n soort onskuld aan die stories. Hoewel die politieke werklikhede van die tyd nie geïgnoreer word nie, is dit vir ’n kind bloot nie so belangrik soos familie, vriende, speel en speelgoed nie. Die politiek het immers ook nie gekeer dat die lewe voortgaan nie.

Daniels se stories en karakters het my hardop laat lag, maar tussendeur ook ’n traan laat wegpink soos die herinneringe aan my eie kinderjare soos ’n tsoenami oor my gespoel het.

Reeds die eerste storie het my drie dekades terug verplaas na die strate van Ravensmead (net duskant Bellville in die skadu van die Tygerberg-hospitaal) waar ek ook in die straat gespeel het. Dis nou nie properse Kaapse Vlakte nie, maar naby genoeg.

As tydgenoot van die skrywer (iemand wat in die 1980’s in ’n bruin buurt grootgeword het) was elke kinderspeletjie en karakter vir my bekend, maar moenie vir ’n oomblik dink Living Coloured sal net by bruin lesers of Kapenaars aanklank vind nie.

As jy al ooit gewonder het oor jou bruin bure en hoekom hulle doen wat hulle doen, sal hierdie stories ’n nuwe wêreld van begrip vir jou ontsluit.

Vir jonger lesers vertel dit die geskiedenis soos geen handboek kan nie, want dit gee ’n ware blik op die verlede.

Hulle sal ook sien wat hulle alles misloop deur dag en nag aan ’n skerm vasgeketting te wees – hier word ’n gans ander wêreld gewys toe oud en jonk kon saamspeel sonder om hulle oor hul veiligheid te bekommer.

Selfs die toon en taalgebruik (hoofsaaklik Engels met Afrikaanse uitdrukkings tussendeur) sal lesers laat voel of hulle luister na ’n gewone mens wat sy storie vertel. Wees op die uitkyk vir al die uitdrukkings en gesegdes wat jy nie ken nie sodat jy later daaroor kan uitvra – ek is seker dit sal tot interessante gesprekke lei!

Ek weet reeds ek gaan Living Coloured wéér lees – nie net om my aan my eie kinderdae te herinner nie, maar om te herkou aan al die harde lesse en hoekom dit so belangrik is dat ons voortgaan om ons eie stories te vertel. True story.

  •  Kay Karriem is redakteur van die tydskrif Kuier.
Meer oor:  Yusuf Daniels  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.