Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Volgehoue ode aan die Franse stad van liefde

Misverstand bied pitkos oor ouer word, internasionale omwentelinge en eietydse kwelvrae en is ’n gevoelige tydsdokument wat die leser noop om wyer te dink en lees, skryf Schalk Schoombie.

Misverstand

Marita van der Vyver

Penguin Random House, R250

Marita van der Vyver. Foto: Robert Hamblin

Die naam Willem Prins, die protagonis van Misverstand, suggereer ’n bevoorregte, hooggeplaaste persoon. Dit is ’n hoogs ironiese naam vir ’n Afrikaanse skrywer wat nooit die hoogste sport van erkenning kon bereik nie. Sy werk word benoem vir pryse maar nooit bekroon nie, en dis allermins kommersieel.

Willem worstel met ’n middeljarekrisis, middelmatigheid, mislukte verhoudings, sy nalatenskap.

Op die omslag in die kleure van die Franse vlag (wit, rooi en blou) stap ’n effens geboë man met ’n sambreel in ’n laan met donker bome, sy rug op die leser gekeer onder ’n grou hemel. Weliswaar ’n mistroostige illustrasie van die onvergenoegdheid wat deur Willem se gemoed en die grootste deel van die boek stroom, byna tot ’n punt van oorversadiging.

Hy besoek Parys vir die bekendstelling van sy hygroman ’n Vrou wat wil, wat hy onder die skuilnaam Lolita Meyer geskryf het, maar dis ook ’n verskoning om te vlug van die soveelste prysuitdeling in Suid-Afrika, waar sy roman Misverstand vir ’n groot literêre prys benoem is.

Drank bied tydelike ontvlugting, sy hardnekkige verslawing, en miskien beplan hy om homself “af te skryf” – hoe presies bly vaag.

Vir ’n groot deel van die verhaal wat oor vier dae afspeel, word Willem se gemoed, karakter en verlede oopgevlek vanuit verskeie karakterperspektiewe of “weergawes”, van Willem self en die vroue in sy lewe; Maurice, sy vervreemde seun; en Jackie, ’n joernalis wat ’n onderhoud met hom voer en sy beskerm-engel word.

Sy vele feilbaarhede word genadeloos gepriem – hy verkeer in vertwyfeling oor homself as skrywer, pa en Lotharius. Die selfaftakeling raak herhalend in toonaard en selfverwyte. Ontmoetings, ete-afsprake, sekspraatjies, wandelings, soetsuur herinneringe, troebel bepeinsings – te veel telling en te min showing.

Skielik, halfpad deur die boek, weerklink die knal wat die intrige nuwe stukrag gee, ’n skokkende (welkome!) wending wat die karakters in handeling ontbloot. Ná soveel eksposisie glip die verhaal met ’n noue ontkoming aan terreur gladweg in hoogste rat.

Die titel verwys na die roman in die roman, ’n verhaal oor verlore liefde; in breër konteks na kommunikasiekortsluitings tussen die geslagte, ouers en kinders. Daar is seksuele seine wat misverstaan word. Wat die spesifieke misverstand van die roman is, bly versluier, oop vir interpretasie.

Vanaf haar debuut, Griet skryf ’n sprokie, het die skrywer vreesloos en uitdagend oor seks geskryf. Misverstand is geen uitsondering nie, en hoewel daar geen taboes bestorm word nie, wemel dit van pront seksuele verwysings. Haas ­elke karakter deel intieme ervarings openlik. En waar daar ywerig gewoeker word met lyflikheid, broei immer die gevaar van oorryp beeldspraak, clichés en vrot seksbeskrywings.

Zoë, een van Willem se vele parmantige “ekse”, bieg dat sy soos ’n “sagte peer” van die boom geval het tydens ’n ontugtige episode met ’n ander sepieakteur, net om elders te erken: “Ek sê mos soms voel die hele lewe soos ’n opeenstapeling van clichés met net ’n paar oomblikke van oorspronklikheid.”

Weer Zoë: “Ons het seks gehad op elke moontlike en onmoontlike plek, tyd en manier. It was fucking glorious.”

Lesers van hygromans sal egter teleurgesteld wees: Beloftes van seks word verydel, verhoudings ­rafel uit weens misverstande en drange vervaag soos ’n ou Polar-
oidkiekie. Seks is nie altyd sexy nie.

Misverstand is ’n volgehoue ode aan die Franse stad van liefde en sekulariteit, van skrywers, filosowe, vryheid en gelykheid. Maar die verleidelike stad het nie meer dieselfde houvas op Willem soos toe hy ’n jong skrywer was nie.

Hy het selfs sy lus vir kuns verloor, deel van die dieper malaise wat hom verlam: “Deesdae kan hy nie meer so ekstaties word oor kuns nie. Of eintlik oor enigiets nie. Alles wat hom vroeër verruk het – briljante skryfwerk, beeldskone vrouelywe, manjifieke seks, morele debatte – ervaar hy nou op ’n ironiese afstand. Hy het sy jeugdige erns en intensiteit ingeruil vir middeljarige ironie en ontnugtering.”

Willem herken Parys oplaas, ná die terreuraanvalle, as ’n verrinneweerde minnares: “Nou sien hy die stad vir die eerste keer as ’n gewese geliefde wat nie langer haar ouderdom of haar emosies kan wegsteek nie. Bejaard en bedreig en bedroef. So weerloos dat hy nie anders kan as om haar lief te hê nie.”

Onafwendbaar kom die stand van die Afrikaanse boekbedryf onder die vergrootglas; wat lesers en uitgewers wil hê, die hunkering om ’n onsterflike werk te skep wat wyd vertaal word en ’n reputasie verewig, en as donker keersy die stryd om oorlewing wat sommige noop om maklike geld met hygromans te verdien. Willem som die romans wat met syne meeding heerlik satiries op.

Ná die stedelike terreur, aangrypend beskryf, volg daar ’n paar besadigde, ietwat voorspelbare wendings wat Willem in ’n meer hoopvolle rigting por. Geen noemens-waardige spanning word volgehou nie; die insigte wat hy verwerf, blyk voor die hand liggend te wees. (Had die bevoorregte, begaafde “prins” waarlik genoegsame motief om homself af te skryf?)

Twee onlangse romans wat met Misverstand in gesprek kan tree, is John Miles se Op ’n dag, ’n hond, wat ook handel oor die middeljare en ’n kruipende doodsbesef, en die manjifieke & Sons deur David Gilbert, oor ’n skrywer se kwetsende verhouding met sy seuns.

Misverstand, deurgaans vloeiend in die mineurtoon van melancholie geweef, is nie die skrywer se boeiendste roman nie. Tog bied dit pitkos oor ouer word, internasionale omwentelinge en eietydse kwelvrae.

As sulks is dit ’n gevoelige tydsdokument wat die leser noop om wyer te dink en lees.

  • Schalk Schoombie is ’n joernalis, dramaturg en skrywer van Alberton.
Meer oor:  Misverstand  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.