Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Voëlvlug oor vooruitgang

Die mens boer vinnig vooruit, skryf die Stellenbosse ekonoom Johan Fourie in  ‘Our Long Walk to Economic Freedom’.  Fourie ondersoek die oorsake van welvaart in dié boek, wat nuttig, interessant, belangrik en polities verfrissend is, skryf Waldimar Pelser.

Werkers by ’n diamantmyn in Kimberley in 1900. Die spoorlyn wat Cecil John Rhodes laat bou het van die Kaap tot by Kimberley in 1885, het dit oornag goedkoper gemaak om graan uit Australië of Amerika per skip en dan uit die Kaap per trein na die diamantvelde te neem. Foto: Getty Images

Our Long Walk to Economic Freedom: Lessons from 100 000 years of human history deur Johan Fourie. Uitgewer: Tafelberg. Prys: R310.

Dit voel dalk nie altyd so nie, maar die mensdom gaan vinnig vooruit.

In Suid-Afrika was ons ekonomiese vooruitgang veral in snelrat in die middel 2000’s danksy die Gear-beleid wat so ongewild by aktivistiese vakbonde was. Onder die “drie TM’s” (Thabo Mbeki, Trevor Manuel en Tito Mboweni) het inflasie gedaal van 14% in die dekade voor 1994 tot 6,4% in die dekade daarna; ekonomiese groei was 5% per jaar; die apartheidsregering se buitelandse skuld is grootliks afbetaal, en in Februarie 2007 het Suid-Afrika selfs ’n begroting-surplus aangeteken.

Daar was vooruitgang, al is dit weens ’n halfopgeleide arbeidsmag en lae arbeidsproduktiwiteit nie altyd in werkskepping omgeskakel nie.

Elders in Afrika het arbeidsproduktiwiteit wel skerp gegroei – met byna 3% per jaar die laaste twee dekades; handel met die res van die planeet skiet op met 200%; en inflasie was net meer as ’n derde van wat dit in die 1990’s was. Dis vooruitgang.

Wêreldwyd daal die persentasie mense wat leef in ekstreme armoede van 44% in 1980 tot minder as 10% nou. Dis vooruitgang.

Die ekonomie rig alles en verduidelik baie.

So asemrowend was die vooruitgang in ons leeftyd dat koerante, wat om evolusionêre redes fokus op dit wat ons bedreig, volgens die Stellenbosse ekonoom prof. Johan Fourie elke dag die opskrif sou kon dra: “Die getal mense wat in ekstreme armoede leef, het sedert gister met 128 000 gedaal.” Dis verbluffend om dit so swart op wit te sien in Our Long Walk to Economic Freedom.

Wat Fourie se boek so besielend en polities verfrissend maak, is dat hy ekonomiese vryheid nie à la die EFF as die einddoel van vooruitgang beskryf nie, maar as die voorwaarde daarvoor.

Wanneer ons vry is – om te koop en verkoop, te belê en te waag, te reis en te migreer – gaan ons vooruit. Veral wanneer dié vryhede saamgaan met goeie opvoeding, infrastruktuur, goedkoop elektrisiteit, ’n wetenskaplike lewensbeskouing en natuurlik ook soms ’n geografiese gelukskoot of drie.

Waar tiranne soos Mao of Stalin daarenteen hul mense se ekonomiese vryheid in die naam van groot idees ingekort het, is miljoene dood. En toe die apartheidsregering ’n ganse bevolking se ekonomiese, politieke en eiendomsregte ingekort of gestroop het, was daar verarming wat meetbaar was en soms steeds sigbaar is.

Armoede is egter nie dié jong professor se vernaamste obsessie nie, hoewel hy met insig en op toeganklike wyse skryf oor die impak wat talle groot maatskaplike skokke op menslike welvaart gehad het. Hieronder tel die slawehandel binne Afrika en toe vir 300 jaar op veel groter skaal oor die Atlantiese Oseaan; die apokaliptiese Mfecane, wat swart stamme tussen 1815 en 1835 na bergagtige gebiede verdryf het waar dit moeiliker was om handel te dryf en landboukundig te floreer; en die Wet op Naturellegrond van 1913, wat swart grondeienaarskap beperk het tot ’n klein fraksie van die land. Dié wet, volgens navorsing deur Fourie, Bokang Mpeta en Kris Inwood, het deur ontneming van swart gesinne se grond en lewende hawe swart welvaart só geknou dat swart Suid-Afrikaanse mans vir etlike dekades daarna al hoe korter sou word – ’n teken van swak voeding, ontbering, en beperkings op menslike vryheid. Dié tendens is eers met die uitbreiding van die goudmynbedryf in die 1930’s ongedaan gemaak.

Oor die slawehandel wys die jong prof dat oorloë oor mense pleks van grond altyd meer waarskynlik was in ’n vasteland wat relatief baie grond maar relatief min mense gehad het – ’n gegewe wat tot ’n groot mate ook die verskynsel verduidelik van bruidsprys of lobola, wat tradisionele families vir die verlies aan hul dogter se arbeid eis.

