Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Voeg jou naam by petisie om boeke te laat aflewer

Skrywers en die publiek maak hul stem dik in ’n petisie sodat boeke weer verkoop mag word wanneer fase vier van die staat van inperking in werking tree.

Mark Gevisser
Mark Gevisser Foto: Ellen Elmendorp

Mense kan tot Dinsdag om 20:00 hul naam voeg by ’n brief wat die skrywer Mark Gevisser aan pres. Cyril Ramaphosa, Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, en die nasionale koronavirusbevelsraad gerig het.

“Dit is ’n dringende kwessie,” sê Gevisser, onder meer bekend om sy biografie oor oudpres. Thabo Mbeki, The Dream Deferred.

“Die boekbedryf is ’n kwesbare bedryf. Daar is baie bedrywe wat weens die inperking die gevaar loop om ten gronde te gaan en die boekbedryf is een daarvan. As ons nie oppas nie, is ons sommige handelaars sowel as uitgewers kwyt.”

Die petisie het begin as ’n ope brief wat gepubliseerde skrywers, insluitende Afrikaanse skrywers, onderteken het.

“Daar was egter soveel entoesiasme van ander skrywers en die publiek dat ons besluit het om die petisie vir almal oop te maak.”

Die brief toon begrip met die moeilike keuses wat die regering moes maak om lewens te red en die verspreiding van die virus te bekamp.

Die skrywersorganisasie PEN Suid-Afrika ondersteun die petisie en het dit op sy webblad geplaas, sê Nadia Davids, voorsitter van PEN SA.

“Die dryfkrag agter die brief is dat ons dankbaar vir en trots is op leierskap en die deernisvolle manier waarop die regering die Covid-19-pandemie hanteer.”

Skrywers soos Kerneels Breytenbach, Antjie Krog, Deon Maas, J.M. Coetzee en Lauren Beukes het hul naam by die petisie gevoeg. Die brief lewer ’n pleidooi dat boeke bestel en afgelewer kan word.

“As gekookte kos afgelewer mag word, kan boeke sekerlik ook afgelewer word,” sê Gevisser.

“Die lees van boeke val eintlik goed in by die inperking. Lees is immers iets wat jy op jou eie kan doen. Ons stel dit ook so in die brief.”

Die brief voer aan nie net opvoedkundige boeke moet verkoop word nie, maar alle boeke.

“Alle boeke voed ’n mens op,” sê Gevisser.

“Die petisie het vir my ’n materiële sowel as simboliese funksie: dat die verspreiding van boeke hervat en dat die belangrikheid van boeke bevestig word.”

* Klik hier om die petisie te onderteken.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.