Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Voorloper én voorskrywer

Eugène Marais se geboorte 150 jaar gelede word herdenk met ’n uiteen- lopende versameling essays, prosa en poësie onder redaksie van Jeanette Ferreira. Fanie Olivier wonder of ‘Laramie’ nuwe belangstelling in sy werk gaan aanwakker, veral as Marais se pragtige poësie nie meer op skool gelees gaan word nie.

Laramie: ’n Terugblik op Eugène N. Marais saamgestel deur Jeanette Ferreira. Uitgewer: Minimal Press. Prys: R280.

Ek het lanklaas gekyk wat op die lys van Afrikaanse voorgeskrewe gedigte vir hoërskoolleerlinge verskyn, maar vir die gr. 10’s en gr. 12’s het Eugène Marais se naam nie onlangs opgeduik nie.

Hoeveel van die jonger Afrikaanssprekers nog vertroud is met “Winternag”, “Die dans van die reën”, “Die towenares” of “Diep Rivier” is dus onseker. Van Marais se prosa en sy baanbrekende natuurwetenskaplike navorsing oor termiete en bobbejane weet hulle waarskynlik nog minder. Miskien het ’n klomp destyds darem die puik rolprent Die wonderwerker (2012) gesien, maar nie besef hoeveel kloutjies daar by verskillende ore gebring moes word nie.

Die rolprent het sy titel ontleen aan Marais se prosateks Laramie die wonderwerker (1950), waarin die skrywer vertel van Laramie se werksaamhede as hipnoterapeut, natuurgeneser en waarskynlik ook kwaksalwer tussendeur.

Jeanette Ferreira het in die jaar waarin Marais se geboorte 150 jaar gelede herdenk word, dié figuur se naam gekies as titel vir ’n uiteenlopende versameling wat sy op versoek saamgestel het. (Terloops, in Johann Lodewyk Marais se bydrae oor sy naamgenoot se belangstelling in wonderbaarlike verskynsels word die verhaal van Laramie deeglik aan die orde gestel.)

In haar kort voorwoord wys Ferreira ook op die enigmatiese van Marais: “Bewese feite en fiksie, droom en drogbeeld, mite en nugter werklikheid het skynbaar nie vir hom teenoor mekaar gestaan nie maar naas mekaar.”

Die publikasie bestaan uit tien artikels oor Marais se lewe en werk (ook as regsgeleerde) en twee kortverhale, terwyl tien digters – Martjie Bosman, Dominique Botha, Thomas Deacon, Clinton V. du Plessis, Hans du Plessis, Daniel Hugo, Johan Myburg, Christo van der Westhuizen, Cas Vos en Gerard Scharn – op hul onderskeie maniere hulde bring aan hom as versmaker.

Die bydraes is alfabeties volgens die skrywers se vanne gerangskik, wat beteken die lesers moet eintlik telkens weer tot verhaal kom om reg te laat geskied aan Marais se veelsydigheid. Die nadeel is dat ’n mens dikwels dieselfde inligting herlees.

Daar is net een artikel wat kyk na Marais as digter.

Die drie artikels deur regsgeleerdes vestig weer ons aandag op die feit dat die skrywer van “Winternag” ook ’n formele loopbaan as regspraktisyn gehad het. Hy was wel ’n “teensinnige regsman”, skryf Johan Kruger, wat in sy artikel die agtergrond skets vir Marais se besluit om in Engeland (met ’n liegspul om te begin en daarna sukkelende) as advokaat te kwalifiseer en dan sy lewe as onsuksesvolle regspraktisyn volg.

Marais kon nie juis as prokureur ’n bestaan maak nie, skryf Piet de Jager in “Daar is iets in hierdie water”, ’n gemaklike vertelling oor ’n kort tydperk van Marais se loopbaan as regsgeleerde toe hy op Erasmus (later Bronkhorstspruit) gewoon en gewerk het.

Die derde regsman wat oor Marais skryf, is Jean Meiring in sy artikel “Die geheimenisse van Marais se stowwerige debuutwerk”. Hy wys ons daarop dat Marais nie as digter of prosaskrywer gedebuteer het nie, maar in 1903 wel met Deeds Office Practice of the Transvaal. Meiring noem dit “ ’n esoteriese en kurkdroë onderwerp binne die regspleging”, maar slaag tog daarin om dit toeganklik aan te bied en ’n groot klomp inligting aan die meerderheid oningeligte lesers oor te dra.

Die soeklig val weer op Marais se Londense era in “Op die spoor van Eugène Marais”. Carel van der Merwe, wat met Donker stroom: Eugène Marais en die Anglo-Boereoorlog (2015) ook as niefiksieskrywer oor Marais beïndruk het, sit in sy artikel die soektog voort.

Hy soek Marais se verskillende blyplekke op en gee veral agtergrondinligting oor dié era. ’n Interessante aspek van dié artikel is die slotgedeelte, waarin Van der Merwe “Winternag” in konteks plaas en weer die algemene opvatting besweer dat dit rondom die Anglo-Boereoolog ontstaan het.

Verrassend genoeg is daar net een artikel wat kyk na Marais se werk as digter, en dan ook net as vertaler. Boonop is dit nie deur ’n letterkundige nie, maar 'n woordeboekmaker, J.C.M.D. du Plessis, vir baie jare eindredakteur by die WAT was. In dié boeiende artikel, “Marais se vertaling van ’n sonnet deur Barrett Browning”, wys hy vir die eerste keer dat dit Elizabeth Barrett Browning se “Substitution” was wat eers as “Sonnet” vertaal is en later as “Die plaasvervanger” in sy Versamelde gedigte verskyn het.