Die ekonomie rig alles – en verduidelik baie.

Ekonomiese faktore het aan die kern gelê van baie van die Portugese, toe die VOC, toe die Britte se koloniale avonture; insgelyks het ekonomiese werklikhede stelsels van onvryheid soos apartheid weldra kortgeknip.

“Die koste daarvan om swart weerstand te onderdruk, instromingsbeheer, en arbeidsmarkbeleid wat swart werkers gekeer het om halfgeskoolde en geskoolde poste te beklee; onderwysbeleid wat ’n wanverhouding veroorsaak het tussen wat firmas benodig het (vaardige werkers) en wat voorsien is (ongeskoolde arbeid); en makro-ekonomiese beleid soos valutabeheer het later die voordele vir wit Suid-Afrikaners oorskry en die laaste apartheidsleiers met weinig alternatief gelaat,” skryf Fourie op bl. 178.

Apartheid was nie net verkeerd nie, maar ook onbekostigbaar. Ikeys se prof. Nicoli Nattrass bereken die ekonomie het tussen 1948 en 1974 met 5% gemiddeld per jaar gegroei, maar in die 20 jaar daarna met slegs 1,5% per jaar.

Fourie se prentjie van apartheid is nie sonder kompleksiteit nie: Hy toon dat swart welvaart lank voor 1994 skerp begin toeneem het en dat die waarde van swart en wit Suid-Afrikaners se pensioene teen 1993 reeds gelyk was.

Toenemende ontsluiting van swart mense se ekonomiese potensiaal deur vryhede stuksgewys te herstel, het veroorsaak dat “ongelykheid meer binne rassegroepe toegeneem (het) as tussen hulle: 62% van ongelykheid in Suid-Afrika in 1975 kon verduidelik word deur die gaping tussen swart en wit mense se inkomste; teen 1996 het dit geval tot 33%”.

Die verband tussen ekonomiese vryheid en welvaart maak van Fourie ook ’n uitgesproke voorstander van die uitbreiding van eiendomsreg, wat bedreig word deur onteiening sonder vergoeding én die beleid om swart begunstigdes van grondhervorming slegs langtermynhuurkontrakte te gun.

Meer as die oorsake van armoede is sy obsessie egter die oorsake van welvaart.

Hy vra waarom die spinwiel uitgevind is in Brittanje pleks van Indië – arbeid was duur genoeg in Brittanje om te verseker dat die toename in produktiwiteit danksy die spinwiel die ontwikkeling daarvan die moeite werd gemaak het.

’n Wetenskaplike ingesteldheid het ook gehelp – iets wat net behoorlik in Suid-Afrika sal posvat as die gehalte van onderrig skerp toeneem.

Nog ’n aanduider van welvaart is ’n nasie se vermoë en gewilligheid om in infrastruktuur te belê – ’n les en waarskuwing vir die ANC.

In die 19de eeu gaan haal Fourie die voorbeeld van die spoorlyn wat Cecil John Rhodes in 1885 van die Kaap tot by Kimberley laat bou het, wat dit oornag goedkoper gemaak het om graan uit Australië of Amerika per skip en dan uit die Kaap per trein na die diamantvelde te neem as per donkie en pad uit Basoetoland.

“Die spoorweë,” skryf hy, “het gesorg vir 22% tot 25% van die toename in BBP per capita in die Kaapkolonie tussen 1873 en 1905.”

En in die 20ste eeu vind Fourie die ikoniese Hendrik van der Bijl, wat in opdrag van Jan Smuts Eskom se voorganger Evkom sou stig (1923) as die eerste staatskorporasie, want hy het ’n visie gehad van Suid-Afrika as nywerheidsland: “Twee van die belangrikste faktore wat bydra tot die opbou van ’n industriële infrastruktuur is vervoer en elektriese krag,” het Van der Bijl in 1927 voorspel.

Sestien jaar nadat Evkom gestig is, was Suid-Afrika se elektrisiteitsuitsette ses maal groter as in 1922.

Daar is soveel in dié boek wat belangrik, interessant of bloot nuttig is. En dit lees lekker.

Teen die einde verduidelik Fourie ook waarom hy optimisties is oor Suid-Afrika en Afrika se toekoms, mits ons aan sekere voorwaardes voldoen en die voordele van nuwe tegnologie ten volle ontsluit.

Die boek is ’n viering van diegene wat verbeelding en waagmoed gehad het en vandag het – en die vryheid om iets daarmee te doen. Dit is ook ’n tydige herinnering dat as jy ’n regering bestuur met aspirasies om ’n ekonomie te bou, jy moet weet waarvan jy praat.

  • Waldimar Pelser is redakteur van Rapport en aanbieder van KN Verslag in Gesprek op kykNET.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.