Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Voet-in-die-deur-verse

Tieners sal emosioneel identifiseer met die praatpoësie in ‘Jy sê, ek sê, ons sê’, en aan ouer lesers bied dit ’n waardevolle, dikwels broodnodige kykie in die leefwêreld van Generasie Z, skryf Magdel Vorster.

Jy sê, ek sê, ons sê, saamgestel deur Marita van der Vyver. Uitgewer: Lapa. Prys: R155.

‘Sy sê praat reg ons taal. Ek sê hoekom wil jy my skaal?”

In hierdie splinternuwe digbundel praat tieners voorwaar in hul eie taal – en hulle draai ook nie doekies om nie.

Jy sê, ek sê, ons sê het ontstaan gedurende ’n reeks skoolbesoeke wat Van der Vyver onderneem het ’n paar jaar ná die verskyning van haar jeugroman Al wat ek weet (2016), wat in 2015 aangewys is as naaswenner in Lapa se jeugromanwedstryd.

Met voorbeelde uit die 15-jarige hoofkarakter, Gabriel, se mond, soos “Jy sê wat weet ek op my age? Ek sê ek weet van rage, rage, rage”, het Van der Vyver hoërskoolleerlinge gelei en aangemoedig om deur middel van praatpoësie aan hul emosies uiting te gee.

Sy het beklemtoon hulle kon uit die boks dink en skryf, sonder om hulle aan Standaardafrikaanse woordgebruik, spelling en spelreëls te steur. Die eindproduk is hierdie opwindende versameling praatpoësie.

Die bundel is in nege afdelings ingedeel en elkeen begin met een van Gabriel se skeppings. Die onderwerpe strek van verliefdheid, skool en sport tot politiek, misdaad en taal. Al is die 200 bydraes baie kort, bly die boodskappe kragtig. Dié jong mense het baie op die hart, maar het tydens die werksessies net sowat 15 minute gehad om hul sê op papier te sê. Sommige verse laat jou glimlag, ander skop jou in die maag, maar almal is toeganklik en die teikenmark kan emosioneel daarmee identifiseer. Vir ouer lesers bied dit ’n waardevolle, dikwels broodnodige kykie in die leefwêreld van Generasie Z. En ja, heelparty bydraes skreeu: “Ek wil Instagram toe!” Die volgende uittreksel is ’n goeie voorbeeld:

Afrikaans lê in die hart

Van wit, bruin, swart

Geen oorronding, vokalisering

Selfs die Flats maak publisering

Nog een wat hard skop:

Jy sê jy soek my body

Ek sê it belongs to nobody

Jy sê om te rape is jou missie

Ek sê Hugo bel die polisie!

Jy sê, ek sê, ons sê se minder konvensionele uitleg is in die kol vir die jonger en meer visuele geslag. Olivia Loots se lyntekeninge en die kreatiewe grafiese uitleg en tipografie is dikwels deel van die teks en dra by tot die leesavontuur – heeltemal in pas met internasionale publikasies in hierdie genre.

Van der Vyver noem die bundel ’n lappieskombers van Afrikaanse tienertaal en ek is oortuig dat hierdie boek jong mense aan die lees en skryf sal kry, én heel moontlik kan inspireer om meer tradisionele poësie ’n kans te gee. Hierdie voet-in-die-deur-poësie bied die perfekte wegspringblokke. Koop en lees dié boek.

  • Magdel Vorster is ’n voormalige kinderbibliotekaresse en eienaar van ’n kinderboekwinkel wat vir oorsese publikasies oor plaaslike boeke in dié genre skryf.
Meer oor:  Marita Van Der Vyver  |  Gedigte  |  Digbundel  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.