Die soeklig val weer op sy Londense era.

Dit is 'n artikel waarin Du Plessis eers die bronteks ontleed, dan daarop wys hoe Marais verstegnies wegbreek van die oorspronklike Italiaanse sonnet en uiteindelik met 15 reëls eindig. Hy huiwer ook nie om redes aan te voer hoekom die vertaling nie die krag van die oorspronklike het nie.

Daar is drie artikels waarin Marais se rol as natuurwetenskapper toegelig word. Die suiwer wetenskaplike een is “Die Waterbergbroodboom”, waarin die botanis Ernst van Jaarsveld ons herinner aan die feit dat Marais se belangstelling in die natuur daartoe gelei het dat ’n onverwagte nuwe broodboomspesie geïdentifiseer is wat ook sy naam gekry het: Encephalartos eugène-maraisii. In hierdie artikel vat hy die gegewens saam wat tot die ontdekking en klassifikasie van hierdie broodboom gelei het en gesels onderhoudend oor die interessante geskiedenis van broodbome.

Die samesteller het besluit om een ou artikel in te sluit: die natuurkenner en radiobekende Erik Holm se gedenklesing oor “Eugène Marais as natuurwetenskaplike”, wat reeds in 1988 gepubliseer is. Hierin word die “kras . . . verdeeldheid” oor Marais se bydrae as wetenskaplike bekyk. Die helderheid waarmee Holm hier die spanning tussen idees en feite uitlig, help om Marais én sy kritici beter te verstaan. Terselfdertyd sal dit lesers van Laramie help om die ander artikels in perspektief te sien.

Wat is feit en werklikheid en wat verdigsel? Marais se gemaklike omgang met feite en sy selfvertroue as natuurkenner vorm die basis vir die slangkenner Johan Marais se artikel “Marais en slange”. Op ’n nugter manier kyk hy na al die aansprake wat die skrywer oor slange maak in sy oeuvre, en antwoord hulle netjies, telkens met ’n wetenskaplike weerlegging en ’n opmerking soos “Weer eens ’n skrywe wat Marais se ryke verbeelding uitspel”.

Die nugter waarnemer en optekenaar Eugène Marais het sy gepaardgaande geloofwaardigheid gebruik om ook oor ander dinge te skryf. Die digter en ekoloog Johann Lodewyk Marais kom hieroor aan die woord met ’n artikel oor “Eugène N. Marais se belangstelling in wonderbaarlike verskynsels”. Hy is seker die grootste lewende Marais-kenner, altans oor sy prosa. In hierdie artikel skryf hy oor Marais se vertelstrategieë om met sy lesers te kommunikeer oor sulke onwaarskynlike gebeure en om dit dan op ’n pseudowetenskaplike manier geloofbaar te maak. Dit doen hy omdat sy vertellers in sulke verhale steeds as betroubaar en goed ingelig voorgestel word, net soos hy self ook.

In die taalgebruik van Eugène Marais se era, kan ons seker beweer hy het in sy werk op ’n manier ook sy lesers gemesmeraais. Hier dink almal wat vertroud is met die digter se werk as dokter natuurlik aan sy sukses met die gebruik van hipnose.

Pierre Cronje, ’n kliniese sielkundige, ondersoek in sy artikel, “Gemesmeraais deur Marais”, die agtergrond van Marais se genesing van die verlamde Hessie van Deventer deur middel van hipnose. Hy kyk krities en wetenskaplik na die gebruik van hipnose, na die omstandighede rakende Marais se sessies en wys daarop hoe verskillende dinge waarskynlik saamgespeel het daardie dag (bl. 26): “Tant Hessie word in die proses ’n toevallige medewerker deur wie Marais sy reputasie as wonderdokter gestand kan doen. Nie net hipnotiseer hy tant Hessie nie, hy sleur ook die toeskouers op die stoep mee in ’n opwindende avontuur wat grens aan die bonatuurlike.”

Cronje se artikel sluit aan by R.R. Ryger se verhaal, “Die ektoplasma wat Eugène N. Marais en Harry Houdini aan mekaar verbind”.

Ryger beskryf ’n eietydse séance-sessie waar die spreker en sy vriende Burton du Pont (’n joernalis) en Melt Cloete (’n digter) hoop om met Eugène Marais kontak te maak. Elkeen het sy eie redes vir hierdie kontak.

Die voorstelling van die séance onder die leiding van ene Eva Marais is dramaties, maar Du Pont onthul later hoe die hele storie gemanipuleer is. Die vraag is egter of sy vriende (en die leser) hierdie weergawe aanvaar en of die waarheid van die belewing self nie groter krag het nie. Die verhaal verloor sy krag met die bybring van die Houdini-gegewe, net soos die ander kortverhaalbydrae, “Die mier in die man” van Ben Viljoen, nooit werklik oortuig nie.

Of hierdie uiteenlopende groep tekste in Laramie: ’n Terugblik op Eugène N. Marais nuwe belangstelling in sy werk en lewe gaan aanwakker, is onwaarskynlik, veral as sy pragtige poësie nie meer op skool gelees gaan word nie. Maar vir ’n ander geslag is hierdie samestelling ’n herinnering aan een van die belangrikste stemme in Afrikaans, inderdaad ’n voorloper en voorskrywer wat weer bekyk en waardeer behoort te word.

  • Fanie Olivier is ’n digter, vertaler en afgetrede akademikus.
Meer oor:  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.